'Wonderlus' as tydsmerker van ons bestaan
'n Film as verlore ontdekkingsreis
Dit moet sommer eerste gestel word dat die klankontwerp deur Jim Petrak baie goed gedoen is. Die kleinste van tonele, soos die geknetter van 'n sigaret, laat selfs die nie-roker smag weens die ontploffing van detail in beide klank en visuele aanbieding. Die film se klankbaan doen ook reg aan die film, en hier moet die aangrypende openingstoneel met koormusiek gekomponeer deur Franco Prinsloo uitgelig word. Die trant word uit die staanspoor uit gestel: beeldskoon, tragies. Ook: 'n fees, 'n tragedie.
In 'n resensie op LitNet het Jaco Barnard-Naudé tereg 'n intertekstuele gesprek tussen Wonderlus en Lars von Trier se Melancholia uitgewys. Daar kan bygevoeg word dat die openingstoneel ook in gesprek kan staan met Von Trier se onthutsende proloog in Antichrist. Die elektro-popmusiek wat deur Francois de Klerk en Prinsloo gekomponeer is bou ook aan die wisselwerking tussen lig en donker in die film.
'Die struktuur van die moderne troue'
Die plot device van 'n troue werk goed om 'n volgepakte rolverdeling van verskeie intriges saam te bind. Jy het die strooijonkers (Beer Adriaanse en Adam Heyns) wat sout tot die resep is met pittige opmerkings deurentyd. Die prikkeling tussen hulle en die strooimeisies (Ansu Visser en Lynelle Kenned) voeg by tot die interverwantskap tussen die karakters. Simoné Nortmann as Lindie se bitterheid is tasbaar en sy het haarself goed van haar taak gekwyt om die sigbare wond van hierdie trouliggaam te versinnebeeld.
Die bruid sonder naam, vertolk deur Mila Guy, skep 'n strategiese leemte om gevul te word deur die enigmatiese Waitress (ook naamloos), soos vertolk deur Lea Vivier. 'n Interafhanklike spel waar elkeen die ander beklemtoon; iets soos 'n atoom wat beide hier en daar op dieselfde tydstip kan wees. Beide se paaie kruis natuurlik met Pieter (Edwin van der Walt), die bruidegom, hy aangetrokke tot die eenderse avontuurlustige energie van hierdie twee sterre.
'Alles gaan OK wees, nè?'
Die titel van die film verwys nie net na wanderlust nie, maar ook na 'n brandende lús en smagting om te ontsnap... saam met of van die liefde. Daar is verskeie redes hoekom ons wil weghardloop, en die film doen 'n goeie werk om baie van hierdie onderliggende middeljarige angs vas te vang. Geld, mense, plekke en werk. Daar is dan ook baie wonder in die film, oor die lewe en jou plek daarin, nouliks gekoppel aan die liefde vir en van ander.
Die film speel half af tussen nêrens en êrens, 'n liminale spasie van ontdekking en 'n plek waar jy jouself deur die karakters verloor. Ontsnapping en verdowing van die hier en nou kom deur oorvloedige hoeveelhede tequila geneem saam met 'n tikkie nihilisme. Daar is geen antwoorde hier nie, behalwe dat ons intrinsiek verbind is met die onbekende.
Johan Cronje is die film se regisseur, skrywer en redigeerder – drie rolle waarmee hy sy debuut maak. Met die vraag aan hom vir wie of watter teikenmark hy die film gemaak het, antwoord hy: "myself". Die film is nie verwyderd van realisme nie, maar eerder 'n eerlike uitbeelding van die bestaanskrisis waardeur onder 35's tans gaan. Dit wend ditself na troukultuur in die afwesigheid van ander merkers van ons bestaan. Die saadjie vir die film is waarskynlik reeds in 2011 geplant met Strikfontein, 'n dramareeks wat aan kykNET voorgelê is, maar ondanks oorweldigende aanvraag nooit volslae produksie behaal het nie. Ook hier was 'n fiktiewe dorpie geskep met universiteitstudente wat met vakansie terugkeer na 'n plek van ontsnapping. Wonderlus is selfs meer spesiaal as mens daaraan dink as 'n vervolgverhaal van 'n jonger self wat nooit tot stand gekom het nie.
In filmteaters 27 April 2018.