Dookoom skyn 'n lig op die donker kant

Dookoom skyn 'n lig op die donker kant

Die groep bied 'n olyftakkie aan vervreemde luisteraars met hul nuwe album

DOOKOOM - Press shoot 2018 (Pic_Mads Nørgaard) -5.jpeg

Hierdie musiekgroep is deur rowwe waters met die vrystelling van hul eerste vollengte album NO! aan die begin van 2016. Nadat hulle van haatspraak aangekla is oor hulle lied 'Larney Jou Poes', het die groep se musiek oraloor opslae gemaak in die debat oor vrye uitdrukking, asook oor plaasmoorde, -aanvalle, -opstande en werkertoestande. Hulle is kwaad, die musiek is kwaad, maar soos daar nog altyd beklemtoon word is hulle bedoelings daarmee nie kwaadwillig nie. Dit is eerder, volgens die groep, 'n uitdagende middelvinger wat in die gesig van onderdrukking, armoede, haat en vrees geopper word. Alhoewel die groep uit 'n mengsel van verskillende buitestander-kulture bestaan, kom 'n groot deel van die groep se beweegrede vanuit die Kaapse Vlakte, wat die groep beskryf as "een van die haglikste omgewings in die wêreld, met bendes, drankmisbruik, dwelms, geweld, verkragting, armoede en kakkerige lewensomstandighede wat 'n intrinsieke deel van die alledaagse lewe vorm."

Die woede wat die groep teen ongeregtigheid uitspreek is nie net kwaad wees vir kwaad wees se onthalwe nie, maar ook 'n soort katarsis, 'n spirituele reiniging, wat swaarbelaaide emosies na positiewe aksie en energie omskakel. Tog verskil persepsies en die gewone luisteraar kyk dalk onmiddellik vas in die groep se voorkoms as 'n onheilige affêre van die okkulte. Die groep se naam verwys na "doekoem", 'n sjamanistiese entiteit of daad wat kwaad- of goedaardig kan wees. Dié fyn lyn is nie een wat almal kan trap en differensieer nie, vanweë sosiale en politiese skeidings, maar nou wend die groep tog 'n poging aan om lig te skyn op die donker kant.

Met die nuwe album, RIFFAK, het die hip-hop rap-groep (mens kan nog vele ander nuutskeppende genres aan hulle toeskryf) 'n doelbewuste besluit geneem om meer te blaf as byt met hulle nuwe musiek, met die hoop om dit meer toeganklik te maak. Dookoom se musiek was nog nooit easy listening nie en dit sal waarskynlik nooit wees nie, die nuwe album inkluis, maar dit neem geensins weg van die substansie van wat hulle produseer nie. Die groep beskryf die nuwe album as introspektief en volwasse, wat 'n "olyftak aan enigiemand bied wat moontlik deur hul vorige werk vervreemd gevoel het." Soos 'n liriek van die nuwe album gaan is die groep nie nou ewe skielik 'n voorstedelike labrador nie, maar steeds 'n straathond van Heinzpark, wel hierdie keer sonder hondsdolheid.

POTTS

POTTS

spo0ky

spo0ky

Isaac Mutant

Isaac Mutant

Human Waste

Human Waste

Die groep maak in die nuwe album van 'n meer melodiese aanslag gebruik, alhoewel dit slegs effens die primale punk-energie en hip-hop-koors verdoesel. "Die luisteraar word nou met 'n meer verfynde dier aangebied. Die slagtande is nog daar, maar daar is 'n sekere slankheid aan hierdie jongste inkarnasie. Die politieke klimaat het verander en in die tyd van Donald Trump is DOOKOOM van plan om mure af te breek. Voorheen, as jy nie gehou het van wat die groep moes sê nie, is jy afgemaak om soos die vyand te voel. DOOKOOM reik nou uit, bewus van die noodsaaklikheid om mense bymekaar te bring, eerder as om te polariseer en te verdeel," lui hulle verklaring.

Die groep se estetika en visuele aanbieding is tot 'n groot mate verbind met Die Antwoord, met wie die groep 'n wispelturige verhouding het. Dit blyk of die groep nou meer neig na 'n skoner aanbieding van hul werk, sonder om die realiteit daarvan prys te gee. "We’re not Die Antwoord, making safe, glossy, superficial art out of poverty and suffering," het die groep aan OkayAfrica vertel. Tog hoop die groep om van hulle nuwe musiek ook op klubs se speellyste te kry, sonder om almal te verjaag. "Dit is 'n album wat jy by die huis of in jou motor kan luister, eerder as om net die klankbaan van 'n demented oproering te wees."

RIFFAK is die agteruitspelling van "kaffir". Die groep keer hiermee die oorspronklike definisie van die woord op sy kop, naamlik "nie-gelowige", "heiden" of "uitgeworpene" asook die gebruikskonteks van die woord in die apartheidsera. RIFFAK bedoel dus vir die groep "die gelowige, die aanvaarde". Bowenal wil die groep vir die wêreld wys hulle is meer as een-dimensionele, ras-belaaide skokrockers, maar 'n musikale krag om mee te reken.

DOOKOOM - Press shoot 2018 (Pic_Mads Nørgaard) -1.jpeg

Foto's: Mads Nørgaard

 
 
  • RIFFAK word op 30 Maart vrygestel.

Deel hierdie storie


Eerste en oudste Afrikaanse tydskrif, sedert 1896

Divers, progressief en vars. Waardeer jy ’n stem soos Klyntji s’n? Het jy van Dookoom skyn 'n lig op die donker kant gehou? Dan ondersteun ons. Donasies van lesers word gebruik om ons bedieningkostes te betaal: jou bydrae hou Klyntji aanlyn. Vriende van Klyntji word op hierdie bladsy erken. Elke bietjie help.


 Eenmalig R
 Maandeliks R


Klyntji verklaar 'n klimaat en ekologiese noodtoestand