Marlene van Niekerk sê ons moet terugkeer na die klein dinge

Marlene van Niekerk sê ons moet terugkeer na die klein dinge
Coorte_Voorblad_FinaalVoorkant.jpg

Sy praat oor estetika, kulturele toeëiening en die menslike toestand

Hoogtepunte van die bekendstellingsgesprek met Gerrit Olivier, oor haar twee nuwe digbundels Gesant van die mispels en In die stille agterkamer.

 

The stage was set

Die eerste vraag deur Gerrit aan Marlene is afgemaak as die een wat hom by die Kaapse bekendstelling so geïrriteer het dat hy dit net uit die weg moes ruim. So asof dit die ooglopende dog verbeeldinglose vraag is wat ’n jong polities-korrekte jeugdige sou vra, sonder die nodige insig om reeds te weet wat die antwoord is. Kudos aan hom dat hy wel hierdie vraag sonder skroom aan die voorpunt van die gesprek geplaas het – waar dit hoort.

Die vraag het na iets in hierdie lyn geheet: Hoekom twee digbundels gebaseer op die betreklike onbekende Nederlandse skilders Adriaen Coorte (1658?—1707) en Jan Mankes (1889—1920). Hoekom juis ’n fokus op hulle? ’n Vorm van ontvlugting is dit nie... Die vraag is gestel in ’n kamer met ’n greintjie agterdog oor hoekom die digter moes teruggaan Nederland toe en nie eerder inspirasie kon trek van plaaslike skatte in Afrika nie.

“Hierdie twee skilders het geleef tydens tye van groot sosiale omwentelinge en oorloë, baie soos die uitdagings wat ons vandag in die oë staar. Hulle het ver buite die tradisionele norme geskilder. Hulle het hul niche (die digter het vir hierdie woord ’n beter omskrywing gebruik) gevind en met groot toewyding daarmee aangehou.” Marlene het verduidelik hoe sy hulle wil naboots, weens ’n diepe waardering en vereenselwiging met die estetiese uitbeeldings van die skilderye.

“Die klein dinge op die oppervlakte beteken tog iets, oplossings kom op ’n formele manier.”

Die digter het uitgelig dat dit in die menslike toestand is om skoonheid te wil herhaal, en het geskerts dat dit vir baie ’n beweegrede is om voort te plant. Tog gaan dit verder... na die narsissisme van die kunstenaar? Met die aanskouing van iets beeldskoons wonder ons of dit so bedoel is.

'We want to intend beauty'

“Ons is in ’n beperkte omlyning bevat en wil graag in ander omlyninge deelneem.”

In die skilderye word objekte geïsoleer, lig artifisieel (lees: kunsmatig) gemaak. Dit is nie soos Vermeer se natuurlike lig nie, vertel sy. Dit is lig wat volledig abstrak is. Dit weerspreek die realisme van die uitbeelding, soos met bespookte aspersies wat lyk of hulle met ’n vreemde lading van elektristiseit voorsien is. Dit is nie sublieme elektrisiteit nie, maar eerder dit wat kom van ’n sekere soort aandag, die skok van verwondering.

“Dit gaan nie net oor skulpe nie, dit gaan oor mense ook.”

Marlene het vertel hoe daar kunswerke in Agaat en Triomf is wat in detail beskryf word, alhoewel geen sulke werke bestaan nie. Dan is daar Memorandum waar ’n parallelle aanbieding van die teks en Adriaan van Zyl se skilderye ’n resonante vertelling vorm, waar kliniese estetika aan die lewe geroep word. Marlene bieg uit eie beweging: hierdie boeke het gelei na haar nuutste, ’n aaneenlopende dink- en skryfproses.

Die gedigte verskyn in beide Afrikaans en Nederlands, waar die vertalingsproses deur Marlene as ’n humoristiese komplot beskryf word. “Soms was die vertaalde gedig beter as die oorspronklike, waardeur ek die Afrikaanse teks kon verbeter. ’n Soort interafhanklike polemiek. Die vertaling is saam met Henda Strydom gedoen.” 

Cultural appropriation 

Vir Marlene kan daar lesse geleer word van die miniatuurtaal in Afrika wat terugvertaal word na die stam, oftewel die moedertaal. 

“Waarom mag dit nie wys hoe dit vloei nie, die kruisbestuiwing uitlig, die kulturele beïnvloeding blootlê? Niemand in Nederland gaan my beskuldig van kulturele toeëning nie, daar is niks fout met dié heen en weer nie. Ek kan dit met Nederlands doen.” Hierdeur neem die digter uit ’n enkele perspektief ’n posisie in teen die polisiëring in lyn met die denkwyses rondom cultural appropriation, maar dit kan deur die digter ook anders bedoel word. In elk geval, die noue koppeling aan ’n Europese estetika en taal laai hierdie stelling swaar. Miskien is die knippie sout wat dit kort ’n aanhaling uit Memorandum waar sy skryf oor Afrikanerestetika en hoe oonooglik dit kan wees, al dan nie:

Ons bemin liewer in ons kollektiewe geestesoog ’n hemel vol Pierneefbome en siersteenkerktorings as om verantwoordelikheid te vat vir die voorkoms van ons direkte omgewing, behalwe op Stellenbosch natuurlik, het hy met ’n oogknip gesê, sy alma mater, waar ons “witbegewelde geskiedenis deur ons witgepleisterde gemeenskap bewaar word met ’n spiesdraende maagd as maskot voor ons witgekalkte kruithuis”.

Fokus op die klein dinge

Soos dié skilders is Marlene ’n bekruiper van voëls, uile en ander alledaagse voorwerpe soos ’n skulp of ’n beskeie tafeltoneel. Sy wil haarself by ander estetiese lewens betrek, wat van ’n soort verlange kom wat uitgaan na gras, water, klippe, berge en plante. Marlene praat oor die media en sê dit is “watervalle van woorde en inligting, Twitter kaskades...” Haar advies, medisyne vir ons eeu? “Ons moet aandag gee aan dit wat daarvoor vra, tyd spandeer. Daar is weerstand en verset in stadige gedigte (hier kyk sy vir Loftus en sê daar is ook plek vir sy vinnige gedigte as petrolbomme). ’n Hele oefening van onthouding lê voor in die antroposeen, maar is dit moontlik? Dalk nie. Dáárom ook ’n melancholie, ’n soort hartseer in die gedigte. Dit is verby.”

Mankes_Voorblad_FinaalVoorkant.jpg
  • Die bekendstelling is gehou by Love Books in Melville. Die skrywer se mees onlangse vorige publikasie, die digbundel Kaar, het in 2014 verskyn. Haar uitgewer is Human & Rousseau.

 

Redakteur van Klyntji, assistent-kurator van die Konstitutionele Hof se kunsversameling en tans besig met 'n LLM in mediareg. Instagram / redakteur@klyntji.com

Deel hierdie storie


Eerste en oudste Afrikaanse tydskrif, sedert 1896

Ons bou aan ’n moderne beeld van hoe Afrikaanswees lyk, lees en klink. Het jy van Marlene van Niekerk sê ons moet terugkeer na die klein dinge gehou? Dan ondersteun ons. Vriende van Klyntji word op hierdie bladsy gelys.


 Eenmalig R
 Maandeliks R


Klyntji verklaar 'n klimaat en ekologiese noodtoestand