Gratis boek(e): Van Volksmoeder tot Fokofpolisiekar

Gratis boek(e): Van Volksmoeder tot Fokofpolisiekar
Van Volksmoeder tot Fokofpolisiekar.jpg

Brandstof vir die identiteitskrisis

Van Volksmoeder tot Fokofpolisiekar: Kritiese opstelle oor Afrikaanse herinneringsplekke het in 2008 verskyn, en dit is uitgegee deur SUN PReSS. Die boek bevat ’n reeks kritiese opstelle oor ’n aantal Afrikaanse kollektiewe herinneringe. Dit betrek herinneringe wat al amper koud is, asook meer onlangses (in ag genome dis in 2008 uitgegee), soos die “De la Rey”-lied en die rol wat bands speel in die vaslegging van ’n bepaalde bewussyn onder die jeug — ’n bewussyn wat in die afsienbare toekoms ook as “histories” sal kwalifiseer. Volgens die agterblad is die boek gerig daarop om die leser aan te moedig om na te dink oor die herinneringe van wit Afrikaanssprekendes. Dit is sedertdien gratis beskikbaar gemaak.

Die volgende hoofstukke is deur die genoemde skrywers bygedra:

  • Koos Kombuis en die kollektiewe herinnering (Inleiding deur die redakteurs Siegfried Huigen en Albert Grundlingh)

  • Die Volksmoeder: Beeld van ’n vrou (Elsabé Brink)

  • Die lokasie (Gerrit Olivier)

  • Die Kleurlingkenner se Kleurling (Hein Willemse)

  • Bantoe – van Abantu na Ubuntu (Kees van der Waal)

  • Thandi, Katrina, Meisie, Maria, Ou-Johanna, Christina, Ou-Lina, Jane en Cecilia Magdalena (Ena Jansen)

  • Rugby (Albert Grundlingh)

  • Die etende Afrikaner (Marlene van Niekerk)

  • Die windpomp (Lizette Grobler)

  • Die geweldige gewel van die Kaap (Hans Franzen)

  • Herinneringe van heldinne: Bitter bekers en suurdeeg (Lou-Marié Kruger)

  • Die Voortrekker soek koers (Lize van Robbroeck)

  • Engels (Christine Anthonissen)

  • Taalmonumente (Siegfried Huigen)

  • “Om die vonnis van kortstondigheid te besweer”: Die WAT as herinneringsplek (Rufus Gouws)

  • N.P. van Wyk Louw (Luc Renders)

  • Waarom ’n spook as ’n leier? Die “De la Rey”-fenomeen en die herskep van herinneringe, 2006—2007 (Albert Grundlingh)

  • Boeremusiek (Stephanus Muller)

  • Die Stem (Stephanus Muller)

  • “In wrede woede het ek die hand wat beheer, gebyt”: Die opkoms van Afrikaanse (punk) rockmusiek (Annie Klopper)

Van Volksmoeder tot Fokofpolisiekar: kritiese opstelle oor Afrikaanse herinneringsplekke kan hier afgelaai word. Dit is ook in Engels beskikbaar.

Is jy op soek na meer? Daar is ook Adriaan Steyn se A new laager for a new South Africa: Afrikaans film and the imagined boundaries of Afrikanerdom (sien veral Afrikaans, Inc.) en Theo Sonnekus se doktoraal Seeing ghosts: The past in contemporary images of Afrikaner self-representation om te betragtig. Verkies jy musiek? SD van der Merwe se Plate en politiek: populêre Afrikaanse musiek en die samelewing 1900—2017 (2019) is ook daar om gelees te word. Verder het die boek Troubling Images: Visual Culture and the Politics of Afrikaner Nationalism (2020) vanjaar verskyn (hierdie een sal jy moet koop).

Lekker lees! Is daar ander gratis boeke waarvan ons moet weet? Laat weet ons.

Vir die kritiese tog deurdagte leser deel ons hieronder ’n 2009-resensie van Van Volksmoeder tot Fokofpolisiekar.


Resensie deur Julian C Müller

Vandat ek die boek op my tafel ontvang het en daarin begin lees het, het my emosionele respons daarop gewissel van baie opgewonde tot teleurstelling. Ek gaan eers skryf oor die redes vir my opgewondenheid.

Herinneringsplekke word in ’n metaforiese sin gebruik en daar word in die inleidende artikel (“Koos Kombuis en die kollektiewe herinnering”) verwys na die baanbrekerswerk van Maurice Halbwachs wat geskryf het oor “kollektiewe herinnering”. Hierdie groepsherinneringe word gesien as “herinneringsplekke” wat enige groep se identiteit weerspieël en help bepaal.

Die boek kom op ’n tyd dat die blanke Afrikaanssprekendes in ’n fase van transformasie verkeer. Daar is baie selftwyfel en selfverwyt wat ook in die volkpsige gemeng is met selfhandhawing en selftrots. Die skrywers doen ons ’n groot guns deur ons op kritiese terugtog deur ons kollektiewe geheue (en amnesie!) te neem en ons by sekere plekke te laat stilstaan.

Die titel van die boek suggereer onmiddellik iets opwindends. Die saam gebruik van twee sulke uiteenlopende terme soos Volksmoeder en Fokofpolisiekar dui op iets kreatiefs. Om bloot die Afrikaanse vloekwoord “fokof” te lees op ’n buiteblad waarop die Volksmoederbeeldjie die sentrale fokus is, is uitdagend en tekenend van ’n nuwe werklikheid vir Afrikaans. Nog voor die lees, net met die opneem van die boek word die paradoksaliteit van ’n postmoderne Afrikaanse gemeenskap daardeur treffend op die voorgrond geplaas. Die redakteurs en skrywers van die boek verdien applous vir hulle ontginning van die tema van herinneringsplekke vir en van die Afrikaanse groep in ons land. Ons verkeer in oorgangstye. Ons ervaar allerlei teenstrydige emosies oor volk en taal. Ons wonder oor ons identiteit en plek in ’n groter wêreld. ’n Refleksie soos hierdie is juis nou broodnodig.

Die wyse waarop die boek in my eie gesin grondgevat en posgevat het was vir my ’n aanduiding van die behoefte wat ons hieraan het. Ek was self op baie plekke aangespreek. Op ’n minder ernstige noot het die gewel meteens vir my ’n onverwagse herinneringsplek geword. Die “Geweldige Gewel van die Kaap”, deur Hans Fransen (hoofstuk 10), het my laat onthou hoedat ek grootgeword het met die ideaal van die gewel. Ons het in ’n redelike armoedige plaashuis in die omgewing van Nigel gewoon en my pa se groot ideaal was om die huis eendag te herbou “met ’n gewel”. Hy kon nostalgies raak oor ’n gewel. Dit het ongelukkig net ’n ideaal gebly wat hy nooit verwesenlik het nie. Maar met die lees van Fransen se hoofstuk het ’n sluimerende herinnering meteens na die oppervlak gekom. Ek het besef hoedat in die eenvoudige ideaal van my pa, daar ’n stuk verlange na identiteit verskuil was. My vrou is weer ’n produk van Afrikaans Hoër Meisies in Pretoria en sy was dadelik teruggeneem na die Anton van Wouw-beeldjie, Noitjie van die Onderveld, wat ook so sentraal staan in haar skoolherinneringe – in lyn met die vertelling van Lize van Robbroeck op bladsy 127. Van ons volwasse kinders was vreemd genoeg ook onmiddellik gefassineer met die boek. Dit het my die waarheid van Van Robbroeck se woorde laat besef:

[…] die geslag jong Afrikaners […] [het] grootliks die programmatiese oordadigheid van apartheidspropaganda vrygespring. Vir húlle is die verhale van die dapper voortrekkers en die Boereoorlog se helde splinternuut, en bied dié begeesterende narratiewe ’n welkome alternatief vir die negatiewe rol wat die postapartheidgeskiedenis aan hul voorsate toeken.

Wat my verder opgewonde gemaak het, is die groot aantal uiters bekwame akademici wat hieraan meegewerk het. In die lys van medewerkers verskyn van die top name onder die huidige geslag Afrikaanse intelligentsia. Die boek bring ’n gevoel van trots. Trots op die statuur en gehalte van Afrikaans as akademiese taal en die vlak van geleerdheid wat daar in die geledere van Afrikaanses te vind is.

Maar dan het daar ook ’n gevoel van teleurstelling en selfs moedeloosheid oor my gekom met die vraag: Waarom kan sulke wesentlik belangrike sake nie meer effektief aan ’n groter deel van die bevolking oorgedra word nie? Dit is asof hier ’n goudveld raakgeboor word, maar daar is ’n onvermoë om dit deeglik te ontgin. Dis soos ’n atleet wat al die potensiaal het om te wen, maar net nie uit die blokke kan kom nie. Sommige van die opstelle is baie toeganklik en lees maklik, ander is weer so hoogdrawend akademies dat dit geen hond haaraf sal maak nie.

Kom ons begin by die eerste kennismaking met die boek: die voorblad. Ek vra myself die vraag af of die uitgewers dit inderdaad so bedoel het en of dit ’n mistasting was? Die voorblad maak ’n swaarmoedige en selfs neerdrukkende indruk. Met die blou, bruin en grys en ’n dik rugkant lyk die boek na ’n outydse manuskrip. Selfs die byderwetse en selfs uitdagende naam van die musiekgroep Fokofpolisiekar as deel van die titel, kry dit nie reg om die oorwegende gevoel te oorbrug nie. Dan is daar nog die onleesbare lettertipe van die subtitel, wat boonop so geplaas is dat dit presies bo-oor die kop van die Volksmoederbeeld beland. Ek het gewonder of die skets van Kannemeyer (2007) wat in die opstel van Lize van Robbroeck opgeneem is (134) nie ’n veel beter en treffender voorblad sou maak nie? Die kontras tussen die stoere Voortrekkermonument en die vier Boere wat die erg gestereotipeerde swart persoon in ’n koloniale hangmat dra, sou die tema van die boek selfs beter as die volksmoederbeeldjie weergegee het.

Nadat die konsep van herinneringsplekke vir die leser oopgemaak is en daar ’n trilling van opgewondenheid deur mens gaan oor die opwindendende idee van simbole van herinnering wat rondom ons lê en wag vir ontginning, begin mens wonder oor wat nou ingesluit en wat uitgelaat gaan word?

Waarom die windpomp en nie die Afrikanerbees nie? Waarom die lokasie en nie die tuisland nie? Waarom Boeremusiek en nie die NG kerk nie?

Die samestellers erken in die inleiding dat “die boek verwaarloos meer potensiële temas as wat dit insluit” en dan word ’n hele reeks “herinneringsplekke” opgenoem wat ook in die boek ingesluit sou kon word. Daarmee erken die samestellers die problematiek van die seleksie van “herinneringsplekke”. En waar dit juis gaan oor groepherinneringe is dit ’n vraag watter individue bepaal watter herinneringe staan nader aan die sentrum van die groepsideniteit en watter is verder weg? Op watter basis is die seleksie gedoen? Dit lyk of dit heel arbitrêr plaasgevind het en ’n mens wonder of dit goed genoeg is vir ’n boek wat definitief bedoel is om akademiese statuur te hê. Waarom die windpomp en nie die Afrikanerbees nie? Waarom die lokasie en nie die tuisland nie? Waarom Boeremusiek en nie die NG kerk nie? In die artikel van Ena Jansen, “Thandi, Katrina, Meisie, Maria, ou Johanna, Christina, ou-Lina, Jane en Cecilia Magdalena”, word verwys na Foucault se werk oor argiewe en daar word gesê: “Die argief is ’n sisteem van insluiting en uitsluiting, van wette en reëls wat vorm gee aan wat wel en wat nie gesê en gehoor mag word nie” (60). Die vraag is of die samestellers van hierdie “argief” bewus daarvan was dat hierdie boek ’n subjektiewe konstruksie is en nie bloot ’n onskuldige ophang van ’n aantal portrette nie. ’n Mens verwag nie noodwendig ’n navorsingsgebaseerde seleksieproses nie, maar dit sou bygedra het tot die subjektiewe integrititeit van die boek indien die redakteurs meer deursigtig was oor wat die kritieria was vir hulle seleksie van onderwerpe en skrywers.

Die seleksie van skrywers laat mens ook wonder oor hoe verteenwoordigend die perspektiewe in die boek werklik is? Elf van die sewentien medewerkers is verbonde aan die Universiteit Stellenbosch, en dan is daar meer uit die buiteland as uit die Noorde. Daarmee word geen refleksie op hulle integriteit en die gehalte van hulle bydraes gesuggereer nie, maar daarmee word die vraag wel geopper oor die gebalanseerdheid van die perspektief. Die Afrikaanssprekende groepe vertoon ’n ryke verskeidenheid. Het ons in hierdie boek nie dalk te veel van ’n eensydig Suidelike perspektief nie?

Die reis neem jou na plekke van skaamte en skande, maar tegelyk ook plekke van nostalgie en trots.

Beweeg ’n mens by die aanvanklike opgewondenheid en teleurstelling verby en kom tot ’n nugtere en oorwoë beoordeling van die boek, is my waardering wel veel groter as die bietjie kritiek. Hierdie boek is ’n formidabele bydrae tot die selfontdekking van die Afrikaner, maar tegelyk tot die ontwikkeling van die breë identiteit van Afrikaans en Afrikaanses. Die Afrikaanse leser word op ’n verrassende reis van selfontdekking geneem. Die reis neem jou na plekke van skaamte en skande, maar tegelyk ook plekke van nostalgie en trots. Dit is asof jy deur die gang stap met al die familieportrette wat daar hang. By sommige gaan staan jy stil met ’n glimlag, soos by Rugby, Die Windpomp en Die Gewel, maar by ander laat jy jou kop in skaamte sak, soos by Die Lokasie, Die Kleurling en Die Bantoe – almal kollektiewe skeppings, party opbouend en party afbrekend, ter wille van die vorming van ’n Afrikaneridentiteit. Dan besef mens hoe betekenisvol die verwysing in een van die opstelle na Ricoeur is, waar die verband ontdek word tussen amnesia (vergeet) en amnestie (vrywaring) – twee woorde met dieselfde etimologiese oorsprong. “Die sug na vergetelheid dui op ’n behoefte aan vrywaring eerder as vergifnis – die behoefte om te vergeet dat vergifnis gevra moet word.” (Van Robbroeck, 133). Op ons tog deur die gang met al die portrette teen die muur, kom daar inderdaad ’n mengsel van behoeftes na vore. Soms wil jy onthou, soms wil jy vergeet en soms wil jy vergeet dat jy moet vergiffenis vra. Mens kom effens ontredderd aan die ander kant uit. Dit laat my as praktiese teoloog wonder of daar nie ’n slothoofstuk nodig was waarin daar op ’n emosionele of dalk selfs ’n pastorale vlak gereflekteer kon word op die belewenis nie? Amper ’n soort rusplek ná al die herinneringsplekke.

Soms wil jy onthou, soms wil jy vergeet en soms wil jy vergeet dat jy moet vergiffenis vra. Mens kom effens ontredderd aan die ander kant uit.

Die rykdom van hierdie publikasie kan moeilik in ’n resensie vasgevang word. Dit is ’n padkaart vir ’n reis na die verlede en daarom tegelyk ’n kragtige bydrae tot die vind van nuwe aspekte van die identiteit. Die aanpak van die reis langs bakens van herinnering (herinneringsplekke) is ’n interessante en effektiewe manier om die geskiedenis te ontgin. Ek wens graag al die bydraers geluk en spreek die vertroue uit dat die boek ’n wye leserskring sal kry.


Die resensie hierbo het oorspronklik in Tydskrif vir Letterkunde 46 (2) 2009 verskyn. Dit word onder ’n Creative Commons-lisensie gepubliseer. Klein stylaanpassings is gemaak.

Deel hierdie storie


Eerste en oudste Afrikaanse tydskrif, sedert 1896

Ons bou aan ’n moderne beeld van hoe Afrikaanswees lyk, lees en klink. Het jy van Gratis boek(e): Van Volksmoeder tot Fokofpolisiekar gehou? Dan ondersteun ons. Vriende van Klyntji word op hierdie bladsy gelys.


 Eenmalig R
 Maandeliks R


Klyntji verklaar 'n klimaat en ekologiese noodtoestand