Inxeba, Moffie, God's Own Country en ander queer films om te kyk
My lys van 20 gunsteling queer films
2006. Brooklyn Mall. Ek kyk my eerste gay kunsfliek by die Cinema Nouveau. Brokeback Mountain. Ek is 20 en nog vars op universiteit. Twee sitplekke voor my sit ’n jong man. Elke keer dat Jake Gyllenhaal sy verskyning maak, sug hy kliphard. Hy is duidelik geïrriteerd. Ek vind die verwerking van die Annie Proulx-kortverhaal egter besonders goed.
Ek leer so dat daar nie iets soos “die beste” is nie — dit is alles subjektief. Vir die mede-filmentoesiaste (en Jake Gyllenhaal-aanhangers) deel ek my gunsteling queer films, party wat tot die 1980’s terugdateer. Die lys is nie aangepas om ’n objektiewe verteenwoordiging te wees nie, dis bloot die films wat ek die meeste van hou.
1. Inxeba (2017)
Die fliek is geskryf deur Malusi Bengu en Thando Mgqolozana en ’n onversoenlike verhaal van die verhouding tussen identiteit en tradisie word daardeur vertel. Dié meesterstuk, waarin John Trengove liefde en wellus in die Xhosa-inisiasie uitbeeld, met Nakhane in die hoofrol.
2. Heartbeats (2010)
Die talentvolle Frans-Kanadese regisseur, Xavier Dolan, het ongelooflike storievertelvermoëns, en in albei sy flieks op my lys (sien ook I Killed My Mother hieronder) is hy suksesvol daarin om die kyker op ’n eensoortige reis te neem. Dit is veral noemenswaardig dat Dolan die regie behartig, terwyl hy ook die hoofrol speel.
3. Moffie (2019)
Ek het die fliek tydens lockdown gekyk en dit het my verwagtinge oortref. Van die eerste minuut af kry regisseur Oliver Hermanus dit reg om ’n spanningslyn te skep in hierdie verwerking van André Carl van der Merwe se memoir Moffie (2006). Hermanus het ook twee films op my lys (sien Skoonheid by nommer 12).
4. Weekend (2011)
’n Lekker romantiese fliek wat nie noodwendig sterk sosiale kommentaar lewer nie. Die film het onder meer die toekenning vir Most Promising Newcomer by die British Independent Film Awards ontvang.
5. God's Own Country (2017)
Waar Brokeback Mountain struikel, slaag God’s Own Country daarin om die storie van liefde as taboe te vertel. Francis Lee is uitstekend in sy uitbeelding van innerlike wroeging en die soeke na selfverwesenliking en aanvaarding. Onvergeetlike karaktervertolking.
6. The White Crow (2018)
The White Crow is ’n biografiese drama oor die beroemde balletdanser, Rudolf Nureyev. Die film, wat gebaseer is op die boek, Rudolf Nureyev: The Life (2019) deur Julie Kavanagh, is deur David Hare vir die skerm verwerk saam met Ralph Fiennes as regisseur. ’n Merkwaardige verhaal wat vertel word oor die spanningslyn tussen die Ooste en die Weste in die tyd van die Koue Oorlog.
7. Pain and Glory (2019)
Pedro Almodóvar! Ek sou selfs meer van sy flieks op hierdie lys wou insluit, maar het myself tot slegs twee beperk (sien I’m So Excited by nommer 15). Pain and Glory is ’n outobiografiese meesterstuk waarin die regisseur ’n treffende huldeblyk aan die ervaring van oudword lewer.
8. My Beautiful Laundrette (1985)
In hierdie 1985-film word die Engelse 1980’s se queer-punk scene vasgevang deur Daniel Day-Lewis se vertolking van Johnny in die fliek. ’n Kultustreffer wat destyds die Academy-toekenning vir die beste oorspronklike draaiboek gewen het. My Beautiful Laundrette word deur menigte kritici as Stephen Frears se mees treffende film beskou.
9. Head On (1998)
’n Lekker culture-clash fliek. Die storie volg ’n jong Griekse man wat sy identiteit probeer vind as deel van ’n kulturele minderheidsgroep in die laat 90’s in Australië. Die film is gebaseer op die boek, Loaded (1995), geskryf deur Christos Tsiolkas, met Ana Kokkinos as die regisseur en Alex Dimitriades in die hoofrol.
10. Stranger by the Lake (2013)
Die Franse film, wat deur Alain Guiraudie geskryf is (hy is ook die regisseur), speel af in ’n bekende cruising spot met ’n sterk spanningslyn tussen liefde en moord. Guiraudie het ’n toekenning vir Beste Regisseur ontvang toe die film by die 2013 Cannes Film Festival première het.
11. Bent (1997)
Die regisseur, Sean Mathias, vertel die liefdesverhaal van twee mans in die donker tyd van vervolging in Nazi-Duitsland. Die rolprent het my veral persoonlik geraak en is opnuut in my gedagtes gegraveer toe ek die konsentrasie- en doodskamp by Sachsenhausen-Oranienburg jare later besoek het.
12. Skoonheid (2011)
Skoonheid is die tweede Oliver Hermanus-film op my lys. Soortgelyk aan Moffie (2019), vertel Hermanus in hierdie film ’n roerende verhaal van onderdrukking in die Afrikaanse volk en lewer kragtige kommentaar oor samelewingstrukture wat queer-wees verstoot.
13. I Killed My Mother (2009)
In hierdie semi-outobiografiese verhaal is die uitdagende verhouding tussen ’n gay tiener en sy ma sentraal. Weereens is Xavier Dolan ’n trippeltalent as die skrywer, regisseur en een van die hoofspelers. As jy van Dolan se werk hou, kyk gerus uit vir Charles Binamé se Elephant Song (2014).
14. Hustler White (1996)
Na my mening verduidelik The Advocate for Fagdom (2011) alles wat mens moet en wil weet oor die punk regisseur en aktivis Bruce LaBruce. Hustler White word as sy magnum opus beskou, waar hy sy politieke agendas deur skoktegnieke versinnebeeld. Ek kan ook LaBruce se 2015-film Gerontophilia aanbeveel. (Van eksplisiete seks tot anargie druk hy gewoonlik al die knoppies wat hy kan, so wees gewaarsku.)
15. I’m So Excited (2013)
Nes Pain and Glory wat vroeër genoem word, kry Pedro Almodóvar dit weereens reg om die kyker mee te voer deur die kenmerkende blou, rooi, geel en groen motiewe van sy storievertelling. Die Spaanse komedie is geskryf deur die film se regisseur Pedro Almodóvar met Javier Cámara, Cecilia Roth, Lola Dueñas en Raúl Arévalo in die hoofrolle. Die oorspronklike Spaanse titel is “Los amantes pasajeros”, ’n dubbelbetekenis wat vertaal na “die vlietende minnaars” en “die passasierminnaars”.
16. Polyester (1981)
Ek sal nooit my eerste John Waters-fliek vergeet nie — die 1977-film Pink Flamingos op die dansvloer van die nagklub, Evol, in Kaapstad. Waters is, soos LaBruce, ’n regisseur met ’n voorliefde daarvoor om sy gehoor te skok. (Om meer oor sy wonderwêreld uit te vind, stel ek sy outobiografiese film Divine Trash (1998) voor.) In Polyester vertolk die bekende Divine die rol van Francine Fishpaw, ’n ma wat haar familie bymekaar probeer hou in die voorstede van Baltimore in die VSA.
17. Derek Jarman: Life As Art (2004)
Die laaste vier flieks op die lys is outobiografiese dokumentêre films wat handel oor queer mans wat deur hulle kreatiwiteit belangrike bydraes tot die queer-spasie gelewer het. Derek Jarman: Life as Art bied ’n blik op die lewe van Derek Jarman, ’n gerekende en kontroversiële filmmaker, skrywer, kunstenaar en, weens sy HIV-diagnose, ’n vurige aktivis vir gay regte. Van Jarman se naaste vriende, insluitende Tilda Swinton, Christopher Hobbs en James Mackay, deel hulle herinneringe van hom in dié dokumentêr.
18. Hockney (2014)
Onder regie van Randall Wright skep hierdie film ’n intieme skets van die Britse kunstenaar, David Hockney. Danksy sy bydrae tot die popkuns-beweging van die 1960’s, word Hockney as een van die mees invloedryke Britse kunstenaars van die 20ste eeu beskou. Die 2014-film oor sy werke en lewe sluit bydraes van Hockney self in.
19. Francis Bacon: A Brush With Violence (2017)
In die film word die misterieuse Francis Bacon uitgebeeld soos die wêreld hom nog nooit gesien het nie. Bacon, wat bekendheid verwerf het as een van die mees opspraakwekkende Britse kunstenaar van die 20ste eeu, was openlik gay, hoewel hy hom uitgespreek het oor sy afkeer van “verfyndheid”. In sy memoir wat deur Michael Peppiatt geskryf is, sê Bacon hy verkies mans wat nie queer is nie.
20. McQueen (2018)
Met Peter Ettedgui se teks en Ian Bonhôte se regie is hierdie film ’n uitstekende portret van die Britse ontwerper, Alexander McQueen, se revolusionêre bydrae tot mode. McQueen het vertel dat hy reeds op die ouderdom van ses besef het hy is gay, maar hy het gewag tot hy 18 was voor hy sy familie vertel het. Die 2018-dokumentêr is ’n roerende verhaal ná McQueen sy eie lewe in 2010 geneem het.