Lees, luister, kyk, trans!
Chan Croeser deel transletterkunde, -flieks en -musiek
In Junie, internasionale Pride-maand, is die media se fokus gewoonlik meestal gerig op gay mans terwyl ander dele van die queer gemeenskap baie minder sigbaarheid het. Lesbians kry dalk op ’n internasionale vlak ’n bietjie meer aandag met reekse soos The Ultimatum: Queer Love (2023), maar ander dele van die gemeenskap, veral trans mense, is feitlik onsigbaar. Wanneer trans mense wel in die kollig is, is dit gewoonlik met betrekking tot die verskeie wette wat tans in die VSA gemaak word om trans mense se vryhede in te perk. Min aandag word geskenk aan die ongelooflike kuns wat deur trans kunstenaars en oor trans mense geskep word. Ek moet bieg dat my kennis oor transkuns, as trans persoon, bitter beperk was en ek wou ’n doelbewuste poging aanwend om meer te leer oor watse stories dié gemeenskap deur kuns vertel. My verkenning sover is uiters insiggewend. Ek ontdek elke dag iets nuuts oor my eie genderidentiteit en besef oor en oor dat selfs van die kleinste, skynbaar onbenullige gevoelens en ervarings wat ek het, deel ek dikwels met ander trans mense. Daar is ’n soort diep lekkerte in die wete dat ander ook eenderse oomblikke van gender-euforie ervaar soos wanneer my girlfriend haar hand op die plat gedeelte van my borskas plaas. En daar is ’n teer gerustheid en omhelsing in die wete dat ek nie alleen hartseer en/of gefrustreerd is deur die samelewing se aanhoudende dissiplinering van gender nie. Die verkenning het my ook bewus gemaak van die ooglopende gapings wat daar veral ten opsigte van Afrikaanse flieks, musiek en letterkunde rakende trans mense is. Kom verken saam met my die verstommende en uitdagende brokkies transverhale wat plaaslik en internasionaal ontvou.
Lees
Mermaid Fillet
Toe ek vir die eerste keer ’n vriend se kopie van Mia Arderne se debuutroman, Mermaid Fillet (2018), opgetel het, was ek stomgeslaan: Dit was die eerste keer dat ek die gebruik van they/them pronouns in ’n Suid-Afrikaanse boek gesien het. Gretig om meer te weet oor Banggat, die nie-binêre karakter, stap ek kort daarna na The Book Lounge om vir my ’n kopie aan te skaf en begin net daar lees. Dit het my so geboei dat ek nie eers besef het hoe donker en stormagtig dit raak buite nie. Hulle moes my uiteindelik uitskop toe dit toemaaktyd is, maar ek wou nie vir ’n oomblik my aandag van Banggat afhaal nie. Ek bestel toe ’n Uber P&G toe om verder te gaan lees terwyl ek wag vir vriende om my te join vir drinks. Daar by die lig van kerse met ’n glas rooiwyn byderhand word ek gegooi van karakter na karakter deur die strate van Kaapstad. Maar dié is ’n ander magic realist-Kaapstad gesien deur die lens van ’n noirfilm waarin ’n godin menstruele bloed laat huil uit die wolke elke keer dat vroue se liggame misbruik word. In hierdie Kaapstad verhandel mermaidvleis teen R4000/kg en ’n trans-nonbinary karakter word die spilpunt in ’n gangster se soeke na ’n Tamagotchi. Verhale met trans karakters neig daarna om transheid die hooffokus van die karakter se rol in die storie te maak. Arderne maak nooit Banggat se genderidentiteit die fokus van die verhaal nie en geen van die ander karakters maak ’n big deal daarvan nie. In stede daarvan, kry hulle dit reg om te wys dat Banggat se transheid net een belangrike dog terloopse deel uitmaak van hulle identiteit as ’n geheel. As iemand wat behep is met True Detective (2014), Park Chan-wook se neo-noirreeks The Vengeance Trilogy (2002—2005) en die Nordic noir The Girl with the Dragon Tattoo-reeks (2005—2007), het ek dit terdeë geniet om iemand soos ek in die middelpunt van ’n noir-misdaadroman te sien. Lees gerus Arderne se gesprek met Mercy Kannemeyer om ’n idee te kry van die wonderlike proses en invloede wat gelei het tot die skepping van die roman.
bottelnek breek bek
Dianne Du Toit Albertze se debuutroman, bottelnek breek bek (2022), is ’n noodkreet wat sê transgender mense is hier, in Afrikaans, en dat ons ook ’n plekkie in die son verdien. Dit bied vir lesers ’n intieme blik op die lewens van ’n tapisserie van karakters, geweef rondom Dora, ’n transgender vrou van Carolusberg, buite Springbok in die Noord-Kaap. Vanaf bladsy een word die leser aan die kraag geruk en saamgeneem op ’n waaghalsige reis deur die donker onderbuik van die Bellville-treinstasie, holderstebolder deur die strate van Woodstock en Kayamandi, tussen die vier mure van die Mystic Boer op Stellenbosch en oor die rooi sand van Namakwaland. Lesers kry insig in trans persone se genderontdekkingsreis. Alhoewel die sigbaarheid van trans persone in die media toeneem, is voorbeelde van trans en gender-nonconforming karakters in die Afrikaanse literatuur skaars. Ek worstel wel met Albertze — ’n Wit skrywer — se besluit om die verhaal in ’n mengsel van Standaardafrikaans, Namakwalandse Afrikaans, Gayle, Kaaps en Sabela te skryf. Die laaste drie taalvorme en/of -kodes word hoofsaaklik in Bruin gemeenskappe gebesig en dus is dit sinvol vir die Bruin karakters in die roman om een of meer van die vermelde taalvorme en/of -kodes te gebruik. Die roman oorskry egter die grens tussen waardering en kulturele toe-eiening omdat ook die Wit karakters, wat in werklikheid eerder Standaardafrikaans of ander variëteite van Afrikaans sou praat, ook dieselfde mengsel van Gayle, Kaaps en Sabela praat. Ek dink Albertze moes meer krities omgegaan het met haar gebruik van Afrikaanse variëteite. As ’n trans leser was dit by tye vir my ook moeilik om aan te hou lees juis as gevolg van hoe hartverskeurend, intiem en sag, maar tog gewelddadig die verhaal is. Die leser word ingelaat in die gewelddadige realiteite en vervreemding wat transgender persone elke dag in die gesig staar, en word nie toegelaat om weg te skram daarvan nie. Terwyl dit belangrik is, dink ek dat dit óók tyd is vir stories oor transvreugde waar trauma nie die hoof lens is waardeur ons gesien word nie. Nietemin is bottelnek breek bek ’n uiters belangrike roman. Jy kan hier my meer in-diepte resensie van die boek lees.
Misfit
Chase Rhys se bundel kortverhale en rubrieke is, soos Elodi Troskie hier skryf, anders as enigiets wat jy nog ooit gelees het. Ek kan jou eintlik net hier verwys na Troskie se resensie wat ’n baie mooi oorsig gee van dié fantastiese bundel. Ek sal wel bysê dat ‘Misfit’, die laaste verhaal in die bundel, my veral getref het en my steeds bybly. Rhys se verset teen die aanhoudende dissiplinering van hul gender het vir my ’n lens gegee waardeur ek my eie lewenslange rebellie beter kon verstaan. Dit het my teruggeneem na die dae toe my ma se beautician my “boelrinkie” genoem het omdat ek nie wou stilsit sodat sy my naels pienk kan verf nie, die dae toe ek my ouma se kaste ingevaar het om modeparades op te voer en al die kere dat ek uitgeskel is omdat ek nie sit, eet, aantrek, lag, praat soos ’n “dame” nie. Veral indrukwekkend van dié verhaal is hoe Rhys dit duidelik maak dat die gewelddadige dissiplinering van trans mense se genderuitdrukking ons eintlik net leer om bang te wees vir die patriargie, daarteen te rebelleer en dit nooit ooit te repliseer nie.
Orlando
’n Transkunslys sal leeg voel sonder Virginia Woolf se Orlando (1928) wat skitter met die lig van ’n miljoen kerse. Orlando het verlede Desember deel geword van my lewe en vergesel my van toe af orals waar ek gaan. Geskryf as ’n love-letter vir en geïnspireer deur die lewe van Vita Sackville West, Woolf se lover, verhaal die roman die lewe van ’n stralende en sjarmante edelman, Orlando. Eendag verval hy in ’n trance-like slaap waarin hy ’n magiese gedaanteverwisseling ondergaan en ná sewe dae wakker word as ’n vrou. Niemand in haar lewe, sy inkluis, is enigsins verbaas oor die verandering nie. Sy leef vir honderde jare maar word nooit ouer as 36 nie. Sy sien hoe die wêreld inkrimp en meer konserwatief raak as gevolg van die Victoriaanse era se klem op monogamie en die huwelik. Sy raak verlief en beleef die kwetsende pyn van verlange. Orlando, onsterflik en ethereal, behoort orals en nêrens. Hulle beliggaam verledes, toekomste, die natuur, die magiese en ryk geskiedenisse. Die roman, wat in 1928 gepubliseer is, is vandag nog radikaal in die omvattende wyse waarop dit transbestaan uitbeeld. Orlando se lewe voel by tye soos ’n acid trip van glinsterende illusies en reflekteer iets van die wyse waarop trans mense die grense van tyd, plek en die self oorskry in ons fluidity. Terwyl ek oor hulle gelees het op die strande van my tuisdorp, het dit gevoel asof ek eindelik woorde gevind het om iets oor myself beter te verstaan.
Paul Takes the Form of a Mortal Girl
Hierdie roman is een van daai lewenskragtige romans wat my oor en oor onkant vang. Elke bladsy van die debuutroman deur Andrea Lawlor pulseer met queer-energie en dit is waarlik onvergelykbaar. Dit begin in 1993 en sleur ’n mens mee met die dwarrelwind van Paul se lewe. Paul is sitting on a secret: Hy is ’n shapeshifter. Gewoonlik wanneer ’n mens die woord “shapeshifter” gebruik, roep dit specific images op van mense met blou velle of Greco-Roman gode wat mense in diere verander. Min (of geen) stories doen dit soos Lawlor s’n nie: Paul gebruik sy shapeshifting kragte om vir homself borste te groei, spiere te groei of kleiner te maak, sy hare langer te maak of sy penis in ’n vagina te verander. Hoewel hy deurentyd hy/hom pronouns gebruik, is hy duidelik daaroor dat sy gender nie vas is nie. Só kan hy beweeg deur die wêreld van lesbian Riot grrrrls, gay leather daddies, woman’s studies-klasse en allerhande ander queer underworlds. Sy avonture deur dié wêrelde is gepeper met anale seks, strap-on dildos en die gevoel van vaginal en clitoral orgasms in badkamers, beddens, parke en selfs woude. Die roman is egter nie nét smutty nie, maar reflekteer ook die liefde, verlies en pyn van queer-lewe in die 90’s. Die wyse waarop Lawlor folklorish flash fiction en verwysings na queer-musiek en -flieks verweef deur die verhaal laat dit soos ’n egte nonbinary-roman voel. Dit reflekteer iets van hoe trans mense die playfulness en fluidity van gender en gender expression beliggaam.
Confessions of the Fox
Die (in-)famous Londense dief, Jack Sheppard, se lewe is al deur baie skrywers, insluitend Brecht en Defoe, vertolk in operas, plays en romans. Maar in hierdie sexy en foxy debuutroman lees Jordy Rosenberg hom vir die eerste keer as ’n trans man. Die verhaal is ’n metafiksie waarin ’n rogue akademikus, dr Voth, Sheppard se memoires vind en saamweef en die leser heeltemal insluk op die beste manier moontlik. Die memoires vertolk Jack se lewe as ’n angstige jong seun wat weens ekstreme armoede uitgelewer is aan die grimy, donker en gevaarlike strate van Londen in die 18de eeu en as tiener verlief raak op Bess, ’n sekswerker. In die onderwêrelde van Londen imagine hulle saam sosialistiese empires waar hulle vry is van die geweld wat hulle daagliks teëkom weens die groeiende behemoth van kapitalisme. Dié boeiende verhaal ontvou in racy kodetaal wat dr Voth in die voetnotas verklaar en het my herinner aan die skryfwerk van Jonathan Swift, Sarah Waters en Eimear McBride. Dr Voth lewer ook kritiese kommentaar in die voetnotas en deel sy eie ervaringe as ’n trans man en akademikus. Hierdie oorspronklike benadering laat dit uitstaan as ’n roman wat trans is in vorm sowel as genre en inhoud. As trans leser kon ek my vereenselwig met Jack se gevoelens oor sy liggaam wat weergegee word met teerheid en eerlikheid. Dit is ’n fantastiese ontvlugting wat terselfdertyd broodnodige kritiek lewer op kapitalisme en hoe dit trans mense en ander minderheidsgroepe in die marges van die samelewing inforseer.
Luister
Christine and the queens (AKA Redcar)
Ek het Redcar eers teëgekom toe hy ‘Tilted’ vrygestel het. Hy het van toe af al verskeie name gebruik wat elk ’n aspek van sy identiteit uitgedruk het. Hy het uitgekom as trans en homself (her-)bekendgestel as Redcar, kort ná sy ma se dood in 2019. Hy beskryf Redcar as volg: “Like my many other names before, it bears a whole belief system; a particular poetry that unfolds to me as I understand it more by living it.” Die fluidity van sy identiteit, die genres van sy musiek en hoe hy hom as kunstenaar voorstel, toon wat Eve Kosofsky Sedgwick “the open mesh of possibilites” van queerness noem. Vandat sy nuutste album PARANOÏA, ANGELS, TRUE LOVE (2023) uitgekom het, luister ek dit elke dag ten minste een keer deur. Dit kraak ’n mens se hart oop sonder om dit te breek en gee klank aan die transervaring soos ek dit nog nooit gehoor het nie. “I've been through so much that sometimes it feels far,” sing hy in ‘To be Honest’. “It’s like a movie plaved by another star. She’s a stranger, to be honest.” Gereeld, as ek terugkyk op my lewe, voel dit vir my en baie ander trans mense ook so. Só skep Redcar ruimte vir ons om saam met sy fluidity te beweeg.
Gender Reveal
Die Gender Reveal-podsending (2018—) het die afgelope paar weke my daaglikse metgesel geword. In elke episode voer die gasheer Tuck Woodstock onderhoude met verskeie trans en queer kunstenaars, aktiviste en opvoeders en ontleed huidige gebeure om gender beter te probeer verstaan. Met onderhoude met skrywers soos Carmen Maria Machado en Jules Gill-Peterson, musikante soos Alynda Segarra van Hurray for the Riff Raff, sowel as Gender 101-episodes is Gender Reveal ’n pragtige kollektiewe bespreking wat kykies in die lewens bied van trans en queer mense. Die belangrikheid van ’n podcast soos hierdie een, ten minste vir my, is dat dit my help om deur my eie ervarings te dink saam met ander wat soortgelyke dinge ervaar, terwyl dit ook die stories bied van diegene wat baie verskillende ervarings het. Dit het my ook voorgestel aan verskeie veral trans kunstenaars, skrywers, denkers, opvoeders en aktiviste wat ek dalk andersins nie sou teëkom nie. Daarby is dit genuanseerd in die wyse waarop dit nie op Wit trans mense en/of trans mense uit die Globale Noorde fokus nie. Beslis een van my gunstelingtoevoegings tot my dag.
Kyk
Call me Miles
Call me Miles (2022) is ’n rou dokumentêr oor Miles, ’n jong Afrikaanse trans-nonbinary persoon. Dit wys hoe hulle hul genderidentiteit ontdek en beter verstaan en die impak wat dit het op hulle lewe. Kykers kry insig oor die uitdagings wat ’n jong Afrikaanse trans persoon deurmaak weens enkel-geslagskole, asook die dissiplinering van gender en seksualiteit wat steeds gebeur in Afrikanergemeenskappe, en veral in Afrikanerfamilies. In die dokumentêr is die fokus veral gerig op Miles se stryd met depressie en die self-harm en substance-misbruik waarmee hulle sukkel as gevolg daarvan. Ongelukkig het dit gevoel asof die dokumentêr dié stryd frame as iets wat hulle meemaak as gevolg van hulle genderidentiteit, eerder as om uit te wys dat dit die gevolg is van die samelewing se dissiplinering van gender. In die onderhoude met Miles, hulle familie, vriende en hulle sielkundige handel die meeste van die vrae oor hulle self-harm en self-doodpogings eerder as hulle soeke na hul genderidentiteit. Op een stadium raak Miles selfs opgewerk en sê: “I don’t like this, I really don’t like this. I don’t think its relevant to me or my transness or to anything that’s important about this documentary... There’s no way for me to discuss this with, no offence, but the extremely ignorant questions you’re asking and maintaining my cool.” Ten spyte van Miles se duidelike ongemak daarmee, val die fokus in die dokumentêr daarna steeds op hulle self-doodpogings. Ek het vir dié rede gehuiwer om Call me Miles in te sluit by hierdie lys. Maar ek dink wat die dokumentêr belangrik maak, is dat dit visibility vir trans-nonbinary mense in die Afrikaanse taalgemeenskap skep. Call me Miles se fokus op hoe Miles se familie omgaan met hul genderidentiteit is ook ’n belangrike manier waarop die dokumentêr deelneem aan ’n gesprek oor die dissiplinêre rol wat die Afrikanerfamilie speel as dit kom by onder andere genderidentiteit. Call me Miles is beskikbaar op Netflix.
Laurence Anyways
Die meeste flieks oor trans mense handel maar steeds oor die geweld wat trans mense ervaar as gevolg van ons genderidentiteit. In hierdie fliek vertrou die regisseur Xavier Dolan egter sy gehoor om reeds ’n begrip te hê van die transfobie wat trans mense ervaar en zoem eerder in op ander aspekte van transbestaan. Die fliek stel kykers voor aan Laurence Alia, ’n skrywer en opvoeder wat op 35 aan haar girlfriend uitkom as trans. Hierdie visueel-voortreflike fliek speel af in die 90’s en wys ’n dekade van Laurence se lewe. Van die eerste scene af kry Dolan dit reg om kykers die soort gaze wat trans mense ervaar, te laat voel. Daar is die kwessie van casting: Laurence word deur ’n cisgender persoon gespeel. Dit is ’n gereelde verskynsel in die media met flieks soos The Crying Game (1992), Boys Don’t Cry (1999), Dallas Buyers Club (2013) en The Danish Girl (2015). Dit is na my mening ’n kwessie wat te ingewikkeld is om hier oor te praat omdat dit ’n voortgaande gesprek is wat goed deurdag moet word. In die geval van Laurence Anyways (2012) dink ek juis dat dit moontlik traumaties kon wees vir ’n trans vrou om die rol te speel omdat groot gedeeltes van die fliek fokus op Laurence se lewe voor sy kon uitkom. Dolan se elektriese en digterlike gebruik van musiek, surrealisme, kleur en die invalshoeke van die kamera maak kykers affektief deel van hoe Laurence haar platoniese, romantiese en familiale verhoudings deur die loop van haar transition hanteer. Die fliek durf om die vraag te stel: Kan en moet daar ruimte wees vir trans mense in normatiewe bestaanswyses soos trou en kinders kry? Of moet daar eerder weggedoen word met normatiwiteit en die strukture wat dit onderhou?