'G'n trots, maar ook g'n skaamte'
kommapunt woordfees.jpg

'n Produksie wat praat oor depressie

"Dit was drie jaar terug, ek het met depressie gesukkel en besluit om 'n WhatsApp-groep te stig," vertel Du Toit Albertze, wat die groep studente en 'n skolier van Stellenbosch vir die eerste keer saamgeroep het. Daar is toe gedigte en verhale geskryf oor depressie met die idee om dit by 'n open showcase te deel. Die samevoeging daarvan was informeel en die skryfwerk is soos 'n "lappieskombers" aanmekaargesit. Op die laaste minuut is die produksie ingeskryf vir 2017 se Woordfees, dit het toe aangegaan om 'n Woordtrofee, as Beste nuweling by die fees, te wen. 

Ek woon 'n dress rehearsal van 2018 se Kommapunt by, vanjaar met vyf lede, waarvan een in die hospitaal is en nie die oefening kan meemaak nie. Daar is nie make-up of kostuums of enige ander vermommings wat mens sou verwag by 'n dress rehearsal nie. Nee, hierdie is net die karakters as hulself met hul eie woorde oor wat in hulle diepste rondmaal. Die rehearsal vind plaas in 'n deurmekaar studentewoonstel in die East Lynne-kompleks. Dit is hierdie einste woonstel wat op die verhoog nageboots word met hopies klere en skoene wat rondlê, skottelgoed en die lot. Die "akteurs" sit in 'n sirkel, op beddens en ou stoele, en voer met mekaar 'n gesprek oor waar hulle in die lewe is en hoe hulle tans daarmee omgaan. Hulle lees hul skryfwerk voor en moedig mekaar aan om te deel wat hulle mee wroeg. So ook met my teenwoordigheid, word die gehoor intiem betrek. By 2017 se produksie is 'n sirkel rondom die gehoor gevorm deur die geselskap. Amper iets soos uit 'n Peter Brook stuk, merk Du Toit op.

Kommapunt se eerste geselskap in 2017.

Kommapunt se eerste geselskap in 2017.

Die organiese produksie is nouliks verbind aan die lede se huidige geestestoestand. Die groep is deur Woordfees gevra om vanjaar weer 'n produksie aan te bied, ná die debuut se oorwegende sukses, maar die teks is hiervoor heeltemal oorgeskryf. "Ons sou nie weer dieselfde teks kon gebruik nie, jy voel nie meer soos jy 'n jaar gelede gevoel het nie," vertel Lisa Strydom wat deel van die groep uitmaak. "Verlede jaar was baie rou gewees, die gehoor het gehuil tydens die vertoning, hulle was vir dae lank na die produksie ontstel." Hulle vertel verder dat hulle almal ook sedert verlede jaar se produksie vordering gemaak het. Du Toit vertel: "Ons het 'n meer gesonde perspektief op depressie, ons is teen kitsoplossings al verskil elkeen se manier om daarmee om te gaan." Hulle vertel dat dit waarskynlik die laaste keer is wat hulle hierdie produksie gaan doen. "Dit het sy healing purposes gehad, maar dit raak nou moeilik om terug te gaan en om ou koeie op te grawe."

Illustrasies deur Manuela Ladu

Elkeen se eie beweegrede   

Lisa vertel haar stukke is vanjaar meer emosioneel, waar sy verlede jaar meer weggeskuil het. "Ek fokus op die groei wat daarvan kom om deur moeilike dinge te beweeg. Soos om mense uit jou lewe te moet sny wat daar was vir 'n groot deel daarvan." Die repetisies was vir haar, en die ander, soos terapie. "Soms het ons nie eers die teks aangeraak nie, mens leer altyd baie in hierdie ruimte."  

Du Toit lig uit dat moeilike lewenservarings nie jou identiteit vorm nie.

Suzanne Koen vertel dat sy verlede jaar meer gepraat het oor mense na aan haar wat deur depressie gegaan het, maar dat haar skryfwerk vanjaar meer oor haar lewe gaan, veral met die dood van haar pa. "Dit gaan vir my ook om jouself te aanvaar, al is jy weird, want dis al wat jy het – jouself. Embrace jou difference."

Vir Francois du Plessis gaan dit om jou self-waarde te behou al is jy in 'n donker plek. "Met verlies en ontwrigtings bevraagteken jy jou waarde."

Marichje de Necker, wat ook deel van die groep is maar nie daar kon wees nie, kyk weer na leefstylveranderinge om die effek van swaarmoedigheid te verlig, soos 'n meer aktiewe leefstyl. Die groep spreek hul verlange na haar uit met haar afwesigheid: "sy sê 'n ding soos dit is, sonder tierlantyntjies". 

Du Toit vertel dat mense desperaat is vir 'n platform om hulle gedagtes en emosies met ander te deel, veral jongmense. Hy verwys na die Dooie Digters-Facebookgroep wat vir baie 'n uitlaatklep is sowel as 'n plek om hul skryfwerk te deel, maar wat volgens hom 'n kompetisie geraak het vir "wie se seer die seerste is". Francois noem dat dit nie net jongmense is wat met depressie wroeg nie, maar dat dit universeel is oor alle ouderdomme. "Ouer mense sukkel met eensaamheid," sê hy. Heelwat mense van ouer ouderdomme het hulle na die produksie bedank vir wat hulle doen, maar daar was ook een of twee met 'n sywaartse opmerking.

"Depressie is nie 'n taboe nie, soos wat dit in die verlede gesien was om te wees nie. Dit is nodig om die stigmas rondom dit af te breek. Gesprekke oor depressie hoef nie neerhalig of swartgallig te wees nie, dit kan lighartig ook wees. As mense die stuk gaan kyk besef hulle dat hulle nie alleen is nie," vertel die groep gesamentelik.


Redakteur van Klyntji, assistent-kurator van die Konstitutionele Hof se kunsversameling en tans besig met 'n LLM in mediareg. Instagram / redakteur@klyntji.com

Deel hierdie storie


Eerste en oudste Afrikaanse tydskrif, sedert 1896

Ons bou aan ’n moderne beeld van hoe Afrikaanswees lyk, lees en klink. Het jy van 'G'n trots, maar ook g'n skaamte' gehou? Dan ondersteun ons. Vriende van Klyntji word op hierdie bladsy gelys.


 Eenmalig R
 Maandeliks R


Klyntji verklaar 'n klimaat en ekologiese noodtoestand