Nhlanhla Mahlangu in CHANT
DMV6zNaX4AA0riQ.jpg

CHANT is ’n stuk werk wat in Maart 2012 by die Goethe-instituut gewys het (weer in 2017), wat as ’n seminale werk van akteur en musikant Nhlanhla Mahlangu beskou word. Dit was onlangs ook aangebied as die laaste vertoning van Centre for the Less Good Idea se tweede seisoen in Maboneng, Johannesburg, met Gerard Bester as regisseur.

Die eenman vertoning skakel eers na sowat tien minute oor na Engels, wat gevolglik ’n oorwegende deel van die gehoor in die skoene van vervreemding plaas, soos net sommige gehoorlede op wat gesê word reageer.

’n Storie word vertel van ’n ouma, ’n hondjie genaamd Penny en ’n jong seun in ’n tyd en spasie gekreupel deur die geweld van apartheid, in die 80′s en 90′s. Die hondjie, wat aan ’n wit gesin in Alberton behoort, is die jong seun se enigste geselskap. Sy ouma lig hom egter in dat die hondjie net Engels verstaan, alhoewel die drie-jarige nie “enige Engels in sy lyf het nie”. Gevolglik maak die seuntjie en hondjie hulle eie taal op waarmee hulle kommunikeer.

Die gesin trek weg en gee die hondjie, saam met ’n paar gebruikte potte en panne, aan die seun en sy ouma. Die hondjie se nuwe lewe in die plakkerskamp is steeds beter as al die mense wat daar bly - sy kry spesiale hondekos en bederfies, anders as die pap en marog van haar nuwe eienaars. Penny is die enigste hond wat binneshuis slaap, en teel ook vinnig aan oor die jare.

’n Interaktiewe toneel betrek die gehoor by ’n aand waar die veiligheidspolisie die Pholapark plakkerskamp binnevaar met casspirs en outomatiese masjiengewere. Daar word vertel hoe ’n polisieman oor ’n casspir se luidspreker wiegeliedjies singskree. Die gehoor word die geluide van die onderskeie vuurwapens aangeleer, die bygaande klanke van polisiefluitjies (wat gehoorlede blaas) asook spesifieke chants. ’n Kakafonie van chaos.

Die onmenslikmaking en kwesbaarheid wat die apartheidsisteem tot gevolg gehad het word deurlopend uitgebeeld, in onder meer ’n toneel met sement en stof en die futiele poging om stukkies van ’n gebreekte kleipot weer bymekaar te sit.

’n Vervalle stofstuier, wat net-net nog werk, word deurlopend as ’n kostuum en prop gebruik, ook as ’n metafoor van hoe die mens afgemaak word tot die status van rommel. – Francois Lion-Cachet

  • Foto: Nina Lieska / Repro Pictures

Deel hierdie storie


Eerste en oudste Afrikaanse tydskrif, sedert 1896

Ons bou aan ’n moderne beeld van hoe Afrikaanswees lyk, lees en klink. Het jy van Nhlanhla Mahlangu in CHANT gehou? Dan ondersteun ons. Vriende van Klyntji word op hierdie bladsy gelys.


 Eenmalig R
 Maandeliks R


Klyntji verklaar 'n klimaat en ekologiese noodtoestand