Lianca Heemro stik en timmer haar herkoms byeen
Haar kuns, 'n vorm van selfverkenning, werk historiese uitwissing teen
Lianca Heemro (1998—) is ’n transdissiplinêre kunstenaar van Kaapstad. Sy beskryf haar werk as ’n proses van selfontdekking en -hersiening. Dit is ook ’n vorm van onthou. Haar werk handel oor Coloured-identiteitskonstruksie. Sy skryf dat Coloured Suid-Afrikaners se erfenis histories uitgewis en ondermyn is; taal, maniere van praat, tradisies en gebruike inkluis. Dié uitwissing was wel nie volslae nie. In haar werk fokus sy daarop om kulturele erfenis opnuut uit te bou deur menigte gefragmenteerde brokkies kennis uit die verlede aan mekaar te verbind – soos ’n lappieskombers.
Heemro het ’n BA in kontemporêre kuns aan die Cape Town Creative Academy verwerf. Heemro se navorsing sluit ’n reeks bronne en onderwerpe in: genealogie, geheue, apartheid, kolonisasie in die Suid-Afrikaanse konteks, slawerny, die Khoi- en San-groepe, sowel as visuele en tekstuele argiefbronne van Coloured-geskiedenis en -erfenis in Suid-Afrika. Haar teoreties-gegronde kuns beeld digte konsepte visueel uit. Dit is by tye soos om met ’n akademiese teks gekonfronteer te word.
In haar onlangse navorsing is sy veral geïnteresseerd in die muiterye wat tydens die Suid-Atlantiese slawehandel op skepe plaasgevind het. Sy werk tans aan twee kunswerke, Hova-Amhaniandro en 1834 – 1948 114, wat spruit uit haar kennisname van die Hollandse slaweskip Meermin en dié se muitery, gelei deur Massavana en Koesaaij wat in opstand teen slawerny gekom het. Al het die slawe beheer van die skip oorgeneem, is hulle deur die Hollanders gekul en aan die Kaap in hegtenis geneem. Hulle is uiteindelik op Robbeneiland oorlede. Die dokumentêr Secrets of the Dead: Slave Ship Mutiny het as ’n bron vir Heemro gedien.
Hieronder volg ’n bespreking van sommige van haar werke.
Die oorblywende
In die fotoreeks Die oorblywende fokus Heemro op hoe kledingstukke as identiteitsmerkers funksioneer. Sy ondersoek die verskille en ooreenkomste tussen die Kaaps-Maleise- en Kaaps-Coloured-identiteit. Die kopdoek en materiaalkeuses vorm deel van die sartoriale kultuurstudie. Heemro verken ook haar eie veelrassige identiteit en erfenis: sy word as Kaaps-Coloured geag, al is haar ouers se ouers afkomstig van die Noord-Kaap, Oos-Kaap en die Vrystaat. Sy vertel dat haar beskikbare familierekords nie verder as drie generasies strek nie.
Mijn hare
Die video handel oor wat Heemro beskryf as haar radikale aanvaarding van haar identiteit en die betekenis wat sy daaraan heg. In die video sing sy: “I said… It’s not my culture. I sing for myself”. Volgens Heemro is die kernbetekenis van dié liriek haar keuse om Afrosentries te wees. “Being Coloured South African, I had to be honest with myself when I realised that everything I had been learning about my identity and culture probably was never created from the ideas of people like me.” Sy voeg by dat verwestering Coloured-wees indoktrineer het, soos om reguit hare te wil hê en om “goeie” Engels te wil praat. Sy verwys ook na die Amerikaanse tignon-wette wat “gekreoliseerde” vrouens verbied het om hulle hare in natuurlike vorm of om kulturele kleredrag te dra.
Taal is ook ’n belangrike aspek in Heemro se werk. Sy praat vlot Engels, intermediêr Afrikaans, en verstaan dus Hollands gedeeltelik. “I reference languages as mixtures of themselves – among themselves.” Volgens haar is die titel Mijn hare, in ’n vroeë vorm van Afrikaans, ’n verwysing na hoe hierdie taal en Coloured-wees ontstaan het.
The ‘Coloured’ image of Afrikaans
Hierdie installasiewerk handel oor Arabies se rol in die geboorte van die Afrikaanse taal. Heemro beskryf The ‘Coloured’ image of Afrikaans as ’n hersiening en herdenking van Achmat Davids se werk, spesifiek sy artikel Words the Cape slaves made: A socio-historical-linguistic study (1990).
In die werk beeld Heemro die bande tussen Kaaps-Coloured- en Kaaps-Maleise-erfenis uit; bestaande uit geloof en kultuur, die primêre dryfkragte agter Afrikaans se ontstaan. ’n Uittreksel uit ’n Arabies-Boeginese geskrif deur Jan van Boughies (of Boekies), soos vervat in Davids se artikel, is oorgedra op die materiaal in Afrikaans, in Arabies-Boeginees en in Boeginees. Die samevoeging van hierdie tale is strategies om hulle verbondenheid aan mekaar te wys. “Soerat”, “darie” and “ientoe” wil-wil herinner aan Afrikaans, al is dit Boeginees. “Tariemakaasie” klink weer bekend vir ’n Suid-Afrikaanse Moslem, vertel Heemro. Die interverwantskap van die tale word uitgebeeld deur drie kolumme wat na mekaar kyk.
Kan sy my hoor
Heemro onthou haar ouma deur ’n handgestikte gedig in Kan sy my hoor. Die gedig is in Afrikaans omdat Heemro se ouma Afrikaans was, soos die meerderheid van haar familie, en omdat dit ’n groot deel van Heemro se kulturele identiteit vorm. Volgens die kunstenaar wou sy haar herinneringe aan haar ouma vasvang. Sy gebruik lint omrede haar ouma aan kanker oorlede is. Een van die reëls wat in die werk voorkom, lees: “Wat dink Ouma van die feit dat ek as Engelse meisie / Grootgemaak is?”
Die lewe en die krag van die dood
In hierdie werk word Achille Mbembe se term “necropolitics” verken – dit is om sosiale en politiese mag te gebruik om te bepaal hoe sommige mense mag leef en hoe ander moet sterf. Heemro se omskrywing is “om te lewe as ’n vorm van die dood”. Die installasie is ’n poëtiese erkenning van en huldeblyk aan lewens wat verwoes en verlore is. Dit roep ook die Nama-kultuur op, wat Heemro mee identifiseer. Sy skryf: “[I]t was necessary to use cultural devices of language, tradition, dress, the body and spiritualism to deliver this expression.”
Die simboliese werk kom doelbewus voor as delikaat, ongedaan en onaangeraak, maar bowenal dra dit ’n gevoel van verdriet oor. Die vloerplanke verteenwoordig die idee van ’n versperring tussen die lewe en die dood; die dele wat kort gee ’n gevoel van onvoltooidheid. Daar word betreur hoe die hegemoniese Westerse en Eurosentriese kennisstelsels op Afrika afgedwing is. “The progression of this cultural assimilation and socio-cultural imperialism drastically forced the minority groups to lose their cultures and traditions,” skryf Heemro.
Ikhapara
Die videowerk verteenwoordig Heemro se verkenning van die rieldans. Sy het die rok wat sy in die video dra, met die hand gestik. Sy noem dat die tasbaarheid van die stikproses ’n dieper verbintenis met die rieldans tot gevolg gehad het. Heemro het ook Victoriaanse en Hollandse rokke bestudeer in vergelyking met kontemporêre kledingstukke. Tekstiel speel ’n prominente rol in Heemro se praktyk.
Airport
In Airport is Heemro se aandag gefokus op hoe vroue digitale beelde van hulself skep en hoe die vroulike liggaam op die internet uitgebeeld word. Sy verwys na ’n onderhoud met Barnett Newman waar hy oor sy kuns en siening van kuns praat en hoe dit aanskakel by die menslike kondisie. Vir haar behou die vrou agentskap deur selfverteenwoordiging, terwyl die virtuele ’n ruimte skep vir ’n nuwe realiteit.
!Haese mûgus
“ǃHaese mûgus” beteken “sien jou binnekort” in Khoekhoegowab. Die werk gaan oor Heemro se omhelsing van die Khoi en San se inheemse Suid-Afrikaanse identiteit. Geheuespore – dit wat in ons bewussyn agtergelaat word – kan nagevolg word om weer by dit wat was, uit te kom. Die werk is ’n brose besinning oor, en daadwerklike proses om tot heelheid te herstel. “This art piece deals with traces of memory: aspects of learning and unlearning: and the mendable nature of remembrance. Part of my practice, currently, involves me engaging with learning – more specifically self-learning, and revising my knowledge of my own cultural heritage. I normally use my own body and my own personal life experiences in order to explore formulated narratives in my work,” skryf Heemro. Haar grootouers kom van O’kiep in Namakwaland, iets wat sy ook in hierdie werk dieper mee kennis maak. Buiten die materiaal, garing en krale in !Haese mûgus sluit hierdie installasie ook die klank van ’n //gwashi-musiekinstrument in wat tradisioneel deur die Nama gebruik is. Heemro se kuns is ’n meditasie: dit gaan die teerheid van die onderwerpe wat dit aanraak te bowe.