Onderhoud met Amé Bell, SA-kurator van die Venesiese Biënnale 2022

Onderhoud met Amé Bell, SA-kurator van die Venesiese Biënnale 2022

Foto via La Biennale di Venezia

Die Olimpiese Spele van beeldende kuns

FRANCOIS: Dis ’n groot eer en uitdaging om as kurator vir die Venesiese Biënnale gekies te word, in hierdie geval vir die Suid-Afrikaanse paviljoen (vir dié wat nie weet nie, dié Biënnale word soms beskryf as die Olimpiese Spele van beeldende kuns). Julle is natuurlik ’n hele span agter die skerms. Hoe lank vooraf het julle aan die tender-voorstel begin werk, en wie het die span saamgestel? Het jy al ooit vantevore vir die biënnale ’n aansoek ingedien?

AMÉ: Ons het in Oktober verlede jaar ons voorlegging ingedien waarna ons aan die einde van Desember in kennis gestel is dat ons gekies is om Suid-Afrika in Venesië te verteenwoordig. Ons het vroeg in Januarie aan die werk gespring met die ontwerp van die uitstalling, gepaardgaande met die produksie van die kunswerke, en was darem betyds klaar vir die opening. Die kernspan het saam na ’n hele aantal kunstenaars gekyk om te sien wie die tema van Into the Light die beste kon verteenwoordig. Phumulani Ntuli, Lebohang Kganye en Roger Ballen se werke het baie goed saamgewerk om die narratief uit te beeld. Ons is almal baie gelukkig met die eindproduk. Ek het nog nooit vantevore aansoek gedoen vir die biënnale nie en voel werklik bevoorreg en geëerd vir hierdie geleentheid. 

Phumulani Ntuli

Lebohang Kganye

 

Roger Ballen
Foto’s verskaf

 

FRANCOIS: Suid-Afrika neem weer sedert 2011 aan dié biënnale deel en het tot 2032 ’n vaste plek by die Arsenale. Dis goed dat Suid-Afrika se teenwoordigheid en reputasie in die kunswêreld versterk kan word. Kon jy al van die vorige biënnales bywoon? Ek is nuuskierig oor watter uitstallings deur Suid-Afrikaanse kunstenaars, plaaslik en internasionaal, ’n blywende indruk op jou gemaak het? 

AMÉ: Alhoewel Suid-Afrika reeds in 1950, 1966 en 1968 aan die biënnale deelgeneem het voor die sanksies teen apartheid, en weer later in die 1990’s, is die konstante deelname eers bewerkstelling sedert 2011. Alhoewel die biënnale altyd op my radar was, het ek nooit die geleentheid gehad om die biënnale te kon bywoon nie. Ek was wel in kontak met ’n paar van die vorige projekbestuurders, kurators en kunstenaars wat vroeëre jare Suid-Afrika verteenwoordig het: Christopher Till wat ’n paar jaar as kommissaris en kurator opgetree het, en Lucy MacGarry wat in 2017 kurator was met die aanbieding van Mohau Modisakeng en Candice Breitz se werk wat die stereotipes oor hoe Afrika verteenwoordig word, uitgebeeld het. Vanjaar was ek mal oor die Paula Rego-uitstalling in die Giardini van haar Dog Woman-reeks. Igshaan Adams se monumentale tapisserie-werk was ook vir my onvergeetlik; dit put uit geometriese patrone van vloere wat in die huise van sy direkte gemeenskap in die Kaap gevind word en bestaan uit verkrygde hout, plastiek, krale, skulpe en tou. Die werke is gekoppel aan die kommoditeitshandel en plaaslikheid in postkoloniale Afrika. 

FRANCOIS: Die Suid-Afrikaanse paviljoen is ’n vertoonkas van die land se beste kunstenaars, maar ook ’n gesiene platform om hedendaagse kwessies te opper. Wat is die oorkoepelende en prominente temas wat na vore kom met Into the Light? Hoekom hierdie onderwerpe?

AMÉ: Into the light komplementeer die oorliggende tema The Milk of Dreams [die biënnale se sentrale uitstalling, waaronder Adams se werk ingesluit is] deur klem te lê op die reise en ontdekkings van elk van die kunstenaars ten opsigte van hulle artistieke praktyk en daarmee saam herverbeelde identiteite. Die tema is ’n refleksie van die inperking en gepaardgaande isolasie tydens die pandemie, maar ook van hoe hierdie tydperk ’n periode van verhoogde kreatiwiteit vir baie kunstenaars was. Alhoewel hierdie gedwonge isolasie nadelig kon wees, het dit ook die geleentheid gebied om ons fokus na binne te draai en deur ’n proses van selfevaluering te gaan. 

Into the Light sinspeel op verskeie lae van ondersoek; om die diversiteit van kunstenaars in Suid-Afrika na vore te bring op hierdie internasionale verhoog, die sukses van elke kunstenaar as onafhanklike skepper wat nie noodwendig bevorder word deur groot Suid-Afrikaanse galerye nie, sowel as die simboliese metamorfose van die mensdom en ons denkwyses in hierdie tydperk van die pandemie. 

Die tema is verder ’n weerspieëling van die persoonlike ondersoeke van die kunstenaars met betrekking tot sosiale en politiese kwessies in Suid-Afrika. Ntuli verwys spesifiek na die herdefiniëring van identiteit en die surrealistiese landskappe waarin ons, ons bevind ná die pandemie. Kganye se karakter Snow Black is ’n skadufiguur wat sy deur haar werke na die kollig bring en daardeur kritiek lewer op verskeie sosiale en kulturele uitdagings in Suid-Afrika. Ballen se werke spreek tot die onderbewussyn van die aanskouer wat gekonfronteer word met dele van hulself waarvan hulle nie bewus was nie.

Die uitstalling bewerkstellig verder ’n gesprek oor ’n werklikheid van voortdurende swaarkry, ongelykheid en oorlog en waar die skeiding tussen dié wat het en wat nie het nie al hoe groter word. Dit open ook ’n gesprek oor die digitale ruimte wat, in teorie, ons nader aan mekaar moet bring maar in realiteit verdere isolasie veroorsaak. 

Amé Bell

FRANCOIS: Vir ’n Wit, Afrikaanse vrou om as kurator op te tree vir post-apartheid Suid-Afrika is betekenisvol. Tot watter mate speel erfenis en (identiteits-)politiek by jou kuratoriale aanslag en selfbewustheid in? Suid-Afrika is die som van al haar mense, maar ras bly ’n gelade ding. 

AMÉ: My erfenis speel geen rol in my kuratoriale aanslag nie. My benadering is hoofsaaklik gerig op die kunstenaars, hulle prosesse en praktyk sowel as die narratiewe wat deur hulle werke verbeeld word, maar identiteitspolitiek is onvermydelik in Suid-Afrika. Ek is dankbaar dat die kunstenaars so baie vertroue in my vermoë gehad het om hulle werke aan die gehoor te vertaal ten spyte van ons almal se diverse kulturele agtergronde. 

My erfenis speel geen rol in my kuratoriale aanslag nie.
— Amé Bell

FRANCOIS: Dink jy kurators in Suid-Afrika en wêreldwyd het spesifieke verantwoordelikhede in hoe hulle hul praktyk benader en uitoefen? Ek vra hierdie vraag in die lig van wat ons in die oë staar: die omgewingskrisis, ongelykheid, pandemie(s), oorlog…

AMÉ: Kurators het beslis ’n verantwoordelikheid in hoe hulle hul praktyk benader. Ek dink die rol van die kurator is om kunstenaars te bevorder deur in diepte kennis van hulle werke op te bou en maniere te vind waardeur die kunstenaar se proses, temas en narratiewe aan ’n groter gehoor oorgedra kan word. Natuurlik moet die kurator sy of haar praktyk met sensitiwiteit rondom groter kwessies benader en ek dink dit is belangrik om die toepaslikheid van die kunstenaars se werke en uitstallings binne ’n groter konteks vas te stel. 

FRANCOIS: Hoekom het jy Roger Ballen gekies om deel te vorm van die uitstalling? Hy is tog ’n Amerikaanse kunstenaar. Sy werk is performatief en soms ervaar ek ongemak in hoe hy randfigure ten toon stel. Hy doen egter goed vir homself.

AMÉ: Alhoewel Ballen in Amerika gebore is, woon en werk hy sedert die 70’s in Suid-Afrika. Hy was ’n interessante keuse; eerstens vir die temas wat hy in sy werke uitbeeld – waar drome vandaan kom en om sin te maak van ons inherente self deur diep in die psige in te vaar. Hy ondersoek die verhouding tussen werklikheid en fantasie en hoe ons daarvan sin maak. Ballen het ook deur die jare sy proses as kunstenaar aangepas en homself vele maal herdefinieer, maar het nooit die geleentheid gehad om by die biënnale uit te stal nie. Hierdie droom is hierdie jaar verwesenlik en ek voel geëerd om hierdie oomblik saam met hom te kon deel.  

In 2007 het hy die Roger Ballen Foundation geskep wat toegewy is aan die bevordering van fotografie-opleiding in Suid-Afrika. In 2019 en 2020 het Ballen die Inside Out Centre for the Arts in Johannesburg gestig waar opleiding gereeld kan plaasvind. Hierdie instansie funksioneer ook as ’n platform waar kunstenaars hulle werke kan uitstal en waar gesprekke rondom die ontwikkeling en transformasie van fotografie in Suid-Afrika kan plaasvind. Dit lewer ’n betekenisvolle bydrae tot die Suid-Afrikaanse kunslandskap. 

FRANCOIS: Lebohang Kganye se reeks B(l)ack to Fairy Tales spreek tot die Weste se kulturele en ekonomiese invloed op Afrika. Vertel asseblief meer oor die belangrikheid van haar werk, waarvoor sy onlangs internasionaal bekroon is. 

AMÉ: In die reeks B(l)ack to Fairy Tales lewer Kganye kritiek op Westerse fiksie wat onbereikbaarheid skep veral in die Suid-Afrikaanse township-konteks. As kind was Sneeuwitjie Kganye se gunstelingfeekarakter: toe die oudisietyd kom vir dié rol in haar skoolkonsert is sy eerder as ’n sonneblom vir die produksie gekies. Sy het daarna die karakter Snow Black geskep en haarself die protagonis van haar eie sprokiesverhaal gemaak. 

Kganye herskep herinneringe op verskeie maniere om sin te maak van haar erfenis, die omstandighede waarin sy grootgeword het, sowel as haar verhouding met haar familielede. Hierdie werke is ’n poging om gapings te vul en skep sodoende tot ’n mate ’n alternatiewe werklikheid deur nuwe stories. Sy praat op ’n subtiele wyse oor die nagevolge van apartheid en deur hierdie proses word Kganye meer bewus van hoe vloeibaar en subjektief herinneringe is vir die verteller, en hoe geskiedenis moontlik herskryf kan word.

As kind was Sneeuwitjie Kganye se gunstelingfeekarakter: toe die oudisietyd kom vir dié rol in haar skoolkonsert is sy eerder as ’n sonneblom vir die produksie gekies. Sy het daarna die karakter Snow Black geskep en haarself die protagonis van haar eie sprokiesverhaal gemaak. 
— Amé Bell

FRANCOIS: Wat behels Phumulani Ntuli se werk in hierdie uitstalling? Ek verstaan dit as ’n verbeeldingsvlug oor die buigbaarheid van Afrika-identiteit en kulturele assosiasie heen, in die konteks van tegnologie en globalisering se oopbreek van grense, maar ook die verdieping van politieke verdeelthede.  

AMÉ: Ntuli se werke word deur verskeie mediums verwerklik, waardeur hy aspekte van binêre verhoudinge tussen die geleefde en alternatiewe werklikhede na vore bring. Ntuli se werke sluit in gemengde media op doek, animasie en stop motion-animasies, sowel as elemente van verhoogde realiteit-tegnologie. Dit verbeeld sy ondersoeke met betrekking tot land-kwessies, plekke van tuishoort en ’n herdefiniëring van identiteit. Hy verken vorme van performatiwiteit in die gebruik van digitale media en hoe die grense tussen die werklikheid en die digitale ruimte oorskry word veral ná die isolasie tydens die pandemie.

FRANCOIS: Watter kultuurprodukte (series of flieks, boeke, musiek, opvoerings, kunsuitstallings, argitektuur...) het jy onlangs geniet?

AMÉ: Ek het Italo Calvino se Invisibile Cities (1972) gelees wat vir my aanbeveel is as navorsing voor ek Venesië toe gaan. Ek is ’n groot liefhebber van rock- en alternatiewe musiek en het onlangs ’n hele paar musiekgroepe by Eurorock en In the Forest Sessions in Johannesburg geniet, my gunstelinge was WONDERboom en Fokofpolisiekar. Ek put ook genot uit die intieme musiek en teateropvoerings by The Bioscope en het onlangs ’n fantastiese opvoering van die musiekgroep Blvd Hvnny beleef. 

Foto’s verskaf

Deel hierdie storie


Eerste en oudste Afrikaanse tydskrif, sedert 1896

Ons bou aan ’n moderne beeld van hoe Afrikaanswees lyk, lees en klink. Het jy van Onderhoud met Amé Bell, SA-kurator van die Venesiese Biënnale 2022 gehou? Dan ondersteun ons. Vriende van Klyntji word op hierdie bladsy gelys.


 Eenmalig R
 Maandeliks R


Klyntji verklaar 'n klimaat en ekologiese noodtoestand