Angie oeh is vars, uitdagend en sonder inhibisie

Haar debuut-EP, Sex in Afrikaans, is 'n revolusie van dans

Die opwindendste ding in Afrikaanse musiek op die oomblik is ’n jong, queer vrou met face tats wat rap oor tieties, big booty bitches en — sensitiewe lesers, kyk weg! — poes.

Angie oeh is unapologetically en confrontationally haarself. In fact, sy wíl mense uitlok met haar eksplisiete lirieke en onkonvensionele image, wat sy self beskryf as ’n “in-jou-gesig zap vir seksisme, homofobie, geslagsgebaseerde geweld en ongelykheid”.

Angie oeh (die “oeh” is volgens haar “just for spice”) is ’n mumble rapper van Die Moot, Pretoria. Haar eerste enkelsnit ‘Dis jou wyfie’ het sy in haar klerekas by haar huis op haar ou Samsung A23-selfoon opgeneem. Sy het met dieselfde Samsung ook die beats vir die snit gemaak. Die snit is aan die einde van 2021 vrygestel.

Fast forward na die begin van 2022, en Angie oeh het collabs met Loufi (‘Dis jou wyfie (Remix)’), Jack Parow (‘Meisies & Partytjies’) en Peach van Pletzen (‘Big Booty Bitch’). Teen Maart 2022 verskyn haar debuut-EP Sex in Afrikaans – dié keer deur Van Pletzen in sy studio Planet Awesome vervaardig. Die volle EP is op 20 Mei 2022 vrygestel en by Fokof Bar gevier (Fokof Bar noem dit ’n “historic moment” op hulle Facebookblad).

Sex in Afrikaans is, in Angie oeh se eie woorde, “geïnspireer deur wangedrag, frustrasie en seks”. Die EP bevat vyf snitte, elk met haar kenmerkende mompelagtige kletsrym. Die EP vorm ’n hegte geheel met solid beats en catchy kore op elke snit. Daar is genoeg variasie in die ritme en energie sodat elke snit vars klink en sterk op sy eie staan. Die eindproduk as geheel is ’n verrassend-versatile album.

Volgens Angie oeh is die album ’n “ode aan vroue, aan tieties, en die meeste van alles, aan dans”.

Alhoewel dit verfrissend en opwindend is om hierdie representation uiteindelik in die (Suid-)Afrikaanse musiekpoel te hê, kan ek nie help nie om (soos Alessandro Gueli in hierdie artikel noem) te wonder of die eksplisiete seksualisering en macho rapper-persona wat in die EP opgesluit is, deur alle luisteraars as bemagtigend gelees sal word.

Een ding is wel baie seker: Angie oeh kerf ’n hele nuwe stuk grond van onverkende terrein in die (Suid-)Afrikaanse musieklandskap oop, en vestig haarself netjies in die kontoerlyne van ’n gaping wat die meeste mense nie eers geweet het bestaan totdat sy dit onbeskaamd begin vul het nie. Sex in Afrikaans verteenwoordig nie nét die oplewing van ’n onderontwikkelde genre in hoofstroom Afrikaanse musiek nie, maar dit verteenwoordig ook die celebration van ’n manier van wees wat tot dusver nog nie in die kollektiewe bewussyn van die Afrikaanse hoofstroom bestaan het nie.

Ek vermoed dis nog net die begin vir Angie oeh. Watch this space, maar sensitiewe luisteraars, konserwatiewe ooms en tannies, en honestly enige iemand, take note: Angie oeh “voel ’n poes ’bout what you say”.

Luister die volle EP op jou gunsteling-streaming platform.

Deel hierdie storie


Eerste en oudste Afrikaanse tydskrif, sedert 1896

Divers, progressief en vars. Waardeer jy ’n stem soos Klyntji s’n? Het jy van Angie oeh is vars, uitdagend en sonder inhibisie gehou? Dan ondersteun ons. Donasies van lesers word gebruik om ons bedieningkostes te betaal: jou bydrae hou Klyntji aanlyn. Vriende van Klyntji word op hierdie bladsy erken. Elke bietjie help.


 Eenmalig R
 Maandeliks R


Klyntji verklaar 'n klimaat en ekologiese noodtoestand