Elandré: jou ma se Billie Eilish

Hy verbreed die beeld van die Afrikaanse pop-ikoon

In 2016 plaas Elandré Schwartz — toe ’n 21-jarige uit Despatch in die Oos-Kaap, wat in daardie stadium in Kaapstad aan die Waterfront-teaterskool studeer — ’n video op YouTube van homself wat Bruce Springsteen se ‘Tougher than the rest’ (1988) cover. Die video gaan viral en kort daarna word Elandré genooi om op Bok Radio op te tree. In dieselfde live radioprogram word Elandré ’n platekontrak by Select Music aangebied. (Die oorspronklike video is sedertdien op YouTube as privaat gemerk, maar dit is op hierdie webwerf beskikbaar. Kyk ook die oomblik toe hy die platekontrak op live radio aangebied word, rondom 5:55 in die video-opname van die uitsending).

Ses jaar later het Elandré drie albums (Kleindorp-dromer (2017), Boomhuis (2019) en Rugsak (2021)), twee platinum-snitte en een goue snit (‘Woorde uit jou mond’ en ‘Tussen die lakens’; en ‘Dag & Nag’, afsonderlik) agter sy naam. In 2021 word hy in Pretoria FM se Aitsa-musiektoekennings as liedjieskrywer van die jaar aangewys, waar hy ook in al drie die kategorieë vir beste pop liedjie, beste kontemporêre liedjie en beste alternatiewe/rock liedjie (’n kategorie waarin hy met twee Spoegwolf-liedjies meeding) wen.

Elandré is kortliks, soos The House of Pop! dit stel, “a powerhouse in the Afrikaans music scene”. Google ’n mens vandag vir Elandré en Brendan Peyper, Snotkop, Kurt Darren en Juanita du Plessis se gesigte duik onder “people also searched for” op.

Maar anders as dié pop-ikone, bied Elandré (visueel gesproke) ’n estetika wat redelik grensverskuiwend in die hoofstroom-Afrikaanse (pop-)musiekbedryf is. En dis esteties treffend, byna selfs provokerend — dis ánders as die tipe (hiper-)manlikheid wat so bekend (en so voorspelbaar) in die bestaande poel van hoofstroom-Afrikaanse musiek is, wat so kenmerkend van die Brendan Peyper-, Snotkop- en selfs Francois van Coke en kie.-pakket is.

Elandré se estetika is treffend, byna selfs provokerend — dis ánders as die tipe (hiper-)manlikheid wat so bekend (en so voorspelbaar) in die bestaande poel van hoofstroom-Afrikaanse musiek is.
— Andréa Müller

Beskou ’n mens sy drie studio-albums, sien jy ’n evolusie vanaf ’n swart en wit-kleurskema, Mustangs en country covers in Kleindorp-dromer (2017) na ’n kleurvoller, meer gewaagde en kreatiewe visie in Boomhuis (2019), wat in Rugsak (2021) byna ’n hoogtepunt bereik met ’n heavily 80’s-inspired visuele en musikale aanbod. Hierdie evolusie word gereflekteer in die musiek van dié drie albums; van Bruce Springsteen covers en country guitar-klanke in Kleindorp-dromer tot synths en catchy kore in Rugsak – ’n visuele en musikale transition van country na pop wat byna herinner aan ene Princess of Pop Taylor Swift s’n.

By Elandré is dit amper asof Bruce Springsteen sy denim en t-shirts ingeruil het vir een van Harry Styles se suits.

Die uiteinde is ’n amalgamasie van nostalgie en vernuwing: Elandré die country sanger in ’n ou Mercedes en swart cowboy boots in ‘Die Lyn’; Elandré die ongeskeerde rock star agter in ’n limo in ‘Binne & Buite’; Elandré op ’n speed boat in ‘Waar die wind my waai’; Elandré die besigheidsman dol van die liefde in ‘Woorde uit jou mond’. Sy lang, bleach blonde hare en neusring ’n konstante.

Dis ’n byna-fluid, byna-queer uitbeelding én performatiwiteit van tradisionele manlikheid; van die cowboy, die rock star, die avonturier, die besigheidsman, die singer-songwriter, die pop star.

En steeds verskyn Elandré in 2020 saam met Dirk van der Westhuizen, Robbie Wessels, Snotkop, Theuns Jordaan, Brendan Peyper en ander op die verhoog van Krone 6 voor ’n skare van oorwegend Wit en — safe to assume — Afrikaanssprekende middeljariges, baie met Karen-hairstyles. Die tipe tannies wat (ek vermoed) op Elandré se musiekvideo’s comment: “Love it!!!”; “Jy mag maar!”; en “Despatch jou lekker ding!!!”. En wat in die Huisgenoot graag lees oor hoe “sexy Elandré vertel van sy jare van swaarkry”.

Want so vernuwend, onverwags en selfs “alternatief” as wat Elandré se visuele aanbod as Afrikaanse popster mag wees, is Elandré — soos een YouTube commenter dit stel — “jou ma se tiepe [sic] Billie Eilish”.

Hy lyk “alternatief”, maar hy is nie so intimiderend, antagonisties of kwaad soos ’n vroeë 2000’s-Francois van Coke nie. Sy musiekvideo’s is nie so nostalgies-vir-die-plaas soos Brendan Peyper s’n nie, maar dit evoke die nostalgiese beelde van 80’s pop culture icons op: van Bruce Springsteen, shoulder padded blazers, VHS’e en landlyne. Soos een fan op die video vir ‘Woorde uit jou mond’ comment: “Uiteindelik, die 80’s in Afrikaans. Welgedaan.” ’n Ander een comment dat dié video “mens terug[vat] na die goeie ou dae”.

Sy musiek en lirieke is ook nie heteronormatief soos die meeste Afrikaanse pop stars s’n nie, en daar is genoeg ambivalensie in sy lirieke en die suggestie van performatiewe seksualiteit in sy musiekvideo’s om ruimte te maak vir ander identiteite as dié wat gewoonlik deur ’n Afrikaanse popster aangebied word. Luister byvoorbeeld na die lirieke vir ‘Tussen die lakens’ — myns insiens ’n ballade vir intimiteit in ál sy vorme. In ‘Woorde uit jou mond’ se video sien ons Elandré in ’n suit en met ’n gun holster om sy dye: die tradisioneel hiper-manlike visuele merkers word verbuig te midde van die neonkleure en suggestiewe lirieke (“Ek’s net ’n jong, warm man / kom sit jou hande om my nek”) en Elandré se algehele opvoering in die video. Dít als herinner aan die glam rock-styl van die sewentiger- en tagtigerjare.

Maar dis juis hierdie ambivalensie en suggestie — asook die elemente van nostalgie, en natuurlik die moerse catchy kore en ritmes waarop ’n mens sou kon sokkie — wat dít wat Elandré as popster aanbied, toeganglik of selfs verteerbaar vir meer konserwatiewe luisteraars maak (e.g. jou ma wat graag na Kurt Darren en Juanita du Plessis luister en wat nie jou tattoos en gesigpiercings goedkeur nie). Sy uitgesprokenheid oor die behoud en “voortleef” van Afrikaans en oor sy trots-wees op Afrikaans help seker ook.

Dis amper asof ’n groot deel van sy fan base (en nie-’n-fan-base) die punt mis: dat Elandré die beeld en die verwagtinge van die Afrikaanse pop-ikoon verbreed. Dat Elandré tog genoeg buite die lyne van die templaat inkleur — en lekker catchy musiek, sonder pretensieuse paarrym en ander Afrikaanse pop-banaliteite maak. Hy mag maar.

Deel hierdie storie


Eerste en oudste Afrikaanse tydskrif, sedert 1896

Divers, progressief en vars. Waardeer jy ’n stem soos Klyntji s’n? Het jy van Elandré: jou ma se Billie Eilish gehou? Dan ondersteun ons. Donasies van lesers word gebruik om ons bedieningkostes te betaal: jou bydrae hou Klyntji aanlyn. Vriende van Klyntji word op hierdie bladsy erken. Elke bietjie help.


 Eenmalig R
 Maandeliks R


Klyntji verklaar 'n klimaat en ekologiese noodtoestand