Kaapstad se Sakmanne: bewaarders van inheemse veldkennis
'Daar waar jy die herb uithaal, moet jy weer iets in die grond sit'
In die Westerse paradigma is daar ’n oorheersende begeerte om ’n onderskeid tussen die mens en die natuur voor te hou. Daar is ’n warboel interne en eksterne faktore wat sedert die ontstaan van die mensdom ’n rol speel in ons soektog na ’n identiteit as mens, en ons verhouding met die omgewing speel ’n belangrike rol in die ontwikkeling van hierdie identiteit. Ek let op dat dit makliker is vir mense om die omgewing in ’n persoonlike comfort zone te omskep, aangesien ons glo dat dit ons plig is om in hierdie wêreld ons eie paradys te skep. Die probleem is dat elkeen sy eie paradys wil hê. Hoe sal die wêreld dan lyk as almal se idee van utopie geakkommodeer moet word?
Daar is egter mense wat steeds vasgeanker bly; gemeenskappe wie se wortels steeds in die natuur gegrond is. Hierdie gemeenskappe herken dat ons onlosmaakik deel vorm van die aarde en al die sisteme wat sorg vir ekologiese homeostase. In Kaapstad, byvoorbeeld, kan ons leer by die Sakmanne, volgelinge van ’n eeue-oue tradisie waar die kern van hulle oortuigings die handhawing van ’n eenvoudige, volhoubare leefstyl is.
Om die wêreldbeskouing en leefwyse van die Sakmanne te probeer verstaan, het ek Kaapstad en die omliggende gebiede platgeloop op soek na die bewaarders van die antieke kennis van die veld en inheemse plante. By elke ontmoeting is ek met ope arms ontvang; die Sakmanne was verwelkomend teenoor my en gretig om alles wat hulle hoog ag met my te deel. Om die privaatheid van die Sakmanne wat nie hulle name wou deel nie te respekteer, het ek diegene met wie ek gesels het se name uitgelaat in hierdie storie. Die foto’s word met toestemming gedeel.
Sentraal tot die Sakmanne se holistiese bestaan is daar ’n heilige respek vir alle lewensvorme wat ontstaan uit die intieme begrip van die self en die omgewing. Die Sakmanne beskou hulle lewens as ’n uitbreiding van hulle dieper wese, en daarom verwys hulle soms na hulleself en ander as “I and I”. Hulle eerbied is nie subjektief nie; hulle interaksie is met die siel en nie die ego nie. Hulle kniel voor die lewende energie in plant en dier en volg ’n mantra oor skepping in teenstelling met vernietiging.
Die Sakmanne begeer nie geld en luukshede nie. Hulle verkies om nie na oordadigheid of gemaksugtigheid te strewe nie, maar eerder om in nederige gemak te leef. “I en I soekie die wêreld nie, vanity en materials nie, maar solank I en I kan lewe, is dit ’n voorreg,” vertel een van die Sakmanne met wie ek in Kaapstad gesels het. Dit is in hierdie konteks dat die Sakmanne se keuse om die goiingsak te dra, beskou moet word. So ook die keuse om kaalvoet te loop, omdat hulle met volle oortuiging die pad van die Sakman stap.
Die meeste Sakmanne word vanaf ’n jong ouderdom opgelei om die veeldoelige toepassings van die inheemse kruie in Suid-Afrika te bemeester. Die Sakmanne dien as bewaarders van waardevolle inheemse veldkennis. Die verhouding met die veld en die berg word verder bewaar deur die oordra van generasionele kennis. Uit ons gesprekke leer ek dat die Sakmanne dit as hulle plig beskou om die volgende generasie op te lei oor hoe om met die natuurlike omgewing om te gaan. Hierdie natuurkennis is egter nie beperk tot plante en die veld nie, maar strek ook tot die antieke oorsprong en geskiedenis van die Sakmankultuur.
Een van die Sakmanne met wie ek gesels het, verwys na homself en sy naastes as die “Noord-Kaap-kinders”. “Sien die I nou, ons is die Khois,” sê hy. “Die wisdom wat ek die I gee, is trust is more better than gold and silver, is meer werder as geld en materials.” Die kennis wat die Sakmanne by hulle voorouers geleer het, word nou in menigte tale oorgedra aan die volgende generasie. En omdat hierdie kennis meestal verbaal oorgedra word, is daar selfs ’n sterker fokus in die gemeenskap op die bewaring daarvan aangesien dit nie elders gevind kan word nie.
Soos die kennis, word die kruie ook as heilig beskou. “Die herbs is powerful. Die herbs is God homself,” word daar aan my vertel. In ooreenstemming met die Sakmanne se eerbied aan die kruie en die natuurlike lewe as ’n geheel, poog hulle om volhoubaarheid te bring aan elke aspek van hulle lewe: “Daar waar jy die herb uithaal, moet jy weer iets in die grond sit.” Maar natuurlike fluktuasies in die globale, natuurlike omgewing en die onnatuurlike menslike bespoediging van hierdie proses, veroorsaak dat die onderhoud en aanvulling van die plantlewe met elke jaar wat verbygaan, ’n moeiliker taak word.
Hoewel die godsdiens en spiritualiteit van die Sakmanne gesentreer is rondom die geloof van die Rastafariërs, kan daar wel ’n onderskeid getref word tussen die twee gemeenskappe. Uit die gesprekke wat ek met die Sakmanne in die Kaapstadomgewing gehad het, blyk dit dat die meeste Sakmanne hulleself beskou as Rastafariërs, hoewel nie enige iemand hulleself ’n “Sakman” of “Kruiedokter” kan noem sonder die nodige kennis nie. Dit verg ’n brandende toewyding en innige respek vir die kennis en wyshede van die pioniers en oorspronklike bewaarders van hierdie plantkennis. Voordat jy as ’n bona fide Sakman kan optree, moet jy die erkenning en respek as sulks verdien.
Die reis van ’n Sakman is ’n innige, persoonlike een wat die beginsel van menigte denkrigtings koester; die ontdekking van die self. “Dis hoekom die I moet altyd my wisdom ennie I respect. Ek kan die I teach, but gat hy found? Seek jouself eerste, ko found eerste jouself voor jy jou broe ko found.”
Alhoewel hierdie kennis meer waardevol as goud is, is dit verniet aan jou beskikbaar. Daar is Sakmanne wat met nederigheid en gretigheid wag om hulle kennis te deel met diegene wat dieselfde energie en respek aan hulle bied. Stap af na Darlingstraat in die Kaapse middestad of Station Road in Observatory, en jy sal hulle sekerlik vind. Of volg net die reuk van Imphepho en jy sal gegroet word met die gees van ons voorouers.