Tot lof van plante!
Hierdie artikel is ’n vertaalde en aangepaste weergawe van Guy Spiller se ‘In Praise of Plants!’ wat oorspronklik in Engels by die Amazwi South African Museum of Literature se Literature, Heritage and Ecology Conference aangebied is. Luister hier na opnames van die aanbiedings. Vertaling deur Elodi Troskie.
Guy Spiller se filmprojek oor musiek, kuns en stories van merkwaardige plante
In Praise of Plants! is ’n konsep vir ’n dokumentêre film of installasiewerk. Dit het ontstaan ná ek besluit het om nie meer lang onafhanklike produksies te doen nie — te veel drama, te veel druk, te min geld. Die projek handel oor verhoudings tussen mense — byvoorbeeld jagter-versamelaars, tradisionele genesers, boere, kunstenaars en wetenskaplikes — en plante, meestal uit die verlede, en teen die agtergrond van klimaatsverandering en hedendaagse bedreigings vir die omgewing. Hierdie idee het te make met verskeie projekte waaraan ek die afgelope 15 jaar as filmmaker gewerk het.
In Praise of Plants! is ’n versameling van stories vanuit suidelike Afrika wat verhoudings van wedersydse invloed tussen mense en plante uitbeeld, waar mense die bydrae van spesifieke plante tot hulle lewens erken en loof deur musiek, kuns of stories. Plante koester solidariteit en uithouvermoë. Ek kyk in dié artikel na stories soos dié van Denis Goldberg, wat hulp van ’n tronkbewaarder se pa ontvang het om ’n gevangenisgroentetuin te skep. Ek kyk ook na ’n San-lied wat die mongongo-neutboom prys, ’n Tswana-lied wat uitgevoer word ter ere van sorghum, en ’n kunstenaar wat ’n kunswerk skep met die doel om 10 000 bedreigde plante te vereer en te herdenk.
Suidelike Afrika het nie net die derde hoogste biodiversiteit op aarde nie, maar is ook ’n ongelooflike ryk bron van mites, rituele, liedere, danse en kuns, en soms oorkruis hierdie wêrelde. Daar is medisinale wonders, kulinêre wonders en hallusinogene ervarings. Maar voortdurende menslike ontwikkeling, die wanbestuur van grond, massakonsumpsie en klimaatsverandering het ’n brose verhouding tussen mense en plante geskep. Kan ons in ons erfenis die wysheid vind om uit die waardering van plante daardie verhoudings te genees sodat mense en plante saam kan floreer?
Die eerste stories wat ek wil vertel, is twee uittreksels uit films wat ek vervaardig het vir Totem Media, ’n maatskappy wat museums en uitstallings ontwikkel. Eerstens, ’n vertolking van die lied, ‘Silang Mabele’, deur ’n NG kerkkoor in Moruleng, en tweedens, ’n onderhoud met die Rivonia-verhoorde, Denis Goldberg. Ek kon dié stories nie uit my gedagtes kry nie, en wou iets daarmee doen. Hoewel die twee films heeltemal uiteenlopend is, het albei ’n indruk op my gemaak omdat hulle verbonde is aan ’n breër waarheid in Suid-Afrika. En in albei is plante sentraal.
As deel van die Totem Media-span het ek tussen 2014 en 2016 in Moruleng gewerk en ’n ou NG kerk en skool tot ’n erfenisgebied ontwikkel wat die geskiedenis en kultuur van die Bakgatla ba Kgafela-mense herdenk. Ons het ook ’n paar plaaslike kore opgeneem wat liedere sing, die meeste van hulle gelowig – veral een wat ek toe uitvind al vir generasies lank gesing word, nog vóór die aankoms van sendelinge in die omgewing.
’n Gedeelte van die lied vertaal direk as volg:
Grinding sorghum, hunting the cows.
The sun is shining.
The children are hungry. They are malnourished.
The man is thin.
Dit is ’n danklied oor die ongelooflike voedingswaarde van sorghum, waarop die Bakgatla ba Kgafela-mense al baie, baie jare steun. Deur sorghum te loof, word dié plant se aansien in die bewussyn van mense verhef, en word die kennis van tradisionele gemeenskappe se identiteit en kultuur verdiep. Musiek versterk die positiewe verhoudings wat oor jare en jare ontwikkel het, en skep daaruit iets wonderbaarlik mooi.
Totem Media het jare lank gewerk aan die uitstallings by die Liliesleaf Museum in Rivonia, Johannesburg. Tussen 1961 en 1963 was Liliesleaf Farm die geheime hoofkwartiere van die ANC, SAKP, MK en Congress Alliance. In Julie 1963 het die veiligheidspolisie op Liliesleaf toegeslaan en die leierskap van hierdie ondergrondse bewegings gearresteer. Nelson Mandela, wat reeds in die tronk was omdat hy die land onwettig verlaat het, het by die ander aangesluit in wat bekend geword het as die Rivonia-verhoor. Agt is skuldig bevind aan hoogverraad en tot lewenslange tronkstraf gevonnis. Denis Goldberg was beskuldigde nommer 2. In 2018 het ons ’n onderhoud gevoer met Goldberg, wat 22 jaar in Pretoria Sentraal-gevangenis deurgebring het. Hy het nie ’n greintjie van sy idealisme verloor nie. Hy het gepraat oor die gevangenes se stryd om klein toegewings in die vorm van besoeke en briewe te kry. Hy het vertel hoe hy gesukkel het om toestemming te kry om groente te kweek nadat hy saailinge van appelpitte op sy sel se vensterbank gekweek het.
In hierdie video-onderhoud praat Goldberg teen die agtergrond van sy kunsversameling in sy huis in Houtbaai. Hier is ’n uittreksel uit die onderhoud:
I knew there was one young warder whose father was a mad-keen gardener and who actually had an extra plot for his garden, next to his house. I said: “Ask your father if he can do something with them.”
And then the commanding officer of the prison, brigadier Gericke, we’d grown up together, put it this way, he saw my window sill-garden and he brought me butter beans to grow. And then the medical orderly brought me some anti-baby tablets, you know the hormones might help my plants to survive more.
And then eventually I said to a new commanding officer: “You’ve got great big plant pots for the use of prisoners. Why can’t we grow a garden?” And so he sent out a man to get us soil and he brought us gravel from the side of the road. And the young man, whose father was a mad-keen gardener came in with sacks of compost, with seedlings, tomato plants, flower plants, all sorts of things.
And so we were able to have a real garden.
I said: “Why did your father send this stuff to me?”
And he said, his Dad said: “I don’t care what he’s done. If he’s so keen to have a garden, he must be a good man.”
Hierdie verhaal is ’n hartroerende een wat wys hoe ’n liefde vir plante ’n verbintenis skep tussen twee mense wat deur tronkmure en apartheidsideologie van mekaar geskei is. Dié twee stories lewer kommentaar oor die verhouding tussen mense en plante in Suid-Afrika – maar nie net dit nie. Beide ontwaak ’n bewustheid van die besondere bydrae wat plante tot dié verhouding maak, en in albei stories is die mense vol lof vir die plante.
Daar is baie voorbeelde van verhoudings tussen plante en mense. Heelwat van hulle dien as kommentaar oor kolonisasie, apartheid en die vooruitgang van kapitalisme in Suid-Afrika, wat voordelig was vir sommige, noodlottig vir ander, en gewoonlik ook skadelik vir die omgewing. Een so ’n voorbeeld kan opgemerk word by Kirstenbosch, waar die begin van koloniale segregasie gesien kan word in die eerste heining wat Jan van Riebeeck in 1660 geplant het (wilde amandelbome, Brabejum stellatifolium) om die Khoi uit die Kompanjiestuin te hou.
Die aartappelboikot van 1959 was die gevolg van strawwe toestande op aartappelplase in die Bethal-omgewing – wat essensieel slawerny was. Die regering het ’n kommissie van ondersoek begin wat daartoe gelei het dat boere die toestande op hulle plase moes verbeter.
Daar is ’n verhouding tussen Suid-Afrikaners en indringende, ingevoerde bome en plante soos saligna, swartwattel, Port Jackson en vele ander, maar kwalik een wat prysenswaardig genoeg is om liedjies of kuns te inspireer, en in elk geval nog nie lank genoeg bestaan om ’n volks- of skeppende tradisie deur musiek, stories, kuns of dans te ontlok nie.
Sommige van hierdie negatiewe verhoudings vorm die agtergrond vir die fokus op die positiewe verhoudings in die In Praise of Plants!-filmprojek. Ek het in my argief van vorige projekte gaan rondkrap om te sien waar daar ander stories oor lof vir plante kan wees. Tot my verbasing het ek ’n hele paar gevind.
In 2005, terwyl ons aan film-installasies vir die Origins Centre by Wits Universiteit gewerk het, het ons twee weke saam met die Ju/'Hoansi-San-gemeenskap in die Kalahari deurgebring. Antropoloë is oor die algemeen geneig om te fokus op die jag van diere vir vleis, maar in werklikheid verskaf plante byna 70% van jagter-versamelaars se kos. Die meeste struike lewer maar min op, en dra vrug op verskillende tye van die jaar, maar die San-vroue het ’n fenomenale kennis van plante en waar en wanneer om spesifieke spesies te vind. Die mongongo-neutboom is ’n groot, uitgespreide boom wat in die Kalahari voorkom en bo die meeste ander plantegroei uittroon. Hierdie bome kan soveel vrugte produseer dat hulle soms kniediep rondom die stam lê. Die neute het ’n hoë olie-inhoud, is baie smaaklik, baie voedsaam en ryp gedurende die droë maande, en is ’n baie belangrike bron van voedsel vir die San.
Die mongongo-neutboom word hoog op prys gestel deur die Kalahari-San, en is die enigste plant wat in ’n beswymingsdans uitgebeeld word. Trance-danse is gewoonlik ’n lofprysing van elande of ander diere vir hulle bonatuurlike krag wat genesers help om oor te gaan tot ’n beswymingstoestand. Dit is baie ongewoon dat ’n beswymingsdans oor ’n boom gaan, maar hier het ons mense wat ’n verbintenis tussen ’n boom en hulleself vier; ’n verbintenis wat, volgens argeologiese bewyse, minstens 5 000 jaar oud is en een van hulle belangrikste en mees betroubare voedselbronne is.
In 2009, terwyl ons die Oos-Kaapse episode van A Country Imagined met Johnny Clegg verfilm het, het ons by ’n rotsskuiling op pad na Olive Schreiner se graf op Buffelskop naby Cradock gestop sodat ons Johnny kon opneem terwyl hy praat oor die oorspronklike rotskuns van die San. Die kuns op die muur van hierdie skuiling was eienaardig omdat daar benewens elande en mense, ook herhaalde tekeninge was van vreemde vorms wat ’n bietjie soos aalwyne lyk. Terug in Johannesburg is ek deur rotskunskundiges ingelig dat hierdie utbeeldings waarskynlik Boophone disticha of incwadi voorstel, plante wat ’n kragtige gif, wat die San op hulle pyle gesmeer het, afgee. ’n Tweeduisend-jaar oue, gedeeltelik gemummifiseerde liggaam, bedek met skubbe van die Boophone, is in ’n grot in die Kuoga-berge gevind, wat dui op ’n baie lang verhouding tussen mense en hierdie plant. In meer onlangse tye word die buitenste skubbe van die bol gebruik as ’n verband vir wonde ná besnydenis, en as ’n hallusinogene middel in inisiasieseremonies. Dit is een van baie min gevalle waar ’n plant in San-rotskuns uitgebeeld word, wat ’n aanduiding is van die erkenning wat die San aan sy waarde en krag verleen het.
Dit is vreemd dat die potensiaal van Suider-Afrika se inheemse voedselplante verwaarloos word ten gunste van slegs sowat 20 spesies ingevoerde, gekweekte plante soos mielies, kool, aartappels, tamaties, ensovoorts, wat nou meer volop is as hulle inheemse familie. Dit is egter anders wanneer dit kom by Suider-Afrikaanse medisinale plante, waarvan daar meer as 3 400 inheemse spesies is. Toe die Pilanesberg-wildreservaat in die laat 1970’s ontwikkel is, is die plaaslike mense na Bophuthatswana verskuif. Hulle is dus ontneem van hulle historiese grond en die plante wat hulle daar gekweek het. Op ’n stadium het tradisionele dokters, onder bewaking van gewapende veldwagters, die park gereeld begin besoek om medisinale plante te versamel en hulle kennis oor te dra.
Grace Masuku vertel: “We women use it when we are about to give birth so that the child should never get a breech presentation. She must come through the head, not breech at all. This is one of what we use.” Nokuthula Motloba verduidelik verder: “We cut it down the middle and insert thorns from the mosunyana or lookana trees. Then we twist it and put it into water. That pregnant woman drinks the water in her eighth month. If the child is breeched or upside down, she drinks the water. The water changes colour and it gets thick, so it helps (with birth).” Sonodaniel Molefe wys hoe om bas van ’n monyenaboom te verwyder: “This tree is monyena. You peel it just like this. When you crush it, it becomes powder immediately. You take a spoonful and pour into two litres of cold water. A person drinks it and “drop” will be gone. This is penicillin for Batswana.”
Die kennis van watter plant vir watter kwaal werk, moes honderde of duisende jare geneem het om op die proef te stel. Sommige kennis is oorgedra deur die San, en sommige kennis het gekom met gemeenskappe wat na die suide van Afrika getrek het.
Ons almal ken die voordele van vars vrugte en groente, maar min mense is bewus van hoe vinnig ’n verandering van dieet die patologie in die menslike liggaam kan herstel. Die voordele is wetenskaplik geverifieer. ’n Navorser in fisiologie by Wits Mediese Skool, Professor Muzi Maseko, het bekommerd geraak oor die feit dat hipertensie en diabetes al hoe meer in Suid-Afrika voorkom, veral onder mense wat onlangs uit landelike gebiede na die stede verhuis het. Hy is tans besig met ’n studie waar mense met diabetes of hoë bloeddruk op ’n dieet van tussen vyf en sewe vrugte en groente per dag geplaas word, en geen suiker nie. Hy kan die helende voordele van vrugte en groente nie genoeg loof nie. “I ran a study for just one month,” vertel hy. “I asked two people to just eat strictly fruits and vegetables, no sugar, nothing. And then after a month again they come for a check-up and it’s amazing the changes we’ve seen. I’ve seen one man change from a blood pressure of about 170/110 to a blood pressure of 120/70. He couldn’t believe it.”
Of dit nou weens ’n verlies aan habitat, aardverwarming, besoedeling of ander oorsake is, het baie van die wêreld se plante onlangs uitgesterf, en baie sal heel waarskynlik in die nabye toekoms uitsterf. Die konseptuele kunstenaar, Willem Boshoff, wat homself beskryf as “verlief op plante en bome”, het die wetenskaplike name geleer van 5 000 plante wat uitsterwing in die gesig staar, en ’n kunswerk gemaak om hulle te eer.
Hy vertel: “And then I invented what I call ‘Garden of Words’. When the plants are gone the only thing that will be left will be a name. The first Garden of Words, I used my attachment to the plants by learning their names and by 1996 I had learned 5 000 names, or I tried to, I keep forgetting them. So I made with the names I had in my experience, a memorial garden for 5 000 plants with glass and little labels, so it would look as if somebody had sown the plants and they had not come up, they are gone. After a few years, I tried to learn 10 000 plants and then I made a memorial garden for those plants, 10 000 by putting the names on transparent labels that are grafted into a sheet that looks like a flower bed, big sheets. A thousand plants in a sheet and if it’s in the wind it blows and it moves. As time goes on I get more excited and I learn more stuff and more strange plants and I had learned 15 000 plants. And I made a Garden of Words number three that consisted of 15 000 plants made up of artificial poppies. Because the poppy is a symbol of war and soldiers dying, so I used little red poppies and I used handkerchiefs and printed the names of the plants on the handkerchiefs because a handkerchief is something you use when you are sad. And these handkerchiefs look like little flowers in these poppies. So, 15 000 flowers in 15 flower beds, huge, on a field like a football field.”
Nou beplan Boshoff Garden of Words 4, ’n lewende versameling plante in ’n kweekhuis by sy huis in Johannesburg. Hy probeer op die oomblik om die name van al die plante in die wêreld te leer. Wanneer hy nie die naam van ’n plant kan onthou nie, voel hy angstig dat dit in sy eie kop gaan uitsterf.
Wat ek hierbo uiteengesit het, is maar net ’n paar van die stories wat ek tans gebruik vir In Praise of Plants!. Ek sal meer voorbeelde moet vind en navors – miskien meer tradisionele en visuele kuns, miskien meer stories. Ek vind dit steeds ongelooflik dat plante deur toevallige mutasies van gene oor baie, baie jare sekere eienskappe in hulle blare, stingels, sade en vrugte ontwikkel het wat in diens van ’n ander soort skepsel – mense – aangewend kan word. Of dit nou biologies of kultureel is, bestaan daar geen twyfel dat plante ons lewens verbeter en verhef nie.
Ek is bevoorreg om materiaal van vorige projekte te kan gebruik vir ’n nuwe produk, veral een wat ’n positiewe boodskap oordra. Ek erken dat die plante my verlei het – my by die helmknoppe beetgekry het – en hoop dat hierdie film diegene wat nie die waarde van plante raaksien nie, kan bewus maak van wat ons besig is om te verloor. Watter wysheid of aanmoediging kan ons in ons erfenis vind om hierdie land sosiaal, polities en ekologies te genees, en te verseker dat hierdie betekenisvolle verhoudings met plante in die toekoms sal voortduur?
Guy Spiller is ’n Suid-Afrikaanse kuns-, wetenskap- en erfenisfilmmaker wat al videoinstallasies vir museums soos Origins Centre, die Mphebatho Cultural Museum en Liliesleaf vervaardig het. Hy het al drie dokumentêre reekse – Tobias’s Bodies, The Art of God en A Country Imagined – geskryf en die regie daarvan behartig. Hy is ’n entoesiastiese tuinier van inheemse plante. Sy akademiese agtergrond is in wetenskap.