Praating oor praating met Peach

Mengels en die dinamika van taal en identiteit 

Toe die Van Pletzen-duo Peach en Nax sowat 11 maande gelede in Mei 2021, te midde van bakleierige grendeltoestande, die eerste episode van hulle nuwe ope geselsreeks Praating vrystel, sou min met ’n tradisioneler Afrikaanse ingesteldheid kon dink hoe gewild én epogmakend die reeks sou word. Duisende views en ’n hele nuwe trendy woordeskat later, het die twee Johannesburgers alledaagse Afrikaanswees op sy kop gekeer en ’n openheid rondom die Afrikaanse kunstenaarslewe geskep wat nie toegemaak kan word nie.

Met dit in gedagte, een haastige middag in die hoëveldse herfs, jaag ek deur ’n woelige en ongeduldige Johannesburg na Peach-hulle se studio toe. Ek is reeds laterig, al die pad dinking oor wat belangriker angles op die storie is. ’n Resensie? ’n Beredeneerde of ’n besinnende artikel? ’n Rolling Stone-styl onderhoud, met ’n geïrriteerde en verbatim aanhaling of twee, ná ’n onopgesmukte vraag oor die subject se sekslewe? Dalk sommer ’n potjie met als; ’n mixed veg-skryfsel.

Grootliks unrelated (maar gepas, gegewe hoe Praating vir ons weer dinking oor dinge kom normaliseer het) sou Olúfẹ́mi Táíwò dit stel dat Peach en Nax ’n nuwe room, ’n diskoerskamer, kom open het. Kompleet met ’n eg-Johannesburgse, voorstedelik-Afrikaanse soort ironiese kitsch wat die estetiek betref (die ringe, die leopard print, die André Stander-agtige tsotsi-glam. Beleef dit self).

Want ja, Praating “0.1” het nie net ontstaan uit die legehness, die moer snaakse gekskeerdery en koddige titbits uit Afrikaanse kunstenaarservarings nie, maar dit het vir ’n grootliks denke-sku of denkonsekere Afrikaanse, jonger generasie ’n soort rite of passage kom aanbied. Betreffende taal self, maar ook betreffende die vrae wat in talle skoolopsette nie aangeraak word nie, dikwels weens die oordonderende tegnokraties-godsdienstige benadering van die oud-model C Afrikaanse skool. Kom ons face dit: Afrikaanse skoolkinders is dikwels meesterlike voornemende wiskunde-kenners, dokters, ingenieurs, rekenmeesters, prokureurs en dergelike dinge. Maar ek sal aanvoer dat ’n sin vir same-lewing, empatie, kennis van die groot bedroefde land en haar dinge, ’n nuuskierigheid oor diversiteit in al die voorkomste daarvan, vraagstukke oor goddelikhede en geloof, die talle geldige angste wat almal beetkry en wat dikwels taboe vir bespreking is… Daardie dinge word nie oor gepraat nie, en beslis nie kleingekry en verwerk ter wille van selfvorming nie. 

Kom ons face dit: Afrikaanse skoolkinders is dikwels meesterlike voornemende wiskunde-kenners, dokters, ingenieurs, rekenmeesters, prokureurs en dergelike dinge. Maar ek sal aanvoer dat ’n sin vir same-lewing, empatie, kennis van die groot bedroefde land en haar dinge, ’n nuuskierigheid oor diversiteit in al die voorkomste daarvan, vraagstukke oor goddelikhede en geloof, die talle geldige angste wat almal beetkry en wat dikwels taboe vir bespreking is… Daardie dinge word nie oor gepraat nie, en beslis nie kleingekry en verwerk ter wille van selfvorming nie.
— Frederik van Dyk

Daardie dinge van die kind, wat gou-gou en stilswyend in ’n jong werkende, ’n ouer mens met ’n familie van een of ander aard en dan ’n afgetredene neerslag vind. Die ongebluste drang om te probeer loer na dit waaroor jy nooit kon dink nie, bly altyd onrustig broei in die dieptes van jou Freudiaanse Id. 

Dis maklik om op universiteit en daarna, ná die groot ontwaking en wêreldsverruiming wat mense naskools ervaar, met ’n geldige gevoel van sinisme en wraak terug te kyk na die gemiste Jenga-blokkies van jou jeug. Piet Croucamp maak die waarneming dat (ten minste op sosio-politieke gebied) die Afrikaanse studentewêreld totaal onvoorbereid was op die eise wat revolusionêre kampusse van 2015 en 2016 gestel het. As die openbare skool nou nie jongmense se behoefte om dinking oor die deeper dinge prioritiseer nie, wel, dan doen mense dit maar self.

In hierdie opsig is Praating amper tweesydig: dis ’n eksperiment in die sin dat dit vir seker ’n properse eerste vir Afrikaans is, maar dit gee ook ’n platform aan Afrikaanse menslike belewenisse wat lank reeds met ons is. Aldus Frederik en Peach, in gesprek:

FREDERIK: Daar is vir my ’n duality aan Praating; aan die een kant is dit ’n eksperiment in Afrikaans, maar terselfdertyd is dit nie ’n eksperiment in Afrikaans nie, want dis ook ’n reality wat ons beleef wanneer ons kyk na hoe ons praat: die vocab, die Mengels, die aesthetics daarvan… en wat jy daarvan sou sê?

PEACH: Die enigste eksperiment is om te kyk hoe mense reageer teenoor iets wat net eerlik, raw, open en honest is… meaning dat, ek dink baie keer as mense in Afrikaans iets doen, is hulle só bewús van wat hulle sê. En ek het nie vir die gaste gesê, “Hei, praat in hierdie styl” of enigiets nie… dis rêrig maar net ’n authentic gesprek. Miskien is die eksperiment om te sien hoe die luisteraar reageer op authenticity.

 

Outentisiteit, outentiekheid. In Praating is dit ’n sentrale aandrywer van die omvattende aard van die onderhoude. Dit is opvallend hoe al die kunstenaarsgaste ooglopend gevoel het hulle kan hulle verhoogpersonas en hulle eie menswees (en al die oorvleuelings tussendeur) saamweef terwyl hulle met Peach gesels. Neem byvoorbeeld Jack Parow in die eerste onderhoud, by onderskeidelik 02:14 en 27:03.

Hierdie sin vir outentiekheid, die kern van Praating, gaan ook hand aan hand daarmee om jouself nie te ernstig op te neem nie. Om te kan praat oor dinge; ’n voorwaarde vir dinking saam oor die big facts van die lewe, vereis dat jy jouself op die narreskip herken.

 

PEACH: Even toe ek van die gesprekke terugluister en terugkyk, vir die eerste keer en voor dit ooit vrygestel is, dan sien jy jouself en jy dink, “Jis, ek klink silly op daai deel en stupid op hierdie,” en ek het net toe die call gemaak, let all of that go and just put the full conversation out as it happened... en ek dink ons het soveel edit tools in vandag se tyd met tegnologie en als wat êrens online leef, dat mense eintlik smag na waarheid – gee nie om wat dit is nie – en actual connection, nie soos likes en sulke kak nie… en toe besluit ek, just check your own fragile ego and just put it out there, gee nie om as mense dink jy’s ’n clown nie. Dis soos daai filosofie about you have to be willing to be the fool, because if you’re willing to be the fool, dan het jy die capacity om te gróéi.

 

Dinking is egter nie ’n soort heilige graal aan die einde van die rite of passage om meer outentiek te “wees” nie. Sekerlik tog, as mens outentiekheid as ’n soort doelwit ag, word ’n mens so bewus van jou performance-na-outentiekheid dat dit nie meer op outentiekheid neerkom nie? Dinking is eerder ’n saamgeweefde uitvloeisel van ’n outentieke gesprek, iets wat ons dalk in ’n wêreld wat structurally deurspek is met (aanlyn) personas, ’n veelvoudige geraas van (soms kunsmatige) stemme en ’n tekort aan luistervermoë, nie meer kan regkry nie.

 

PEACH: My plan met Praating was nog altyd om iets te maak wat ek self nie beheer oor het of presies weet wat dit is nie. Om eerder net ’n environment te skep waarin iets kan plaasvind, in plaas van om te gaan, “Hoor hier, dís hoe hierdie show moet werk en dís die format.” Dis meer maar net praating. Soos hierdie amper!

FREDERIK: Dit segue nou eintlik lekker in ’n ander gedagte in. Ek’t voor die onderhoud nou spesifiek gaan opdeel, “OK, ek wil nou eers chat oor díe deel en dan hierdie aspek,” en nou mesh my vrae eintlik. Ek wou ook weet en vra oor hoe wonderlik dit is wat kunstenaars saam met jou kon doen op (die onderhoud-) stage, want hulle het op ’n manier die fasiliteit gebruik om te kan engage en authentic wees, maar terselfdertyd het hulle ook weer vir mense gewys hoe om authentic te wees? Dit was vir my op ’n manier ironies, want mens dink gewoonlik aan kunstenaars as… wel, kunstenaars. Hulle act. Maar hulle was kind of ook die leermeesters gewees? Ek weet nie of jy daai thought-train vang nie...

PEACH: Nee, ek dink ek volg jou en dit wys nou as mens iets beplan kan niks ooit heeltemal uitwerk presies soos jy beplan nie. So as ’n mens net in daai space is van goed gáán gebeur, en jy vloei met dit, dan is dit beter. Dis die beauty van om net te vloei, en ek dink kunstenaars – al is dit ’n act of persona – jy is steeds ontbloot wanneer jy voor mense verskyn... en mense besef dit nie altyd nie, dis very planned and regulated, dis PR... waar op Praating wou ek nie die mense brief nie. [Die kunstenaar] is ’n mens, jou stem is jou instrument, en ek gaan jou so gemaklik of ongemaklik laat voel as wat ek moontlik kan, maar in dit gaan ons hopelik ’n punt bereik waar jy gemaklik genoeg gaan voel, in daai space, om net te praat en te improvise as jy. En nie as hierdie idee wat mens van jouself het nie.

 

Die saam-wewing van gemak en ongemak, persona en non-persona as deel van die gaste se outentieke self het veral vir my in die Mila Guy-onderhoud uitgesteek.

Baie treffend, en in die aar van wat Peach hierbo noem, was Danie Reënwolf se verduideliking oor die kunstenaar as sirkusdier, iemand wat nie altyd of dalk ooit – soos in groupies en fans se verbeelding – spontane uitvoerings op stage doen nie. Dis doelbewus, opvoering is berekend. Dis ons werk, ons moet mense vermaak, sê die Spoegwolf-frontman doodluiters by 29:38:

Ek druk dieper die metavlakke in en vra oor taal self. 

Ter agtergrond was my besinning as volg. Waarom is Afrikaanssprekers, bepaald Afrikaners, so geweldig verskrik deur Mengels? Daar kan seker gou op die oppervlak gewys word na die “onsuiwerheid” daarvan, maar indien ’n mens verdere dinking oor die kwessie doen, waarom die suiwerheidstrewe? Die Engels van Beowulf en die Engels van Shakespeare en die Engels van vandag verskil hemelsbreed. Soos Peach dit stel, moet ’n mens jou deelnemerskap aan, eerder as jou eienaarskap van Afrikaans vier. Ons surf, ek parafraseer vir Peach, vir ’n klompie dekades op Afrikaans en daarna is ons weg en sy bly oor vir die mense wat jou oorleef. As jy lief is vir Afrikaans, is dit tog groter as net ’n “my Taal”-ingesteldheid.

Peach beskou Mengels as ’n skakelmeganisme, ’n bekendstelling aan Afrikaans vir diegene wat dalk met ’n Afrikaanssprekende gespreksgenoot ten minste Engels gemeen het.

 

PEACH: Die cool ding van iets soos Mengels is dit laat Engelse mense nader aan Afrikaans voel. Hulle sê, “Hey man, that’s lekker!” So as ’n Engelse ou taal meng, dan dink ons nie hy verkrag Engels nie, ons dink, “Wow, dis nice, jy extend jouself by gebruiking Afrikaanse woorde!” Eventually, as ons dieselfde doen, meet twee tale êrens in die middel. Dis eintlik maar net ’n way of making it playful, humoristies en nie om ’n taal te idolise nie, en om te illustreer die taal is vloeiend.


Peach pluis dit uit: Niemand sê daar is nie ruimte vir ’n meer Afrikaans-inhoudelike Afrikaans langs Mengels nie. Op ironiese wyse, dink ek, is die knieskopreaksie om Mengelse oorname te vrees, ’n bewys van die patologiese vrees vir die Ander wat Peach juis probeer uitwys deur Mengels te populariseer, of minstens die angel daarvan uit te trek. Dis nie doodsake om Mengels as register te gebruik nie, dit kan vreedsaam en gesond in die Afrikaanse leefwêreld, saam met soveel ander registers, saambestaan. Dit hoef nie ’n teken van dreigende Engelstalige oorheersing te wees as ons so ’n verruimde benadering van bewus kan wees en vir onsself kleinkry nie.

Op ironiese wyse, dink ek, is die knieskopreaksie om Mengelse oorname te vrees, ’n bewys van die patologiese vrees vir die Ander wat Peach juis probeer uitwys deur Mengels te populariseer, of minstens die angel daarvan uit te trek.
— Frederik van Dyk

Miskien is Mengels as register ’n manier vir Afrikaners om hulle oudste duiwels te bestry? Dalk is Mengels ’n soort praktiese stap wat Afrikaners kollektief kan neem om met intergenerasionele trauma te deal, ’n trauma wat reeds sedert die humanitêre verskrikkings van die Anglo-Boereoolog en sy konsentrasiekampe in die Afrikaners se gemeenskapsare vloei. ’n Trauma wat weer ’n wrokkige bydrae tot die ontkieming van apartheid gemaak het. Dit is beter as ’n oorselfbewustheid, wat volgens Peach weer in ’n nare soort vreessin, selfs ’n rassisme, kan ontaard. Mengels klink dalk teen-intuïtief vir die volhoubare voortbestaan van Afrikaans. Maar dalk is die openheid, sagtheid en tegemoetkomendheid wat die register in bepaalde kontekste bied, presies wat Afrikaners nodig het om hulle gesig aan die wêreld te vertoon. Ons verander tog in elk geval as ’n voortdurende kultuurbelewenis; uit Afrika, elke dag iets nuuts of hoe? 

Toe ek ná die onderhoud in my kar klim, gaan die praating in my kop aan. Bo-oor gesprekke is daar ’n nimmereindigende soort metagesprek, dalk dit wat ons almal saambind en iets waaruit ons kan skep, indien ons op die narreskip klim en erken ons weet nie alles nie: saam-dinking en praating help minstens daardie nederiger gewaarwording aan. Soos ek huis toe ry, is iets van my bors af. Dit voel of ’n faset van my Self suksesvol sy duiwels, soos geskiedkundig aangegee, bestry het.

  • Praating se tweede seisoen tref die Afrikaanse wêreld met nog groot facts in Augustus 2022

Deel hierdie storie


Eerste en oudste Afrikaanse tydskrif, sedert 1896

Ons bou aan ’n moderne beeld van hoe Afrikaanswees lyk, lees en klink. Het jy van Praating oor praating met Peach gehou? Dan ondersteun ons. Vriende van Klyntji word op hierdie bladsy gelys.


 Eenmalig R
 Maandeliks R


Klyntji verklaar 'n klimaat en ekologiese noodtoestand