James Joyce en ek
Oor die seminale gebruik van taal
James Joyce se Ulysses
Ek vermoed dat die Ierse skrywer James Joyce sy skryfkuns as ’n soort self-terapie aangewend het. Ek self skryf teen ’n stadige, oorwegende pas oor onderwerpe wat my motiveer om my gedagtes daaroor in iets leesbaars te omvorm, soos ek vermoed Joyce aan Ulysses geskryf het. Die staaltjie oor die vraag wat ’n literêre verslaggewer aan hom gestel het: “Wat het u gedoen in die Groot Oorlog, meneer Joyce?” en sy kort antwoord daarop: “Wel, ek het Ulysses geskryf. En jy?” sê baie oor so ’n bepeinsende skryfpas en laat ’n mens wonder wat alles in daardie stugge antwoord op die oënskynlik onskuldige vraag opgesluit lê. Die slotinskrywing van Ulysses, wat steeds deur literateure beskou word as die grootste Engelse prosawerk tot nog toe, is immers: “Trieste – Zürich – Parys. 1914 -1921”.
Wanneer dit by kreatiewe skrywery kom, skryf ek hoofsaaklik vir myself. Dit gee my die geleentheid om op ’n intrapersoonlike wyse my gedagtes te sif en te orden, en terselfdertyd iets te skep wat hopelik behoue sal bly juis omdat dit neergepen is en nie soos gesproke woorde verlore gaan nadat dit geuiter is, of te veel misvorm kan word in die na-praat daarvan nie. En soos Joyce, voel ek ook vir my skryfinspirasie aangewese op ’n verlede wat ek self beleef het. Hoe anders? Een van die suiwerste en betroubaarste skryfleidings kom tog sekerlik uit ’n skrywer se eie lewensondervindinge, hoe geríng of vérreikend dit ook al mag wees. Daar kan tog nie vooropgestelde maatstawwe wees vir ’n skrywer se gedagtegang, sy woordkeuses, sy karakters en sy sielsopenbaringe wat in sy woordskeppinge gestalte kry nie. Sulke maatstawwe is dinge wat die skrywer self moet ontwerp en aanwend in sy skryfkuns.
Die Duitse skrywer-filosoof Friedrich Nietzsche, in sy seminale werk Also sprach Zarathustra, wat ’n onverdiende berugtheid gewerf het vir sy stelling daarin dat God dood is, beveel ook onder andere aan dat skrywers in bloed moet skryf, wanneer hy die idee van sy Übermensch daarin bekendstel as teenvoeter vir die mens se geneigdheid om in lamlendige swakheid boedel oor te gee aan sy ontreddende lewenstoestand hier op aarde, en sy eie potensiaal vir kragdadiger selfverbetering te ontken. Die idee om in bloed te skryf was vir Nietzsche die lesenswaardigste skryfvorm waarin die skeppingsgees van ’n skrywer in die geskrewe woord vervat word. ’n Skrywer wat dus in bloed skryf, tree in gesprek met sy leser deur middel van sy sielsopregte gedagtes met ’n dapperheid wat groter waardigheid aan sy skryfwerk gee.
Wanneer Joyce se in-bloed-geskrewe “stroom-van-bewussyn” skryftegniek deur sommige van sy kritici as kripties, enigmaties en net té onleesbaar afgemaak word, vermoed ek dat Joyce selfs dan, in die onsinnigste en mees kriptiese passasies in Ulysses op sy diepste, sy vermaaklikste en eerlikste skryf – vir homself! En watter bewonderingswaardige eerlikheid is dit nie, daardie eerlikheid teenoor homself in bloed, wat op elke bladsy van sy werke die leser reguit in die oë kyk. Dit is juis die intens persoonlike aanslag wat Joyce in sy skryfstyl aanwend wat sy selfgefatsoeneerde monoloë oor ’n Ierland, soos deur die oë van ’n James Joyce gesien, so boeiend maak. En sy werke word slegs tweedehands ervaar, so asof ’n leser daarvan deur Joyce se foto-albums blaai, deeglik bewus van die feit dat hy self nie daar was nie, dat hy self nêrens op enige van die foto’s is nie, en dus maar net kan wonder oor die persone in die foto, en die agtergrond en omstandighede van die oomblik toe die foto geneem is. So ’n inlewing by die lees van ’n Joyce werk verhoog seker ook die genot daarvan, en maak dit vir die leser ’n bietjie makliker om homself verstandelik te begeef in die verloop van die dag van 16 Junie 1904, soos beskryf in James Joyce se Dublin en die vloed van detail wat die self-verbande Ierse skrywer amper onstuitbaar in Ulysses op die leser uitstort.
Het Joyce ooit gedroom van groot sukses met die publikasie van sy pennevrugte? Sy voor-oorlogse verhuising na die Europese vasteland met sy lewensmaat was ’n avontuurlustige waagstuk vir hulle albei, en Joyce moes ’n Engelse onderwyspos met ’n karige salaris in Trieste aanvaar om liggaam en siel aan mekaar te hou. Maar sy beste ure was in sy skryfkamer, met pen en inkpot voor hom op die lessenaar, afgesluit van die wêreld buitekant. Dat dit meestal ’n sukkelbestaan was het hom nie genoop om af te wyk van sy passie om oor sy Dublin te skryf nie, en sy blye gelag vir sy eie skrywery het telkens vanuit daardie skryfkamer deur die huis getrek om die mees depressiefste huishoudelke oomblikke te verdryf, soms tot die verbystering van sy lewensmaat.
Hy was per slot van sake die lig verskuilde hoofkarakter Stephen Dedalus van sy korter werk A Portrait of the Artist as a Young Man en Dubliners, die bundel kortverhale wat jong Joyce kloekmoedig teen die hersieningpenne van redakteure moes verdedig. Joyce se jonger sussies en broers, en sy vader as die karakter Simon Dedalus, verskyn skielik en soms vlugtig in sommige van die stories in die ander werke oor sy grootwordstad. Ook hulle neem hul plekke in as persone in die “foto-album” verhale, wie se plek daarin miskien hoofsaaklik as gewetensprikkels vir die self-verbanne skrywer dien. Sy jonger sussies en broers neem Stephen kwalik wanneer hy nie verligting bring vir hul hulpbehoewende gesinsnood nie, maar dit bly ’n verantwoordelikheid wat hy as die oudste en hoogsgeleerde kind in die sukkelende gesin nie kon vervul sonder om sy eie ambisies as skrywer prys te gee nie. Soos Joyce in die werklike lewe, so bevind Stephen Dedalus hom by ’n lewenskruispad wanneer hy die aanbod van lidmaatskap van die Jesuïtiese priesterorde, die gekoesterde hoop van sy vader Simon Dedalus, moes weier om sy skrywersambisie lewend te hou. En wanneer Stephen se studentevriend Cranly hom aanraai om hom uit Ierland te haas na Amerika, doen hy so en verlaat hy Ierland vir ’n onsekere bestaan in die Nuwe Wêreld. James Joyce self reis na die Italiaanse stadjie Trieste en bly op die Europese vasteland tot sy dood. Hy moes egter gereeld, wanneer die Eerste Wêreldoorlog in Augustus 1914 op die kontinent uitbreek, vir die duurte van die oorlog vlug voor die gevaar van kanonvuur.
Tog was hy gelukkig om die belangstelling van ’n anonieme bewonderaar van sy bloedskrywery te hê wat beide sy skrywerstalent en sy bestaansnood raakgesien het en hom finansieel onderskraag het. Sy behoeftes was min genoeg: gesinsversorging, ’n bottel rooiwyn aan sy elmboog, en altyd genoeg tyd vir sy groot werk Ulysses. Maar daardie finansiële hulp was broodnodig, selfs vir die voltooiing van sy magnum opus. Van jonks af al op dreef met die beoefening van sy uitsonderlike skryfstyl en sy fassinasie met woorde, het James in daardie tyd, toe hy moes uitwyk na Parys; as ’n beroepsskrywer die geselskap van Engelse skrywers en ander kunstenaars opgesoek en geniet. Of hy grootse drome gehad het dat sy kuns vir hom roem en rykdom sou bring, was iets waaroor hy moontlik nie baie oor mag gedink het nie, of wel tog. Hy was per slot van sake ’n Ierse katoliek, ’n gelowige wat grootgeword het in ’n wêreld waarin die priester se oor teen die latwerk van die bieghokkie - the latticed ear of the priest, soos hy dit êrens beskryf - ’n prominente rol gespeel het. En terwyl hy die onsekere lewe van ’n skrywer nagestreef het toe hy sy rug op sy land en die formele kerk keer, het die Katolieke se Laaste Oordeel vir hom ’n werklikheid gebly, en so ook die vrees vir ’n té lange verblyf in Purgatorium voordat sy ewige siel die saligheid van die hemelpoorte kon gadeslaan. Daardie religieuse spoke het dus natuurlik ook telkemale deurslag gevind in sy skryfkuns, mees treffend so in die priester se beskrywing van die hel in sy A Portrait of the Artist as a Young Man.
Dat die ander hoofkarakter in Ulysses, Leopold Bloom, op die dag van Junie 1904 in Dublin paaie kruis met Stephen Dedalus, so anders as die middeljarige Ierse Jood, en tog soos Bloom so nou verbind aan die colonial capital van Dublin waarvoor albei so lief was, is in ’n groot mate die samebrengs van James Joyce se eie jeugdige self in Portrait met sy middeljarige self in Ulysses, soos in die lewe geroep as die twee hooffigure van daardie romans van hom. En so skryf Joyce steeds in bloed wanneer hy homself ook midde in die verloop van daardie somersdag in Dublin plaas, ofskoon in die persona van Stephen Dedalus en Leopold Bloom, wie albei aan die einde van daardie dag uit Ulysses stap en voortgaan met hul onderskeie lewens, en die stad Dublin gereedmaak vir die dag van die sewentiende Junie, 1904.
Is dit toeval dat die Amerikaanse rolprentkomedie Groundhog Day, waarin die vreemde Duits-Amerikaanse seisoenwisselingsritueel jaarliks op 2 Februarie in die Punxsutawney dorpie van Pennsylvania gevier word, so ’n sterk ooreenkoms het met Joyce se Ulysses, wat ook die werkinge van die tyd op die mens en sy algehele gehoorsaamheid aan daardie mensontwerpte lewensinstelling beskryf? Wanneer die televisie weerman Phil Connors, gespeel deur die rolprentakteur Bill Murray, met ’n hoë mate van sinisme en verveeldheid die geleentheid vir sy televisiekanaal dek, word hy die volgende dag om sesuur die oggend in sy hotelkamer in Punxsutawney wakker net om elke minuut van die verloop van die vorige dag te herleef, en te herleef vir die volgende vier-en-dertig jaar van die res van sy lewe! Ná verskeie selfmoordpogings gebore uit radeloosheid vir so ’n erge psige-stryd, kom hy tot die besef dat hy homself uit daardie tydstrik kan bevry nie deur dit te probeer ontduik nie, maar om ander mense te help met hul lewensgevegte. Hy besef dat die enigste gemoedsrus vir ’n mens te vinde is in die opoffering van jouself in diens van jou naaste – die bakermat van die groot gelowe van die wêreld.
Miskien is die verlossingsboodskap wat Ulysses onderlê, naamlik die gemoedsrus te vinde in naasteliefde, ook die boodskap van daardie rolprent, wanneer geluk en vrede uiteindelik terugvloei in die lewe van die psigotiese Phil Connors. Ook die verhaal van Ulysses, die Griekse oorlogsheld van ouds na wie Joyce sy roman vernoem, is een van terugkeer na sy vrou Penelope en die kalmte en vrede van sy tuiste op sy eilandkoninkryk van Ithaca na ’n dekade waartydens hy die argwaan, spot en venyn, maar ook die danigheid van Griekse gode in sy omswerwinge ervaar.
’n Oplewing in die Ierse taal- en kultuurbeweging was, soos sy Katolieke agtergrond, iets waaroor Joyce voor sy vertrek uit Ierland en selfs later op die Europese vasteland nie gemaklik gevoel het nie. Die geesdrif van Ierse skrywers, digters, en dramaturge was vir hom ook maar soos ’n foto-album waardeur hy self verkies het om te blaai as ’n belangstellende eerder as ’n belanghebbende. En hy het ook al reeds as jong skoolseun vrede gemaak met die besef dat die Engelse taal ’n ambivalente bekoring vir hom had. ’n Gedagte wat hy nie kon afskud nie, was die idee dat die Engelse taal deur die Engelse gepraat en gebesig word, terwyl hy en sy mede-Iere, so het hy gevoel, slegs die taal kon aanwend as ’n kommunikasietaal naas hul Keltiese volkstaal. Dit het hom heimlik gegrief dat hy, ’n vasalle Engelssprekende, op versoek van sy Engelse Jesuït priester-onderwyser moes verduidelik wat ’n tundish was, dat dit ’n hout tregter met bol was wat algemeen as vuuraansteker gebruik was in Ierland – ’n tondeldoos, die oudmodiese voorloper van ’n doos vuurhoutjies – wat steeds ’n alledaagse huishoudelike implement was onder die Iere teen die 1900’s. Die woord tondeldoos is ook lankal sy bestaansreg in die Afrikaanse taal kwyt omdat die instrument wat dit beskryf nie meer bestaan en gebruik word nie. So ook was die woord tundish destyds dus ook net so ’n vreemde woord vir die Engelsman. Dit het Joyce nie ontgaan hoe anders die man tundish uitgespreek het terwyl hy die informasie daaroor wat die jong skoolseun vir hom aangebied het in sy brein verwerk het nie. En die jong Joyce het gedink hoe vreemd dit was dat Engels, ook sý huistaal, so anders uitgespreek word deur nie-Iere uit Engeland, en hoe maklik die woord onbewustelik deur die Engelse onderwyser verwerk word: nog ’n handige volksvreemde woord wat in belang en tot voordeel van die British Empire aangeleer kon word!
Afrikaans as moedertaal, hartstaal en vlaktetaal
Afrikaans is my moedertaal. Soos Joyce in die Engelse vasalstaat wat Ierland in sy tyd was, het ek ook as vasal in die destydse Kaapkolonie van die Unie van Suid-Afrika die eerste lewenslig gesien, en op tienjarige ouderdom my jong vasalskap moes oordra aan die Republiek van Suid-Afrika. Deesdae is Afrikaans my gesprekstaal van keuse in die Nuwe Suid-Afrika. Miskien praat ek die taal nou met meer vrymoedigheid, ’n vrymoedigheid gegrond in die besef dat die taal tog ook heeltemal myne geword het met die aanbreek van die breër demokrasie in die land. En as my dialekklanke deurslaan wanneer ek in my Vlaktedialek praat– daardie versigtige, verskonenende en selfbewuste vasalle klankie wat my en my mense in Stellenbosch onderskei het van die ander Afrikaanssprekendes van die dorp – hoef ek vir niemand meer verskoning te vra daarvoor nie. Dit was immers die klank van my Afrikaans vir ’n belangrikste deel van my gesprekslewe en bly die basis van my gesproke Afrikaans.
Tog is ek gebore en het ek grootgeword in die tyd van Die Wonder van Afrikaans, ’n taalwonder wat in my lewe geskuif het toe ek in die voorlaaste jaar van die 1950’s formeel kennis maak met skool-Afrikaans in die klas van my sub-A juffrou Gail King by die St Mary’s EC primêre skool in Joubertstraat aan die oostelike grens van die Vlakte woonbuurt. Dit was ook ’n verwarrende kennismaking, want die skoolklanke van die taal was só anders as my Afrikaanse huisklanke! Daardie Wonder was ongelukkig die uitsluitlike en ongeskrewe kultuurbesit van die Afrikaner, ’n kultuurskat waaraan hulle steeds hard gewerk en jaloers gehandhaaf het in daardie tyd. Dit was die tyd toe die apartheidshegemonie sy beslag gekry het. Die taal het in ’n politieke gewaad verskyn toe dit destyds gekaap is om ’n spreukbuis van Afrikaner-nasionalisme te word. Dit het verander in ’n skeidende heersersinstrument, ’n sjibbolet so kragdadig soos een vanuit die tyd van die strydende Israelitiese stamme self.
Dit was ’n sneller wat nie net onderskeiding tussen mense aangedui het nie, maar ook die fisiese skeiding van rasse in die land kon bewerkstellig saam met al die ander rasgebonde elemente soos afkoms en voorkoms, haarkleur, liggaamsbou, sosiale status, nering, die gesondheidstoestand van die tande in ’n persoon se mond, en al die ander onsinnighede wat ’n donker skaduwee oor menslike verdraagsaamheid en aanvaarding gewerp het en enige gesonde toekomstige volkereverhoudings tussen die mense in die land fataal gekniehalter het. Ja, so het die taal verander in ’n geleibuis wat die ander skeidingsmeganismes van die apartheidswêreld gevestig het en gehelp het om dit in stand te hou, om natuurlike gespreksinteraksie tussen wit en bruin Afrikaanssprekendes in Stellenbosch en oral elders in die land te belemmer, en spontane taalkontak tussen mense van die verskillende rasse in agterdog en wantroue te hul. En as daar enige waarheid in die idee is dat die mens instinktief, vir sy eie oorlewing, wonderlik aanpasbaar is, dan is dit ook waar dat ek as bruin seun daardie taalskeiding, daardie onsigbare en ondeurdringbare metaforiese betonmuur, ervaar, deurleef én oorleef het.
Die grootste slagoffer van daardie skeidingsmuur was natuurlik die taal self. Wat as ’n wonder deur die Afrikanerbevolking beskou is, iets waarvoor hulle oorreed kon word om selfs die lewe neer te lê, was minder van ’n wonder vir die vasalle gebruikers van Afrikaans, Afrikaanssprekende mense soos my Vlakte gemeenskap in Stellenbosch. Die taal was vir hulle soos ’n gebruiksartikel, ’n lewensbelangrike kommunikasiemiddel die esoteriese waarde waarvan dit hulle soms ontgaan het. Afrikaans was nie vir hulle so verstrengel met die idee van vaderlandsliefde soos dit by die Afrikaners was nie. ’n Volksbesef was nie iets wat hulle veronderstel was om oor te peins nie: hul slawegeskiedenis en die koloniale tradisie waarin ook hulle hul lewens gevoer het, het verhoed dat hulle Afrikaans só kon sien en ervaar. Dat hulle later in die uitsprake van apartheidsdemagoge ’n “nasie-in-wording” genoem is, om die apartheidspil meer oplosbaar te maak, kon hulle hulself ook nie juis oor bekommer nie. Daar was vir hulle belangriker dinge om hulself oor te bekommer – sake wat gegaan het om ten brode en die ontsnapping uit hul geskiedenis van honderde jare van pagterskap, verdrukking en sosiale marginalisering. Dat Afrikaans ’n belangrike skoolvak was vir selfs die vasalle leerders daarvan, was ook doelmatig in diens van die Afrikaner heerserklas van die land. Afrikaanse boeke moes gedruk, verkoop en versprei word in die skole van die land; die taal moes in skole aangewend word, literêr uitgebou word, selfs en veral onder die bruin bevolking van die nuutgeproklameerde Republiek van Suid-Afrika. Inderdaad ook ’n gelukkige bron van welvaartskepping vir diesulkes onder daardie heersersklas wat die taal ook vir hierdie doel kon aanwend. Die formele gebruik van Afrikaans onder sy vasalle sprekers was dus grootliks beperk tot die lees van die taal. Die Bybel, Afrikaanse stories, prosa en poësie, en die Afrikaanse koerante en tydskrifte was almal absoluut formele vorms van die taal. Boonop het die lees van die taal nie juis té hoorbaar ’n stem gehad nie. Formele lees-Afrikaans was beskikbaar vir alle gebruikers van die taal, sonder dialek-sjibboletbeperkings: die enigste vereiste daarvoor was leesvaardigheid. Lees-Afrikaans was dus nie ’n direkte bedreiging vir die eienaarskap van die taal nie.
Afrikaans was die taal van die Afrikaner, en so moes dit bly tot in lengte van dae. En sou prosa of poësie deur ’n vasal voorgedra word, het sulke voordragsessies ook die taalhegemonie gedien en versterk: hoor hoe pragtig dra hy ons literêre skeppinge voor in ons taal! Maar om die taal te lees was meer gewens: dit het die passiewe vasalle interaksie met die suiwerste vorm van die taal geïmpliseer. Suiwer Afrikaans is dus voorgehou as die regte manier om die taal te besig. By implikasie was al die ander spraakvariante van die taal, veral dié van die vasalgebruikers, sub-standaard Afrikaans. Ja, die logika maak wye draaie wanneer dit in diens staan van onsinnige retoriek. En ek en my mede-vasalle gebruikers van die taal moes aanvaar dat ons slegs gebruikersreg daarop gehad het.
Skooljare in die 1950’s en 1960’s was Afrikaanse skooljare en die huise van die Vlakte se kinders was gevul met Afrikaanse skoolboeke en leesboeke uitgehaal by die munisipale biblioteek in Idasvallei. Die ander biblioteek van die dorp in Pleinstraat, was naas die nasionale biblioteek in die goewerneurstuine in Kaapstad, een van die oudste biblioteke in die land, maar toe reeds ’n verbode leesterrein vir die bruinmense van die dorp. Naas my tiener voorkeur vir die Amerikaanse comics en die weeklikse Beano en Engelse war comics was die avonture van Trompie en die Boksombende van Topsy Smith, die speurverhale van Doc Immelman en Karel Kielblock se intriges wat afgespeel het in die vervloë tye toe die Kaap nog letterlik Hollands was en Tafelbaai die vasmeerplek vir die VOC se handelskaravele, vir my genotvolle leesvermaak tot in my hoërskooljare. Daardie avontuurverhale was jeugverhale en storieboeke vanuit ’n trotse Afrikaanse taalkultuur wat soos wydverspreide reënbuie ook oor die taal se ander gebruikers uitgesak het. Het ek die wêreld van ’n wit kind in Suid-Afrika betree elke keer wanneer ek daardie storieboeke oopgemaak en begin lees het? Ek moes dit gedoen het. Dit was imperatief dat ek daardie kopskuif in my verbeelding moes maak, ’n voorvereiste vir my inlewing in daardie verhale. My leesontvlugting was dus ook op ’n vreemde manier ’n literêr-politieke proses, en ’n ontkennende ontvlugting van alles wat nydig, afgunstig en benadelend was wat in die land besig was om te gebeur, ’n nydigheid, afgunstigheid en nadeligheid wat verweef was in die politiek van die dag. Die afwesigheid van bruin helde in daardie wonderlike Afrikaanse fiksieverhaalwêreld was die olifantkalfie in die kamer, wat by tye met ’n sug van onvermoëndheid uit die gedagtes verban is elke keer wanneer ’n lekker Afrikaanse leesboek opgetel en gelees is om van die ander groter lewenswerklikhede van die dag te kan ontsnap, en die witmenswêreld van daardie verhale betree moes word. Daardie wêreld is natuurlik ’n uitvloeiing van die verhaalskrywers se eie lewensondervindinge in sy beleefde wêreld, en bruin verhaalhelde in Afrikaanse boeke van enige aard kon dus ook geskep word sou ’n bruin skrywer aan die skryf gaan en stukkies van sy wêreld boekstaaf. Wat het verhoed dat so-iets in die middeldekades van die vorige eeu nooit ontstaan het nie? Dat daar nie ’n bruin skrywerskultuur was nie, is ’n gegewe, en tog ook ’n jammerte.
Was hul bestaanstryd destyds so groot dat nêrens ’n bruin skryfliggie aangesteek kon word nie? Kon geen skryfinspirasie uit hul geledere gegenereer word nie, ondanks al die politiek-sosiale uitdagings van die dag? Dalk was die Afrikaanse verhalende skryfmodel vir latente bruin skrywers ’n afskrikmiddel wat die geboorte van spontane skrywery onder hulle gekortwiek het. Daardie spook tussen die Afrikaanse drukperse is nie heeltemal tot rus gelê nie, want hy is vir ’n lang tyd onderskraag deur ’n magtige en trotse publikasiemasjien wat geen noemenswaardige prikkels hoef te weerstaan het om vir ander skryfgeeste ruimte te skep nie. Enkele bruin skrywers en denkers het in Engels geskryf, artikels wat meesal in ’n polities-sosiale baadjie verskyn het. Maar lekker Afrikaanse stories en kortverhale oor bruinmense, hul lewenswyse, drome en daaglikse uitdagings was daar nie. Was die gespanne Suid-Afrikaanse zeitgeist van daardie jare so ’n onoorkomelike struikelblok vir bruin verhalende lektuur dat geen kreatiewe denker onder hul geledere daarvan kon ontsnap nie? Het Nietzsche se “God-is-dood” teorie ook vir hulle gegeld? Jakobus Oliphant en sy Mense was tog in die laat 1970’s ’n weeklikse rubriek in die Eikestadnuus wat lesers in Idasvallei en die Vlakte graag gelees het. En in die Vlakte se skole was die opstelboek van elke leerling tog die vrug van hul kreatiewe betrokkenheid met Afrikaans, ’n teelaarde wat met ’n bietjie aanmoediging ook miskien sy plek kon ingeneem het in die sterk Afrikaner skrywershegemonie. Die Afrikaanse Woordelys en Spelreëls, ’n kroonjuweel in die SA Akademie vir Wetenskap en Kuns se wapenskild, wat in 1917 die eerste keer die lig gesien het en so onlangs as 2009 met sy tiende hersiene uitgawe kan spog, was tog ook ’n belangrike taal- en skryfbron in bruin Afrikaanse skole. Dat hegemoniële strukture ook weerloos is teen elemente van verandering, ook in die taalwetenskap, word algemeen aanvaar, soos die pennevrugte in “Kaaps”-Afrikaans van digter-dramaturg Adam Small en die kordate Nathan Trantraal kan getuig. En tog het die roem van sokkerhelde, krieketsterre en atletiekgeeste ’n skadu oor die pogings van goeie bruin opstelskrywers en – die hemele behoede – digters gegooi waarmee boekpublikasies en die vrystelling van enige verhalende skryfwerk in die Afrikaanssprekende bruin gemeenskappe van die Boland moes kompeteer. Enige kreatiewe skryfwerk moes ’n plekkie kry naas die afgeslote bruin skrywer se werkspligte, as tyd en geleentheid dit toelaat. En terwyl enkele Nietzscheaanse “bloedskrywers” onder hulle hul kreatiewe skryfwerk voortsit, flikker daardie liggie meesal steeds onseker voort.
’n Kort kennismaking met ’n paar Nederlandse storieboeke in my laaste skooljare, asook die begin van ’n formele selfstudieprogram in die Duitse taal en letterkunde by dr. Gert Visser se Sukses Kollege, het my leeswêreld verder verbreed. Semper prorsum, die mooi leuse van daardie Afrikaanse pionierkollege van afstandonderrig, was destyds ook my strewe na ’n einddoel wat sy eie lewenswasigheid gehad het. Stijn Steuvels se De Oogst was in daardie jare die voorgeskrewe Nederlandse leesboekie wat die seniorklasse van die res van die skool onderskei het. Eerwaarde A.P. Hector het homself verlekker in die voorlees van die boek aan die klas en het daardie leesperiode omskep in een waartydens jy na daardie Nederlandse platteland kon ontvlug van die benoudheid van jou daaglikse bestaan tussen die skoolmure en selfs die wêreld daar buite. Dat die openingsin “Rik lag plat uitgestrekt in ’t gras onder de linde en Wies zat, over de knieën gebogen, op het bol van een gevelden eik” niks met “lag” te doen had nie, is gou genoeg aan ons verduidelik en ons was gewillige gevangenes van die eerwaarde se mooi Nederlandse voorlesings. Alhoewel die hele spektrum van die emosionele ontdekkingsreis waarop ’n eerste liefde vir Rik Busschaert mens plaas, ons weggevoer het na ’n ander lewe in ’n ander land waaroor ons net onseker kon droom, en ook ’n traan gestort is oor sy dood op die koring oeslande, het die woorde van die taverneliedjie waarmee die verhaal afsluit tog ook die hart ’n bietjie ligter gemaak:
Moedere doet open,
Uwe zoon is hier,
Hij heeft hem zat gezopen
aan een glaasje bier.
Soortgelyke klasvoorlesings was ook die seniorklasse se voorreg in die Engelse klas van Miss H.A. Allen. Met haar voortreflike Engelse aksent het sy nie net die teatertaal van William Shakespeare vir hulle meer bereikbaar gemaak met die voorlees van Richard II se bewoë koningskap nie, maar kon sy wel sonder enige verdere verduideliking hulle aan die dink kry oor soveel morele kwellinge en menslike uitdagings wat in daardie stokou historiese Engelse karakters se dialoog opgesluit gelê het. Dat sy haar so kon inleef in die Engelse leefwyses en tradisies het ook baie verwondering afgedwing. John of Gaunt se profetiese sterwenswoorde oor die vergange glorie van sy Engeland was vir hulle meer as net ’n illustrasie van Shakespeare se heroïse pentameters; inderdaad, dit laat hulle steeds dink aan daardie Afrikanerdogter Helena Allen met ’n English derportment wat min haar kon namaak:
This royal throne of kings, this sceptred isle,
This earth of majesty, this seat of Mars,
This other Eden, demi-paradise;
This fortress built by Nature for herself
Against infection and the hand of war;
This happy breed of men, this little world;
This precious stone set in the silver sea,
Which serves it in the office of a wall
Or as a moat defensive to a house,
Against the envy of less happier lands;
This blessed plot, this earth, this realm, this England…
Ná matriek het ek as onderwysstudent kontak verloor met die Afrikaanse literatuur, ’n studieveld wat nie juis op skool ’n groot stimulus vir my gehad het om verder as die skoolkennis diepte daarin te soek nie. Afrikaans onderwysers in bruin skole was ook seker maar geraak deur die stigma van vasalskap wat aan die taal gekoppel was, wat enige spontane eiening van die taal as instrument van persoonlike literêre verkenning met die oog om daarin te skryf of te dig feitlik ’n saak van onmoontlikheid vir aspirante bruin skrywers gemaak het. Dat almal gereeld Afrikaanse gedigte vir meneer Freddie Polman moes voordra om ’n mondelingpunt te verseker, en ook jou boekie met opsommings van gelese boeke altyd gereed moes hou vir inspeksie, was ook standaard kontak met die Afrikaanse literatuur, want “Pollie” was op sy eie manier ’n taalbewaker, ’n grammatikus van die eerste waters, al kon hy weinig daarin slaag om ’n ongekunstelde liefde vir die taal se fynhede by baie leerlinge te laat posvat. Tog het almal sy nougesette erns ten opsigte van Afrikaans as skoolvak ervaar en waardeer, al was die ander vorms van taalekspressie, die skryf van verhale en gedigte in Afrikaans, daardie gistingstof wat ’n taal aan die lewe hou en sy gees laat floreer, nie onder die Vlakte se mense te bespeur nie. Bruin skrywers en digters moes literêre randfigure bly en kon vir ’n lang tyd nie daardie taalgeskiedenis ontsnap nie. Etienne Leroux se Sewe dae by die Sillbersteins het vlugtig en in die verbygang in skindergesprekke opgekom, en miskien vir die verkeerde redes. En die gevreesde meneer Polman moes by geleentheid homself weerhou van kommentaar wanneer Jan F.E. Celliers se Dis al met ’n skoot moedswilligheid, maar miskien ook onvermoë, aangebied word as voordraggediggie. So was spontane, aanlegtelike voordrag ook ondergeskik aan die vereistes van die skoolkurrikulum, en het arme “Pollie” dit geweet. En onderwysers soos hy en eerwaarde A P Hector het die vaandel van die kultuur van Afrikaanse taalonderrig by daardie hoërskool in die Vlakte steeds hoog laat wapper, gerugsteun deur leerlinge se kopieë van Ons Moedertaal teksboeke wat jaarliks met ’n onderhandelde kooptransaksie van hand tot hand verwissel is, dankbaar as die taaloefeninge se antwoorde soms alreeds in die boek in potlood opgeskryf gestaan het.
Op onderwyskollege was die lees van die voorgeskrewe Afrikaanse roman Die wilde loot van Elise Muller vir my ’n sukkelstryd en ek kon tot my ewige skande nooit werklik ernstige aandag gee aan die boek se dieper intriges nie. Tog was sy een van die enkele skrywers van volwasse Afrikaanse leesstof van die vroeë 1950’s wat ’n stem en menswaardige teenwoordigheid aan haar kortverhale se bruin karakters gegee het, kortverhale wat ek tog in later jare onder oë gekry en met verwonderde respek vir sulke skryf-uniekheid en literêre waagmoed gelees het. Toe ek in later jare by Unisa as BA-student inskryf, het ek gewapen met woordeboek en ’n sagteband kopie van Roget’s Thesaurus my weg gevind deur Old English en Middle English tekste, asook ’n inleiding tot die oneindigende Engelse skat van gedigte en die hele spektrum van Engelse literêre standards, verpligte leeswerk wat verder verlig en verduidelik was deur posafgelewerde Unisa studiegidse en tutorials, gehul in en streng beskermend van tradisionle goeie Suid-Afrikaanse colonial universiteitstandaarde. Daardie tradisionele wit tersiêre onderrigstandaarde kon my onmag om sin te maak van die Engelse literatuurwêreld slegs en passant en met meewarige empatie aanspreek. Dit was ’n politieke ding waarvan ek nie kon wegkom nie.
Alhoewel ’n taal verweef was met die lewenssituasie van al sy gebruikers, was Afrikaans so ’n onverbiddelike Afrikanersimbool dat die enkele bruin skrywers en digters van die vyftiger- en sestigerjare in hul eie gemeenskappe as eienaardig en hul werke soms as kunsmatige nabootsings ervaar is. En as hulle in bloed geskryf het, was hul bloedlatinge in die Afrikaanse literatuurwêreld te vlak om nie deur ’n pleister toegeplak te kon word nie. So het ek Afrikaans as probleemtaal ervaar. Toe Afrikaans in 1976 as een van die hoofredes aangevoer is vir die kinders van Soweto se verwerping van die onderwysstelsel van die staat, het die ironie van daardie situasie my nie ontgaan nie. Hoe pynliker was my eie verwerping as vasalle Afrikaanssprekende nie as die gegriefde Soweto leerders s’n, wat daadwerklik op skool met die taal gesukkel het en uiteindelik niks daarmee te doen wou hê nie. En as dit ook destyds in die retoriek van die verbanne ANC se politieke arsenaal aangewend was en miskien vandag steeds ’n stewige politieke baadjie dra, en ’n “I’m sorry, I don’t understand the language” by Woolworths of PicknPay se betaalpunte mens noodsaak om in Engels vir jou inkopies te betaal, is ’n beleefde, stilswyende aanvaarding van daardie situasie die beste uitweg. Want so het die taal ook die sondebok van mislukte rasseverhoudings in die land geword. Hoe onverwags aangenaam was ek nie verras om die pragtigste Afrikaans uit die monde van Damaramense tydens ’n besoek aan Swakopmund in die destydse Suidwes-Afrika te hoor nie, terwyl ek in ’n staat van incommunicado met die Xhosasprekende trekarbeiders van die Stellenbosch munisipaliteit was vir die duur van my opgroeijare. Ek sou nooit aanvaar word vir enige skeppingspogings in Afrikaans nie. En bruin skrywers se beste skryfpogings in Afrikaanse prosa of poësie sou vir lank nie aanvaarding kry as volwaardige Afrikaanssprekende Suid-Afrikaners nie. Adam Small het op 76-jarige ouderdom onder ’n mate van kontensie ’n aangepaste Hertzogprys ontvang vir sy lewensbydrae tot die Afrikaanse literatuurskat.
Daar was ook die verwarrende doelloosheid van al die jare van bemoeienis met die taal op skool. Waarom moes ek die fynskeppinge van die taal, van magiese kinderrympies tot sielsontblotende prosa- en poësiewerke, leer en onherroeplik deel maak van my vasalle bestaan? En – die hemele behoede – kon dit ’n bedekte en arrogante strategie wees om die Afrikaner se onbesproke eienaarskap van die taal by ons andervolkige Afrikaanssprekendes tuis te bring? Die Afrikaanse literêre landskap van daardie tyd was immers die domein van Afrikaner skrywers, digters en filosowe, baie van wie lang en wye studiedraaie by Nederlandse universiteite gemaak het, en geharnas in hul voorvaderlike taal- en kultuurkennis, teruggekeer het na Suid-Afrika om hul literêre arbeid hier voort te sit. En soos Joyce seker soms moes gevoel het teenoor die Engelse taal en miskien in ’n minder mate teenoor die Engelse literatuur, so was my gevoel van ambivalensie, wantroue en onsekerheid teenoor Afrikaans in die vyftiger- en sestigerjare. Die Afrikaner se bemoeienis met die behoud van hul taal in die eerste paar dekades van die vorige eeu was ook ’n direkte teenwig vir die taal se aartsvyand, sir Alfred Milner, en sy imperialistiese pogings om die Kaap en die res van die land totaal te ver-Engels.
Daardie stryd was gestry sonder die nie-wit sprekers van Afrikaans. En as Engels destyds sy beslag gevind het as die gebruikstaal van soveel bruinmense van Kaapstad, het die gemeenskap van die Vlakte in Stellenbosch en al die ander Bolandse bruin gemeenskappe relatief ongeskonde Afrikaans gebly in huis en skool. Ook die misnoeë van hul Engelse onderwysers, wat moes kopkrap as hulle The house was in light drawers in ’n redelik belowende Engelse opstelletjie teëgekom het, was getemper met ’n verdraagsaamheid wat sulke direkte vertalings verskoon het. Bosman, Van der Merwe en Barnes se Tweetalige Skoolwoordeboek, daardie onmisbare woordkruk vir ’n struikelende woordeskat, was immers ’n noodsaaklikheid wat altyd sy plek op die skryftafel waardig was. Nie dat ’n onwilligheid teenoor Engels te opvallend was nie, want hul Afrikaanse onderwystradisie was veilig gesetel. Die Wonder van Afrikaans het oorleef, ook onder sy bruin sprekers ver van die stad af, al moes daar steeds na Engels oorgeslaan word wanneer daar by hul Kaaps-Engelse stadsfamilie gekuier word. En so lewe die Milnerspook steeds voort, terwyl die stadsjapies steeds sukkel met Afrikaans.
Veral die Afrikaanse poësie was vir ons problematies. Hoe kon wonderlike natuurgedigte, tere gedigte oor die liefde, ontroerende verhale van menslike lyding en onverskrokke dapperheid so nou verbind wees aan slegs een taalgemeenskap, dat daar bitter min ruimte vir die vasalle gebruikers daarvan, met hul grotendeels onteiende slawe- en pagtersherkoms, te vinde is om ook hul eie identiteit daarin uit te leef? Dit was asof die Afrikaanse literatuur van daardie tyd ’n tweekoppige muse geword het: die sublieme en verhewe wat so wonderlik in die taal uitdrukking kon vind, naas en in kompetisie met die enge maar magtige Afrikanernasietrots wat alles, ook die jong taal, met hom meegesleur het op sy onsekere politieke pad. En Afrikaans was al in daardie tyd ’n taal van die wetenskap wat vir geen ander taal hoef terug gestaan het nie.
Die Duitse navorser Karl Ernst von Baer het by geleentheid met ’n mate van bitterheid opgemerk dat Charles Darwin se ewolusieteorie ook onderwerpe was aan die drie stadiums van alle teorieë: eerstens, volslae verwerping as ’n onwaarheid; tweedens, as kettery en laastens totale aanvaarding, veral deur diegene onder die wetenskaplikes wat hul stilswye afskud en skielik daarop aandring dat hulle lank bewus was van die geloofwaardigheid daarvan. Alfred Wegener se geologiese theory of continental drift was aan die einde van die 1960’s nog wêreldwyd fel gedebatteer en het ook daardie paadjie geloop. Die lywige Senior Aardrykskunde teksboek, ’n bron van hoogstaande relevante informasie, moes die saak bekendstel toe daardie teorie tussen die eerste en tweede fases sy geveg moes voer. Dit het momenteel aandag geniet tydens die klas se besprekings oor die aard en werking van vulkane, en is wel klokhelder en met ’n mate van wetenskaplike oorreding uiteengesit in die skoolhandboek wat sy ster-status by ons seniors gekry het onder die hoogs begaafde leiding van meneer Lesley Bigum Bergstedt, in die dae toe daardie ster-onderwyser sy wit stofjas oor sy netjiese pak klere gedra het.
Ons kon ook ons weg met ’n groot mate van sekerheid baan deur die gereelde skeikunde-proewe wat ons in die skeinatklasse moes doen, prosedures wat gerugsteun was deur ons betroubare skeikunde skoolhandleiding. Die meeste van ons het nie ons koppe te veel gekraak oor die moontlikheid verskuil tussen die lyne van die boek nie, naamlik om wetenskaplike navorsing te stimuleer. Die chemiese beskrywings, die elementetabel, daardie taksonomiese wonderwerk en memorisasie-nagmerrie, en die onkreukbare ou natuurwette waarsonder die wêreld tot stilstand sou kom, was genoeg van ’n uitdaging vir ons. Tersiêre wetenskaplike en aardrykskundige ondersoek was beperk vir die bruin leerling; ons het dit almal geweet en dit met gelatenheid aanvaar.
Dat ek dus in my vroeë twintigerjare wel my rug op die Afrikaanse literatuur gekeer het, was geen toeval nie, maar ’n besluit gebore uit radeloosheid teenoor die literêre eensydigheid en pseudo-wetenskaplike skynheiligheid wat in daardie reinblanke skrywerskampe geheers het. Uit nuuskierigheid het ek Andre P. Brink se Kennis van die Aand onder oë gekry. Die boek was deur die destydse sensuurraad as gevaarlike leesstof beskou en verban vanweë sy omstrede temas. Ek moes ’n fotostatiese kopie daarvan lees, versteek in ’n bruin kardoes. Dit het my nie beïndruk nie, maar eerder verwar, ondanks Brink se verbete pogings om ’n deurmekaar realiteit vir sy verhaal uit ’n onwerklike skrywerswaas te skep. Daar behoort tog ’n direkte verband tussen ’n boek se geloofwaardigheid en die skrywer se eie ervaringswêreld te wees, waaruit hy sy inspirasie kan put. Geloofwaardigheid bly die gemene faktor wat ’n skrywer en sy leser bymekaar hou, ofsy die leesstof fiksie of nie-fiksie is. Ek het gesukkel deur Brink se boek met sy gepunkteerde sensasie-oomblikke en verbodenheid van opset, en het gewonder hoekom dit my bruin tydgenote so gaande gehad het. Was dit sy beskrywings van volksvreemde sekstonele wat maklik kon ontaard het in prulskrywery? Was dit Brink se beskrywing van moontlike menseverhoudings wat totaal onmoontlik was in ’n tydperk waartydens sulke verhoudings oor die Suid-Afrikaanse kleurgrens, daardie bakermat van die sosiale opset waarop die land gebou is sedert die aankoms van die fortbouers en tuinmakers uit Nederland, konstant gestuit is? Was dit wensskrywery, verset teen die status quo? Ek het Brink se verdere skrywery in hierdie ingeslane genre van hom gelees in die hoop dat ek iets daarin kon vind om my eerste indrukke te verander of selfs te herroep. Ek kon dit nie vind in ’n Oomblik in die wind, Gerugte van reën, ’n Droë wit seisoen, Houd-den-Bek of enige van sy ander werke nie. Ek het min daarin gevind wat my aangegryp het. Intussen het ek my gekeer tot die Griekse mitologie en Engelse literatuur, leesekspedisies veilig genoeg verwyderd van my vasalle status om nie te veel skade daaraan te doen nie. Engels was tog immers die ander taal wat ek ken en met manmoedige leesdapperheid kon aandurf. Watter skade kon skrywersgeeste vanuit die vergane verlede my berokken, of die verbeeldingswêreld van Engelse skrywers en digters, min van wie die gevaarlike dieptes van die steenkoolmyne, die eentonigheid van die daaglikse boerderybedrywighede of die vuil binnekant van ’n Engelse mill of ’n tekstielfabriek geken het, om ook dáároor te skryf?
Ek moes later tot my ontsteltenis verneem dat Brink se waansinvlugte in daardie tyd verpligte leesstof was by die Universiteit-Kollege van Wes-Kaapland in Bellville-Suid en dat studente aldaar semestertyd mors in voorgraadse besprekings en analises daarvan. Maar dit is nie my deel om Brink te ontmasker of hom aan die kaak te stel vir die kaak wat hy in sy ras- en klasgebonde romans kwytgeraak het nie. Inteendeel. En wie sou destyds kon dink dat die universiteitsopheffing van sy twyfelagtige “literêre” werke ’n onvoorspelde nadraai sou hê met die val van die apartheidstelsel en die koms van die nuutgetimmerde demokrasie in die land? Ek vermoed daardie werke van hom word nie meer so ywerig gelees soos destyds nie, en ek vermoed ook dat die snelle politieke veranderings ’n interessante anachronistiese geur aan sy boeke gegee het waaroor hy op sy oudag nie so gelukkig kon gewees het nie.
As ek self in Afrikaans skryf, poog ek soos Joyce om ’n hoë mate van juistheid van detail in my skryfwerk na te streef. Soos konkelbouwerk met ’n swaar hamer ongedaan gemaak moet word om dit af te breek voordat herbouwerk kan geskied, is ’n foutbedorwe geskrewe stuk soms ’n moeilike saak om reg te maak ná die publikasie daarvan. In Ulysses het Joyce feitelike en teksfoutiewe irritasies probeer vermy. So byvoorbeeld versoek hy ’n Ierse kennis per brief, een van ’n menigte briewe wat hy oor die lange jare tydens die skryf van die roman aan vriende gerig het, om die aantal stoeptrappies by die ingang van ’n sekere gebou in Dublin te tel. Só het hy gehoop om nie te fouteer as daardie trappies in die gesigsveld van sy skrywersoog kom terwyl hy die gebeure van ’n oënskynlike doodgewone somersdag, meesterlik uniek uitgebeeld in die gedagtes, gesprekke, aksies, lyftaal, dit wat geëet, gedrink en gesing word in die tafereel van karakters, klanke en polsende bewegings in die colonial capital wat Dublin in daardie tye was, op papier vas te lê nie. As skrywer wat in bloed geskryf het, was Joyce daarvan bewus dat wat hy neerpen, nie heeltemal aan die onsekere betroubaarheid van sy geheue oorgelaat kon word nie. Soms tree selfs wêreldomstandighede tussenin om ’n hand by sulke hersieningswerk te sit: daar word gesê dat die openingsopvoering van Giuseppe Verdi se opera Aïda ’n jaar lank vertraag is as gevolg van die uitbreek van die Frans-Pruissiese Oorlog en die kostuums vir die rolverdeling nie vanaf Parys na die Khedive van Egipte verskeep kon word nie. Verdi kon daardie tyd benut deur aan sy musiekrevisies van die alreeds voltooide opera te werk en sodoende die sjarme, passie en dramatiese stresmomente van die stuk verder te verfyn!
Wanneer Joyce die verlede in sy skryfwerke opgeroep het, wat hy natuurlik deurgaans in Ulysses gedoen het, het hy elke geheuebeeld nie net vir die juistheid daarvan nagegaan nie, maar ook terselfdertyd die kreatiewe waardetoepassing van die materiaal oorweeg voor insluiting in sy novelle. Hy het selfs sy kennisse in Dublin opgekommandeer om die tydsverloop van die loopafstande, tydroosters van trem- en perdekarritte tussen plekke vir hom aan te stuur, versoeke waaraan hulle met groterwordende traagheid voldoen het. “Wat sou Jimmy Joyce tog met sulke detail wou maak?” moes baie van hulle telkemale gewonder het. Joyce se uitbeelding van die dag van die sestiende Junie 1904 kon natuurlik nie maklik sonder sulke detail omskep word in die “bloedrealiteit” waarvoor Ulysses bekendheid verwerf het nie. En al daardie Dublinbeelde voldoen slegs aan sý vereistes. Hulle maak net ten volle sin vir hóm, en is die produk van sý katarsistiese skryfondervinding. Die leser ervaar slegs gedeeltelik die gewaarwordinge waaroor Joyce skryf, wat bladsy vir bladsy, paragraaf op paragraaf, sin vir sin en woordeliks vorm aanneem op die bladsye van die boek. So asof Joyce met beteulde argwaan en beskeie selftrots wil sê: “Kyk, Engelsman, kyk wat ek, ’n vasalgebruiker van jou taal, vermag daarmee!”
Wilfred Barrett Damon is ’n afgetrede Engelse onderwyser van Stellenbosch wat ‘n leeslus vir Afrikaans herwin het tydens die lange jare van sy versorging van sy bejaarde moeder voor haar afsterwe in 2016. Hy het in daardie tyd in sy vrye ure in Afrikaans begin skryf, hoofsaaklik essays oor sy opgroeijare in die bruin woonbuurt van die Vlakte in Stellenbosch.