In beeld en woord, Shaka Zulu steek voort

In beeld en woord, Shaka Zulu steek voort
Vrygestel in November 2018 deur Human & Rousseau. R245. 136pp.

Vrygestel in November 2018 deur Human & Rousseau. R245. 136pp.

Alfred Schaffer se Mens dier ding

Dit het alles begin met die geboorte van ’n tiran. Daar word gesê dat ons min weet van Shaka Zulu (Sjaka, Zoeloe ens.), maar die stories rondom sy bestaan hou aan stertjies kry. Daar word dikwels na hom verwys as ’n gesaghebbende dog ongevoelige krygsman en strateeg – uitvinder van die kort assegaai. Shaka was van kleins af ’n ongewone seun, eers weggestoot as die vreemde buite-egtelike enkelkind met aknee, puisies en ’n piepstem. Hy het homself later aan sy medemense opgedring en liefde en vrees op gelyke mate ingeboesem. Shaka is wat mense in hom wil sien, met losse verwysing na die gedig ’N VROTSIGE DANSER, ’N ARMLASTIGE, ’N VEEWAGTERSEUN, ’N GEBORE LEIER, ’N VERDIENSTELIKE LINKERVLEUEL, ’N MILJOENÊR, ’N LEUENAAR, ’N DORPSIDIOOT, ’N CHAUVINIS, ’N DIKTATOR, ’N DOOFSTOMME, ’N SIENER EN ’N ASIELSOEKER STROMPEL BY DIE KROEG IN. (Dis die volle titel). Die teks, tot samebinding: “Kroegman: ‘So Shaka, wat wil jy drink?’”

Qhata (2011), deel van ’n triptiek deur Mohau Modisakeng, wat vir die boek se omslag gebruik is. Modisakeng is van geslagsgebaseerde geweld beskuldig, maar ontken die aantygings. Lees hier meer daaroor.

Qhata (2011), deel van ’n triptiek deur Mohau Modisakeng, wat vir die boek se omslag gebruik is. Modisakeng is van geslagsgebaseerde geweld beskuldig, maar ontken die aantygings. Lees hier meer daaroor.

In dié Afrikaanse weergawe van Alfred Schaffer se bekroonde Nederlandse bundel, soos vertaal deur Zandra Bezuidenhout, ondersoek die digter die mite van Shaka deur kort dagboekinskrywings, monoloë, herinneringe, briewe en dagdrome. Sjaka word vergestalt as ’n kleurryke figuur; die mites rondom sy geskiedenis word op die kop gedraai en ondermyn. Sy wellus na mag word afgemaak en meergemaak na die van ’n mens, dier en ding.

Die bundel is veral geïnspireer deur Thomas Mofolo se Chaka wat in 1931 verskyn het, oorspronklik in Sotho. Die bundel neem ’n “lopie met die waarheid” as ’n “mitologiese interpretasie van geskiedenis”. Die vloei en gebruik van taal, styl en metaforiek is tegelyk modern, tog ongebonde aan tyd, plek of betwisbare feite. Verbeel jouself ’n karakter wat op die selfoon praat terwyl hy aankyk hoe die Britte vir die eerste keer aan die kus van Natal aankom. Of dan is daar die gedig met ’n beduidende titel: NÁ AANDETE VAL SHAKA AAN DIE SLAAP VOOR DIE TELEVISIE. Shaka is in 1786 gebore, en in 1828 dood.

Hierdie is ’n verhaal oor ’n moderne tradisionalis Afrika-god wat in ons midde bly voortleef, net duskant Durban, gekleed in luiperdvel, miskien met ’n rooi onderbroek van Mr Price. Die heerskappy van Shaka, wat deur geweld en diplomasie die Zulu-koninkryk bymekaar gebring het, word opgediep en met ’n nuwe baadjie opgeskryf. Geskiedenis reeds bekend kom dan weer so na vore, soos dat ná die dood van Shaka se moeder sy volk verbied was om te oes, melk te drink, en dat vrouens wat swanger geraak het saam met hulle mans vermoor is. Ongeveer 7000 is dood tydens dié routydperk van ’n jaar. Sjaka het meer Zulus doodgemaak as enige van sy vyande.

Die bekroonde Nederlandse digter Alfred Schaffer is in 1973 in Leidschendam gebore. Sy ma was van die Karibiese eiland Aruba, en sy pa was ’n Nederlander. Hy verwerf in 2002 sy doktorsgraad aan die Universiteit van Kaapstad en tans doseer hy Afrikaans en Nederlands aan die Universiteit van Stellenbosch. Daar is verskeie digbundels onder sy naam publiseer.

 

Cecil Skotnes se The Assassination of Shaka

Schaffer dui nie daarop dat hierdie portefeulje kunswerke soseer ’n direkte inspirasie was met die skryf van Mens dier ding nie, maar “JY HET BRONNE EN BRONNE, WAAR BEGIN ’N MENS?” laat die moontlikheid daarvoor oop. Cecil Skotnes se reeks van 43 woodcuts, The Assassination of Shaka (1973), sluit nouliks aan by die bundel se simboliese uitbeelding van die mites rondom Sjaka se lewe. Elke kunswerk gaan gepaard met byskrifte deur Stephen Gray, wat ’n verdere interteks tussen die werke skep.

Soos uit een van die laaste gedigte in die bundel, oor die sluipmoord van Shaka deur onder andere Dingane, ’n gebeurtenis wat sou veroorsaak dat die Zulus hul koninkryk verloor, in aansluiting met die kunswerk “SHAKA LIES UNTOUCHED”:

Sy liggaam word in ’n veld gevind.
Groen van skimmel maar volkome intak.
So giftig dat geen dier hom aan ’n happie waag nie.

Vir die leser sluit die beeldspraak aan by die kunswerke, en kan saam of afsonderlik waardeer word. Vir die volledige reeks werk deur Cecil Skotnes, loer hier.


Redakteursnota
27 Januarie 2019

Dit wil voorkom of dit nie elders gemeld word dat Alfred Schaffer se Mens dier ding se gebruik van ’n Mohau Modisakeng kunswerk as omslag problematies kan wees omdat Modisakeng van geslagsgebaseerde geweld aangekla is nie.

Met die insluiting van ’n skakel in hierdie verkenning van die bundel, wat gaan oor die ingewikkelde situasie wat onstaan as ’n kunstenaar binne konteks van die #MeToo-beweging van geweld aangekla word, is ek gebel en deur die digter se vrou gevra om die skakel en verwysing na Gender-based violence and art in the #MeToo era te verwyder. Ek het die versoek van die hand gewys, beide omdat ek dink ’n gesprek hieromtrent nodig is en omdat dit sou indruis op die redaksionele onafhanklikheid van Klyntji.

Die digter was blykbaar nie bewus van die aantygings teen Modisakeng nie, en sou volgens die oproep nooit hierdie kunswerk as omslag gekies het as hy wel daarvan geweet het nie. Dit is nie genoeg rede om die bundel se voorblad se diepere simboliek en agtergrond onaangespreek te laat nie.

Die aantygings teen Modisakeng het verlede jaar na vore gekom op die 21ste Junie, en die bundel is op 18 November gepubliseer. Dalk moes die uitgewer saam met die digter vooraf meer navorsing hieroor gedoen het. Dit was wyd en syd gerapporteer en bespreek – ’n enkele Google soektog na die kunstenaar se naam sou dit na vore gebring het.

Dit laat die gesprek oop oor wat met ’n kunstenaar se werk gedoen moet word in lig van aantygings van geslagsgebaseerde geweld. Daar is en word baie gesprekke oor die wêreld heen gevoer oor hoe ’n kunstenaar se kuns binne konteks van aantygings van abuse en sexual harassment uitgestal moet word. Moet mens dit afhaal, korrektiewe sensuur toepas? Die oorwegende meederheid stem saam dat kunswerke eerder binne konteks van die aantygings aangebied moet word – dit word deel van die kunswerk se bespreking.

Mens dier ding as bundel is ook nou deel van hierdie bespreking, al wou die digter dit nie so gehad het nie. Die band met die voorblad word versterk deur dat die bundel juis die geweld van Shaku Zulu se heerskappy uitbeeld.

Ek het die digter uitgenooi om hieroor in gesprek te tree, of om ’n verklaring uit te reik vir publikasie.

Redakteur van Klyntji, assistent-kurator van die Konstitutionele Hof se kunsversameling en tans besig met 'n LLM in mediareg. Instagram / redakteur@klyntji.com

Deel hierdie storie


Eerste en oudste Afrikaanse tydskrif, sedert 1896

Divers, progressief en vars. Waardeer jy ’n stem soos Klyntji s’n? Het jy van In beeld en woord, Shaka Zulu steek voort gehou? Dan ondersteun ons. Donasies van lesers word gebruik om ons bedieningkostes te betaal: jou bydrae hou Klyntji aanlyn. Vriende van Klyntji word op hierdie bladsy erken. Elke bietjie help.


 Eenmalig R
 Maandeliks R


Klyntji verklaar 'n klimaat en ekologiese noodtoestand