Tweede bundel van Fourie Botha
9781485307570_1.jpg

Krap uit die see is die tweede bundel van digter Fourie Botha. Soos sy debuutbundel Donkerkamer (2011) wat op die kortlys vir die 2013 Ingrid Jonkerprys was, sluit Krap uit die see aan by die debat oor manlikheid, wat sowel geweld, lyflikheid, die vaderfiguur, homo-erotiek en doodgewone huislikheid van twee mans wat saamwoon insluit. Die see is ’n deurlopende motief, die oerbron waaruit alle lewe kruip, in gedigte oor familieverhoudings, die liefde en verlies. 

Die argetipes van ma, pa, boetie, sussie en ouma dien as leë doppe waarin die leser persoonlike ervarings kan inlees. Jeugherinneringe word in dieselfde manier gebruik, met vloeibare surrealistiese grense tussen lewe en dood, droom en werklikheid, mens en dier.

Fourie Botha voltooi in 2008 ’n meestersgraad in Engelse letterkunde en skryf daarna by die Universiteit van Kaapstad in vir ’n meestersgraad in Kreatiewe Skryfwerk onder Joan Hambidge. Sedert 2008 werk hy as redakteur van die Umuzi drukmerk by die uitgewershuis Penguin Random House in Kaapstad.

Sy gedigte word opgeneem in Nuwe Stemme 4.

Die blywende indrukke wat veral vroulike figure by hom laat, kom na vore in sy poësie. Emily Dickinson, Annie Leibovitz, Elisabeth Eybers, Lina Spies en Margaret Atwood se rolle word by die naam genoem. Visuele kunswerke en foto’s dien ook as inspirasie – hier lees ons van Georgia O’Keeffe en Judith Mason.

 

 

Cow’s Skull with Calico Roses

’n kunswerk deur Georgia O’Keeffe

In Nieu-Mexico se son

bleik Georgia O’Keeffe

die skedels van diere

spierwit, selfs

bleker as kapok.

In die woestyn

skroei sy vet

en sening weg

tot die kleur

van roos en steen,

brand lig deur been

en donker murg.

 

 

Born-again

My broer lees weer Bybel, skommel

teksverse soos ’n mondvol albasters.

Hy gaan kerk toe in ’n stadion.

Daar is ’n orkes met kitaar en trom.

Sy god hou van ’n riff voor ’n gelykenis,

’n drum roll voor ’n wonderwerk.

As ons stry kry, skel hy: God slaap nie.

My broer is begeesterd:

op sy Facebook wall staan “Tnx Jesus!!”

My broer se god is Engels.

Ek onthou hoe hy my een maal

met ’n ysterghoen sou spoeg.

 

 

Krappegesang

Ek besing my bloedbroer, die krap:

sy pootjies soos breipenne,

hy met die rooi hakskene,

die ogies tandestokkies met olywe.

Skeef-skeef kom hy oor die korrels

soos ’n rilling teen ’n ruggraat op,

die mandibels ’n gekoek

vol hengelaas en visstront.

Waarom bemin ek hom so,

wil ek sy harde karapaks poets,

die knypers vryf tot ’n vonk spat,

hom met ’n hamer oopbreek?

Hier in sy gat wil ek inkruip;

vir hom wil ek aan die bors voed;

hoor hoe hy sy dekplate vir my

laat kerm soos geroeste slotte.

Jirre, hoe jeuk, hoe krap dit nie

in hierdie skedelpan van my kop?

Ek wil jou skud soos ’n blik spykers,

witvleise uit jou doppe skraap.

 

 

  • Krap uit die see word op 7 Augustus by The Book Lounge bekendgestel. Meer inligting hier. Protea Boekhuis, R160.00, pp 64.

Deel hierdie storie


Eerste en oudste Afrikaanse tydskrif, sedert 1896

Divers, progressief en vars. Waardeer jy ’n stem soos Klyntji s’n? Het jy van Tweede bundel van Fourie Botha gehou? Dan ondersteun ons. Donasies van lesers word gebruik om ons bedieningkostes te betaal: jou bydrae hou Klyntji aanlyn. Vriende van Klyntji word op hierdie bladsy erken. Elke bietjie help.


 Eenmalig R
 Maandeliks R


Klyntji verklaar 'n klimaat en ekologiese noodtoestand