‘Middelman’ deur Rudolph Willemse
Middelman is Rudolph Willemse se tweede bundel, wat sowat twintig jaar ná sy debuut verskyn het, in 2005. Soos die titel aandui, is die oorheersende tema die man in die middel, wat beide kante toe moet kan kommunikeer, bemiddel en intree. Hierdie man is ook in die middel van ander dinge, soos van middeljarige leeftyd, in die middel van die maatskappy sonder illusies om die boonste sport te bereik, met ander woorde die gewone man, wat ten spyte van alles nie sy individualiteit prysgee nie. Teen hierdie agtergrond word in sewe afdelings gebeure in die voorafgaande dekades en die huidige behandel, waar aktuele gebeure afgewissel word met die alledaagse, dikwels begelei deur verwysings na popmusiektreffers wat aanduidend is van ’n veranderende wêreld.
weltevredenpark
i
ek is bang vir die das
wat netjies pas
ek is bang vir my
rooi rooi aktetas
ii
kind hou up skree
jou pa het jou lief
maar got hou op skree
iii
ek ry werk toe in ’n dubbeldekkerbus
die bus krap teen takke
daar is geen salf te smeer
aan ’n dubbeldekkerbus
straatkafee melville
ek eet ontbyt verwyl die tyd
’n draadkunstenaar verkoop ’n draadloos, ’n aardbol
’n mercedes uit die vyftigerjare met ’n afslaankap
fuif verby. jong meisies
met kaal middellyfies giggel
en wuif. dit gaan vir ’n goeie doel - die voortbestaan van die spesie
’n joernalis voer ’n onderhoud met ’n musikant
aan my totaal onbekend, met ’n oorbel in sy oor
en ’n serious outlook on life
vanaand sou ek jou wou bel
hoor hoe dit met jou gaan
vra hoe jou dag was &
hoe alles afgeloop het
jou vertel van die hoep hoep
in my tuin van die nuwe
tony cox steve newman cd
ek lees nou saul bellow
se hertzog wat ’n boek
ja dit het lekker gereën &
ek en die kinders het krieket gespeel
onder die wilgers
kitaar gespeel skaak gespeel
kos gekoop by woolies &
die bliksemse kar lek olie
mense bel my & praat oor dinge
wat nie meer saak maak nie
werk landsake onvervulde ambisies
die ontwikkelende middelklas
nuwe moontlikhede nuwe motors
nuwe mentors van die siel
met niks nuut te sê nie
ek sou jou graag wou bel en vertel
van die piet-my-vrou van fairland
wat saans roep in die donker &
hoe stil dit nou hier is
hoe stil dit nou hier is
hoe graag ek by jou wil wees
dat ek vir jou lief is
dat ek vir jou wag &
dat die lewe onsettend onsettend
kort is
Uittreksels van Middelman, Toga-uitgewers. Kopiereg voorbehou.