Nuwe stem: Ryan Pedro
Ryan Pedro is ’n digter en fotograaf gebore in Kakamas, wat nou taal studeer in Stellenbosch. Sy gedigte is onlangs opgeneem in Nuwe stemme 6, waarin hy skryf oor herkoms, ras, klas, kultuur en digkuns (sien as kanye ’n digter was op bladsy 159). Volg hom op Instagram vir, onder meer, foto’s en illustrasies komplimenterend tot sy gedigte.
antie lisbeth
het my baie geleer van kakamas se grense.
sy’t altyd gepraat van die staatshospitaal
en hoe dit die dooies van die lewendes skei –
die lokasie se sinkplaatgeraamtes van
die suburbs met sy siersteendrome.
hoe sy altyd geweet het sy’s nou in die “boeredorp”
as sy van haar huis af daar verbystap om te kom werk by ons,
’n bruin gesin met kinders wat haar
antie noem asof sy hier hoort,
en dan soggens nie ons papbakkies uitspoel nie.
ek het baie na haar gekyk terwyl sy werk
en gewonder of sy nie beter sou inpas
by een van my wit tjommies se huise nie;
waar sy net die meid sou wees.
dit sou ons almal die torture spaar –
vir my, met my off-white guilt;
en vir haar, wat elke middag vyfuur stil-stil
saam met die stof op die TV-kas verdwyn.
Uit Nuwe stemme 6, bl. 152
menskleur
jy kleur vir liewe jesus verkeerd in
sê ’n wit meisie aan ’n bruin seun
op sy eerste dag by
pikkiebult pre-primêr, kakamas.
sy haal die bruin kryt uit
sy hand en gee vir hom ’n ander
kleur aan
en sê
daarsy.
– Uit Nuwe stemme 6, bl. 151
- Koop Nuwe stemme 6 hier.