Lynthia Julius: 'Ek vee nie my geskiedenis uit my hare uit nie'

Lynthia Julius: 'Ek vee nie my geskiedenis uit my hare uit nie'
Uit die kroes - Lynthia Julius.jpg

Die koms van kleur in haar debuut Uit die Kroes

Lynthia Julius het onlangs haar debuutbundel Uit die Kroes (2020, Kwela) vrygestel, ’n kleurryke versameling gedigte wat die rol van bruin vroue in die Suid-Afrikaanse geskiedenis ondersoek. Julius het haar honneursgraad in filosofie aan die Universiteit van die Vrystaat behaal en is op die oomblik met haar meestersgraad in kreatiewe skryfkunde besig. Haar grootwordjare in Kimberley skep die agtergrond vir baie van die gedigte, maar tog is dit ver van ’n een-dimensionele outobiografiese debuut. 

“’n Jong verwesterse Khoi-vrou met die naam Sara wat lank reeds onder die blankes geleef het, [is] opgehang gevind aan die dak van ’n skaapstal.” Hierdie uittreksel uit Karel Schoeman se Kinders van die Kompanjie is waarmee Julius die eerste gedig in haar bundel, ‘Sara’, inlei. Die vertelling van die galg om Sara se nek herinner aan die bundelomslag, ’n skets van ’n bruin vrou met ’n hangsel om haar nek. Julius verduidelik dat die illustrasie sinspeel op die kettings wat soms om slawe se nekke vasgemaak is, en dat die vrou wat hier uitgebeeld word, ook baie lyk soos die vroue deur wie sy self meestal omring word.

Later in die bundel besoek die spreker weer die figuur van Sara in die gedig ‘Sara ll’ en sy spreek haar dan direk aan: “Ek sou graag soos jy wou gaan, Sara / hangende die dood al in / ek sou die lewe met ’n daad wou wegstuur, / hande vou en t’rugsit.”

Opvallend in Uit die Kroes is die volgorde van die gedigte, wat met afloop van die lees van die bundel ’n fyn patroon ontbloot: die narratief begin breed met skrywe oor (dikwels naamlose) vrouefigure wat stelselmatig nader aan die spreker beweeg. Haar ma, byvoorbeeld, het ’n sterk teenwoordigheid in die gedigte waarin die digter ’n meer persoonlike aanslag neem. Hierdie verskillende lae van perspektief vloei stadig en tydsaam inmekaar — dit is so subtiel dat ’n konkrete groepering van gedigte nie gemaak kan word nie. Daar word eerder ’n roete geskep vir die leser om saam met die digter (en spreker) te stap, en haar so te leer ken.

Dit bevestig wee die belangrikheid van perspective en ook die dangers en consequences vannie whitewashed geskiedenis.
— Nathan Trantraal

Nathan Trantraal merk op dat Julius in die eerste aantal gedigte die storie van die slavin terugeis en dit vanuit ’n ander perspektief vermenslik, soos Diana Ferrus vroëer met die verhaal van Sara Baartman gedoen het in haar gedig ‘I’ve come to take you home’, siende dat hierdie narratief gewoonlik deur ’n wit man se perspektief vertel word. “Dit bevestig wee die belangrikheid van perspective en ook die dangers en consequences vannie whitewashed geskiedenis,” skryf Trantraal. 

Terwyl die eerste reeks gedigte vrouefigure uit die Kaap se slawegeskiedenis, Distrik Ses en die apartheidjare ondersoek, is ‘1993’ die eerste gedig in die versameling wat ’n duidelike outobiografiese wending neem. In ‘1993’ is die spreker op die rand van Suid-Afrika se demokrasie, en hoewel sy in ’n wêreld vry van apartheid grootword, is dit steeds nie ’n wêreld sonder onderdrukking nie. Die oorgang na gedigte wat argumentshalwe sterker deur persoonlike ervarings gedryf word, vestig die aandag op die blywende vooroordeel oor ras. 

“Ek het apartheid net geruik,” lui die gedig, “maar Juliana se pa het in preprimêr / vir ons gesê ons is kleurlinge / ek was vyf / nou vyf-en-twintig / ek maak nog uit wat bruin of kleurling eintlik is.”

Trantraal skryf verder dat daar bekendheid is in Julius se gedigte oor Kimberley, maar dat haar grootwordervaring hier tog baie verskil van die Cape Flats, wat “soortvan ytgesingle wôd asse general yardstick van ie coloured experience”.

Die Afrikaans wat ons by die huis in Namakwaland praat, is ’n Afrikaans wat nie kan bestaan sonder Nama-woorde nie.
— Lynthia Julius

Die spreker se Nama-afkoms vorm ’n belangrike grondslag in die bundel. Julius vertel dat haar ouma vlot Nama kon praat, maar dat dit nie aan haar ma of haarself oorgedra is nie. “Die Afrikaans wat ons by die huis in Namakwaland praat, is ’n Afrikaans wat nie kan bestaan sonder Nama-woorde nie,” sê sy. “Jy sukkel om sulke Nama-woorde in Afrikaans te bewoord, omdat dit bloot nie sin maak as jy dit in Afrikaans gebruik nie.”

“My ma sê haar ouma was ’n Namavrou,” skryf Julius in ‘Ontheemding’. “[D]ie grootmense het onder die skerm gesit en hulle taal gepraat / die kinders weggejaag want dit was ’n grootmenstaal.”

Eers het die spreker se ma “verkimberley”, en toe die spreker self. In Springbok is sy “te stad” en in Kimberley “te Nama”.

Soos die titel en voorblad voorspel, speel die beeld van hare ’n besonderse rol in die gedigte. “Gaan sê jou ma jy’s verlief op / ’n Nama(kwa)kind / een met kroes hare en ’n geel vel / een wat ken van gwarra-goed en suurdeegbrood / van skotteltjiewas en viervertrek” (uit ‘Wat sal jou ma sê’); “[jy] dra jou kroes hare so laat mense kan sien / glad alleen beteken nie mooi nie” (uit ‘Aksynbetalers’); “ek was so verleë verlief op jou / voor jy jou hare begin relax het” (uit ‘Beautiful in Kakamas’); en “[jy] weet nie of jy weer in die wit Jirre / met die gladde hare / se kerk kan sit / en vorentoe gaan vir nagmaal nie” (uit ‘Geloof se mosterdsaadjie’).

Kommentaar oor skoonheidstandaarde kom deurentyd voor. Dit word goed in ‘Sneeubruintjie’ saamgevat (hieronder ingesluit). Die slotgedig ‘Kroes’ is ’n samevatting van die herhalende motiewe wat in die versameling voorkom.

 

Spieëltjie, spieëltjie aan die wand, wie is die mooiste in die land?

Die een wat die media besluit mooi is
die een wat nie uitgevang is met die potlood in haar hare nie
met die gesig bleker as die bruinpapiersak oor haar kop
en wie se taal standaard verklaar word
die een wat die lewe nie in gegryp is deur Hotnosgot nie
een gebore, nie gemiskraam nie
uit ’n mite van ’n Heitsi-Eibib

die een.nie.jy.nie

sit by jou spieëlkas
smeer die Pond’s
die Sunsilk For Coarse Hair uit die pot uit aan
laat vaar die Beauty Is Skin Deep
glo in die media-god,
die gelykenis van die skoonheid wat vertel word

vanaand
(by die Hotnosgot en sy stilte)
vervloek jou bruinpapiervel
die kreukels in jou hare
die mooiste in die land pryk op Huisgenoot en Vogue
en op die rooi-en-wit mayonnaisebottel ook

jy is goed genoeg vir jou pa en sy drankduiwels
gaan tel hom voor die smokkelhuis op

 

Kleur kom tog alleen

Kleur kom alleen as jy die enigste van jou soort by ’n party is
en een moerskont sê umlungu en die gelag bars los alom.
Hy kom die dag wat Jaco jou los oor sy pa sê hy kry nie die plaas
as hy met die bruinmeid voort nie.

As jou walle die nag in oor Jaco breek,
wat het jy dan?
Jou huile, jou alleen soos gat
(en jou kleur, jy’t altyd nog jou kleur).

Kleuralleen kom met die dosent saam wat vir jou sê
jy moet jou werk na ’n sekere uitgewer stuur,
hulle soek bruin skrywers.
Met die Zulu poeliesman wat in Jozi sê
Madam go home, madam fokkof
toe jy nie sy taal kon praat nie.
Met die boer wat sê julle is hotnos, barbare en armgatte
oor julle nie ’n hek naby sy plaas voor Grootdrink
toegemaak het nie.

Moenie vir my vertel kleur kom nie alleen nie.
Kom-alleen die kom hy
en hy maak van ’n boom ’n vuurhoutjie.
Die Jirre se make kom tot ’n klug
in ’n hart, ’n sinkhuis.

So of jy moer met kleur of nie
kleur die etter kom alleen.

 

Kroes

I have bi-racial hair because I have bi-racial blood. I’m not talking
about that cute they met and fell in love blood. I’m talking about that
slave raped six times by the master birthing six mixed babies later
hung blood – Zora Howard

Mamma sê ek moet my kop nasien
(reguit maak; gladder, dunner, witter maak)
wie nog kroes is is aspris hoor ek
daar’s genoeg Dark and Lovely en Sunsilk
om die geskiedenis uit jou hare te vee
om jou te laat vergeet watter voorouers
by die wortels van jou hare deursingdans

net ’n bietjie BaByliss hier
’n bietjie blow-dry daar
net ’n bietjie laat sy ring tog net nie in jou hare vassit
as hy sy vingers deur hulle try liefkam nie

daar was ’n tyd toe ek in Kimberley in wou pas
toe ek Engels wou praat en manne met spike hare
en wit Golfie-karre nag soen

ek was te kroes om ’n Kimberley Coloured te wees
te glad om opreg Khoi te wees
te gemeng om wit te wees

ek het uit die as opgestaan met my kroes hare, Mamma
sukkel-sukkel die krulnukke in my hare uitgekam
en met die loskomsels op die kam besef:

fok glad wees
laat sy ring maar in my hare verstrik raak
ek vee nie my geskiedenis uit my hare uit nie
kroes is kroes
kroes word nooit tot die wortel glad nie

Deel hierdie storie


Eerste en oudste Afrikaanse tydskrif, sedert 1896

Ons bou aan ’n moderne beeld van hoe Afrikaanswees lyk, lees en klink. Het jy van Lynthia Julius: 'Ek vee nie my geskiedenis uit my hare uit nie' gehou? Dan ondersteun ons. Vriende van Klyntji word op hierdie bladsy gelys.


 Eenmalig R
 Maandeliks R


Klyntji verklaar 'n klimaat en ekologiese noodtoestand