Jolyn Phillips se epiese verkenning van Bientang, die laaste Strandloper
Dié digter gee gestalte aan geskiedenis wat nie skriftelik verewig is nie
Bientang (2020, Human & Rousseau) is ’n epiese gedig waarin die raaisel van Bientang, ’n Khoi Strandloper wat in die vroeë 1900’s in ’n grot in Hermanus gewoon het, ondersoek word. Bientang is Jolyn Phillips se tweede digbundel wat onlangs by Human & Rousseau verskyn het. Phillips publiseer in 2016 die versameling kortverhale, Tjieng Tjang Tjerries & other stories, en maak in 2017 haar digdebuut met Radbraak, wat in 2018 met die UJ-debuutprys bekroon is en vir die Elisabeth Eybers-prys gekortlys is. Phillips is tans met haar doktorale tesis aan die UWK besig en doseer ook Afrikaans aan die UJ.
In haar teks verken Phillips die legende van Bientang, die laaste Strandloper, en gee so gestalte aan ’n deel van die geskiedenis wat nie skriftelik verewig is nie. Die Strandlopers stam af van die Khoi en was jagterversamelaars aan die kus van suid-westelike Afrika.
In die begin van die gedig as bundel tree Bientang uit haar !nau-toestand. !nau is ’n tussenfase en verwys na ’n persoon wat hulleself tussen twee vlakke bevind. “A person in a ‘state of transition’ from one stratum of society to another is said to be !nau, i.e. in a condition of taboo, dangerous both to himself and to all with whom he comes in contact.” Dít word die leser wys uit die bronmateriaalkopieë wat die digter deurlopend insluit.
(Verskeie betekenisse van die woord “bientang” word ook in die teks ingesluit. Bientang beteken “valse aantyging”, maar verwys ook na die oopsprei van ’n mat as ’n aanduiding van gasvryheid in die Maleise kultuur. Laastens is Bientang ook ’n hemelliggaam volgens Indonesiese vertalings, ’n ster, of ’n meteoriet.)
Bientang sê haar mense sing omdat sy vandag nie meer ’n !nau-mens is nie (bl. 7). “[E]k is bang vir die !nau tog wil ek bly in die !nau,” (bl. 8) sê sy oor hierdie fase wat hand aan hand gaan met inisiasierites en liminaliteit. Tydens !nau berei ’n persoon voor om van ’n sosiale struktuur verwyder te word, die gemeenskap te verlaat en ’n aantal uitdagings en ervarings te oorkom voor hulle weer by die gemeenskap kan aansluit.
Koue water is ’n bron van gevaar vir ’n !nau-persoon, en daarom word Bientang gewaarsku: “atta sê van nou af moet ek wegbly van die see af” (bl. 7). ’n !nau-persoon moet kontak met koue water vermy en eers ná ’n suiweringsproses tydens ’n seremonie deur ’n gekwalifiseerde persoon weer daaraan voorgestel word.
“As an example of its powers may be cited the Hottentot witch-doctor, who never washes nor touches cold water from year’s end to year’s end. His potency resides as it were in the dirt and grease of his body, and this is always an ingredient in his medicine. Should he touch water his power would be diminished…” (bl. 28)
Die grot, veld en see voorsien aan Bientang: vis uit die see, water uit die strome, vrugte en groente uit haar tuin. Ander bronne het dit dat Bientang baie beskermend teenoor haar huis was, en dat sy gereeld gesien is saam met muskeljaatkatte en ander diere wat vandag steeds tussen die rotse woon. Historiese geskrifte en stories wat oor die jare vertel is, skets die buitelyne van Bientang as ’n spirituele wese met bonatuurlike kragte en die vermoë om met diere te kommunikeer. In Hermanus word dit geglo dat die gees van Bientang steeds elke jaar die walvisse Walker Bay toe lok.
ek dink die melkhoute wat ek geplant het sal ouer
as ek word en hulle sal my onthou in die ringe
die dag as hulle soos ek stompe word
vir vuur die sade wat ek geplant het is kinders teen my
hierdie melkhout het meer waarde om te lewe as ekek sal misgekyk word die aarde hou van wortels
wortels lewe wortels kan ondergronds asemhaal
dit is my vrees om onder grond asem te haal
die donkerte in die grot is my asemhaal
onder die grond ons wat soog ek en die walvisdis altyd augustus vir ons ons is uitgehol
dragtig vir die see ek en die walvis ons kan albei
gevang word aan ons stert onderstebo gehang
geweeg word ons is iets vir die boeke
my bors is lug vanoggend — ’n witwolkborsek is jaloers op ’n boom wat langer as ek lewe
langer as ek hier kan bly en vir wie die grond plek maak
vir sy wortels my voetstappe sal ophou
melkhoutboom jy sal gewortel hier staan
omdat jy nie ’n gevaar is vir wat hier boin parrabaai gebeur nie ’n boom staan vir elke saad
wat ek in die grond gesit het waar ek lê het niks gegroei nie (bl. 48—49)
Tesame met die see word Bientang se grot en die natuurlike omgewing met bekwame, versigtige taal geskryf. Wanneer sy haar ouers verlaat en na die grot keer [“ek breek julle tak vir tak van my af daar wag vryheid / annerkant loperbaai” (bl. 18)], ruik die tog na haar nuwe woonplek na wildedagga. Sy dank die fynbos, haar “stem pluk brandsels nag uit grot uit”. Die see kom klop aan haar grot se deur en stuur “alikrukke en mossels klipkouse visse / en robbe” (bl. 20). Bientang raak gewoond aan haar koue klam huis, sy ken die “kranse se nukke” en die “kolieksomers”, sy weet watter winde tart en sy bieg: “ek is sout soos jy see” (bl. 21).
Die see se branders klink reg deur die gedig en dien as karakter eerder as herhalende motief. Bientang se gemoed en gebeurtenisse in haar lewe word deurlopend parallel aan die see beskryf. “[E]k staan voor my / en kyk hoe die gety kwaad word” (bl. 5); “my rooidag maak die see ontstuimig in die hut” (bl. 7); die “see bring woorde waarmee ek kan bid” (bl. 8); “ek / is aangemaak met die see” (bl. 14); “ek sit op die plaat sit sonne en mane om ek bid vir die see / ek maak ’n storm aan ek por die see aan” (bl. 17).
Die kennismaking met Klaas en lord Montagu ongeveer in die middel van die teks is ’n belangrike keerpunt wat meer oor Bientang ontbloot deur dié karakters se vertellings van haar. Lord Montagu, ’n reisiger wat die natuur ken en dokumenteer, probeer Bientang soos die plante en diere opskryf [“die plante en diere het hy afgeskryf / maar vir Bientang kan hy nie uitgeskryf kry nie”]. Klaas is lord Montagu se gids, “opgetel met ’n sak tale”. Wat het dit met Bientang uit te waai, vra die oëdienaar (’n herhalende vertelstem van karakters soos Atta, Bientang se versorger, asook van die digter self), en antwoord: “al wat jy hoef te weet is dat Bientang nee gesê het / vir die lord” (bl. 31). Later merk Bientang op: “klaas sê mense soos ek sê nie nee vir lords nie” (bl. 40).
Klaas neem die posisie van ’n eerstepersoonverteller in en vertel hoe hy en die lord Bientang ontmoet het as jong vrou met hoë wangbene en verleidende heupe. Hierdie manlike blik op Bientang is vaag. Die verhouding tussen haar en die lord word dubbelsinning omskryf, hoewel daar tog ’n mate van intimiteit tussen hulle bestaan. Klaas raak nie jaloers as lord Montagu praat oor “die vrou wat so koninklik / in sy oë kyk” nie, maar wel “as sy so terug in die lord / se oë in soek” (bl. 37—38).
Klaas en Bientang wen mekaar se vertroue met ’n “liegstorie” wat Klaas aan die lord oordra. Die storie wat lord Montagu in sy boeke geskryf het, “was ’n liegstorie / ek het belowe om die woorde in my kop te bêre,” vertel Klaas (bl. 36).
Klaas, of Amroo van die Kamma-kan Kammarivier-mense, word soos blits deur Bientang se taal getref. “[S]y het gepraat die ou praat / wat al uit my gesweep is / op my reise met lord Montagu verkwansel is” (bl. 37). In ’n gesprek tussen Klaas en Bientang sê sy vir hom die see praat met ’n mens, maar nie met hom nie. Hy antwoord: “daar was ’n tyd toe ek / ’n Chainouqua-man was ’n varswatermens en my / mense het my Amroo genoem ek sal nooit soos jy / wees nie Bientang jy is ’n soutwatermens wat met haar waternaam praat” (bl. 52).
Die see word toenemend personifiseer. Wanneer Bientang in haar grot woon, is die see haar buurvrou wat “skuimbek by [haar] kom kla / die noorkappers is op pad” (bl. 20). Beelde van die see word ook deur ander karakters gebruik om Bientang te beskryf. Klaas sê dat haar “branders bedaar” wanneer sy uitvind hy is afkomstig van die Kammarivier-mense, en lord Montagu is betower deur haar wangbene wat breek as sy lag — nog ’n brandermetafoor.
Bientang “raak vol water maar [sy] verdrink nie”; die geluid van die skulpe om haar nek maak haar “stersiek” (bl. 44). Wanneer sy oud word wens sy vir ’n net waarmee sy haar “jonkte” uit die water kan trek (bl. 52).
Bientang word al hoe meer see; al meer omgewing. Sy is die see se wagvrou, sy skenk geboorte aan bamboes, sy voel hoe haar voete ’n stuur word, haar arms boor vinne, sy word “maan ná maan noorkapper” (bl. 22). Vir lord Montagu, wat die plante en diere van die omgewing wil opskryf, sê Bientang: “ek het grootgeword met die plante / lord moet nie vir plante name gee waarvoor hulle nie gevra het nie” (bl. 40).
ek voel hoe die ghoenavygblom uit my trek
ek ruik na seemeeumis ruik vis tussen my bene
groei daar uintjies onder my arms word ek bokkoms
vrougoed maak my aasgoed ek berg liefs my strandloopgeit (bl. 8)as kind was ek ’n bietoublos my mense
noem my bietou na die plant wat vir hulle in die lente
biesies dra ’n bietoublos blom eers voor sy
groen biesies dra — dan in die son word sy geel
dan word sy rooi en pers as kind het ek hulle baie geëet (bl. 34)
Ná Bientang se raaiselagtige verdwyning, word sy geskiedenis — “net die dassies weet waar Bientang is” (bl. 54). Klaas en lord Montagu keer terug na die Attaqua-streek wat nou Hermanus is, en vind Bientang se leë grot.
die grot is toegegroei met melkhoutbome en kooigoed dis asof die see
die grot se oog gesluit het ons is met ’n gesukkel haar plek binne
daar was nog die walvisskelet haar krale haar potte haar skilpaddopborde
haar volstruiseiers en wragtag nog ’n potjie met droë kaneel (bl. 54)
“[S]he doesn’t have people / she is the last one my lord” (bl. 38) verduidelik Klaas aan lord Montagu. In Bientang se eie woorde: “ek is laaste mens ek is bientang” (bl. 53).
Teen die einde van die teks neem die stem van die oëdienaar duidelik die standpunt van die digter in. “[A]sseblief Bientang / as jy wil sal ek ophou / ek sal jou uitlos ek sal jou nie meer aandra nie,” word Bientang aangespreek. Die spreker wens dat sy nooit begin skryf het nie; wens dat sy die “roupak” kan uittrek. “[I]n die land van my kop staan die storie / op en skryf sigself klaar en hier kom ek / by die gedeelte waar digterskap my water toe trek”. Die oëdienaar (of digter?) rou oor dié storie wat rekmerke oral op haar liggaam geskryf het; rou oor voorgeslagte wat “dood lê sonder grafstene” (bl. 57). Hierdie spreker “gebruik gedigte as ’n skryfgraaf / wat die bene van [haar] voormense wil uitskryf” (bl. 58).
Die digter meen “’n mens wil onthou word vir die lewe ek sweer dit / ’n mens wil onthou word vir jou plek tussen taal” (bl. 56). Die oëdienaar sit in Bientang se grot (vandag Bientang’s Cave, ’n restaurant in Hermanus), bestel geelbek en wyn, en wonder oor die laaste Strandloper: “hoe word ’n mens ’n laaste?”.
nou kom jy met die aantyging dat ek jou ’n mite probeer maak
dat ek jou ’n stalagmiet probeer maak my woorde drup jou vas
in ’n soliede kalsietkolom die waarheid is
bientang ek gebruik jou om vir my ’n heenkoms te skepek wil jou nie besing soos ’n strydlied nie ek weier
om jou te besing as ’n slaaf jy forseer my in verbastering
want jy moet ’n quena kumm-slaaf wees in
tweeduisend en twintig is baster wees nie ’n vrybriefnasie nieis jy chainouqua kumm khoi kan ek veertigduisend jaar se bestaan omwis
vir grond ek het vir so lank !kun-woorde versamel en in jou tong ingebou
nou spoeg jy dit een vir een uit wat moet ek nou maak jy skil af op papier
om duinghwarrie te wees is om inheems te wees soos boesmangifom baster te wees is om oorlams te wees ’n indringerplant ’n lukwart
boom al wat van jou oor is is onkruid tussen die gras ek moet vrede
maak met my ironiese vel en ophou vrybriewe deur jou aan myself
te skryf ophou dink ek kan daarmee vir my ’n inheemsgeskiedenis koopsy loop en kam die loperbaai soos die wind die plaat se getyeboek blaai
bientang hoe skryf ek jou klaar is jy nie ook maar net ’n banneling
van ’n ander soort slaweskip as myne nie die digter sit met stersiektes
ek is die argivaris dis ek wat besluit ek sal jou taal bientangjirre nou begin jy my verbeel my woorde swem terug na my denkbeeld
jy sny jou los van waar ek jou arms die eerste keer in kruisrym geboei het
jou die eerste keer verstroof en jou binnerym uitgehaal het
en daar duik jy woordvry jou eie apokriewe uitek staan alleen op die plaat
ek ontheg jou ek kyk terug
die wind verwelk jou in
het jy ooit gepraat? (bl. 60—61)