Ashwin Arendse se Swatland
Ashwin Arendse by sy boekbekendstelling in Malmesbury op 18 Maart 2021

Ashwin Arendse by sy boekbekendstelling in Malmesbury op 18 Maart 2021

Poetry met purpose

In Swatland, Ashwin Arendse se debuutbundel (2021, Kwela), dien die Swartlandse dorp, Malmesbury, as agtergrond vir ’n versameling gedigte wat die spreker volg deur sy grootword- tot universiteitsjare in Stellenbosch. Arendse het in 2018 sy dramagraad aan die Universiteit Stellenbosch verwerf, en was daarna een van die eerste studente wat in 2020 ’n meestersgraad in kreatiewe skryfkuns in Kaaps aan Rhodes Universiteit voltooi het. Volgens Arendse was Swatland egter klaargeskryf voor hy met die meesterskursus begin het, en is die werk wat hy gedurende dié jaar onder die leiding van Nathan Trantraal gedoen het, ’n moontlike publikasie vir die toekoms.

Ashwin Arendse en sy perd Ameerah

Ashwin Arendse en sy perd Ameerah

“Ek dink ek is besig om gġoot te wôd, / en ek kannie alles saam met my vattie,” word daar in ‘Ameerah’ geskryf. Ameerah is die naam van die perd wat die digter vir sy vyftiende verjaarsdag gekry het, en, luidens ’n vroeër onderhoud, ook die aanvanklike titel van die bundel. In dié onderhoud vertel Arendse aan Carl Thomas dat Kaaps die taal is waarin sy karakters, stories en wêrelde bestaan, en dat daar nie deesdae ’n gebrek aan Kaapse stories is nie, maar wel ’n gebrek aan waardering daarvoor. Dit is wel aan die verander.

Arendse bring klank tot lewe deur die vernuwende vergestalting van die bry-r-klank in Swartlandse Afrikaans wat hy met ’n ġ-simbool aandui — die geromantiseerde ghaynsimbool uit Arabies-Afrikaans. Deur hierdie uitbeelding van die bry-klank word die spreker se vertellings van die bladsy afgelig; dialoog word eerlik en onmiddellik uit die karakters in die gedigte se monde gehaal. 

In die bundel word iets ongewoon ontgin uit tonele van dae wat sigself telkemale herhaal: ’n groep skoolseuns wat op warm somersmiddae in Malmesbury se dorpswembad “lam innie kiddies pool” tot die klokkie lui vir toemaaktyd (‘Swatland’); seuns wat laat wakkerbly op ’n Sondagaand om WWE te kyk; die spreker wat huiswerk doen terwyl sy oupa in die voorhuis sit en koerant lees; krieketwedstryde teen skole waar die ander span se kinders soos “ou, / depressed motherfuckers” lyk [“‘Lekker, Kobus! Wys hulle wie is baas,’ / skrie een van hulle soese poes inne / Afrikaanse voogeskrewe boek / wat innie 80s gepublish is” (‘Wicked keeper’)].

‘Lekker, Kobus! Wys hulle wie is baas,’ / skrie een van hulle soese poes inne / Afrikaanse voogeskrewe boek / wat innie 80s gepublish is
— Ashwin Arendse in Swatland

Daar word gelukkig selde ruimte vir sentimentaliteit gelaat. “Ek willie vir haar sê hoe ek voel oo poems / wat gan oo hoe oulik liefde issie. / Ek willie vi haar sê dat ek dink poetry / hette higher purpose ie,” sê die spreker in ‘Graduation’. Louise Viljoen skryf Swatland herinner opnuut dat poësie nie “noodwendig veronderstel is om te troos nie”. Arendse het ’n kenmerkende vertelstem vry van voorgee, wat aanleiding gee tot helder, verhalende gedigte met slotverse wat dikwels die trefkrag van ’n karongeluk het. 

Die afwesigheid van die pa-figuur word in een van die eerste gedigte in die bundel aan die hand gebring: “Ek’t my befokste Quiksilver sweaters en / my witste Adidas in my blou Karrimor gepak. / Dai wassie pêtch, / soedat nieman kan suspect / dat ek ’n tôpie het wat somewhere ytgepass lê / mettie lollie langs hom ie” (uit ‘Ndodas’). Ook in ‘‘Ytġafel’: “Ôs stġy oo alle kak, man: / wie die meeste sakgeld kġy, / wie se hare die beste gesny is, / wie die meeste skommel, / wie eendag die ġykste gat wies, / wie se tanie die wġeedste is mette belt, / wie sy pa die mieste sien.” 

Ôs stġy oo alle kak, man: / wie die meeste sakgeld kġy, / wie se hare die beste gesny is, / wie die meeste skommel, / wie eendag die ġykste gat wies, / wie se tanie die wġeedste is mette belt, / wie sy pa die mieste sien.
— Ashwin Arendse in Swatland

Daar word gereelde verwysings na die spreker se oupa gemaak: “Dai tipe oupa wat jou grootmaak innie kêk, / jou onne die vleġk intġek / omdat jy ’n absent pa het”; “Ek slan my oe op na die berge / waar sal my hulp vandaan kom?” / Ten to one vannie ou tôpie af” (‘’n High-five virrie ou tôpie’). In ‘Blackletter’, die slotgedig in die bundel, beskryf die spreker sy oupa as die “slimste mens wat [hy] ken”: 

Ek’t my laaste wens
met net hom gedeel.
No matter what,
op my grafstien moet daa staan
in italics, inne Blackletter font:
Gebore innie Swatland,
dood in liefde
onne sy oupa se vlerk.

‘Is altyd lente in Stellenbosch’ is ’n somber vertelling van dié studentedorp. Die spreker is by sy gradeplegtigheid ná drie jaar se studies — sy “Mommy-I-made-it moment”. Sy ma sit in die gehoor, “biesag omme video te maak wat sy later / op social media gat post mette caption. / Iets innie lyn van “Mammie se trots” of / as sy Engels voel, “Mommy’s proudness”. Dit dien as ’n terugblik na die gedig ‘Phantom of the Oprah’ waar die spreker ou handboeke op sy ma se kas gepak sien “[a]l het sy een-en-twinnag jaa geliede haa studies gelos / om vi [hom] groot te maak.” Die spreker voel ingedoen deur Stellenbosch wanneer hy die graadhouer oopmaak en ’n skuldbrief in plaas van ’n sertifkaat vind. Sy familie het “ammal loans gemaak / ommie plus-minus een-honned-ses-en-nientag-thou te / betaal vi [sy] veblyf en study fees virrie dġie jaa”.

Stellenbosch doen my nogal soe in.
Ek het overtime gewêk vi hulle
university theatre productions
waavoo hulle in geld betaal is en ek in exposure
soese nai oppe nudist beach.
Maa ek willie nou ondankbaar klink ie,
wan Stellenbosch het vi my oek baie gegie.
Soesie privilege om te sien hoe
’n dikgesypte boeġ elke twiede Woensdag
inne sponsored-by-Pappa Hilux veby ġy
en vi jou skġie jyse hotnot.
Elke jaa se ding, al hoe hadder en mee volbôs
soesie jaa anstap.
Dan die whiteys wat die Stellenbosch
anthem sing, “Dis altyd lente
in die oë van die Stellenbosch-student.”
Saloet, is altyd lente in Stellenbosch.
Gġoot wit naies wat heeljaa kaalvoet loep
met stġikkies in hulle haġe, ġient of son,
soes ou vooġtġekkeġtjies.
Maa vi coloureds is ieman wie voogetġek wôd
ieman wie gefavour wôd.

Swatland is ’n noukeurige argief van herinneringe wat Arendse met ’n fyn oog en bestendige hand bymekaarskryf.

Die spreker voel ingedoen deur Stellenbosch wanneer hy die graadhouer oopmaak en ’n skuldbrief in plaas van ’n sertifkaat vind.
— Elodi Troskie

liefde angelo

As twie broese met hulle arms agte hulle ġugte
en floppies op hulle koppe in jou ġigting beginne ġol
isse slight slope in jou swag die eeste warning
wat jou liggaam afgie voorit in panic mode gan.
Ek’t it ignore wannie winkel is net vyf minute weg.
En oppe Saragaan issie plek woelag
mettie Muslims wie op en af in hulle VTECs
in Darlingstraat ġy opsoek nare kin
wat smaak voetjies hang.

Tien tġeë later.

Die naies doen “what Tiggers do best”.
Hulle hop, hop, hop tot by my, byg voo oo
soes goet watte curtain call doen,
en van onnerie floppies yt met koppe skyns
gedġai vġa hulle altwie in unison, soes harmony singers:
“Wat het jy daa virrie ouense?”

Twie chinks in my armour later.

Ek wôd nog steeds vanne awkward angle af interrogate.
Maa innie way hulle staan
soes mense voorie ATM
kan ek sien die ouense wag vi my om te antwood
soedat ie tġansaksie voltooi kan wôd.
Asse mens gerop wôd
wêk dieselle nerves wat wêk
as jy wag op final results.
Soe mens sê stupid goed.

Al wat ek kon ytkry
in dai moment wasse offer om vi hulle
’n pakkie Labamba beef
enne vyf ġand Cell C te koep.

Een moerse klap later.

Die ouense staan man-man menne mes
langer asse donkie-tollie.
Vat vi phonetjie.
Vat vi twinnag ġand.
Skud my yt asof ekke spaarblikkie is.
Hulle stap weg en een skġie vi my tġug,
“Saloet broetjie,”
asof om te sê ek het goed gedoen.
Maarie pyn in my wang lat my dink
ek kan bieter gedoen et.

Ek’s net ommie dġai toe Bentley
in sy Polo Playa optġek en ligte gooi.
Hy gym plus hyse mal bra.
Ek gie vi Bentley die noragge info
en hys daa weg om my gesteelde goed te gan soek.
Byrie join kap ek zip oorie phone cause my tanie
het net twie wieke geliede die lay-by gat afhaal.

’n Hele Sondagmarrag later.

Die Polo staan voo my hys
en boeta Ben se gesig getyg van goeie nuus.
Hytie phone gekry which means
een of altwie dai broese lê nou stukkend êrens.

Ek kyk of my memory card nog innie phone is.
En dan issit regyt bed toe.
Maa, net voo ek klaa mettie dag is
kom daa ’n please call me dee
vanne unknown nomme af.
Ek willit ignore, maa na dai
kom daa nogge paa dee.
Please call Ursula.
Ek check my balance en daa isse
twie ġand op wat ekkie gekoep et ie.

Die antie het net opgetel en
omtrent tien kee gevra wie die is
voorie phone afgeslat et.
Ek kyk deerie sent messages.
Heel boe kġy ekke boodskap wat sê:
Wil mami ni vi my ’n lyki gi ni asb
nwe job gkry innie Kaap, ma k need
fair vr d wiek
liefde
angelo

WWE

On this day I see clearly everything has come to life
A bitter place and a broken dream

– Edge intro song: Alter Bridge, “Metalingus”

As laitie het ek altyd oppe Sondagaan gehyl
om bietjie later wakke te bly virrie wrestling.
My tanie val gou vi tġane
soe soedra dai voiceover speel
wat sê ôs moetie die stunts byrie hys tġy nie,
het ek my kussings ġeggepak oppie sitkamevloe
en virre ieġ lank my ma se continental in sy moer geslaan.

Ek’t altyd gedġoem daavan
ommie stoei live te gat kyk.
Byrie skool,
as ek inne stġyery betġokke was,
het ek starag weggestap,
oo my skoue gekyk
en soes John Cena dai
“You can’t see me”-nommetjie gemaak.
En as ek sien ôs gat nou vysslaan,
het ek my oë omgedop,
my tong ytgestiek,
en my dym oo my nek getġek
tewyl al my tjommies dai klokgeluide
van Undertaker se intro song maak.

Soe ’n maan geliede, eintlik
heel eeste dag vannie maan,
manifest dai dġoem van my
inne strange way.
Soes ek innie pad af stap begin
’n ou oem enne ou antie mekaa spear.
Twie hall of shamers biesag
om innie sand ġond te ġol.
Asof hulle virre title fight.
Ek wou die match stop, maa daa was klaa ’n ref,
’n klein meisietjie wat mieste vannie tyd gehyl et.

Soes ek kon aflei wassit ’n TLC match.
Oupa het eeste die paal innie hanne gekġy,
een hou gegie en Ouma’s flou.
Oupa march daa weg soesie
Rated-R superstar
mettie SASSA-kaaġte
ġegyt smokkie toe
omme paa lieteġkies vaalwyn te koep.
Ouma het innie sand bly lê.
En net soes in WWE wanne iemand iets bġiek
is sy oppe stretcher daa weg.


Swatland

It’s a long camera
It’s a quantum leap to the beach
Is it too hot even for Speedos?

– Happy Mondays, “Somebody Else’s Weather”

Die Swatland hette way om temperature te gan ytgrawe
watte coloured familie lat kaalgat ġondstap innie hys
soes Scandinavians wat inne commune bly.
Innie Malmesbuġy, vi coloureds
wat an dai kant vannie bġug bly, isse pool
sewerage-wate wat langsie sypaadjie afloep.
Waarie klein laities heeldag in lê en float.
As jy te goot ġaak virrie kakwate
march jy oppe Sondagmarrag
af narie public pool toe.
Isse forty-minute walk tot byrie bads,
wan it was eens oppe tyd strictly reserved
virrie whiteys.

It kos van ôs om oorie N7 te stap
as ôsie journey kotter wil knip.
Wan veetag minute in veetag gġade
is jouself virre gat vat.
As ôs geland et, betaal ôs ie siewe ġand
en gat soeke dytlike spot wat ytkyk oorie hele scene.
Lunch isse paa pakkies Labamba,
suurvytjies en assie skarrel ’n sukses was,
syg ôs man-man anne JC vi afters.

Helfte van ôs kannie soe lekke swem ie
soe ôs lam innie kiddies pool.
Met ôs pecs op observe ôs ie goosies
wat parade voo ôs innie ways wat ôs
hulle byrie skool imagine.

Assie klokkie ly vi toemaaktyd, pak ôs ôs
sakkies op en beginne die pad anvat op hystoe.
Ommie trek lekke te maak gooi ôs man-man
’n paa klippe oppie wit mense se dakke
om sieke te maak hulle hoefie heeldag
veveeld te sit onnerie aircon ie.
As hulle ytkô, slat ôse gat tewyl hulle ġaas en skġie dat ôs
tġug moet fokof na ôs kant vannie bġug toe.

Laterie aan lam ôs ammel voo Wennie se join
en lag vi allie kak wat ôs angevang et deerie dag.
En beplan ’n anne route vi nex wiek.
Wan ôs kannie deal mettie hitte
aan ôs kant vannie bġug ie.
Ennie wit mense vegietie ’n bġyn gesig ie
en vegiewe oekie maklik ie.

Deel hierdie storie


Eerste en oudste Afrikaanse tydskrif, sedert 1896

Divers, progressief en vars. Waardeer jy ’n stem soos Klyntji s’n? Het jy van Ashwin Arendse se Swatland gehou? Dan ondersteun ons. Donasies van lesers word gebruik om ons bedieningkostes te betaal: jou bydrae hou Klyntji aanlyn. Vriende van Klyntji word op hierdie bladsy erken. Elke bietjie help.


 Eenmalig R
 Maandeliks R


Klyntji verklaar 'n klimaat en ekologiese noodtoestand