Chrystal Williams gee vorm aan Kaaps

Chrystal Williams gee vorm aan Kaaps
71801603_771613599926501_5937566938375913472_o.jpg

'Stem dik maak is altesaam 'n generational blessing'

Chrystal Williams (24) is ’n Kaapse digter, afkomstig van Pniel, buite Stellenbosch. Sy is tans ’n BA-student aan die Universiteit Stellenbosch (US). Dit is by hierdie instelling waar sy aan poësie blootgestel is deur kreatiewe skryfklasse wat by die US aangebied is toe sy 16 was. Chrystal was daarna sowat vier jaar lank deel van InZync Poetry. Sy het al by die US en die Universiteit van Wes-Kaap, die GUS-galery en by Woordfees opgetree. Sy was ook al by paneelbesprekings oor Kaaps en poësie betrokke. Chrystal se werk is al in beide die US Vereniging vir Afrikaansstudente se bundel, Penseel, sowel as in Klyntji opgeneem. In 2020 maak sy haar YouTube-kanaal oop waar sy haar poësie deel met wieookal daarop afkom. “My grootste stryd en terselfdetyd pret is tans om ’n vorm te gee aan my Kaaps, omdat daar geen Kaapse taalreëls is nie,” vertel Chrystal.

Hie komie man

Wil djy nie vi my hoorie?
Oe, hie komie man.
Hy ga jou wegvat.
Hy staan da innie donkerte.
Hy sien alie stront wat djy anvang:
hoe djy bike ry,
hoe djy wawiele maak,
hoe djy stap met jou maatjies om chips te koep,
hoe djy skool toe gan,
hoe djy huis toe loep

Huil djy ma hader.
Ek gat hal nou die man.
Was ees ’n gesiglose figuur
met alles swat an.
Niemand het geken van homie
ma hyt geken van jou.
Hy was groot.
Hy was scary.
Hy was Mammie se way om jou in lyn te hou.

Nous djy groot.
Hy die gesiglose een in die taxi
enie een met die smile oppie altaar.
Die een wat jou pay gie
enie een wat agte jou rug slaap.
Die gangste in jou neighborhood 
enie een met wie djy klas toe loep.
Vrinne samie nag 
enie dag kan van hom getuig.

Hy veänner vorm om vi jou te vang.
Ma djy vi hom?
Nooit.
Met ’n sagte meow.
Die honne is selfs bang. 

 

Luiheid regeer

In true millennial fashion
EK HETIE LUSIE.
Het niks om te doenie,
ma my “willie” wieg swaar.

Issie dat ekkie wiet hoe nie.
Stem dik maak is altesaam ’n generational blessing
en boelie.

Die ding is,
wie is my oppressor?
en waantoe moet ek gif spoeg?
want my spoeg kan sy vlees raak
ma sy wese mis

Is my meester nog mens?
Is sy vel nog wit?
Of is hy nou ’n gebou,
’n denkwyse,
’n sisteem,
of al drie kruise.

Nie een van my geërfde wapens
Kan al sy vorme teenstaan nie.
Nou wat moet ek maak met my parentals se
pangas,
klippe
en tires.

Wie trek an my toutjies?
Wie verwyder my vlees van my biene
en gooi my vi sy honne

Ek need nou dubbel die wapens.
Ek het my voorvaders se oliebomme.
en hulle kwaad-rakens

Wa moet ek nou die abstrakte wapens kry?
Dinge soes wysheid en self-worth

Imagine,
al die moeite vi ’n bedreiging
wat nou is, giste ga wies
en môre was

So what as my nageslag ’n bietjie sukkel.
Hulle moet anyway by dai tyd al hulle wapens tripple.
Soe moet djy nie warry nie.
Daas g’n haas.
My “wil” is op my USB-stick gesave,
ma my “ek gat later” sal jou nou wys wies baas.

 

Môre se pleit

Jou Môre was giste by my,
smaak gesels.
Sy vra vi ’n koppie warm kruie wate 
sone suike
sone melk.
Vi die magwerk
van die leftover bad vibes wat djy vi ha innie yskas gelosit.

Ek wiet issie my biesagheitie, 
ma dai vrou is moeg van jou.
Sy sê djy bly ha roep,
huil as sy nie wil komie,
maak demands op ha met jou gebede 
en sy kan oekie ytstiek sone die son nie.

Jou Môre sê djy wil ha klere kies,
ha hare kam,
trek ha al hoe nader
terwyl jou Vidag
innie skare staan.

Jou Vidag se mag is oekie lekke nie.
Vi ha voed djy met vuilkyke,
stoor ha innie donke kamers van jou gedagtes,
gooi ha koppie tee halfpad vol suike
en vetel ha van jou planne vi jou Môre.

Sone dat djy wiet
smelt jou Môre in ha eie mond
an die einde van elke Vidag,
ma in jou Vidag lê stukkies goud 

wat nooit sal deelmaak van jou Môre se inhoud. 

Deel hierdie storie


Eerste en oudste Afrikaanse tydskrif, sedert 1896

Ons bou aan ’n moderne beeld van hoe Afrikaanswees lyk, lees en klink. Het jy van Chrystal Williams gee vorm aan Kaaps gehou? Dan ondersteun ons. Vriende van Klyntji word op hierdie bladsy gelys.


 Eenmalig R
 Maandeliks R


Klyntji verklaar 'n klimaat en ekologiese noodtoestand