Sewentien digters reageer op kuns
Van rotstekeninge tot nou
Hierdie gedigte was vir die eerste keer aangebied by 20/20 – Met ’n kelkie, ’n Woordfees 2019-produksie wat op 8 Maart plaasgevind het, saamgeroep deur Bibi Slippers en Loftus Marais. ’n Verskeidenheid van digters was uitgenooi om kunswerke te kies om op te reageer. Kabous Meiring het die inleidings en bekendstelling gedoen, en het uitgelig dat 20/20 na perfekte visie verwys. 20 digters het op die aand gedigte voorgelees, waarvan die meeste se gedigte hieronder gedeel word, elkeen ná die betrokke kunswerk. Nie ingesluit nie is Ronelda Kamfer se gedig geïnspireer deur ’n portret van haar ma deur Nathan Trantraal, Martina Klopper se gedig gebaseer op White Gauze (1984) deur Robert Mapplethorpe, en Ashwin Arendse se gedig gegrond op ’n potloodtekening deur ’n ongeïdentifiseerde kunstenaar.
Danie Marais
Van skuld en skaamte
“Painting is not made to decorate apartments.
It’s an offensive and defensive weapon against the enemy,”
het Picasso gesê, maar Picasso was op baie maniere
’n bedenklike karakter.
“True art has the capacity to make us nervous,”
skryf Susan Sontag in Against Interpretation.
My dogter van 10 het dieselfde vermoë.
Sy kyk na Guilt and Shame,
’n werk van Anton Kannemeyer,
teen ons eetkamermuur –
’n vergaardaggeskenk aan my vrou –
en sy vra:
“Wat gaan hier aan?”
In dié comic-prent staan ’n wit skoolseuntjie
langs sy fiets en sê
aan ’n swart skoolseuntjie met ’n onleesbare uitdrukking:
“We have guilt three times a week …
and on Fridays we have shame.”
Stiefboetie Sam, 11, sê in die verbygaan:
“Weet jy nie wit mense was baie lank lelik
met swart mense nie?”
Lea, geïrriteerd: “Ek weet van apartheid, oukei,
maar hoekom het hy die swart seuntjie só
met sulke dik rooi lippe geteken?”
Ek sê, wel, dis ’n baie rassistiese manier
om swart mense te teken, maar jy ken vir Tintin.
En in Tintin in the Congo, wat ’n ou boek is,
word die swart mense nog so geteken
en toe Anton ’n kind was, was Tintin sy held
en nou moet hy homself vra …”
Lea val my in die rede:
“Maar hoekom doen Anton dit?”
Ek sê ek dink Anton vra of die wit seuntjie,
wat homself jammer kry,
regtig die swart seuntjie raaksien
en of hy nie dalk net
die ou rassistiese idees in sy kop voor hom kan sien nie.
En nou kyk Lea benard na my.
“Pappa, verstaan Sweetness hoe hierdie storie werk?”
vra sy en daar gaap die sinkgat
waarop ons klinkersteenhuis gebou is oop
en in Lea se benoude oë sien ek
sy het ’n glimp van ons geskiedenis se
interaktiewe horrow show gekry sien ek
die waardige Sweetness as die Pirate Jenny
sidderend van verontwaardiging met ’n stofsuier
aan hierdie beeld verbyloop
en wanneer die afgevaardigdes van die politieke oordeelsdaghof
haar uiteindelik vra:
“Wie van hulle sal ons doodmaak?”
sê sy sag en sonder huiwering: “Almal.”
En wanneer die sagte koppe rol, sê sy:
“Hopla!”
Sedertdien wonder ek of dié werk in ons huis moet hang.
Is dit ’n grappie waaroor ons almal saam mag huil?
Anton sê hy weet self nie of ’n wit mens
so iets moet ophang nie.
Anton sê hy fokken weet regtig nie meer nie.
Sy galery wil hom nie meer verteenwoordig nie.
Die eienaar sê dis tyd vir die wit man
om stil te bly;
sy werk maak medewerkers ongemaklik.
Mense voel offended.
Moet kunswerke dan nou sus en gerusstel,
terwyl jou ideologies psigotiese oupagrootjie
jou ’n kous oor die kop getrek
en ’n stukkende voorlaaier soos ’n aflosstokkie
in die hand gedruk het
en daar niemand is vir wie jy dit kan aangee
in ’n wedloop sonder toeskouers nie?
Wat hang ’n mens in jou enigste ware ontuiste
in ’n buurt waar die mense
so dik bevoorreg en diep in die skuld is?
Is pastorale akwarelle nie dalk meer polities skaamteloos nie?
Moet ek dit gerusstellend vind dat ek ten minste
ongerusstelbaar is?
Nee, besluit ek,
dis alles desperate psigiese selfverdediging en retoriek dié.
Ek is Lea ’n antwoord skuldig en ek moet vir Sweetness vra
en toe vra ek:
“Sweetness, does this picture bother you?”
en ek verduidelik,
volspoed – Woody Allen,
hoekom ek vra
en hoe ek vir Lea probeer verduidelik het
hoe ek dié storie verstaan
en terwyl Sweetness langs my na die kunswerk kyk,
sien ek met groeiende kommer hoe sy
saggies hardop, duidelik die eerste keer,
die woorde van die wit seuntjie
lees.
En toe sê sy saaklik soos iemand wat haastig is
en werk het om te doen en beleefd wonder hoekom
ek haar met hierdie nonsens gepla het:
“No, it doesn’t bother me.”
Maar tog bly ons ’n oomblik onpeilbaar langs mekaar staan –
twee galerybesoekers onseker
wat ons voor ons,
tussen ons of agter ons sien.
Fourie Botha
The New Farmer and His Wife, 2015
’n kunswerk van Richard Mudariki
Op skilder Grant Wood se deuntjie:
’n portret van die nuwer boer
waar hy poseer met skoffelpik,
nie daai drietandduiwelsvurk.
Langsaan neem sy vroutjie plaas,
Staedtler-potlood in haar hand.
Hul naaldekokersleutel gaffel
geel na die afgewitte opstal.
(Kaaps-Hollandse kis met venstertjies.)
Dit is hiér waar die nuwe mies
sal spook om bietjie lig te bring;
die lugsteurnis van Wood en kie
te wis met ’n uitveërtjie pienk
soos Enterprise-polonie.
Ryan Pedro
ek en my wit tjommie sit en gesels oor Jean-Michel Basquiat se Charles the First
“ek moet ’n poem daaroor skryf vir ’n literary festival”
“hoekom basquiat? hy’s so overrated?”
“off course you’d say that. jy met jou frida kahlo
tattoo, t-shirt en spacecase –
as jy ’n blom uit die grond uit haal bly hy net vir so lank mooi;
kyk, af na die kaalgekoude bene van hierdie klipkarkas wat rondlê
om die pote van die boesmangras wat stertswaaiend aangehardloop kom
wanneer dit ’n koperbruin lyf op die horison sien,
sy fluit oor die vlaktes hoor trompetter;
uit hierdie grond wat verstrengel lê in die draad
wat ons vaders hier gespan het; joune hande gevou, myne in blou.
sê my gou: waarvan staan die kameeldoringboom en droom
noudat daar nie meer spore sigbaar is in die stowwerige strate
van hierdie aarde se palms nie?
waarvan staan die kameeldoringboom en droom
noudat daar nie meer ’n kop is om te kroon
met die laaste bietjie skemer
wat vassit in sy takke nie?
Lynthia Julius
Ontheemding
My ma is in Nababeep gebore
’n Namakwalandse kind
ek toe dit Vrydagaand is in iXhoeroepoort
blou en koud
’n Namakwalandse kind
My ma is suurdeegbrood en Namastap
ixhoulag en ixhit
Okiep- en Bergsigmens
sy kan in Nama tel tot by tien
toe ek nou die dag traai
toe kom ek net by drie
Sy’t getrek en verkimberley
my saam met haar gevat
as ek t’ruggaan sien ek my poppehuisiemaatjies
hulle’t almal kinders
vry nou en dan getroude mans
ek het gesien wat armoede aan mens doen
dit word later ’n mak-hou-kou waarin mans jou afknou
Ek is toe verkimberley, ’n whyster
gemaak (soos mens die Kimberliete noem)
ek kon nog nooit soos hulle praat
as ek in Springbok kom is ek te stad
in Kimberley té Nama
My ma sê haar ouma was ’n Namavrou
die grootmense het onder die skerm gesit en hulle taal gepraat
die kinders weggejaag want dit was ’n grootmenstaal
My ma ken baie antwoorde
sy is ’n goed belese vrou
maar sy het nie antwoorde
as ek vra wie die god van die Namas is nie
Pieter Odendaal
die grond is die skadu van ’n reeds dooie vrou
die kerk op haar torso waai weg
die spiresse op haar dye paraat
vir die aanslag
sy’s anyway klaar gemerk deur industrie
as grond as skedel as vrou met die moeë oë
haar visioene is almal verplaas
sy kyk halfoog toe
sy wag jou in
jou slagtande gierig vir ploeg
jou pootjies en pens vasgestrap
die skadu van jou member smag om stert te wees
om morsig met die wêreld om te gaan
om jou eie plekkie oop te krap
jy kwyl in jou kostuum
sy kyk halfoog toe
jy kniel oor jou toekoms
sy kyk halfoog toe
jy gryp na jou afwesigheid
sy kyk halfoog toe
jy’t julle albei klaar verwoes
al vat jou pote nog grond
al bol haar oë nog pêrels
al staan haar stad vir nou
jy dink skadu’s kan vertrap word
sy weet skadu’s is altyd reeds grafte
Marcel Spaumer
in plaas van kuns
1.
in plaas van kuns die meisie wat huil
teen ouma se spaarkamermuur nie
waar almal haar kan sien nie soos
haar linkeroor teen haar kakebeen weg-
gesteek ’n ode aan ore in kuns oral
maar hier spits pêrelgrys tranetreë
eerder die oog op die oë toe twee vertrekke
leeg vir donkerkamertjie slagoffers
van ’n ge-Eskom-de aand die uur
voordat die haan wat oupa wou skop kraai,
sonloos; in plaas van kuns die meisie
mondstil met haar kennebak in stuipe
elke keer weer in die verbystap sein
sy kripties ’n sin wat roosoranjevel klink of
bisterbruinhare (amarant, jagtersgroen, karmyn,
goudbruin) maar bedoel seker iets
soos hiergehang
hiergelos
2.
sy’t spesiale kragte die hangding
besluit ek ’n Sondag: die hele plaas ’n skaap
op ’n spit snork oupa ’n bottel wyn
wakker en ouma vang vlieë
met haar hande (is dit ek wat uit haar oë
die trane laat loop?) die landery baar ’n swaaibalk
vir die seuns of twee dit reën net onder oupa se bles
bokke spring die punt mis ouma se geklap mis
(is dit ek wat die tranevlek nou reverse
soos ’n mier wat sy korrel suiker misplaas het?)
die kaal rekenaar-solitaire maak homself die skerm
vol klaar teen die muur hang ’n kalender, ’n klop:
tien jaar oud vanmiddag-alleen
en die gaargemaakte skaap gaap my aan
(is dit ek met die langhaarhemp op my kop, sit ek
en huil?)
Die landery baar alteveel vrae.
3.
nie een van Giovanni Bragolin se kinders
het gehuil nie sê dit op die internet eers
agterna ingeverf maar hartseer is hulle
gevra om te wees soos ’n hond op sy rug
maak asof hy dood is en dan ’n been kry
daarvoor en hier staan ek ’n diggevrete maltees
terwyl die meisie dalk beloon is vir voorgee
in plaas van aanmekaar tong uit te steek
en lekkies te vra.
Bibi Slippers
Mens vloek nie voor ’n vulletjie nie, so
met kieste bolvol fokke sit ek nou – o,
die dinge wat ek binnehou:
galoppende toorn, losse hel wat tier
onder die vel soos doek gerek oor
die raam van my swetsende skelet.
Geen mens kan ek, só onder oë nie
dié soort sit bloot optree, voorgee
terwyl waarheid kramp in jou gespanne kaak.
Dis hier-wees vol weersin: in die hol
wors van hierdie haarwrong en die knop
weerstandigheid wat my skouer vervorm
tot ’n heuwel, bergplek van geheime
lewe en krag, van stiltes en vermom-
mings en my aas.
Val jy in die visdam van my kalm oog sal jy,
helaas, verkeerd raai oor wat ek bêre
in die koddige beursie van my onderlip:
skaamte? nee, ’n ongemak ouer as die kollig
en die lens, voorkennis van die aansteeklike skou-
siek wat kom en almal kens sal maak.
Kyk stip in die vlam van my kokende oog,
die befoeterde een van die onpaar, gebalde
loervuis, put onder ’n lid, wip, en gewaar
die inspanning en irritasie, die ander vrou
(met ’n skaap in elke mou) wat my mond
van binne af op knip moet hou.
Aanskou: jeugdige juffrou en die oopbek een-
horing – opvreetbaar-oulik waar hy dom-verstom
die toekoms inkyk en sien
hoe ook hy, as reënboog-tekenprent wat aan-
sporing spoeg en blinkers poef, eendag op Instagram
kapitaal sal dien.
Fanie Olivier
vierluik – 'n epifanie
[i] detail – sluitstuk
die voorluik lei mens met die eerste blik goed om
die bos. toegevou lyk alles vlak eendimensioneel
maar hier reeds is daar blik op blik. daar’s ek
wat hierso in die prado staan; die twee in kleur vyf
eeue terug; gregorius, heilige maar toe nog twyfelaar
nog vroeër en christus wat half moedeloos aan hom
verskyn en sê: dis ek. en agter, ver, bo is golgota geleë.
meedoënloos word die kruis en christus en sy skaduwee
presies gekloof waar die panele sluit.
maak oop!
maak oop die voeg wat tot by die ster daar agter loop!
***
[ii] oorsig
almal, of byna almal, is inkykers [ook ek en jy]
op wat skielik helder op die voorgrond staan [die wiggelaars
(goud, wierook, mirre), die vrou van smarte, kindjie klein]
uit die sypanele die opdraggewer en sy gade
agies wat om die draaie, deur die gate loer;
skuins bo die goeie vrou op die wankelende dak
’n tweetal, een doodsbleek, op ’n doedelsak
die kaal man in die opening; die donkie [weet hy
hoe ver egipte lê of fort wajier?]; die uile agterdogtig
elkeen in sy hoek.
maar verder agter gaan die lewe aan.
***
[iii] detail - luik links
veertien geslagte maal drie direk verwant
aan abraham sit josef, die surrogaat, reeds eenkant,
reg om ná die ver reis met die donkie net te verdwyn,
nou nog darem goed genoeg om die gewaste doeke
voor die vuurtjie droog te maak. kyk hoe kyk hy, soek
troos en erkenning by die skilder en by jou, in die gedig.
***
[iv] detail – luik regs
op dieselfde lyn as josef slaap die lam
nou nog alleen. die vrede wag nog om te kom
***
[v] middelste luik (a) onwaarskynlike sonnet
en dan die sentrale groot paneel,
die een wat elke kerkganger sou ken, verstaan:
die sterrekykers, wyse manne, of vér konings –
drie, so het hulle dit gehoor, en so geglo;
die ma, die maagd maria, geseënde vrou, gedaan;
en op haar skoot die kind, plegtig gestroop, klaar wys en geleerd
[“hier sit ek nou en wat nou nog? my rug het ek klaar styf
getrek skaars twaalf dae oud en met al die rumoer
en singery en engele slaap ek hopeloos te min.
“en wie’s die een daar eenkant sonder klere wat so loer?
ek is ook kaal. pasop ek hou jou dop. ek sal my pa gaan sê.
en wat’s daai ding daar aan jou been, bo-oor die sweer?
“as ek daai goue voëltjie raak, weet ek hy sal sing
en vlieg, en dit noem hulle om een of ander rede dan ’n wonder.”]
[v] middelste luik (b) en verder
agter die dak sien ’n mens drie leërs, onthou van oorloë
en gerugte van oorloë, van dissels en droogtes
van sprinkane en vlieë, van arbeid maak vry
en die engel by die paradys se goue hek
***
[vi]
die diens verby vou die priester die panele terug
slaan gou drie kruise teen die antichris
***
eeue later maak hy dit weer oop vir hierdie bleek gedig
***
[vii]
iewers op die horison iewers anderkant
iewers daar agter die toegevoude luik daar onder
die helder lig lê die vreemde stad die ou beloofde onbekende land
Remona Voges
Die geboorte van Frida Kahlo
Die kind met ’n mond gebore
donkerblou en dig soos
die Asteekse Tlazolteotl se
afspriet beurend na die lig terwyl
die Maagd van Verdriet roep
druk haar terug!
Klein godin van sonde
rou en gapend soos ’n wond of vis
’n dogter, lewend in
’n vloedsluis van bloed.
By die aanskou van Frida Kahlo se wenkbroue
Die Mestizo se wenkbroue
is aangestryk, dig en boogvormig
soos kolibries, vlieënd bo
monde geklad met karmosyn.
Twee pare vlerke span oor voorhowe
die kleur van oorryp plátano’s
soos die Tehuana-kostuum
testament van die verbintenis
geknip in haar skoot.
Dit drup tussen rooibruin blommme
neer op ’n lentelose landskap.
Du Toit Albertze
Was
1.
dit het als met boereseep begin
oupa bad my
vi die eerste keer
skottel silwersink
innie rooi sand gesit
hy begin skrop
ek met my bene skop
hy begin skuur
ek pis die water suur
hy rasper
my lyf tot roof
ek skree
die sand duine geen hulp te gee
ek skree
die sand duine geen hulp te gee
ouma se oë
twee wonde
hou waak deur die kombuisvenster
vingers in vuilwater en breek-
ware begrawe
later skrou ’n kraai verby
vou oupa die skottel
oppie geelgrasperk
uit
ek stink vandag steeds
elke bad
maak my net vuiler
2.
hierrie issie nog ’n Ingrid poem’ie
dit wassie my skuld
pa wou my wassie
watte pa weet ekkie
branderplank
bruin gebrand
wit sand
sny ons spoor
see toe
Mosselbaai
speel ek raai-raai
windfraai
mettie water
handdoek- rooi
lifebuoy- rooi
rinkel
skuim my in
hierrie is ’n was poem
proe die sout
wat pa sproei
doop en versuip
word een
seemond en vroukont
breek my
ineen
pa
peul handdoeke
sonseep
en my Little Mermaid kep
en keer
(probeer keer)
die mond binne
boeta swaai-swaai
stil is die baai
sout in my wonde
soosie see
(nie pa)
my branderbrand
in ’n Bermuda driehoek
en ek en ek en ek
spartel in ’n siek god
se spoegdruppel
draai ek
uit
wier en gras
“ek wil skoon wees”
pa se niks
droog my af
en dra my oor sy skouer
’n vis sonner voete
waterweet
steedsie of god
of pa
my lifebuoy lifeguard wassie
niks kon skoon wassie
behalwe die memory
van al die plekke
waa ons eenmaal was
3.
reg en verkeerd
borrel innie skuimskat
ek en boeta
kyk-weg-bad
L.O innie saal
soet, geelhout boks
bruisend
van pasop vir piel
pasop vir koekie
pasop vir vroetelpappie
was my rug
met blou maak pienk
ma se griefsap
oppie leeplap
skrop
va kop
na kop
seepsop seuns
ek voel onner
ek bad
boeta
brand bruinrooi
ons selfkasty
terwyl die grootmense vermy
kerk
in Christ kaal gedoop
“Jou liggaam ’n tempel”
terg my
my bloed innie bad, broer
broei bruinrooi
is ons
in geelhout bokse
L.O boeke innie seep, kinderbybel kruis gesleep
jy sien my, broer
en
begin bad op jou eie
asof moffie
begin wys het
na
die
Betesda
bad
reg en verkeerd
gebeur buite die kerk/klas
met ’n koekie
seep
tussen twee
bruinrooi
vuil
gewas
Andries Bezuidenhout
FOTO VAN TWEE VROUE EN 'N KIND BY 'N KONSENTRASIEKAMP
Die son het vergeet om wasgoed in te haal.
Vanoggend getorringde some aangetref
en besef iets het afgesmeer, vlekke gelaat –
die vorige dag in wit en swart.
Nou staan hulle daar, op hierdie foto uit die argief,
twee vroue, ’n kind,
kappies, voorskote, in die agtergrond ’n tentkamp.
Die tydvak duidelik, maar drie gesigte in donkerte versluier.
Wat om van hierdie dag te maak?
Teken buitelyne, kleur dan in, verbeel:
Tentseil klap, iemand neurie, iemand kreun.
Soek dan onder kappie en lap na iets wat naam of van
kan suggereer, maar telkens word haarlok of gesigslyn
weer deur skaduwees uitgevee.
Sit kwas, palet en troffel neer.
Hulle was immers nooit daar gewees nie.
Dis net dat die son soms vergeet
om bondels wasgoed in te haal
en dat iets van lig in donker dan
op ’n wit oppervlak aanhou draal.
Desmond Painter
Rassisties, natuurlik kan ’n bérg rassisties wees,
híérdie berg veral, Kaapstad se alomteenwoordige agter-die-klip,
wat gesien van Khayelitsha, in ’n taxi op Baden Powell Drive
op pad na die N2, ’n oorbepaalde oerbeeld bly,
’n koloniale konstruk, toeristiese clickbait,
’n weggewaaide poskaart, ’n mymermeme,
’n gekommodifiseerde stukkie aarde
’n muur, ’n sinjaal,
want hulle hier is dáár gaan haal.
Natuurlik kan ’n berg rassisties wees,
dit is verál berge wat rassisties is, en snelweë,
en kragdrade en onverteerbare sand.
En water.
Natuurlik kan ’n berg rassisties wees,
soos op hierdie skildery van jou, Thomas Cartwright,
een van die 36 plus tien van Tafelberg
wat jy in navolging van Katsushika Hokusai se
soortgelyke reeks oor die Berg Fuji, geskilder het.
Amper fotogetrou, joune, hierdie uitsigte
op Kaapstad se stedelike subliem:
Tafelberg gesien van die Goeie Hoop-sentrum,
van die foreshore en van Kloofnek Weg,
van verder ook, van Kommetjie en die N1 by Welgemoed,
van Tygerberg en die N7 naby Philadelphia,
van die Spur in Big Bay, van die Grand West Casino in Goodwood,
van die wingerde op Helshoogte buite Stellenbosch,
van ’n vliegtuig bo Valsbaai.
Weer en weer, die stad gerelativeer.
Ja, miskien is jou teenoormekaarstel van berg
en stedelike landskap, van shacks en offramps en kragdrade,
te maklik, Thomas, en bly jou historiese korrektief
te getrou aan uitsig eerder as insig.
Miskien word jy net, soos ek, te maklik oorweldig deur wat mooi is.
Weer en weer, die stukkende stad gerelativeer.
Tafelberg is ’n gedeelde hallusinasie.
Natuurlik kan ’n berg rassisties wees.
Wat jy níé skilder nie, Thomas, is die tonnels
wat hulle reeds grawe onder die berg deur, Kampsbaai toe.
Wat jy níé skilder nie, is die netwerk kabelkarretjies,
oormôre se openbare transport, wat reeds in beplanningsfase is.
Wat jy níé skilder nie, is die tafels waarby hulle gaan aansit,
ongenooid, in voorkamers van waar jy die fokken berg
nie kan sien nie.
Jo Prins
suiderkruis
duskant die kaplyn
lê ons identiteitloos
in browns,
sweet maak dat die black is beautiful
my oë brand
en ons weet nie waar ons is nie,
maar dis niks vreemd nie –
ons weet al
vir ’n paar jaar nie waar ons is nie
in die donker
draai die wit van jou oë na bo,
jy sê kyk,
die nag trek oop
en jy meet met jou hand
van die suiderkruis
tot by die kim
en dan terug
na ons land
maar hoekom?
vra ek,
ons kan mos net noord hou, aanhou,
eers bietjie teenspoorsny
en dan ’n lyn sny –
ons kan soos opperman se kwartels
in die langgras inwikkel
en vir ewig en altyd
verdwyn…
toe ek jou
die eerste keer sien
en jy jou gesig na my draai,
het ek my kompas vir die laaste maal toegeklap
en die sterre van jou wang af
oor jou lyf gevolg,
jou lyne het my nooit vervreem nie
want ons oorlog is een
waarin ek glo
Franco Bassi
sedert die eerste keer wat jy my kom haal het
was ons naasaanmekaarstelling ons enigste verkoopargument
selfs na twee uit-ineenstortings wat gelei het tot
ons impotente poging tot Pantone 13-1520,
’n millenniër se finale vorm,
en die voorouer van die voorland van depressiese blou
waar ons sal droog word tussen die sipresse wat ander mans namens jou sal plant
’n erfstuk wat ons op kussingslope en koppies agterlaat
soos die reuk van potpourri wat perongeluk ontstaan
en deurtrek oor die maan in jou hare
tot in die Pantone 2767 C
waarin ons, soos ware millenniërs, mekaar nog vir lank sal afdruk.
Chrystal Williams
Dryf
Hulle sê: Ha’ kreatiewe klimaks kom na die rou diens van ha’ geluk.
Nou wa’ ka’ jy
dryf?
Maak soes ’n pa’ sokkies
vou die self binne die-self-de-tyd
en dryf.
Die self is ha’ vingertoppe
wat soos wolwe
ha’ tonnel in kryp
en delf
vi’ ’n lekselkie water
dieper in ha’ aarde
veby ha’ kors
wat deur angs geknoop word.
Delf na sagter sand
nat van vars pit water
waaragter vure brand.
Delf totdat drupples
ha’ tonnel mure aftap
ha’ wolwe bespat
uit kom
en ha kors versag.
Totdat die interne sap
die eksterne bad
en sy dryf
totdat die kors oplos
en ’n volhoubare osoon vorm.
Dit huis nie net die mooi
ma’ dra ook die kruis.
Osone smelt
en vorm ’n safe space
Ha’ vloei is vrugbaar.
Voed veetjies
en laat blommetjies styg.
Soet seuntjies kan ha’ blommetjies ruik
ma’ net as seunjies met hul eie golf
dryf.
Eunice Basson
'Die ewige kind', 1916
Granaat en bom bars oor mens en dier
in ’n wêreld voos geblaker.
Gas snuffel by vensters en onder deure in
waar man en vrou vir oulaas na asem snak.
Skilder, hier sit ek met my bossie blomme,
langs verrotte uniforms gepluk –
om al die kleure na jou palet te bring, tussen die roes
en brand van dowwe yster en grofgeskut.
Die aarde is immers ruim gevoed
met ryk wit murg en been
van jong soepel lywe
wat oordadig lê en verwelk.
Loftus Marais
Piet, Paul Cezanne en Klaas
selfportret in strooihoed, 1875-1876
meneer cezanne, wát het jy gedink? is jy daar
meer of minder van jouself met strooihoed op?
dalk jou gesig as vaal ou stillewe: die oogappels,
’n peerbol in ’n neus, die oor soos bakkierand?
het jy aspris die skadus op jou hoed gevlek
soos berg? en wat, sê tog seblief, is daardie
wolke / donker vlamme / bosse op die agtergrond?
die skilder in sy element: sy element hier poffings
puur natuur? huh? en die hare en die baard, o
die hare en die baard! dalk is dít die rede hoekom
jy tot twee jaar vasgesit het: ongewaste
struikgewas en boerebolsels van ’n wegkruipplek?
meneer cezanne, ja ek verstaan: jou smoel skop
nes hier in die kunstenaar se serieusheid.
en daai linkerstaar. dit is iets tussen alomwetend en
’n ooginfeksie. oogdruppels vir jou as bruin
verdunde verf? en jy lyk moeg, nee gatvol, nee
dalk, wag nou: de moer in, ja. jy’s kwaad. vir wie
brom jy? vir mannetjies soos ek wat dink dat
woorde, vrae sin kan maak uit selfheid in ’n baadjie
in die ver verlede in die verf van sprakeloos
jouself beklad? meneer cezanne, net voor ek gaan,
verskoon tog maar, jong vee tog vinnig, want
jou neusgatrand lyk onbeskof ’n bietjie nat.