Wat Afrikaanse filmkuns kán wees

Christiaan Olwagen op die stel van Die Seemeeu. Foto verskaf.

Die Seemeeu deur Christiaan Olwagen

Christiaan Olwagen daag weereens Afrikaners uit met ’n ongemaklike konfrontasie, ’n refleksie van hulself op die silwerskerm. Die Seemeeu is die derde film van Olwagen se onlangse Johnny is nie dood nie (2016) en Kanarie (2018), en bewys weereens wat ’n belangrike rol hy in Afrikaanse fliekteater speel. Olwagen se films flankeer met die avant garde, waar storie en filmiese behandeling ’n vrye speelgrond is, reg om rigiede reëls en vooropgestelde idees vry te spring. Sy films vra vir ’n herkonseptualisering van wat filmkuns behels en wat dit kan doen. Dit kan nie ontken word nie – films soos Die Seemeeu bied die dryfkrag vir ’n belangrike verskuiwing wat tans in die Afrikaanse film-industrie plaasvind.

Die Seemeeu is ’n verwerking deur Christiaan Olwagen en Saartjie Botha van die teaterstuk deur Anton Chekhov. Die verhaal, wat al meer as ’n honderd jaar oud is, se tydlose en universele aard word herhaaldelik bewys. Olwagen het ’n paar jaar terug hierdie verwerkte teks gedebuteer as ’n verhoogstuk met dieselfde rolverdeling as dié van die film. Die Afrikanisering van die teks speel af in die 1990’s op ’n klein landgoed waar familie en vriende bymekaar kom. Die film is meer van ’n kritiese ondersoek na karakterverhoudings as wat dit die wending van die tradisionele storiestruktuur aanneem. Dit staan gegrond as ’n naturalistiese stuk wat handel oor die eksistensialisme, die soektog na selftevredenheid, verganklikheid en isolasie.

Rolanda Marais en Albert Pretorius op stel. Foto verskaf.

Rolanda Marais en Albert Pretorius op stel. Foto verskaf.

Die sukses van die verwerking na ’n Suid-Afrikaanse konteks lê in die sensitiewe raakvat van Afrikaners. “Dis ’n moderne refleksie van die Afrikaner in ’n antieke Russiese spieël,” sê Olwagen. Hy beklemtoon die geneigdheid van die Afrikanerpsige om oor die lot van die lewe te neul, uitgelok deur die geïsoleerde ruimte waar familie en vriende mekaar onafwendbaar ontmoet, en konfronteer. “Dis die ou ding van Chekov. Die verkeerde mense bly verlief op die verkeerde mense,” sê Marius Weyers, een van die akteurs. Die tragiese hunkering na iets buite onsself spreek egte menslike vrese en onopgeloste vrae van ons bestaan aan. Dit raak aan emosies soos melankolie, verveeldheid en die verganklikheid van tyd. Kenmerkend van Olwagen se films is dat introspeksie genoop word, wat die kyker se ervaring dalk nie ’n gemaklike een maak nie, maar wel ’n nodige een. Die gehoor stap met nóg meer vrae uit as wat hulle mee ingestap het.

Ons moet hierdie herverbeelding van medium hoog op die prys stel. Die film is sensitief rakende die formalistiese aspekte wat die verskuiwing van vorm behels, waar die wortels in teater behou word selfs met die vertaling na film. Olwagen gebruik die grense van teater en werk binne hierdie raamwerk, waar ruimte en tyd onder ’n vergrootglas geplaas word deur Chris Vermaak (kinematograaf) se berugte langskote. Die ruimte en karakters word aan die lewe geroep deur medewerkers Rocco Pool (produksie-ontwerp) en Mariechen Vosloo (kostuumontwerp).

Natuurlik is die mees opvallende aspek van die lokprent die powerhouse van Suid-Afrikaanse akteurs: Sandra Prinsloo, Marius Weyers, Albert Pretorius, Rolanda Marais, Cintaine Schutte, Alyzzander Fourie, Geon Nel, Deon Lotz en Martelize Kolver. Uitstaande rolvertolking deur Rolanda, Cintaine en Sandra. Cintaine Schutte staan uit as ’n heeltemal underrated filmaktrise. Sandra Prinsloo is op haar pieke met ’n rol wat voel asof dit al jare vir haar lê en wag – ’n absolute show stealer. Rolanda Marais is asemrowend en lewer eerlike spel.

As daar een ding is wat jy moet weet van Olwagen se films is dit dat enige vaste verwagtings jou net gaan teleurstel. Hierdie films sorg vir ’n herverbeelding van wat Afrikaanse kunsfilms kan wees. Daar is ’n selfbewussyn in die film. Dit word beskryf as ’n verwerking van teater, maar is eerder ’n samekoms van mediums wat ’n soort cinematic theatre vorm.

Die Seemeeu is ’n gewigtige film en sal nie by almal aanklank vind nie. Dit daag jou uit as kyker om deel te neem in die ervaring. Die film strek verby die beperkte uitkyk om bloot net stories te vertel – dit kan altans gebruik word as ’n middel om ondersoek en introspeksie in te stel, om te herken. Dit is nie wat Suid-Afrikaanse film móét wees nie, maar dit ondersoek die moontlikhede van wat dit kán wees.

Die klong van Vellerif. Was eens deur sy Gr. 3 onderwyseres beskryf as “belowend”. Instagram.

Deel hierdie storie


Eerste en oudste Afrikaanse tydskrif, sedert 1896

Ons bou aan ’n moderne beeld van hoe Afrikaanswees lyk, lees en klink. Het jy van Wat Afrikaanse filmkuns kán wees gehou? Dan ondersteun ons. Vriende van Klyntji word op hierdie bladsy gelys.


 Eenmalig R
 Maandeliks R


Klyntji verklaar 'n klimaat en ekologiese noodtoestand