Very demure by die Silwerskermfees

Very demure by die Silwerskermfees

Hier's 16 filmresensies deur die Klyntji-span

Chan Croeser, Paul Kammies, Andréa Müller, Clifford Roberts en Maryke Roberts se indrukke van films wat by die 12de Silwerskermfees in Kampsbaai, Kaapstad vertoon het.

Die kortfilms en kort dokumentêre films wat vir die fees vervaardig is, word in September op kykNET uitgesaai.

  • 7 September om 20:00: Marie se laaste dag, Noise & neighbours, Die skynwerper en Liewe Dudu

  • 14 September om 20:00: Baas se honne, Selah, Ons, Steek vir steek en Die groot twis

  • 21 September om 20:00: Liminale, Deuntjie, In die verloop van, Die boodskapper en O, Griet! Sy’s droog

  • 28 September om 20:00: Maak stil die geblaf, Tussen die draad en die dropper, Vergeet van my en By die soutwater


Baas se honne

Ek sien die hele fees lank uit na hierdie Shotgun-kortfilm. Ja, miskien is ek nie objektief nie, want sit van my gunsteling-akteurs (Albert Pretorius, Carel Nel en James Borthwick) in wat lyk na ’n effe donkerkomedie, en gooi ’n cute hondjie of twee in en jy het my aandag. 

Gys (Pretorius is genomineer as beste akteur in ’n kortfilm vir sy rol hierin) begaan ’n flater wat ongelukkig op video vasgelê word en dan die perfekte wapen is om hom mee af te pers. Sy verhouding is wankelrig en die werk is waffers nie. In kort, sy lewe is chaos. Sy baas, Roelf (Nel), gebruik daardie video as leverage en stel ’n onmoontlike eis: óf jy sit die gesin se onskuldige brakkie Buksie uit, óf jy verloor dalkies jou werk. Maar Gys – ook nog om alles te kroon allergies vir hondehare – is ’n softie en die hondjie darem “net te flippen cute”. Boonop loop dinge nie altyd soos mens hoop nie – enter Borthwick se karakter hier met ’n rewolwer. Die fliek is donker en snaaks en hartseer en oulik, alles in een. 

Gys maak ’n aweregse plan wat egter nie water hou nie. Gelukkig is daar tussen die donkerte deur darem ook ’n gelukkige einde en voor jy kan sê fluit-fluit my storie is uit, lyk Gys se lewe sommer stukke beter. (Mens kan ongelukkig nie dieselfde van Buksie sê nie.) 

In die paneelbespreking na afloop van die film hoor ons dat Pretorius regtig allergies is vir honde en dat vervaardigers Bennie Fourie (ook regisseur en draaiboekskrywer) en Jorrie van der Walt dit sommer vinnig in die teks ingeskryf het. En dat die akteurs pret kon hê, omdat hulle tyd gegun is om te speel. Die span hoop om dit in ’n vollengte speelfilm te omskep. – Maryke Roberts


Brasse Vannie Kaap

Daar was ’n oomblik inni Theatre on the Bay toe ek besluit’et om inni teater rond te kyk; almal se oë was oppi screen ge-lock. Lauren Scholtz het iets so spesiaals en captivating geskep. Hierri documentary is ’n roerende kunswêk en dit is ’n eerlike aanbod vanni hip-hop-groep se legacy. Hierri tipe archiving is ’n onskatbare handeling aangesien die documentary hierri deel van Suid-Afrika se geskiedenis in a considerate manier present. 

Verskeie groeplede en ’n magdom bekendes (Early B, Jack Parow en ander) besin diep oo BVK se merkwaardige loopbaan en hul onmiskenbare impak op die plaaslike musiekbedryf. Dit gaan in op die stories van grootmeester Ready D, DJ Azuhl enni storie van wyle Mr Fat (ook bekend as Ashley Titus) en sy bydrae tot die groep se sukses. Hierri nostalgiese reis kulmineer in dié spesiale reünie-optrede watti Brasse se besonderse nalatenskap vier en terugkyk op ’n unieke era inni Suid-Afrikaanse geskiedenis. Wat ek van hierri documentary hou, is dat dit argiefmateriaal gebruik as ’n manier ommi hede aan te raak, en dat die regisseur nie die storie ontbreek’ie. Scholtz laat haarself inni storie smelt. Die storie beweeg soos wat dit moet; dit laat al die mense inni storie sonder interruption praat. Die landskap brei uit vanself, tewyl ôs van Kaapstad tot by Brussel reis. Die storie vloei natuurlik. Die intieme onderwerp laat jou sommer tuis voel. As die kyker stap jy, praat jy, tree jy op en skep saam met die groep. 

Wat hierri documentary doen, is dat dit hierri onderwerp baie attentively hanteer, sonder om homself te ernstig op te neem. En jy kan aan die mense inni gehoor, wat lag, huil en lirieke uit hul memory recite, aflei dat hierri ’n storie is wat, net soos die nalatenskap van BVK, die ability het om mense bymekaar te bring. ’n Delight. ’n Aanbieding van herinnering en waardering. – Paul Kammies


Breathing In

In hierri adaptation vanni gelyknamige toneelstuk deu Reza De Wet, toon Jaco Bouwer sy intellect virri theories vanni gruwel enni ongemak.

Set inni Anglo Boereoolog, speel die film af inne vuil afgebrande stall op ’n somber, damp en inky aand. Die viewe wôd voogestel aan Anna (Michele Burgers), ’n secretive herbalist, wat vi ’n gewonde Boeregeneraal (Lionel Newton) sôg. Haar dogte Annie (Jamie-Lee Money) issi toegelaat om anni slaap te raak’ie. Majoor Brand (Sven Ruygrok) isse toegewyde en ernstige soldaat en hy raak op die ou end verweef in ’n twisted game tussen ma en dogter, en hy is die offerlam.

Hierri film is aesthetically stunning. Inne vreemde manier is die unnerving styl vanni film ’n representation vanni dejection tydensie oolog. As jy na die film kyk, voel dit soos ’n hand made of tar wat op jou vel kruip: is taai, bulky, kras, asof jy dit nie kan ontsnap nie. Breathing in lyk soos ’n Resident Evil game, complete met die vrees vi besmetting en infection. Leon Visser se editing skep ’n gevoel van friction en beweging; die wisselwêking tussen ontstellende beelde en tonele met ’n skerp sense vanni rolprent se ritme vervaag’ie lyne tussen wêklikheid en betowering. Bouwer se interpretation van De Wet se toneelstuk lewe ’n anne way om beide die play en die film te verstaan.

Daar is egter baie te meet uitti saamspeel vannie akteurs. Op hul eie is elke vertoning goed performed, maa as eenheid lees dit as oordramaties en op sekere plekke voel’it lusteloos, watti kykerervaring soms ’n bietjie laboured maak. 

Pierre-Henri Wicomb se soundscape, soos altyd, is ambient en stimulating, en op sommige plekke wôd die musicality ’n gehuil, ’n squawk en ’n kraai – asof’ie geskiedenis op ôs skrie om gesus en kalmeer te wôd.

Oorri algemeen bied hierri film ’n interessante en discomforting verwêking van De Wet se toneelstuk, en kry dit ook reg om te worstel met sommige vanni concerns wat vanni Boereoorlog agtergebly het. – Paul Kammies


By die Soutwater

Suid-Afrika het ’n ryk geskiedenis van uitstekende dokumentêre films. Sy asemrowende natuurskoon wat liefhebbers, filmmakers en navorsers van regoor die wêreld trek, leen hom daartoe. Die land en kontinent is in baie opsigte die tuiste van die wêreld se laaste ongerepte wildernisse.

Dit is teen hierdie agtergrond dat die nuwe kort-dokkie, By die soutwater, geskied. Die 30-minute-film is deur die Kaapstadse Two Oceans Aquarium Foundation, in samewerking met kykNET, kykNET Films, Silwerskerm en IdeaCandy, vervaardig.

Die fokus is nie jou tipiese natuurtonele nie. Dit is eerder op dele van die Kaapse kuslyn waar die druk tussen mens en wildernis hoog is. Die kameras volg die werk van die akwarium en ander rolspelers om wilde diere te red en plaaslike gemeenskappe oor hul wilde bure by die soutwater op te voed.

Daardie werk sluit in die monitering van veral robbe by plekke soos die V&A Waterfront en Houtbaai-hawe tot troeteldiersterilisasie- en opvoedingsprogramme in tradisioneel armer gemeenskappe.  

Die dokumentêr slaag daarin om die kyker op ’n insiggewende reis te neem, in ’n wêreld wat onder ons neuse sit. Die Waterfront is ’n plek wat ons gereeld besoek. Die robbe is ’n onlosmaaklike deel van ’n tipiese Kaapse vakansiewandel langs die kaai. So af en toe sal ons dalk ’n rob of seevoël teëkom wat verstrengel in tou of vislyn is, maar die meeste van ons stap aan. Wat kan jy andersins doen?

Daar is inderdaad iets. Hierdie dokumentêr, en soos menige voor dit, is ’n pleidooi. “As jy jou oë oopmaak, dan sal jy die dinge begin sien wat jou hulp nodig het. Jy hoef nie groot veranderings te maak nie, begin klein,” sê Claire Taylor in die film.   

By die soutwater maak ’n belangrike bydrae tot die flikkerende waarskuwingsligte dat ons natuurskoon aan die agteruitgaan is en dat ons as die mensdom die skuld daarvoor dra. Hoe groot die skade is, sal net die tyd ons leer. Kykers het die voordeel om die afgelope ruk ’n rits kuswater-dokkies, soos My octopus teacher, Coding for crayfish, Cape coast: Where worlds collide, om net ’n paar te noem, te sien. Die standaard in hierdie films – veral in kinematografie en storieboë – is baie hoog. Gehore sal dalk nie hierdie hoogtes in By die soutwater ervaar nie. Dis tough om ’n aangrypende storie in so ’n kort tydjie te bou en boonop met so ’n wye fokus. ’n Mens kan ook nie onderskat hoe moeilik dit moet wees om ’n storie met deernis en empatie te vertel as jy dag in en dag uit met nalatigheid, onkunde en soms net skoon wreedheid te make het nie. Die kwaliteit van die film tersyde, die boodskap is ’n luide simbaal. 

By die soutwater is saamgestel uit Claire Taylor, Luca Mendes, Jerome Stationway en Vincent Calder. Regie is deur Marguerite Venter. – Clifford Roberts


Die boodskapper

Jake leef in ’n wêreld van sy eie. Sy pa drink; sy ma skel. Die jong seuntjie is vasgevang in sy ouers se bitter konflik. Hy maak ’n kleimannetjie – na sy pa geskep, vertel hy betraand – wat een aand met die seuntjie se trane nog op sy ruwe kleigesiggie, lewe kry. Die kleimannetjie is gelukkig vlugtiger van begrip én insig as die een waarna hy geskape is. Hy word ’n boodskapper met ’n missie: Hy móét ’n weggooibrief van Jake se pa wat hy gevind het, aan sy ma aflewer. En net dalkies is daar hoop vir die gesin. Hy seil teen kaste af, leopard crawl by trappe op en gebruik ’n speelgoed-brandweerwa om hoogtes te bereik wat hy nie op sy eie kon nie. In die rolverdeling is Liam Kruger as Jake en Emile Hager en Izaan du Toit as die ouers te sien.

Die insig van die paneelbespreking na afloop van dié Shotgun-kortfilm is waarin die geheim van dié klein juweel nou eintlik lê: Paul Crafford, skrywer, redigeerder en regisseur, het die projek gedurende Covid aangepak. Stop-animasie is ongewoon in Suid-Afrika, veral in Afrikaans. Hy lag as hy sê as hy terugdink aan die hoeveelheid werk – 25 foto’s per sekonde word geneem – is dit eintlik stupid. Dit was ook ’n journey of discovery, erken hy. “Ek het nie regtig aan die kommersiële waarde hiervan gedink nie, net gedink dis ’n fliek wat mense graag sal wil sien.” 

Die musiek deur Nathan Gilio het die twee wêrelde (realiteit en magic) bymekaargebring. Die film maak dalk ’n baie swaar onderwerp van ’n verbrokkelende huwelik en die skade wat dit ’n kind berokken, as ligter af, maar soms is die antwoord so eenvoudig en reg onder jou neus. Kry die regte boodskap op die regte tyd by die regte persoon en daar is omdraaikans. Is dit nie maar die storie van die lewe in geheel ook nie? En sy journey word ook die kyker se journey.Maryke Roberts 


Die Groot Twis

Hierdie film is dié coolste en possibly die snaakste kortfilm wat ek tydens die hele fees gesien het. (Daar was baie contenders vir Snaakste-film-wat-ek-tydens-die-hele-fees-gesien-het, maar vir my is dit nek-aan-nek tussen Die groot twis, Baas se honne en Marie se laaste dag.

Ek love die plot: Jakobus, ’n Voortrekker-gold digger (stem: Eben Genis), sy fraaie Voortrekkerkappie-wearing-nooi Marietjie (stem: Cintaine Schutte) en ’n suiplap Boere-Confucius genaamd Buddawikus (stem: Albert Pretorius) se Groot Trek op ’n ossewa deur die Karoovlaktes met ’n kis vol gevonde skatte word halt geroep wanneer twee Zoeloe-mans, Mhlope (stem: Wiseman Sithole) – “the baddest Zulu boy to ever live” – en sy sidekick (en hypeman) Umenzi (stem: Sne Dladla), hulle pad versper. Vanuit hierdie ontmoeting ontaard een groot twis vir Marietjie se hart – een so groot dat Jakobus en Mhlope dit net met ’n Streetfighter-style showdown kan uitsort. En een wat tot ’n moerse (lekker!) twist lei. Ek wil nie té veel van die gebeure in hierdie storie verklap nie, maar glo my as ek sê Die groot twis is niks soos wat jy dalk verwag dit gaan wees nie: Dis véél beter, snaakser, slimmer as dít. 

Ek het self nog nie iets soos Die groot twis in Afrikaans of Engels, of enige ander taal, plaaslik of internasionaal, gesien nie. Die estetika is ’n mengsel van ou Western- en kung fu-moewies, Dragon Ball Z-tipe fight scenes en The Muppets. Alles en almal word juis met marionette (geskep deur Marelize Viljoen) opgevoer. Ek is mal daaroor, ook dat die kung fu-gevegstonele tussen Boer Jakobus en Zoeloe-krygsman Mhlope in die Japannese bunraku-styl uitgespeel word. Dis visueel heerlik-nostalgies en retro, maar tog is die manier waarop die Groot Trek-mite en bekende Suid-Afrikaanse kulturele stereotipes op hulle koppe gekeer word só verfrissend en nuut. Daar is g’n holruggeryde tropes hier nie (wel twee moeë osse wat, selfs met hulle beperkte woordeskat, skreeusnaaks is). Die dialoog is fantasties snaaks en speels, met tong-in-die-kies-humor wat vele laugh-out-loud oomblikke verskaf. En die twist, soos ek reeds genoem het, is so onverwags en wild dat dit die spreekwoordelike pruik van jou kop af sal blaas. Mens kan seker niks anders behalwe weldeurdagte en hoogsgeslaagde satire van die hoof-poppespeler van ZA News, Johann Vermaak, wat Die groot twis geskryf het, verwag nie.

Ek is mal oor hoe eg Suid-Afrikaans Die groot twis is. Ek glo vele Suid-Afrikaanse kykers sal die humor kan waardeer en geniet, ongeag of hulle Afrikaanssprekend is. Johann en span het mooi gemaak, julle. Ek wil dit oor en oor en oor kyk. Ek wil ’n reeks hiervan hê. Ek wil ’n T-shirt met die poster op dra (of, nog beter, van die groot twist-moment, met die slogan: PUSSY POWER – wink-wink, nudge-nudge…). – Andréa Müller


Die Kwiksilwers 

Jordy Sank se film, Die kwiksilwers, is saccharine, ’n welcome take oppie road trip tradition. Die karakters in hierri rolprent wôd lewendig gemaak deu vier performance doyennes, tewyl ’n fantastiese klankbaan deu Edward George King die mood vanni film jovial hou.

Elsabe Marais (Lida Botha) has become reclusive ná die dood van haar stargazing, star-loving eggenoot. Haar hartseer wek die kommer van haar overprotective seun, Wikus (Jacques Bessenger). Elsabe maintain haar verbintenis met haar man deu sy astrologiese tydskrif-subscription te behou, en boonop sy motor, ’n vintage Ford Granada, gedoop Kwiksilwer. Wanneer Elsabe kennis neem van ’n meteorietstorting-event wat in Sutherland gebeur, verander haar hartseer in nostalgie en hoop, tot haar seun se disapproval. Met die hulp van haar drie vriendinne Anna (June van Merch), Katie (Theresa Sedras) en Mienkie (Susanne Beyers) onderneem hulle ’n wilde en dolle journey – die enigste probleem is dat hulle moet oo drie dae in Sutherland wies en Elsabe se seun is warm op hul spoor.

Hierri rolprent was regtig cutesy om te kyk en dit is stunning om te sien hoe hierri vier powerful aktrises hierri synergy van vriendskap deu die film skep. Wat bygevoeg kon wôd om hierri rolprentuitbeelding van hartseer te versterk, is as die kyker meer kon leer oo Wikus en sy eie worsteling met sy pa se dood. Daarsonder wôd sy karakter eendimensioneel, al is Bessenger se vertolking vanni karakter sterk.

Die kwiksilwers is een van daardie films wat jou remind dat die lewe nie op ’n sekere ouderdom stop nie, en dat jy jouself in enige stadium van jou lewe moet toelaat om oop te wees vi nuwe experiences. Power en passion is dinge watti menslike siel op sigself laat bestaan. En net soos die naam vanni film, praat dit oo skielike verandering, avontuur en verwondering. Dit is regtig oulik en hierri film is een wat ’n mens sal definitely adore. – Paul Kammies


Die Skynwerper

Lewe in die 21ste eeu voel soms soos ’n ewige spektakel met ontelbare oë wat ons deur skerms en kameras dophou. Hierdie verhouding met skerms, kameras en ons verlede is wat die kortfilm Die skynwerper ondersoek. Die hoofkarakter Nelis is vasgevang deur ’n duister verlede wat aanhou spook by sy hede, en saam met sy pa voer hy ’n afgesonderde bestaan. Nelis moet omsien na sy verlamde pa wat hom nooit laat vergeet hoe verbitterd Nelis hom maak nie. Dit blyk dat die enigste ander getuie van hulle lewe hul besorgde buurvrou is, wat gespeel word deur Antoinette Kellermann. ’n Misterieuse insident by Nelis se werk en ’n kamera wat hom op heterdaad betrap, laat hom skielik werkloos en sy wêreld krimp net verder. Deur die venster in sy kamer kyk hy hoe die wêreld buite voortgaan en sy refleksie verklap hoe hy smag na ’n lewe, of iets, buite die vier mure van hul kluisenaarsbestaan. Maar draadtrek voor ’n ASMR video is al uiting vir sy frustrasie en alleenheid wat hy het. Deur Nelis se hunkering weerspieël die fliek hoe ons almal eintlik op een of ander manier probeer ontsnap aan die greep van komplekse verhoudings met ons ouers, veral wanneer daardie verhoudings deur teleurstelling verwronge is.  

Met pyn wat lyk asof dit net-net sit onder die oppervlak van sy gesig, doen Ben Albertyn uitstekende werk om vir Nelis te vertolk as ’n afstandige waarnemer van sy eie lewe. Alles verander egter wanneer Nelis ’n kans waag op iets beters en inskryf om deel te neem aan die realiteitsreeks Die skynwerper. Ná ’n mislukte, afmattende oudisie word dit duidelik dat Nelis ook ly aan ’n soort vervolgingswaansin. Sy groeiende agterdog dat die sielkundige en aanbieder van die reeks inderwaarheid marionetmeesters is wat sy realiteit vanuit die skaduwees beheer, het my veral herinner aan die gevoel dat die algoritme deesdae al ons vreugdes en foute manipuleer. Hoe iemand anders altyd munt daaruit slaan. Kyk, Nelis se lewe speel nog altyd uit in die skaduwees en skyn wat die kalkligte werp. Sy pa, vertolk deur Dawid Minnaar, was altyd ’n beroemde ster, maar is ontneem van sy sukses toe Nelis hom in ’n onverklaarde insident verlam het. Landswyd is dit bekend gemaak dat Nelis blaam moet dra. Só beeld die fliek uit hoe foute wat reeds op individuele herinneringe ingeëts is, nou ook vir ewig in die internet se lang, diep geheue uitgekerf word. 

Aan die einde is dit slegs wanneer daar kameras in hulle voorkamer begin rol, dat Nelis genoeg moed bymekaarskraap om sy wraak te neem en sy pa te skiet. Dit is asof net die skyn wat die kalkligte op sy gesig, en sy lewe, werp hom dapper genoeg kan maak om beheer te neem. Terselfdertyd is dit die einste skyn wat sy donkerste begeertes onthul. Dié laaste toneel het my laat wonder of Nelis, en ons almal, se paranoia dalk nie só misplaas is nie en dat hy, en ons, dalk werklik in ’n meer sinister weergawe van The Truman Show is. 

Hoewel die fliek doelbewus met geheime, raaisels en duister verledes speel, het ek gevoel dat daar soms te veel aan die kyker se verbeelding oorgelaat word. Dit was nie altyd duidelik presies waaroor die realiteitsreeks gaan nie en hoe dit in die eerste plek met Nelis se lewe skakel nie. Dit het dus by tye onsamehangend en onderontwikkel gevoel. Ek dink die meta-narratief wat dit probeer skep, sou sterker oorkom as die kyker net ’n klein bietjie meer inligting gehad het. Steeds is dit ’n fliek wat heelwat stof vir nadenke bied met ’n cast van Suid-Afrika se beste wat enige kyker emosioneel sal betrek. – Chan Croeser


Hier.Na

Ek wens ek kon net die hele film hier link vi jou om te kyk. Cause Hier.Na is een van daardie films wat jy net moet kyk. All of the elements inni film, vanni sound design tot die kinematografie enni performances, is net remarkable.

Hier.Na volg die Burgess-familie. ’n Gesin placed in modernity, anni annekant vanni boerewors-curtain, in Plattekloof. Eric (David Isaacs), ’n liefdevolle en saggeaarde man, het min connection met geloof of godsdiens, tewyl sy upbeat en vibrant vrou Julie/Juleigha (Quanita Adams) na haarself verwys as ’n nie-praktiserende Muslim. Their kids, Deen (Lyle October) is immersed in sy gaming, tewyl Leila (Shiefaa Hendricks) weer met haar geloof verbind wôd. Wanneer Julie onverwags sterf, gebruik Leila haar inisiatief en religious conviction om te verseker dat haar ma volgens Islamitiese begrafnisrituele begrawe wôd. Wat uit hierri dag unearth, isse ontdekking van interpersoonlike, interfamilial en intergodsdienstige conflict wat deu Asr (laatmiddaggebed) opgelos moet wôd, sodat Julie voor sonsondergan begrawe kan wôd. Vanni voorbereiding vanni food enni was en balseming vanni liggaam, die organisering vanni koebus, sowel as die hantering vanne uncooperative trellidor, moet die Burgess-gesin ’n manier vind om saam te wêk tewyl hulle ’n ondenkbare loss navigate.

Inni Q&A ná die premier op 29 Augustus 2024, het die director en skrywer Quanita Adams gesê dat die film ’n meditation vanni dood van haar eie pa is. En ek dink dat hierri woord meditation die volheid vanni film harness. Inni eerste plek vra hierri film jou om stadiger te wôd. Om aandag daaraan te gee. Detach van jouself af, wôd ’n getuie vanni storie.

Die performances in Hier.Na wêk orkeskundig saam en wêk fyn as ’n ensemble. Soos meer karakters die wêreld vanni storie begin betree, kry jy ’n gevoel dat dit ’n gesin is, ’n gemeenskap wat bymekaarkom om ’n ruimte te hou en warm te maak. Wanneer die spanning hoog wôd, sweef dit oo jou vel. Inni komiese oomblikke voel jy of jy inni kombuis is, of inni slaapkamer, of inni gang; jy lag saam, jy lag soos jy amper nie moet nie, want jy ervaar die klimaat vanni huis se hoeke.

David Isaacs speel die karakter van Eric regtig kosbaar. Die manier waarop hy in en uit disillusionment beweeg om te try en assist ​​inni proceedings vanni dag, net om gesê te wôd dat hy by sy kinnes moet is, wôd gespeel met ’n kindness wat verfrissend is, ’n vriendelikheid wat ’n aanduiding is van ’n man wat geen woede wil hê nie en die beste wil hê vi wie rondom hom is, sonder ommi karakter as pitiful te speel. Shiefaa Hendricks beheer ’n range of emosies binne die karakter van Leila; haar uitbeelding van geloof, woede, hartseer vetoon haa skill as akteur. She’s created such human-wêk vanne karakter wat staties, robust en hard kon gewies’et. Lyle October se uitbeelding van Deen doen iets wêklik treffend vi die presentation van Coloured manlikheid deu die spektrum van denial op ’n eerlike manier te dra wat nie as rude of onsensitief lees nie. Dit is ’n opvoering waarin jy belangstel omdat jy hoop dat Deen aanvaarding reach voodat hy heeltemal in disarray verval. Die rolverdeling wôd ook gekomplementeer deu ’n wonderlike supporting cast wat uit, onder ander, June van Merch, Emile Smit, Trudy van Rooy, Beer Adriaanse, Yaaseen Barnes, Khadija Heeger en Roxanne Blaise bestaan – almal van hulle performances voeg verskillende notasies by tot die sentimente van gemeenskap, godsdiens, hartseer, bestuur en mortaliteit inni film.

Wat hierri film doen, is om alle idees van stereotipering te reject. Dit erken’ie differences tussen space, tyd en existence. Allowing moderniteit om aan dieselfde tafel as die anitiquity en ritueel te sit, ’n maaltyd saam sonder oordeel te deel. Hierri film gaan nie net oo ras of godsdiens nie, maa dit sal foolish wees om daardie aspekte te ignoreer, aangesien dit lewe en idiosyncrasy inni film bring. Hier.Na gaan oo gemeenskap, the very things that have the propensity to keep us together. Hierri film gaan oo liefde. En in hierri ruimte is rolprente oo ware liefde en Black love en playful liefde belangrik. Hier.Na leer ôs hoe liefde ’n padkaart na die toekoms is, maa ook ’n reckoning vanni verlede. Liefde in elke enkele en complicated sense vanni woord. – Paul Kammies


Liminale

In die kortfilm Liminale verbeel Hanneke Schutte ’n toekoms waar dit moontlik is om deur die doolhof van die onderbewussyn te loop en ons skaduself te ontmoet. Dié sielkundige riller handel oor Mia, ’n depressiewe vrou wat in ’n futuristiese sielkundige inrigting is, en dr Venter, wat deur die gebruik van virtuele werklikheid en futuristiese tegnologie baanbreker-Jungiaanse terapie aan Mia toedien. Deur middel van dié terapie hoop Mia om uiteindelik deur haar trauma te werk en ontslae te raak van die onthutsende herinneringe wat om elke hoek en draai vir haar wag. Vasgevang in ’n siklus van geweld, probeer Mia regdeur die kortfilm beheer oor haar lewe terugkry, maar wat sy ontdek oor die oorsprong van die terapie, forseer haar om ook haar eie swakhede in die oë te kyk. 

Deur die sielkundige riller-genre te gebruik om ook te worstel met die onderwerp van selfdood en geweld teen vroue, kry Schutte dit reg om nie net die sikliese aard van mishandeling uit te beeld nie, maar ook om die emosionele ervaring daarvan oor te dra. Beide hoofspelers se intensiteit gee aan hierdie fliek ’n boeiende affektiewe kern. Inge Beckmann se geheimsinnige sjarme, haar weerhoudende en kragtige dog brose vertolking van Mia gaan hand aan hand met Michele Burgers se donker en stil maar sterk teenwoordigheid as dr Venter in ’n manier wat amper alchemies van aard voel. Al die karakters is volrond, wat moeilik is om in ’n kortfilm reg te kry. Ook die stelontwerp het my toegelaat om myself geheel en al in te leef in die liminale aard van beide Mia se verskuilde gedagtes en die inrigting waarin sy is. Die film het my laat wonder wat ek sou doen as ek in dié manier toegang gehad het tot my psige en of ek okay sou wees met wat ek daar sien. 

Dit is opwindend om ’n Afrikaanse fliek te sien wat met nuanse oor die belang van terapie nadink, aangesien mental health steeds ’n onderwerp is waaroor daar nie genoeg gepraat word nie. Tog dink ek daar sit allerhande weird en twisted goed in die menslike psige en die fliek kon dalk bietjie meer doen om die surrealistiese aard daarvan uit te beeld. Hoewel ek wens die fliek het meer tyd spandeer om ook die ander skadu’s van die psige te ondersoek, wat ek seker eintlik voor wens is ’n langer fliek sodat ek meer van Schutte se interessante en komplekse idees kon sien. – Chan Croeser


Maak stil die geblaf

Wie sou nou kon dink dat kinders en hul honde wat oefen vir ’n hondeskou anderkant die berg, my só sou laat huil. Kyk, dieremishandeling is geen vreemde verskynsel in armoedige buurte nie; daar is iets aan die weerloosheid van ’n dier wat die mens se magteloosheid dalk vir ’n wyle laat wyk en hom ’n mate van vlietende beheer laat voel. Ek was bang die titel kom tot uiting in die kort-dokkie, maar Marisa en Jacques van Tonder probeer nie om die obvious weer te vertel nie. Ons weet hoe dit lyk. 

Hulle fliek fokus – en word vertel deur – 11- en 12-jariges wat uitsien om hulle slag by die kompetisie te gaan wys. Hulle honde het nie pedigrees nie, maar hulle het gees en chutzpah en soos Calvin verklaar: “Tiger is die baas van die plaas en ’n superhero.” Al drie die hoofkarakters, Calvin Moses, Akeylah Plaatjies, Wade Fredies, het drome van wegkom uit De Doorns waar hulle nie meer veilig voel nie; al drie is mal oor honde en al drie wil beroepe beoefen waar hulle ander mense kan help en sommer ook vir hulle ouers ’n beter lewe gee. En soos Wade self vertel: “Honde beskerm mense teen vuilgoed en skelms, maar mens moet vir hulle liefde gee. Die skou is my geleentheid om vir mense te wys wat mens met diere doen as jy vir hulle liefde gee.” 

Die De Doorns Dog Lovers is inspirasie vir ons almal. Charity begins at home; soms in die agterplaas waar jou hond voorheen aan ’n ketting vasgemaak was. Klein Akeylah vertel: “Die hondeklasse maak ’n verskil. Daar was kinders op die plaas wat honde mishandel het, maar hulle doen dit nie meer nie.” Uit die mond van die suigeling. – Maryke Roberts


Marie se laaste dag

Ek het lanklaas so baie van ’n karakter soos Mandri Sutherland se Marie gehou. In fact, ek dink nie enige iemand anders as Mandri kon Marie speel nie. Alhoewel ek moet bieg dat ek aanvanklik bang was dat Marie net nog ’n weergawe van Mandri se bekende Mariëtte-se-ma-karakter sou wees. Dít is egter glad nie die geval nie, en Mandri doen fantasties om die uiteenlopende emosies en onsekerhede van Marie – jarelange sekretaresse van die minister van minerale hulpbronne, Hendrik van der Merwe (Deon Lotz), en regte-egte tannie – te midde van die dawn van ’n Nuwe Suid-Afrika uit te beeld. (Deon Lotz is ook besonders oortuigend as die rassistiese, Afro-skeptiese en seksistiese Minister Hendrik – sjoe.) 

Mercy Kannemeyer en Lourensa Eckard se draaiboek is *chef’s kiss*. Dis soveel ’n verhaal van ons land se politieke en sosiale transformasie as ’n commentary op misplaced good intentions en Wit bevoorregting wat tot onkunde lei. Maar hoofsaaklik is dit ’n baie humoristiese en baie wholesome verhaal van een vrou se persoonlike bevryding wat kom met die omarming van verandering en die onbekende. Dis nooit prekerig nie, maar eerder skreeusnaaks en ’n absolute plesier om te kyk, van begin tot einde. Marie het diep in my hart gekruip, en my ook sommer lus gemaak vir rebelleer (op die very demure, very mindful manier wat sy doen, natuurlik).

Ek moet ook die stelontwerp, kostuums, grimering en kinematografie uitsonder: Dit is besonders oortuigend om die estetika en gevoel van die 1990’s uit te beeld. Ek love dit ook hoe Marie se laaste dag ’n bekende narratief uit die politieke geskiedenis – dalk ook weer ’n relevante een, gegewe vanjaar se verkiesingsuitslae – aan ons op ’n herkenbare en relatable dog vernuwende manier voorstel, sonder om in die slaggate van stereotipering te trap. Viva Marie, en viva die span agter Marie se laaste dag! – Andréa Müller


O, Griet! sy’s droog

Alhoewel die konsep van O, Griet! Sy’s droog baie belowend klink, het die uitvoer daarvan platgeval. Eerstens die konsep (in ’n neutedop): Vier vroue word deur ’n kunstenaar in hulle portrette vasgevang nadat hulle vir dié kunstenaar met magiese pêreloorbelle poseer. (Volgens die programbeskrywing beeld elke vrou verskillende weergawes van die samelewing se idees oor vroue uit.) In die galery waar drie van hierdie vroue alreeds hang (en vir ewig in die dimensie agter die raam as kluisenaars gehou word), word nog ’n vrou (slagoffer) opgehang – maar sy dra nog die magiese pêreloorbelle. Met dié oorbelle kan ten minste twee vroue deur hulle rame na die regte wêreld ontsnap. Dit is nou voordat die nuutste portret se verf droog word.

Die verloop van gebeure, asook die dialoog en die stelontwerp het vir my effe lomp gevoel. Less is more, soos die Ingelsman sê. Baie van die dialoog en die intrige kon verder verfyn word om ’n meer oortuigende en boeiende storie te vertel. Alhoewel ek die eerste een sal wees om te erken dat ’n groot mate van subjektiwiteit betrokke is by die skryf van resensies soos hierdie een, is my oorhoofse indruk dat die verf dalk nog te nat was met dié film… – Andréa Müller


Ons

Ons word in die feesprogram beskryf as ’n riller, alhoewel dit (myns insiens) nie aan die obvious verwagtinge van dié genre voldoen nie. Daar is nie ’n boogey man of ’n monster waarvan die hoofkarakters, Liezl (Izel Bezuidenhout) en Dirk (Jacques Adriaanse), weghardloop nie. Daar is nie jump scares of ’n gillende, vlugtende vrou nie. Maar daar is wel baie spanning, mind games en ’n goeie finale dosis van hardop-*gasp* in hierdie kortfilm om dit wel ’n riller te noem. En ek dink wat Ons juis treffend maak, is die skrywers, Bezuidenhout en Christopher van der Westhuizen, se gebruik van spanning in die legkaartbou-struktuur van die verhaal, asook die subtiele afwyking van die verwagte tropes van die riller-genre. Die kinematografie en beligting dra uiteraard ook baie effektief by tot die gevoel van spanning en onheil wat oor die film heers.

Die film open met Liezl en Dirk in ’n motor, in die nag. Die onmiddellike aanname (vanuit hulle bot interaksies en stilstuipe) is dat Liezl en Dirk stry gekry het – classic married couple shit, right? Wrong: Soos die rit deur die nag ontwikkel en hulle uiteindelik by hulle eindbestemming kom, kom ons baie gou agter dat hierdie tiff, in fact, nié die usual irritasies tussen ’n getroude paartjie behels nie, maar eerder iets veel meer sinister. Senutergend onderbeklemtoon dié trip.

Ek gaan nie verder uitbrei oor die gebeure van die film nie, want dis een wat jy sonder enige spoilers moet kyk. Maar, wat ek móét noem, is dat Bezuidenhout en Adriaanse se rolspel uitmuntend en besonders geloofwaardig is – en wat is scarier as iets wat soos ’n werklike moontlikheid voel? Jy sal vasgenael wees voor die skerm en op die punt van jou stoel sit (maar wees dalk gereed om in die laaste paar minute terug te deins van skok). – Andréa Müller


Stilte

Sekerlik die kortste kortfilm op die hele fees, maar sekerlik ook van die mooistes. Hiervoor het Jozua Malherbe en Hunter Kennedy opgeteam om Hunter se gedig, ‘Stilte’ (opgeneem op Die Heuwels Fantasties se 2016-album, Ja. Nee. Lekker), visueel vas te vang. Die resultaat is ’n hauntingly mooi uitbeelding van vaderskap as ’n siklus van herhalings, ondanks verbete pogings om die siklus te breek; van seun-wees tot pa-wees en alles tussenin, en hoe die rolle omruil soos tyd onvermydelik aanstap; versorger word versorgde, en so meer. Daar lê baie betekenisvlakke in hierdie kort-kortfilm om ontleed en ontgin te word. Dis baie opwindend om te sien hoe twee vorme van kuns wat beide met beelde werk – een met woorde en denkbeelde, die ander met visuele, bewegende prente in volkeur – saam ingespan word om die droomwerk byna vir die kyker te doen. Die kort verbeeldingsvlug is egter net tinder: Lank ná dit verby is, sal Jozua se beelde en Hunter se woorde steeds deur jou geestesoog flits. – Andréa Müller


Vergeet van my

Zinkplaat se hoogverwagte dokumentêr stel beslis nie teleur nie. Dis ’n heerlike trip down memory lane (selfs vir diegene van ons wat in die vroeë 2000’s meer preoccupied was met watse brand van kleurkryte ons in ons space case laerskool toe sou neem as om generasie-defining bands te stig).

Vergeet van my vat die kyker letterlik op die spoor van die ontstaan van Zinkplaat en hulle wille Avontoere, en gee die kyker ’n nabye blik op die manne wat dit alles moontlik gemaak het. Beer Adriaanse (voormalige tromslaner en “ambiance manager” van Zinkplaat) vertel in lieflike prosa die verhaal van die begin tot einde; van die eerste bands wat hy in stokmannetjie-comics gestig het en waar hy en Bertie Coetzee – en talle ander – letterlik hulle wildste kinderdrome uitlééf, tot die uiteindelike ontknoping van Zinkplaat en kie. Onderhoude met ou band members en ander eye witnesses, waarin staaltjies oor die Toere vertel word, en ou, oorspronklike footage van Zinkplaat-konserte en die verskeie Avontoere (gered uit verskeie bêreplekke, onder andere uit ’n krat in Beer se ouers se stoorkamer) word vervleg om, saam met Beer se vertelling, ’n chronologiese beeld van die Verhaal van Zinkplaat te skep. En natuurlik is daar die musiek wat tussendeur ’n aansteeklike gevoel van nostalgie en – ek kan dit nie anders stel nie – joy skep. Die algehele resultaat is ’n briljante feel-good doccie wat jou aandag van begin tot einde boei. Die cameo deur Riaan Cruywagen en die befokte opening-animation is twee generous cherries op dié double-chocolate-ekstra-sprinkles-verjaarsdagkoek. Ek kan nie ’n enkele musiekinstrument speel óf enigsins sing nie, maar teen die tyd dat die credits gerol het, was ek sommer opgefire om ’n band te begin saam met die eerste drie persone wat sal instem.

Of jy bekend is met Zinkplaat se musiek of nie, jy sal beslis nie hierdie doccie wil misloop nie, en jy sal beslis nie daarvan wil vergeet nie. – Andréa Müller

Deel hierdie storie


Eerste en oudste Afrikaanse tydskrif, sedert 1896

Ons bou aan ’n moderne beeld van hoe Afrikaanswees lyk, lees en klink. Het jy van Very demure by die Silwerskermfees gehou? Dan ondersteun ons. Vriende van Klyntji word op hierdie bladsy gelys.


 Eenmalig R
 Maandeliks R


Klyntji verklaar 'n klimaat en ekologiese noodtoestand