Pas op vir die hond
Rambo, die racist boerboel
So het ons toe terug gery op pad huis toe: ek agter op die bakkie en my pa en die hond voor. Pa het ’n paar dae vroeër die Rapport gelees, in vetgedrukte letters het daar gestaan: “Boerboel verkoop teen R20 000 in Rusland!”. ’n Johannesburgse teler sit gehurk met ’n peinsende smile, twee baba boerboele in die hand. Pa sê ’n boerboel is ’n 100% (top of the range pure-pure breed pedigree hond). ’n Rhodesian ritchback x Iets = Boerboel. Die aryan race van hond.
Hy het daar en dan besluit ons moet ook een kry. So is ons op pad Hopefield toe om ’n boerboel te koop. My pa se motivering hiervoor was dat elke kind ’n hond moet hê. Iets om sy liefde mee te deel. Hy’t verder ook geglo dat ’n hond goedkoper is as nuwe veiligheidshekke.
Ons stop by die motorhawe se sy-ingang, voor groot draadheinings toegebind met kettings en ’n swaar staal slot. ’n Bordjie lees: GEVAAR. DANGER. INGOZI. ’n Ou toppie met ’n vuilblond snor en ’n mullet uit die 80’s kom sluit vir ons oop in beoliede overalls. Hy beduie met sy sigaret, “Ry deur, daar na die kantoor, maar bly net eers in die bakkie.”
Ons stop langs ’n sinkplaat huis wat double as sy kantoor. Die ou toppie stel homself deur die bakkie se venster bekend as Rodney. Rodney is ’n mechanic en ’n part-time dealer van scrap metal en boerboele. ’n Regte slimy karakter. Die tipe wat jou probeer wys maak, wat sê jou kar kort ’n nuwe carborator al makeer dit niks. Dan verkoop hy die ding en charge jou dubbel.
By association of a common struggle is dit nie lank voordat hulle begin nostalgies raak oor hulle dae op die grens nie. Pa was ’n honde-hanteerder, hy het sy dae spandeer saam met sy flukse comrade om invincible bomme te soek, geplant deur ’n invincible enemy.
“Jy weet, met g’n ander dier kry jy beter nie. Lojaal, gehoorsaam, ’n dier met trots.”
Rodney knik sy kop soos een met Parkinson’s.
“Hoe is die hond se persoonlikheid?” vra Pa.
“Goed-goed. Hy’s soos ’n swarte – kort net baas, dan is hy puik. Maar hulle is eintlik liefdevolle diere, mal oor kinders. Mal oor hulle,” sê Rodney soos ’n ou salesman.
“Dis nou alles goed en wel, ou maat, maar wat ek eintlik vir jou vra is: is die hond se politiek reg?” stu Pa voort.
Rodney se mondhoeke trek skeef alkant sy snor en hy kyk oor sy skouers terwyl hy die sigaret ’n laaste trek gee.
“Ja-nee. Puik, puik. Kom laat ek julle aan mekaar voorstel,” sê Rodney.
Ons stap om die hoek van die kantoor tot waar die hond aan ’n kraan vasgeketting lê. Hy lig sy kop vir my met questioning eyes. Met ’n bek vol kwyl en sand stoot hy homself regop. Hy lyk vir my vriendelik, maar sy knopperige spiere en sy waterpyp-are wat deur sy nek bult sê vir my iets anders.
“Sy naam is Rambo,” besluit Rodney vir my.
“Ek en jou pa gaan eers besigheid praat daarbinne. Speel jy solank met die hond.”
Hulle stap na die kantoor en los my alleen met Rambo. Hy staar my aan met sy emosielose uitdrukking terwyl die kwyl soos stroop uit sy pap bek lek. Ek kon nie uitmaak of hy deurmekaar is en of hy my wil opvreet nie. Ek gee ’n paar versigtige treë nader, maar iewers in sy keel klink dit skielik asof daar ’n bakkie idle. Ek besluit toe eerder om te wag voordat ons vriende raak. Na ’n ruk kom Pa en Rodney uitgestap. Dis hoe ons ’n boerboel gekry het (chain included) in exchange vir ’n 1988 Opel Cadett carborator. Rodney het voorgestel dat Rambo nie agter op die oop bak sit nie, maar voor in die bakkie waar die venster kan toe. So is ons op pad terug Vredenburg toe met Rambo op die passasiersitplek en ek agter op die bak.
My pa het ure spandeer om vir Rambo te train. Sit. Staan. Lê. Wag. Basic goed wat ander honde nie kan doen nie. Jy kon ’n steak voor hom neersit en hy sou nie ’n sentimeter beweeg tot jy hom toestemming gegee het om dit te eet nie. In sulke oomblikke het my pa se bors met trots geswel.
“’n Hond moet sy baas aanvaar. As hy nie dit doen nie kan jy maar gaan kak. Maar ek wys vir hom wie’s sy baas,” het hy altyd gesê.
So het die hond dag in en dag uit in die voortuin gelê en stompe kou, tot sy bek vol splinters was.
Duiwe is ’n konstante nuisance, soveel so dat ons iemand moes kry om die geute te kom skoonmaak. Oom Frik het vir Hans, een van sy kleurling werkers, een dag by ons kom aflaai. Die enigste ding wat vir Hans en Rambo geskei het was die tuinhek. Ons het een oggend Langebaan toe gery om vir vriende te gaan kuier en dit word toe laat. Ons het vir Hans gelos om sy werk te doen. Toe ons by die huis aankom was Hans nêrens te vind nie. Ons het dadelik begin panic toe Rambo ons by die voorhek kom groet. Ons kon nie vir Hans vind nie. Daar eenkant lê die leer plat op die grond. Ons moes vir Hans hospitaal toe jaag vir dehidrasie. Die man het heeldag op die dak gelê. Sam het hom op die grond omsingel soos ’n hiëna totdat ons by die huis gekom het.
Ons moes hoër veiligheidshekke installeer. Van toe af het ons staal traliehekke gehad wat die grense van ons eiendom gemerk het en ons geskei het van die res van die wêreld. Die hond het ons op die ou einde meer gekos as net daai carborator.
Volgende het ons ophou pos ontvang. Dirkie Dippenaar was al die jare ons posman. Hy het elke Woensdagmiddag by ons verbygekom met sy rooi bicycle en poskeppie. Ek het altyd vir hom gewag by die hek, maar Dirkie het sy werk verloor for some reason en was vervang met Randall January. Ek het nooit kans gekry om vriende te maak met Randall nie, want die eerste dag toe hy by ons stop was hy gegroet deur Rambo met ’n foaming bek. Sam het op Randall afgepyl met die commitment van ’n kamikaze pilot. Randall het aan sy possak vasgeklou en gemaak dat hy wegkom. Die grond het geskud toe Rambo kop eerste in die staal hek vashardloop. Dis ’n Gods-wonderwerk dat hy nie sy nek gebreek het nie. Hy byt die tralies alkant van die kakebeen en begin daarop kners. Daai was die laaste wat ek vir Randall gesien het. Ek moes van toe af op Woensdae tot by die straathoek stap om die pos te kry.
Rambo was aangeneem om te dien as ’n sekuriteitswag. Dit het gebeur dat hy ons gevangenisse gemaak het van die buitewêreld. Vriende en familie wou nie meer by ons kom kuier nie, want hulle was te bang vir Rambo nadat hy vir Oom Derick ’n ligte hap gegee het op sy kuit. Pa het vir Rambo net daar en dan een snot vuishou gegee tussen die oë. Hy’t homself gepis en stert tussen die bene weggeloop.
“Net vir hom wys wie’s baas.”
Ons het daardie dag vir Rambo toegesluit en eerder gaan uiteet. Die change in scenery het nie noodwendig ’n change van kitchen politics beteken nie.
“Dit het nog nooit tevore so sleg gegaan nie. Laat ek jou sê, hierdie land van ons is nou behoorlik in sy ma se moer in,” kla oom Alwyn.
“Ag, kom nou. Moet dit altyd politiek wees aan tafel?” pleit sy vrou.
“Luister wat ek sê – een van die dae, sal ons moet landuit,” hou oom Alwyn vol. “Ons sal moet begin saamstaan as ’n nasie.” Hy kou ’n slaaiblaar met lui kake terwyl ’n tamatie se sap by sy blink ken afloop.
Toe ons na die ete by die huis aankom, was iets nie kosher nie. Die huis se ligte het gebrand en Ma maak altyd seker dis donker sodat skelms nie kan sien wat daar is om te steel nie. Ons stap nader en sien een venster is stukkend. Ma het dadelik die polisie gebel. Toe hulle daar kom moes Pa voorstap om vir Rambo uit die huis te haal. Hy sou nie ’n liking in Konstabel Peterson gevat het nie. Pa het vir die konstabel gesê hy vermoed dit was die posman wat so gedurig by ons erf inloer as hy verby ry. Ek en Ma het bekommerd buite gewag. Niks was gesteel nie. Hulle het vir Rambo op die vloer van die gastekamer in ’n plas van sy eie bloed gekry. Daai aand was dit doodstil in die huis. Net so nou en dan kon jy my pa hoor snik oor sy fallen comrade.
Die rowers het nie vir Rambo doodgemaak nie. Inteendeel, hy het sy plig gedoen en hulle afgeskrik, maar toe hulle ontsnap het was hy so histeries dat hy die glas van die gebreekte ruit begin kou het. Die veearts het laat weet hy’t gevrek aan internal bleeding.
Jy weet, dis seker inevitable. As mens lewe met daai klas haat in jou, sal dit jou eventually van binne af opvreet.
Kortverhaal deur Regardt Visser (2019)
Fotoreeks deur Mark van der Wal (2014)