Die droomwêreld van Almero Welgemoed

Die droomwêreld van Almero Welgemoed
cover-shoot-thing-3-of-19.jpg

Digter, musikant en skilder

Almero het vir homself ’n plek uitgekrap as musikant, digter en skilder. Almero en sy broer Nico, ’n foto- en videograaf, het van Bloemfontein na Mosselbaai verhuis as ’n tipe kreatiewe ontvlugting – hulle wou daar kuns en musiek gaan maak, hulself slyp. Hulle het ná ses maande van “onophoudelike skepping” na Johannesburg verhuis om beroepe in die kreatiewe bedryf na te streef. Almero se webwerf vertel dat hy ’n sensitiewe siel en kunstenaar is met te veel idees om uit te voer, maar dat hy wel gaan probeer. Hy vertel dat sy visie ’n wêreld is waar almal saam met mekaar dinge skep. Almero het bykomende bekendheid verwerf met sy samewerking met sanger en Liefde Wen-voorman Bouwer Bosch, sowel as Spoegwolf se Danie du Toit. Almero, soos Bouwer en Danie, kom van ’n plek waarmee baie Afrikanerjeug aanklank vind. Klyntji deel van sy gedigte, illustrasies en sy nuutste musiekvideo vir ‘Donnerse Lag’, van sy debuutalbum Maandag (2018).

 

'n Middagslapie

Desember 2016
Die afstand tussen die twee beddens is die lengte van ons albei se arms, saamgevoeg.
Jou hand ontmoet myne, so in ons middagslapie verwarring.
Ons arms hang in die lug, aan die vingers geknoop, gekoppel, soos slap kragdrade wat gekoek het.
Soos die tyd gaan, raak die gewig van ons arms meer, soos toue wat nat word en swaarder hang.
Dan glip ons vingers effens-effens,
losser en losser,
totdat die gespande ledemate losruk van mekaar en in teenoorgestelde rigtings val.
Jou arm word 'n pendulum, wat tyd aandui.
Die einde.
Ons baklei weer teen slaap en gravitasie, lig ons hande in 'n boogtrajek, formasie
tot albei saam 'n horison vorm.
Die vingers vind mekaar weer, en soos oorfone in 'n broeksak; verstrengel hul in minder as 'n oomblik.
Dan raak albei arms weer slap, en ons elmboë hang weer soos gordyne wat loskom van die railings.

IMG-2506.jpg

Jou oë is nogtans na myne gerig.
Half-toe en in dowwe lig
voor jy wegraak gee jy 'n slaapsug
ek staan op en laat sak jou hand versigtig
tot teen die houtvloer
hier rus dit tot jy wakkerskrik
as ek koffie langs jou bedpoot sit
“Hey jy. Dit is amper slapenstyd”

 

Kruis(straat)

Februarie 2017
Die enigste ding wat ek duidelik onthou
Is dat iets soos honde-shampoo geruik het

Die enigste ding wat ek nie wil onthou
Is al die geluide wat jy maak

As jy my in die bad in tel
sodat ons die rooi hel
van my kan afspoel

IMG-2505.jpg
 

Dolphin Café

April 2017
Ons is in die Fiat af, al die pad vanuit my graf
Regs van George gedraai tot in 'n winderige Mosselbaai
Die vlugtelinge van die stad was hier
Ek en Boetie ry pennyboard in die goue uur
'n Ander dag verloor hy sy foon in die sand en vind dit in gebed –
Jy was ook hier, jy en jou mense in julle tent
En ek het daar gaan skuil, vuil
van die stof langs jou Ma in die sand, al huilend
agter my hand
My hare was vir die eerste keer kort,
langer bo as langs die kant
En jy was nog soos altyd net mooi
effe in die son gebrand

IMG-2503.jpg

April 2018
Ons was vandag weer daar
By die punt, gesit en vir die olieboor gestaar
En net so regs van die stopstraat
het ek verlede-ons gewaar:
ons sit nog saam jou ouers
jou Pa steel slaptjips uit my bord
my broer en hulle en ek en jy
daar in die hoek van Dolphin Café

 

Seisoene

IMG-2504.jpg

Januarie 2019
Dis somer in die noorde van die land
ek het jou gisteraand gevind met jou heuningbene buite die duvet
Dis lente in die holte van jou hand
ek het jou daar vanoggend gesoen en viola's geplant
Dit is herfs in die kloof van jou rug
ek het nog altyd die sproete as blare besigtig
Dit is winter in die blou van jou oë
ek het jou gegroet soos 'n gevonnisde, kop geboë

Daar is dinge wat ek net by jou kan voel en leer
Kennis, ontvang, wat net jy kan gee:

- 'n Vierrigtingstop kan trane ontplooi
- 'n Enkelbed is so groot soos die hoeveelheid wesens wat jy op nooi
- Jou hand op my gesig kan enige bom ontlont
- God hou ons almal in die skemer van Sy mond


Deel hierdie storie


Eerste en oudste Afrikaanse tydskrif, sedert 1896

Divers, progressief en vars. Waardeer jy ’n stem soos Klyntji s’n? Het jy van Die droomwêreld van Almero Welgemoed gehou? Dan ondersteun ons. Donasies van lesers word gebruik om ons bedieningkostes te betaal: jou bydrae hou Klyntji aanlyn. Vriende van Klyntji word op hierdie bladsy erken. Elke bietjie help.


 Eenmalig R
 Maandeliks R


Klyntji verklaar 'n klimaat en ekologiese noodtoestand