Jy weet wie is Almero Welgemoed, nè?

Jy weet wie is Almero Welgemoed, nè?

Foto's deur Nico Welgemoed

'n Opvangsessie

Die Bloemfonteiner Almero Welgemoed – sanger, songwriter, digter, draaiboekskrywer en visuele kunstenaar – bevind hom deesdae in die Stad van Goud. In 2016 maak hy onder mentorskap van Bouwer Bosch sy debuut as musikant met ’n kortalbum (EP) Vuurvas. Sedertdien getuig Almero se kreatiewe uitsette van sy veelsydigheid in die musiekbedryf en hoe hy stories verstaan.

In 2018 verskyn sy debuutvollengte-album Maandag, wat collaborations met groot name soos Bosch en Danie Reënwolf insluit. Die album is benoem vir onder meer Ghoema-, Aitsa- en SAMA-toekennings en hy het al by musiekfeeste soos Alternatief Is Groot, Rocking Stilbaai, Rocking Stellies en Oppikoppi opgetree. In 2023 stel hy sy nuutste album ’n Brein met ’n bloukol vry. Die album bevat 12 liedjies met titels soos ‘Babel en ‘Teletubbies. Dit is ’n pop-rock album wat Almero self as “hartseer met ’n lekker beat” beskryf. Temas soos geestesgesondheid, depressie en angs, asook die menslike kondisie word in die album ondersoek. Soos ’n mens na die liedjies luister, besef jy Almero werk met tyd, plek en gebeurtenis in elke liedjie op ’n genuanseerde manier. Die luisteraar kan agterkom dat die liedjies ontstaan het van ware gebeurtenisse en gedagtes, asof dit dagboekinskrywings is wat ’n mens in daardie oomblik hou. Die album beskryf gevoelens wat ’n mens nie altyd weet hoe om te verwoord nie. Dit lê klem op die houe wat ons gedagtes op ons brein laat – daarom is die titel ’n Brein met ’n bloukol so gepas. 

Die liedjie ‘Onveilig’, wat ook op ’n Brein met ’n bloukol verskyn, is as temalied vir die kortfilm Karen – óók uit Almero se pen, en deur hom direct – geskryf, wat by verlede jaar se Silwerskermfees gedebuteer het. En in 2024 word sy stem en musiek gehoor aan die begin van elke episode van kykNET se Een keer om die son. Almero se kunstige, indie musiekvideo’s word deur sy broer Nico verfilm en geredigeer.

Nie net is hy ’n suksesvolle musikant nie, maar hy is ook bekend vir sy skryfwerk. In 2017 het hy ’n bloemlesing van geskrifte en gedigte, genaamd Donderweer gedagtes, by Naledi gepubliseer. In dieselfde jaar het hy ook die eerste Liefde Wen-bloemlesing saamgestel. Van sy skryfwerk is ook ingesluit in ’n kortverhaalbundel Iemand wat verdrink en ander verhale (LAPA, 2019), saamgestel deur Fanie Viljoen. Van hierdie kortverhale is verwerk tot ’n teaterproduksie wat by die Tuin van Digters gedebuteer het. In 2023 word Almero se teks vir Die spreekkamer/The speaking room as radiodrama op RSG uitgesaai, met Pietie Beyers wat al vyf karakters daarin vertolk. Almero en Pietie werk tans daaraan om hierdie teks tot teaterstuk te verwerk.

Vroeër vanjaar het die Welgemoed-broers Die Karavaan Klankbaan, ’n vyf-episode YouTube-reeks, die lig laat sien. Hierin neem Almero en Nico die pad in ’n kampeerwa, genaamd Bessie, op ’n road trip deur die Wes-Kaap. Langs die pad ontmoet hulle vir Karlien van Jaarsveld, Deon Meiring, Vir nou net Magé, Jan Bloukaas en Ruan Graaff om ’n song saam met elke kunstenaar op te neem. – Miché van Wyk

Andréa Müller het met Almero gesels om nog uit te vind oor dié veelsydige creative, waar hy inspirasie kry en hoe sy kreatiewe proses lyk. Lees die onderhoud hier onder.


ANDRÉA: Kan jy iets deel oor waaraan jy op die oomblik werk?

ALMERO: Ek is op die oomblik besig om klaar te maak met die kykNET-reeks, Een keer om die son, se oorspronklike temamusiek en klankbaan. Ek werk die afgelope nege maande daaraan en dit voel vreemd om te dink dit is amper klaar! Verder is ek in die post-production fase van ’n film wat ek geskryf en direct het, maar ek kan nog nie te veel daaroor sê nie.

ANDRÉA: Wat vind jy die mees challenging: om te skryf, te sing, of te direct?

ALMERO: Al drie het hul eie uitdagings en is met tye moeilik, maar om te skryf en sing is beslis iets wat ek meer ervaring in het as om regisseur te wees. Ervaring en selfvertroue maak iets soveel makliker.

ANDRÉA: Beskryf jou kreatiewe proses in vyf woorde.

ALMERO: Inspirasie, dan moet ek werk.

ANDRÉA: Kan jy dalk meer vertel oor die rol wat Bouwer Bosch as mentor vir jou speel?

ALMERO: Bouwer het ’n groot aandeel in my loopbaan gehad toe ek net begin het om musiek te maak in 2016. Hy het vir my en my broer, Nico, ongelooflik baie geleenthede gegee in terme van werk en ervaring, asook heelwat raad gegee oor hoe ons sekere slaggate kan mistrap in die toekoms. Anders as dit, is hy net ’n lieflike mens en kunstenaar wat heerlik is om mee saam te werk. Ek is nog altyd ’n groot fan van sy musiek en beskou dit as ’n enorme voorreg om saam met so iemand te kan werk en by hom te kan leer.

ANDRÉA: Wat verras of inspireer jou die meeste van die Jozi creative scene?

ALMERO: Die diversiteit is altyd iets wat vir my uitstaan. Jy kan by ’n koffiewinkel in Johannesburg instap en een van die mense wat daarbinne sit en werk sal een of ander interessante kreatiewe loopbaan hê. Van kunstenaars tot musikante tot filmmakers of digters. Jy sal iets van alles in Johannesburg kry, in elke kultuur en taal denkbaar. Dit maak dit maklik om geïnspireerd te wees, inspirasie is orals.

Jy sal iets van alles in Johannesburg kry, in elke kultuur en taal denkbaar. Dit maak dit maklik om geïnspireerd te wees, inspirasie is orals.
— Almero Welgemoed

ANDRÉA: Die beste kuur vir writer’s block is...

ALMERO: Selfhaat (HAHA). Ek dink dit help altyd om weg te stap van creating af en eerder bietjie te gaan beleef. Iets mooi te gaan inneem. Sodat jy weer geïnspireer kan word.

ANDRÉA: Watter boek(e) dink jy behoort op almal se boekrak te wees?

ALMERO: Ek het my gunstelinge, maar ek dink solank daar boeke in jou boekrak is en jy lees hulle, is dit goed :) Lees het my soveel geleer.

ANDRÉA: Op watter maniere werk jy en jou broer, Nico, saam?

ALMERO: Nico werk saam met my op meeste projekte, as videograaf, fotograaf en vervaardiger. Al my musiek word deur hom vervaardig en ge-mix en master. Hy neem ook al my musiekvideo’s af en redigeer hulle.

ANDRÉA: Hoe ervaar jy dit om hom as deel van jou kreatiewe proses/uitset te hê?

ALMERO: Dit is ongelooflik lekker om so ’n spanmaat te hê wat saam met my alles aanpak. Ons dink op dieselfde manier oor dinge en hoef skaars te praat om ’n idee te kommunikeer. Dit maak die proses van skeppend wees soveel meer gemaklik en ek vertrou dat hy sal verstaan wat my visie is met iets. Verder is hy net ’n lekker mens om mee saam te lewe, en hy het altyd tyd vir koffie.

ANDRÉA: ’n Film/boek/liedjie wat jy wens jy geskryf het, is...

ALMERO: Liedjie: ‘Herontmoeting’ deur Liani Reynolds, en film: Dan in real life.

ANDRÉA: Grootste plaaslike kreatiewe inspirasie(s)?

ALMERO: Jabulile Majola, Hendriek Bleik en Vir nou net Magé.

ANDRÉA: Die beste of grootste les wat jy al as kunstenaar geleer het?

ALMERO: Iets wat ek onlangs geleer het, is dat jy nie gedwing hoef te voel om dieselfde pad te stap as iemand anders in jou loopbaan nie. Ek vind live shows byvoorbeeld baie stresvol. Vir lank het ek gevoel ek kan slegs suksesvol wees indien ek gereeld show. Maar die tyd het my geleer dat ek kan kies hoe my loopbaan lyk. Indien ek meer studio en skryfwerk wil doen, kan ek sukses daarin behaal ook. Iets anders wat ek ook geleer het, is dat jy ongelooflik suksesvol kan wees – maar indien jy ’n drol is, gaan mense dit gou genoeg agterkom. Ek hou daarvan om te glo dat vriendelikheid nog aantreklik en cool is.


Hierdie storie is moontlik gemaak deur die Art Stories Incubator-program van Breinstorm Brand Architects, in samewerking met Klyntji en die KKNK. Dit is befonds deur ’n PESP-3-toekenning wat ondersteun word deur BASA en die Departement van Sport, Kuns en Kultuur.

Deel hierdie storie


Eerste en oudste Afrikaanse tydskrif, sedert 1896

Ons bou aan ’n moderne beeld van hoe Afrikaanswees lyk, lees en klink. Het jy van Jy weet wie is Almero Welgemoed, nè? gehou? Dan ondersteun ons. Vriende van Klyntji word op hierdie bladsy gelys.


 Eenmalig R
 Maandeliks R


Klyntji verklaar 'n klimaat en ekologiese noodtoestand