Wat Deidré Jantjies se Stories in die wind so nxa maak

Wat Deidré Jantjies se Stories in die wind so nxa maak

Miché van Wyk vind vreugde met dié viering van Khoena-herkoms

Kinderboeke speel ’n belangrike rol in hoe jong verstande en hulle opinies gevorm word. Dit dra by tot hoe hulle die wêreld sien en verstaan. My ouma sê altyd lees bring kennis en met dit kom mag en krag. Dit is waar, alhoewel daar egter vir baie lank net een narratief gevolg is as dit kom by wie se stories vertel word. 

In ’n onlangse studie waarby ek betrokke was, het ons deelnemers onder ander vrae gevra rondom ras. Een van die vrae was: “Wanneer jy ’n boek lees, watter ras is die karakters?” Die oorhoofse antwoord was dat die karakters Wit is of voorkom, laasgenoemde wat afgelei kan word van die manier hoe die karakters in die storie praat, die storielyne, en - spesifiek in kinderstories - die illustrasies in die boek. 

In die Afrikaanse kinderliteratuur word Bruin karakters egter al hoe meer ingesluit, wat natuurlik ’n positiewe ontwikkeling is in terme van inklusiwiteit. Sulke boeke het die potensiaal om by jong lesers ‘n gevoel van belonging te vestig. Deidré Jantjies se Stories in die wind (2022, Tafelberg) is deel van die conversation rondom representation. In hierdie boek vier sy nie net Bruin-wees nie, maar ook inheemse kultuur. Die stories verryk die inheemse kennis binne kinderliteratuur in Afrikaans, en dit is hoe geskiedenismaak lyk. 

Jantjies is nie net die skrywer van Stories in die wind nie, maar ook inheemse-aktivis, flamenco-danser en die stigter van haar eie produksiemaatskappy, Na Aap Productions. Sy gebruik dié platform om films te vervaardig oor spesifiek Suid-Afrika se vroue en hulle inheemse herkoms. Jantjies is doelgerig om ‘n gesprek te fasiliteer oor inheemse kultuur en tradisies. Hierdie doelstelling manifesteer in al haar werk. 

Stories in die wind kom nou al ’n lang pad aan. Vir baie staan dit as die animasie-kortfilm of YouTube-webreeks bekend. In hierdie reeks word die moederstorie genaamd “Die Reënblom” uitgebeeld, wat ook die eerste storie in die boek is. In 2020 het sy aan die teks gewerk as deel van die Jakes Gerwel skrywersresidensie-program in die Oos-Kaap. 

Maar even voor 16-toeka was dit tradisie. Die wind het die stories onthou wat ons voorouers vertel het, en gewaai tot binne die skrywer se drome soos sy vertel. Jantjies skryf toe ’n hele warrelwind los met die versameling van 10 Khoena-verhale wat hulle wortels in die Richtersveld, Namakwaland en die Kalahari-streke het. Slegs twee van die stories is egter gebaseer op bestaande oorvertellings, terwyl die res van die versameling uit Jantjies se eie verbeelding gebore is. “Ek sê altyd is stories wat in my DNA al kla was, al het ek navorsing oor volksverhale gedoen,” vertel sy in ‘n vroeër onderhoud wat op LitNet publiseer is. 

Die Khoi-voorouers het geglo dat hierdie tipe stories aan kinders morele waardes en lewenslesse leer. Stories in die wind volg daai standaard deur veral die tema van gehoorsaamheid aan te pak. Gehoorsaamheid aan wyse grootmense, maar ook die natuur. Die feit dat karakters in die boek nie net in mensvorm voorkom nie, maar ook deur die diere en natuur, lig uit en vier die band wat Khoi-mense met die natuurlike omgewing het. Die magiese element is gepas vir ’n kinderboek en wys hoe die Khoi-mense die natuur en die skepper respekteer en mee saamleef. 

In die! Khung-kultuur beteken Moeder Maan lewe en antwoorde – dit is haar gees wat vir mens leiding gee. Daarom weet sy ook dat alle mense ’n swaarheid in hulle harte het. Soos sy met liefde oor haar kinders kyk, is haar strale soos ’n sagte wind wat waai. Sy besluit: “My kinders moet die boodskap kry.” Sy vee haar lig oor die land op soek na ’n dier wat sy met die boodskap kan stuur. En dáár sien sy vir Uil. Hy sit wawyd wakker in sy boom terwyl hy homself gereed maak vir die jag. “Gawe Uil, ek het ’n guns om te vra van jou,” spreek sy hom aan. – Uit “Luister na die Maan”

Uit die manier hoe die stories geskryf is, kan ek dadelik agterkom dat dit deur ’n Bruin stem vertel word. Dit is die tipe streekstaal en kultuur wat dit net daai flavour gee. Soos in die storie van “Die Ou slang” waar die slang sê, “Jirre my kind”. Tesame met die kultuur van jag en om die vuur kuier is die Khoekhoegowab-taal ook teenwoordig in die verhale. ’n Woordelys en verduideliking van klanke en uitspraak word ook in die boek ingesluit. Die woordelys bestaan uit die stories se name wat in Khoekhoegowab is: ‘!hûni//gāres’ (‘Die reënblom’), ‘//Hui !Gaeb’ (‘Waar die wolke saampak’) en ‘Kaggen’ (‘Die bidsprinkaan’) om ’n paar op te noem. Die vier klapklanke van die taal word ook ingesluit om die uitspraak maklik te maak. Die dentale klapklank “|”, die laterale klapklank “ǁ”, die palatale klapklank “ǃ” en die alveolêre klapklank “ǂ”. ’n Verduideliking word ook ingesluit oor waar die plasing van die klank in die mond sit. Niemand word hierdeur uitgesluit nie. 

As ’n Namakeendt bring dit my soveel vreugde om Khoi-stories in ’n boek te lees wat deur ’n groot uitgewer gepubliseer is. Daarmee saam kom ook meer blootstelling vir die inheemse taal en kultuur wat, in my opinie, nasie bou. Dit kan nou soveel lesers bereik en educate oor die geskiedenis en kultuur van die Khoi-mense. Ek lees te lekker die stories, oor hulle geskryf is soos dit aan my mondelings vertel sou word. Soos ek lees, smaak dit ek hoor en sien die auntie wat my die storie vertel. Dít is juis wat die boek se bestaan so nxa maak. Dit heal op plekke wat ek nie gedink het bestaan nie. Want finally word daar van my mense en oor ons lewe geskryf. Dit alles dra by tot die outentiekheid van waar die stories afkomstig is. 

“Glo in jouself, my kind. Moenie vergeet waar jy vandaan kom nie. Onthou altyd, jy is die Plantasie vir die Nasie.” – Uit ‘Plantasie vir die Nasie’

Die stories word komplementeer deur die illustrasies deur Dav Andrew, wat die uitbeelding van die Nama-nasie prentjiemooi uitbeeld. Die tekeninge sluit die mooie Richtersveld-landskappe in wat ’n mens dikwels net in dokumentêre sien. Die visuele elemente speel ook ’n belangrike rol deur die verbeelding en verteenwoordiging verder te verryk.

Hoewel die kleinspan beslis uit die stories sal kan leer oor inheemse kultuur, is dit sonder twyfel ook gepas vir ouer lesers. Die stories dien as ’n herinnering van ons komvandaan en dra waarde oor die geskiedenis en leefstyl wat vasgevang word in die boek wat nie sommer elders bekombaar is nie. ’n Boek om ons komvandaan te onthou, te vier en te verstaan. Vir ’n taal en kultuur wat so te sê “bedreig” is, is Stories in die wind se bestaan teenstrydig vir daai stelling. Die stories is tydloos, opgeteken en hier om te bly. 


Hierdie storie is moontlik gemaak deur die Art Stories Incubator-program van Breinstorm Brand Architects, in samewerking met Klyntji en Iqoqo. Dit is befonds deur ’n PESP-3-toekenning wat ondersteun word deur BASA en die Departement van Sport, Kuns en Kultuur.

Creative Commons Licence
Dié storie is ingevolge ’n Creative Commons Attribution-NonCommercial-NoDerivatives-lisensie gepubliseer. Dit mag dus herpubliseer word onder die lisensievoorwaardes, solank ’n skakel na die oorspronklike Klyntji-storie ingesluit is, saam met die erkenning hierbo.
Deel hierdie storie


Eerste en oudste Afrikaanse tydskrif, sedert 1896

Ons bou aan ’n moderne beeld van hoe Afrikaanswees lyk, lees en klink. Het jy van Wat Deidré Jantjies se Stories in die wind so nxa maak gehou? Dan ondersteun ons. Vriende van Klyntji word op hierdie bladsy gelys.


 Eenmalig R
 Maandeliks R


Klyntji verklaar 'n klimaat en ekologiese noodtoestand