'n Reaksie op Diensplig: Hoekom stotter ons pa's so?

Anelia Heese se bestekopname van die kleure, klanke en erfenis van trauma

“Die verlede is ’n ander land: [W]aar is die pad wat soontoe loop?” Só begin Verliesfontein (1998), die eerste roman van Karel Schoeman se Stemme-drieluik. Vir die verteller in die tweede roman in die drieluik, Hierdie lewe ([1993] 2003), is onthou “om die brokkies en klippies en skyfies, die lappies en draadjies en lintjies en briefies uit te soek en te rangskik”. Anelia Heese soek in haar boek, Diensplig: Hoekom stotter ons pa’s so? (2023, Tafelberg), paaie na ’n ander land, ’n land waar jong Wit seuns opgeroep word om hulle onskuld op te offer vir ideologieë wat die meeste van hulle nog nie verstaan nie. Haar padaanwysers is die jong Wit seuns van destyds wat oproepinstruksies en magsnommers en browns, patroondoppies en Casspirs en rat packs en Unitasmedaljes uitsoek vir haar om te rangskik, vir haar om van sin te maak. 

Vroeg in die boek word dit duidelik gemaak dat dit nié ’n geskiedenisboek is nie, maar eerder ’n “persoonlike ondersoek, ’n bestekopname van [haar] erfenis van trauma” (20). Heese stel die verteller, “die bedroefde expat” en die “slingerpaadjie om agter [haar] pa se stilswye te kom” sentraal in Diensplig. Die bymekaarmaak van weermagstories is dus vir Heese intiem. Iets wat my eerste opval, is dan juis hierdie transgenerasionele verhouding en die idees (of eerder, vrae) oor oorgeërfde trauma – veral wanneer die jonger generasie eintlik heel oningelig is oor die bron van daardie trauma. Heese tel haarself onder hierdie groep en omdat haar pa nie aan haar “kon verduidelik wat met hom gebeur het nie” (20) gaan soek sy antwoorde by 60 ander mans soos hy. Dadelik is my aandag gespits, aangesien ek ook ’n pa en ’n ma het wat beide in die weermag was. Van my vroegste herinneringe is van my en my broer en neefs aan’t speel in my ouers se bruin weermagklere. Waarom het die vaal uitrustings ons bekoor? Dit was so anders as die pienk prinsesrokkies en plastiekhakskoentjies waarin ek gewoonlik geparadeer het. Weermag en oorlog en daardie tipe georganiseerde geweld was altyd orals op die agtergrond van so baie dinge wat ek gedoen het: Speel-speel toe ons klein was, rekenaarspeletjies en films soos ek ouer word, vae opmerkings van my pa of my ma nou en dan, name van skole en plekke wat ons besoek het, standbeelde. 

Weermag en oorlog en daardie tipe georganiseerde geweld was altyd orals op die agtergrond van so baie dinge wat ek gedoen het: Speel-speel toe ons klein was, rekenaarspeletjies en films soos ek ouer word, vae opmerkings van my pa of my ma nou en dan, name van skole en plekke wat ons besoek het, standbeelde.
— Mart-Mari van der Merwe

Van links: Luhan, Henno, Lukas en Mart-Mari speel-speel in hulle ouers se weermagklere.
Foto verskaf deur Mart-Mari van der Merwe

Ek wéét van oorlog, ek weet van geweld, ek weet van geweld onder die NP-regering. Tog het ek en my ouers ook maar min daaroor gepraat, nes Heese en haar pa. Waarom het ek nooit regtig gewonder of gevra nie? Was dit die gewone selfsug van ’n jong mens wat in niks belangstel wat nie direk vir haar relevant is nie? Of het ek vermoed dat ek dalk nie wíl weet nie? Was ek bang? Een ding is seker, Heese is dapperder as ek en baie ander jong mense wat ek ken. Sy’t ’n enorme, emosionele taak aangepak en dit met sorg en bedagsaamheid deurgevoer – sodat ek en jy nie hoef nie.

Die ding is, eintlik moet ons. Die verteller verwoord ’n pligsbesef teenoor ons land, ’n pligsbesef wat ek dink met baie lesers sal resoneer: 

Hierdie trauma, hetsy individueel of kollektief, is die naelstring wat my aan daardie landjie aan die suidpunt van Afrika verbind. Dit is ’n ode aan die eg Suid-Afrikaanse rouklag wat my tuis laat voel. Ek woon al ’n dekade in die buiteland, maar daar is net een land waaroor ek wil rou – want om te rou, is om geborgenheid te vier. As jy weet jy hoort, kan jy die toekoms terugeis (20).

Vir die wat aan Heese, en enige van ons wat vrae het oor ’n verlede waarvan ons nie deel was nie, sê: “My kind, dit het niks met julle uit te waai nie” (20), is daar baie antwoorde. Antwoorde soos om te sê ’n mens moet leer uit die foute van die verlede en dat ons moet verstaan wat gebeur het om te keer dat dit weer gebeur, ensovoorts. Daar is egter nog ’n veel persoonliker antwoord: Dit het alles met ons uit te waai. Die wêreldbekende psigiater en traumakenner, Bessel van der Kolk (2014:417), skryf dat jare se neurologiese studies wys dat trauma letterlik die struktuur en funksie van die brein verander – tot so ’n mate dat dit selfs die gene wat van geslag na geslag oorgedra word, kan verander. Transgenerasionele trauma is nie net nog ’n foefie wat die jonger geslag uitgedink het om aandag te soek of om alles oor onsself te laat gaan nie, dis ’n werklikheid. En volgens Van der Kolk (2014:30—1) is genesing iets wat ontwyk sonder ’n deeglike verkenning en ’n erkenning van jou lyflike werklikheid. Vir trauma met wortels in die verlede moet ons dus, soos wat Heese in haar boek doen, delf in die bloederige geskiedenis.

Alhoewel die verteller in Diensplig tot die slotsom kom dat alle dienspligtiges “beslis nie” (233) trauma beleef het nie, is die fokus in die boek bepaald op trauma soos wat dit te voorskyn kom uit ’n klomp fragmente uit ou dienspligtiges se weermagjare. Selfs al het baie van hulle die verteller verseker dat hulle dit nie so rof gehad het soos ander nie (99), is daar orals kentekens van trauma – veral lyflike en sintuiglike tekens. Eerstens natuurlik hoe die mans stotter wanneer hulle hulle stories vertel. Die gestotter word tekstueel oorgedra deur middel van ellipse en herhalings van letters en woorde, soos wat Sarel byvoorbeeld vertel as antwoord op ’n vraag oor hoe ’n mens nou eintlik “op die punt waar jy ’n Russiese tenk uitskiet” (86), kom:

Dan begin jy jouself vrae vra. Hoe gaan dit wees as hulle jóú raakskiet? Gaan-g-gaan jy onmiddellik dood wees? […] Is jy bereid om, i-i-is jy genuine bereid om dood te gaan? [...] Jy probeer alles om kalm en-en-en ge-gefokus te bly. Dan sê die majoor wat in beheer is van die eskadron tenks: ‘Okay, boys, julle moet nou mooi kyk.’ En die volgende oomblik sien jy mense hardloop, en jy besef dit is moontlik die vyand wat daar hardloop. Moet jy nou skiet of wat? Dis ménse (86—7).

“Is jy genuine bereid om dood te gaan?” En, dis ménse. Ménse. Soos wat ek nou tik, gebeur dit. Oorlog is nie iets in ’n storie nie, dis ’n werklikheid. En dis ménse. Hoekom loop die hele wêreld nie stotterend rond nie; wat is fout met ons?

Spraakprobleme, soos om te stotter, is ’n algemene simptoom van trauma. Volgens Van der Kolk (2014:51) is dit gereeld vir traumalyers onmoontlik om hulle ervarings in woorde om te sit en om ’n storie met ’n begin, middel en einde daarvan te maak. Soms is die storie wat wel vertel word, ’n “cover story”, opgemaak om soortvan, maar nie heeltemal nie, te verduidelik waarom hulle is soos wat hulle is. Ek ys om te dink watter stories nié aan Heese vertel is nie, omdat daar gewoon geen woorde daarvoor is nie. 

Ek ys om te dink watter stories nié aan Heese vertel is nie, omdat daar gewoon geen woorde daarvoor is nie.
— Mart-Mari van der Merwe

’n Ander kenteken van trauma wat ook in die dienspligtiges se vertellings voorkom, is die intense sintuiglikheid van die traumatiese herinneringe. Sekere details word met besonderse helderheid onthou, iets wat baie algemeen is by traumatiese herinneringe (Van der Kolk, 2014:232). Veral die herinneringe van kleur was vir my opvallend. Dit begin sommer vroeg by die basiese opleiding met “daai blerrie bruin overall” (39). Bruin is seker nou ’n baie praktiese kleurkeuse, dit staan nie uit nie en dit kan redelik maklik skoon gehou word. Vir my voel dit egter soos ’n simbool van wat jy is as jy begin met weermagopleiding: grond. “Die vormingsproses werk só: [H]ulle moet jou eers afkraak tot niks nie, en jou dan opbou tot ’n soldaat” (39). 

Absurd genoeg het ek by hierdie vroeë stories oor die aankoms by die basis en die uitdeel van uniforms nostalgies aan die Maasdorp-boeke gedink wat ek in die laerskool gelees het. Dit was altyd vir my ’n heerlike dagdroom om ’n trommel met skoolklere en gewone koshuisdinge te verbeel. In hierdie “koshuis” was dinge egter anders: Alles is bruin en lelik en presies dieselfde as dié van ’n volgende man. Geen van Kobie se pragtige frokkies en mammapakkies nie. Beslis nie Kobie se lieflike krulle nie. Niks om jou te laat dink jy word gekoester nie, niks om jou te laat dink jy as ’n individu is uniek of spesiaal nie. Wat ’n wrede ontnugtering om, juis in die tyd dat jy jouself moet vind en jou eie kleure moet kies, in ’n bruin boksie gedwing te word. ’n Boksie met vaal klere en onmenslike dissipline wat ’n ystere vorm van manlikheid by jou moes kweek. Ek sidder, maar ek weet uit ervaring dat daar vandag nog in sekere kringe met versugting teruggedink word aan daardie tipe manlikheid. Soos Bert Kuijpers dit opsom (173):

Dit was nie lekker nie, maar dit het van seuns manne gemaak. As jy kyk na die agtienjariges van vandag – hulle speel nog TV-speletjies en hulle is glad nie ingestel op enigiets wat verantwoordelikheid verg nie. Ons het nie tyd gehad vir speel nie. 

Normaalweg sou ek my nogal vererg vir só ’n sentiment. Daarin skuil ’n tipe onverdraagsaamheid vir enige iemand wat dit volgens jou ’n bietjie makliker het as wat jy dit gehad het. Daai “ek moes suffer om ’n man genoem te word, so jy moet ook, anders is jy nie ’n man nie”. Maar Heese se hantering van hierdie mans se stories is weldeurdag. Eerder as wat ek my vererg, lees ek die man agter die stelling raak. Ek lees die mens raak, ’n jong, ontnugterde seun wat nie veel van ’n keuse gehad het as om ’n “blerrie bruin overall” aan te trek en ’n spesifieke idee van ’n man en ’n soldaat na te streef nie – die idee wat sou oorleef tydens oorlog.

Nog ’n kleur wat helder uitstaan in dienspligtiges se vertellings, is die wit van Ovamboland se sand. Die verteller skets vir jou ’n prentjie (70):

Die besonderse skerpheid van die lig neem amper ’n magiese toon aan wanneer ek ander dienspligtiges daaroor uitvra. ‘Dis ’n anderse wit, daai wit sand. Dis ’n tipe wit wat ’n mens regtig deurmekaar maak.’ En dan is daar ‘die versengende hitte wat jou na jou asem laat snak. Jy sweet, maar jou vel word nooit nat nie.

Is die magiese toon miskien ook ’n simptoom van dissosiasie wat kenmerkend is van traumaherinneringe? So asof dit tog nie werklik kon wees nie. 

Daar is nog kleure. Geel. ’n Bedroë Deon Lamprecht onthou Colin Kindness se dood op die grens, en dan onthou hy “die kleur van ’n werklik onbesoedelde sonsondergang. [Dis] nie rooi nie, dis nie oranje of pers nie. Dit is net ’n suiwer suurlemoengeel” (101). Blou. ’n Baba besig om dood te gaan, “blou in die gesig” (147). Pienk. ’n Swart man se lyk ná twee dae in die veld, pienk waar die vel begin afskuif (104). Ander sintuiglike waarnemings is ook volop. Reuke, soos petrol en gesmelte motorbande en liggame wat tot “onherkenbare massas verkool” is (150). Klanke, soos die “kapelane [wat vir hulle gesing het], erger as Kanaries” (175). Ek lees stuk-stuk (of sluk-sluk?), my eie sintuie is oorweldig.

Die intensiteit van die herinneringe maak dit wel moeilik om die boek te lees, maar ek dink hier het Heese reggekry om dit wat onleesbaar of onvertelbaar sou wees, wel leesbaar te maak. Aanvanklik was die insetsels oor Heese se eie lewe vir my vreemd – waarom haar eie ervarings, wêrelde verwyder van dié waaroor sy skryf, ook met die leser deel? Tog het Heese se verhaal later vir my ’n noodsaaklike buffer geword teen die aanslag van die dienspligtiges se trauma. Sy het ’n tipe afstand geskep tussen die leser en die verhale deur jou deurlopend te herinner dat sy besig is met onderhoude, dat sy die gesprekke lei, dat sy ook, nes jy, nie eintlik weet wat om te maak van alles wat sy hoor nie. Heese dra ’n belangrike sentiment oor, en dis iets wat ons woke generasie van vandag wat al ons inligting op TikTok of Instagram kry by plasings wat die algoritme weet ons van sal hou, beslis weer ter harte kan neem: “Ek weet nie. As jy nie daar was nie, sal jy nie weet nie” (64). Die weermagstories word nóg vertel om te oordeel, nóg om verskonings te soek vir ’n donker verlede. Die verteller wroeg met die “wonder of jy genoeg doen om hierdie dinge te probeer verstaan” (213).

Die weermagstories word nóg vertel om te oordeel, nóg om verskonings te soek vir ’n donker verlede.
— Mart-Mari van der Merwe

Nes die verteller van Hierdie lewe (1993) is die verteller in Diensplig ’n buitestander. Die verskil is dat die verteller in Diensplig nie ’n buitestander in haar eie lewe is nie, maar eerder ’n buitestander in die stories wat sy vertel. Dié buitestander maak nie die stories haar eie nie, maar laat die dienspligtiges toe om sélf, in hulle eie stemme, die soms oorweldigende kleure en klanke tot die verhale te voeg. Dís hoe Diensplig anders is as ’n geskiedenisboek. Geskiedenisboeke rangskik stemme op die maat van een of ander ideologiese oortuiging. Diensplig rangskik die stemme soos spelers op die verhoog en vra: Kyk. Die pad wat na die verlede loop, is vol, vol ménse.

Deel hierdie storie


Eerste en oudste Afrikaanse tydskrif, sedert 1896

Divers, progressief en vars. Waardeer jy ’n stem soos Klyntji s’n? Het jy van 'n Reaksie op Diensplig: Hoekom stotter ons pa's so? gehou? Dan ondersteun ons. Donasies van lesers word gebruik om ons bedieningkostes te betaal: jou bydrae hou Klyntji aanlyn. Vriende van Klyntji word op hierdie bladsy erken. Elke bietjie help.


 Eenmalig R
 Maandeliks R


Klyntji verklaar 'n klimaat en ekologiese noodtoestand