Wyfie lig die sluier oor wat in vrouekoshuise aangaan

Wyfie lig die sluier oor wat in vrouekoshuise aangaan

Graadkry met lekkerkry swaarkry

Wyfie, ’n dramareeks met ’n titel én binnegoed wat wenkbroue sal laat lig, wys sedert 12 Februarie op Showmax. Die 90 episodes van hierdie reeks wentel om vier girls se highs en lows in ’n fiktiewe dameskoshuis by ’n fiktiewe universiteit. Die lys van mense wat aan hierdie projek werk, is lank en indrukwekkend (star-studded, you know). Ek het met ’n handjievol van hulle gesels.

Marcel Spaumer, ’n skrywer bekend vir onder andere Suidooster en nou hoofskrywer van Wyfie (en volgens sy insta bio, ’n occasional poet). Eva du Preez, wat al ’n hele rits suksesvolle Afrikaanse films, soos Poppie Nongena, geredigeer het, is deel van die Wyfie-regisseursspan. Emilie Badenhorst, ’n up-and-coming regisseur wat plaaslik en internasionaal beïndruk met haar regiewerk. Igna Botha is ’n draaiboekskrywer wie se tekste al in menige huise gekuier het: Dink byvoorbeeld aan Getroud met rugby en Diepe waters. Kanya Viljoen, ’n all-round creative wat woeker met alle aspekte van film en teater.

Vir terwyl jy lees aan die onderhoud — ’n lekker Wyfie-vibes playlist voorsien deur die skrywerspan:


MART-MARI: Marcel, jy’s die hoofskrywer van Wyfie. Vertel ons ook ’n bietjie oor die res van die skrywerspan. Het jy self die span bymekaargesit? Hoekom het jy juis hierdie skrywers genader?

MARCEL: Ek het nog altyd geweet ek wil saam met Igna Botha aan iets skryf. Ons paaie het gekruis toe ons altwee nog studente was, sy op Stellies, ek op die Puk. Sy’s ’n storiemasjien en haar sinne tref jou in die bors. En omdat ons altwee ’n liefde vir koshuislewe deel, was dit ’n no-brainer. Maar sy’t dadelik vir my gesê sy kom nie alleen nie, sy sleep vir Meesha Aboo saam, wat toe die befokste storiebrein in ons bedryf is. En Kanya Viljoen was besig met soveel cool goed, almal het oor haar gegons – ek wou met alle mag en krag ’n bietjie (if not all of it) van haar magic hê. Morné Strydom was ook op almal se lippe ná sy heerlike Silwerskerm-fliek, Twintig Tone, en hy’t een van Homebrew Films se storiefilms se regie behartig. Hy was/is die hot shot director, ek moes hom opraap voor iemand anders dit sou doen! Die ongelooflike Ryan Pedro het onlangs ook aangesluit by ons, so jy kan maar sê dis ’n droom van ’n skrywerspan.

MART-MARI: Die hoofkarakters in Wyfie is vier jong vroue – Shay, Amanda, Kyla en Mia – wat elkeen hulle eie battles het om te veg, terwyl hulle besig is om die universiteitswêreld van partytjies, toetse, verhoudings, ensovoorts te navigeer. Hoe het julle die akteurs en die karakters bymekaargebring; waarvoor het julle spesifiek gesoek vir elkeen van die karakters? Gesels ’n bietjie oor van die eienskappe van die onderskeie karakters. 

MARCEL: Ek gebruik altyd hierdie voorbeeld, maar ek het iewers een keer gelees met die casting van die sitcom, Friends, het hulle daarop uitgegaan om akteurs te kry wat net soos die karakters is. Hulle wou nie hê ’n akteur moes ’n karakter kom speel nie, die akteur moes reeds daardie karakter wees. En so is dit met Celeste Loots (Amanda), Mienke Ehlers (Mia), Beáta Bena Green (Shay) en Kristen Raath (Kyla) – hulle het nie net ’n oudisie afgelê nie, hulle’t hulle karakters kom haal. Kom toe-eien. Celeste was 100% die aggressiewe, onvoorspelbare Amanda; Mienke was 100% die roekelose, unapologetic Mia; Beáta was 100% die peinsende, ontwykende Shay; Kristen was 100% die onskuldige, fragile Kyla. Wat die onderskeie karakters se eienskappe betref, sal ek Shay in haar woorde jou meer laat vertel (sy’s ook die show se narrator):

Terwyl almal tiete trip omdat hulle vir die eerste keer uit die huis is, is Mia ál hierdie shit gewoond: Sy’s twee jaar ouer as die res van ons en was al op yachts aan die Amalfi-kus. Koshuis is vir haar lekker, want sy het fokkol daarmee uit te waai nie. Amanda, main bitch met ’n history of violence waarvan niemand weet nie, se ma is baie siek en dit kos geld, oukei. Alles kos geld as jy nie meer ’n kind is nie. Ek sal enigiets vir Amanda doen en as sy my nodig het om haar te help met haar ma, sal ek daar wees. Sy’s altyd daar vir my. En sy vergeet nooit om my daaraan te herinner nie.

Kyla is ’n goeie mens – soos letterlik goed, al-twee-hande-op-die-Bybel-goed – en sy’t haar graad meer as enigeen van ons nodig. Probleem is net: Sy kan nie haar graad bekostig nie. Ek’s pretty sure sy kan party aande nie eers eet nie. Graadkry met lekkerkry swaarkry, ja.

Ek, Shay, kan myself ook nou voorstel, die dramastudent wat shapeshift om in te pas, maar julle gaan oorgenoeg van my hoor. As die verteller van hierdie storie, gaan ek nie kan help om so nou en dan iets van myself ook te verklap nie. Alle storievertellers los iets van hulleself agter in ’n storie. Maar ek’s ’n all or nothing kind of girl, so ek het meer as net “iets” in hierdie storie agtergelaat. Ons het almal baie meer as net iets van onsself agtergelaat.

Beáta Bena Green as Shay

Mienke Ehlers as Mia

Celeste Loots as Amanda

Kristen Raath as Kyla

MART-MARI: Is daar enige tonele wat jy in die besonder moeilik (of lekker) gevind het om te skryf, en kan jy dalk ’n bietjie daarvan vertel?

MARCEL: Ek dink die moeilikste is altyd maar die tonele wat meer polities-gedrewe is, waar ons sekere kommerwekkende kwessies rondom studentelewe uitlig, want jy wil nie erken daai tipe goed is daar nie, maar dit is. Dis triggering. Soos rassisme in koshuise, koshuistradisies wat jong mense se lewens in gevaar stel. Maar jy wil ook nie ’n hele show skryf oor hoe kak studente dit partykeer het nie, want dan gaan almal depro wees en die TV afsit. So, jy lig maar die sluier en laat val die sluier, lig die sluier en laat val die sluier – wie moet sien, sal sien en vir die res is dit net mal studente wat probeer graadvang met ’n babelas.  

Die lekkerste aspek van die skryfkamer is eintlik wat ná die skryfkamer gebeur: die tekste. Ons is gelukkig om by Wyfie ’n baie gemaklike, fuck-it-let’s-do-it-skryfkamer te hê, so wanneer ons bymekaarkom en stories praat, is dit kort en kragtig. Want die eintlike magic, vir my, gebeur wanneer skrywers toegelaat word om te gaan doen wat hulle die beste doen: skryf. Ek lees al van verlede jaar April af van die lekkerste TV scripts vanmelewe.

MART-MARI: Eva, kan jy dalk meer oor jou redigeringsproses vertel?

EVA: Ek is bekend as ’n redigeerder, maar Wyfie was my eerste narratiewe directing-projek. Ek ken vir Johan Cronjé al van my universiteitsdae af, en hy het my oortuig om saam hom hierdie projek aan te pak. Ons smaak en idees stem ooreen, so dit was ’n easy fit. Ek het episodes 11—20 direct en my styl het altyd redigering in gedagte gehou. Elke episode verg ’n ander aanslag in terme van spoed en die idee van tyd. Soms sou ons ’n skoot vir lank laat uitspeel en met ander tye jump cut mens deur aksies.

MART-MARI: Jy het al aan so ’n groot verskeidenheid projekte gewerk – realiteitsreekse soos Boer soek ’n vrou, romantiese komedies soos Die tragiese saak van Pamina Vermaak en die onlangse Trompoppie wat ’n wonderlike reeks vol psychological en rillerelemente is. Tog verg elke volgende projek sekerlik iets nuuts van jou. Gesels ’n bietjie oor Wyfie: Is daar nuwe dinge wat jy geleer het, of bewustelik anders wou aanpak as jou vorige projekte?

EVA: As redigeerder bring jy al die tegniese elemente bymekaar, maar as regisseur moet jy die regte performances kry met baie tegniese veranderlikes. Die wêreld van Wyfie lê my baie na aan die hart en ek wou dit so na aan my koshuiservaring bring as moontlik. Ek was vir vier jaar in Sonop op Stellenbosch. Ek was baie betrokke by die koshuis en ook op die HK. Mense wat my nou ken, is so verbaas omdat dit heeltemal uit my aard is. Maar koshuiskultuur was nog altyd vir my só fassinerend: ’n groep mense bymekaar met verskillende agtergronde en drome. Soos ek die tekste gelees het, het dit gevoel asof my universiteitslewe voor my afspeel. Dis liefdesteleurstellings gemeng met complicated vriendskappe en hormone wat maak vir ’n hele paar krisisse.

MART-MARI: Is daar tonele in Wyfie wat vir jou persoonlik uitstaan en wat jou bybly?

EVA: Aan die einde van episode 14 is daar ballonne vol rooi verf wat heen en weer gegooi moes word. Ons het nét een take gehad om dit te verfilm (met twee kameras), aangesien daar nie geld of tyd was vir resets van almal se klere, rekwisiete of grimering nie. Dit was ’n groot uitdaging en daardie een take het my laat voel asof ons besig was met ’n teateropvoering. Die adrenalien van die cast en crew was deur die dak. Dit het alles wonderlik uitgewerk en ek is baie trots op wat ons vermag het. 

MART-MARI: Emilie, is daar sekere trends (plaaslik of internasionaal) wat julle beïnvloed het tydens die maak van Wyfie? Watter films of reekse sal julle voorstel vir iemand wat Wyfie gekyk het en soek na nóg?

EMILIE: Die eerste ding wat my beïnvloed het, was beslis die feit dat ek self in ’n koshuis was. Daar is baie persoonlike ervarings wat daaragter sit: Soveel van die morsige “net saamwees”-oomblikke tussen die girls. Die min omgee, die mundane, die uitfreak oor klein goedjies, maar dan ook die groot oomblikke, die ongemaklike oomblikke van leer wat consent is, die kuier-bo-alles-oomblikke en selfs die verliefraak-oomblikke.

Oor trends sou ek sê obviously Euphoria. Locally is ek nie seker nie, maar enige tough and honest coming-of-age narratives. ’n Groot deel van die invloed en inspirasie waaraan baie van ons vashou, is current culture, om te sien, lees, kyk en besef wat jong studente tans om ons doen. Wat vang hulle aan op TikTok, watse songs blare uit die local pubs uit, wat dra die studente kampus toe?

MART-MARI: Kuns is gewoonlik vir my nogal brutaal – dit vat iets by jou, dit breek iets in jou, dit sluit jou in donker kamers toe om alles te konfronteer waarvoor jy wegkruip. Tog is dit ook waar die healing plaasvind, waar jy jouself raaksien en omarm. Was daar dinge wat julle wou breek met Wyfie? Idees of stories of stereotipes? Ook: Was daar iets wat julle wou géé in Wyfie?

EMILIE: Daar is geen manier om hierdie vraag te beantwoord sonder om persoonlik te raak daaroor nie. Oor die algemeen was dit vir ons geweldig belangrik om die kompleksiteit van hedendaagse studente-ervaringe uit te beeld. Selfs meer spesifiek, om die jong vrouestudent voor te stel en nie net die mooi nie, maar ook die lelik, die seer oop te vlek. Ek vind byvoorbeeld intiem aanklank by Kyla (wat deur Kristen gespeel word) se storie, en dit is vir my ongelooflik belangrik en mooi hoe ons haar storie as ’n komplekse reis vertel in plaas van ’n wit en swart afsluiting van geloof en seksualiteit.

MART-MARI: Kanya, julle is almal nog jonk en naby aan die soort universiteitslingo wat studente gebruik, maar dit is tog ’n verskynsel wat byna by die dag vernuwe. Wat was julle aanslag met die dialoog? Is daar spesifieke taal wat julle bewustelik ingesluit het om die dialoog outentiek te hou?

KANYA: Ek werk die laaste vier jaar as lektor by UCT en ek is pynlik bewus van hoe groot die generation-verskil tussen die Millennials en Gen Z’s is – van die taalgebruik tot die kwessies waaroor ons wil praat. Dit is drasties anders en iets wat ons in een van die eerste storievergaderings opgebring het. Ons almal het ’n punt gemaak daarvan om navorsing te doen – onderhoude met studente te voer, Instagram accounts te volg en ons ore en oë oop te hou. Dis altyd ’n fyn lyn, Afrikaanse dialoog. Ons praat anders as wat ons geleer is om te skryf. Waar in Suid-Afrika ons is, bepaal ook hoe ons die taal praat. So dis moeilik om die balans te vind. Maar dis ook die wonderlike ding van iets soos ’n TV-reeks, want dit begin dalk met ons woorde op die bladsy, maar dan tree daar ook ’n regisseur in, en akteurs in, en dit was vir ons almal ongelooflik belangrik dat niemand die woorde op die bladsy as die finale woord sien nie. Ons het van die begin af besluit die teks is ’n ruggraat, maar dat die akteurs die dialoog in hul eie monde moet plaas. Dat dit iets is waarmee ons almal aktief moet speel.

MART-MARI: Dit is altyd heerlik vars wanneer ’n TV-reeks onderwerpe verken wat nog nie genoeg aandag in die hoofstroommedia geniet het nie. Wyfie se lokprent maak ’n klomp beloftes van dié aard. Igna, kan jy ’n bietjie gesels oor wat is hot and happening in die reeks? Wat maak dit anders as die Afrikaanse reekse wat ons ken?

IGNA: Die eerste ding is die ruimte waarin hierdie show afspeel. Ons het ’n fantastiese, fiktiewe universiteitsruimte geskep, asook die koshuis Pantera. Ek dink die ruimte is ’n karakter in die show en ons sien hoe ons hoofkarakters interact met die space: Hoe hulle dit challenge, hoe hulle conform, hoe hulle teen sekere tradisies probeer opstaan. Selfs al was jy nie op universiteit nie, sal hierdie show vir jou intriguing wees. Dit is ’n weird bubble en ’n weird microcosm, en ons lig so ’n bietjie die sluier oor wat in ’n meisieskoshuis se gange aangaan. Dit sinspeel op daai nostalgie, maar enigiemand wat belangstel in friendship en hoe ’n mens jou early twenties navigate, sal ook by die show aanklank vind. 

Wat dit nog anders maak as ander Afrikaanse reekse, is die genre. Wyfie is ’n long format show met 90 episodes wat gewoonlik in ’n sekere manier aangebied word vir die kyker, maar ons daag definitief die grense uit. Die show is ’n mengsel van ’n drama en ’n komedie en ons is besig om iets super uniek te skep. Hierdie cool eksperimentele styl is te danke aan Marcel se ongelooflike visie vir die show (sy storie-gut is ons kompas) en die amazing produksiespan, costume-mense, ons art department, editors en die regisseurs. Hulle rise to the challenge en probeer alles op die kreatiefste, interessantste manier aanbied. Jy gaan skote sien wat jou regtig amaze — soos, what! Hoe het hulle dit reggekry? Die show gaan verskriklik mooi wees en vars voel vir die oog. Ek dink dis beslis iets waarna kykers kan uitsien.

MART-MARI: Daar is op die oomblik nogal ’n tendens in reekse wat die komplekse verhoudings tussen jong mense verken. Is daar spesifieke inspirasies, plaaslik of internasionaal (of persoonlik), wat julle beïnvloed het tydens die skryf van Wyfie?

KANYA: Ek dink die trend van komplekse verhoudings tussen jong mense is interessant om na te kyk – want ek wonder of dit dalk bestaan omdat ons verhoudings deesdae meer kompleks lyk? Of was dit nog altyd hierdie komplekse mengbak, en ons as samelewing het net ’n beter taal daarvoor gevind? Of het dit meer aanvaarbaar geraak om daaroor te praat? Reekse soos Girls, Euphoria en Conversations with friends het beslis ruimte gemaak vir die tipe gesprekke wat ons wou hê en dit was goeie references om op te bou. 

Ek het op UCT geswot en was nie self in die koshuis nie, maar het wel ’n klomp vriende op koshuis gehad. Ek het ook self ’n flat met my beste vriendin vir vier jaar gedeel. Daar’s beslis ’n paar persoonlike ervarings met universiteit wat binne die tekste van Wyfie lê – van Judith Butler en performance teorieë tot die moeilike politiese gesprekke wat mens moet voer (nie net met die mense om jou nie, maar met jouself), en die konstante gevoel dat tyd eindeloos is, maar so ook dat jy nooit genoeg daarvan het nie. Daar’s soveel klein verwysings en ek hoop mense sal dalk dele uit hul eie universiteitsjare binne die reeks kan herken.

IGNA: Ons almal om die skrywerstafel is super divers, in terme van styl ook, so ek dink ons het almal verskillende shows wat ons probeer emulate. Ek weet Ryan Pedro sê altyd hy is mal oor Atlanta wat deur Donald Glover ge-create is. Ek is nou weer baie beïnvloed deur Lena Dunham se Girls, wat so uniek en vars is, veral die karakters wat sy en die skryfspan geskep het. Dit is karakters wat amper outrageous is en jou skok, selfs repulse, maar aan die ander kant root jy ook vir almal. Die interessante, diverse en komplekse vroulike karakters is definitief iets wat ons probeer emulate in Wyfie.

Ek was self in ’n koshuis, Harmonie op Stellenbosch, en daar is definitief persoonlike ervarings wat in die show ingekruip het. In my derde jaar het ek in my koshuis se “grot” gebly – wat nie so erg was soos die grot in Wyfie nie, maar daar is klein tradisies en weird goed wat ’n mens daai tyd ge-question het. Nou, 10 jaar later, kan ek dit in Wyfie unpack en die regte vrae vra. Ons probeer regtig in die show om al die kante van universiteitskultuur te wys: the good, the bad and the ugly.

Nou, 10 jaar later, kan ek my koshuis se klein tradisies en weird goed in Wyfie unpack en die regte vrae vra. Ons probeer regtig in die show om al die kante van universiteitskultuur te wys: the good, the bad and the ugly.
— Igna Botha

Ek dink ’n koshuis is so ’n interessante organisme om die verhoudingstruktuur van female friendships te dissect en te analise. Die verhoudingstringetjie hardloop orals heen. Jy’t verhoudings met die mense in jou gang, met jou kamermaat, met jou buurvrou, met die ander 60 girls wat saam met jou in die koshuis bly. Jy’t ook jou klasvriende, wat miskien niks te doen het met jou koshuisvriende nie. So daar is definitief verhoudingsstrukture op universiteit wat interessant is, en wat ons in Wyfie ondersoek.

MART-MARI: Igna en Kanya, Marcel het gesê julle (and I quote) hardloop voor met al die mal idees en beautiful scripts vir hierdie female-driven show. Die reeks se titel, Wyfie, sluit ’n wêreld van betekenismoontlikhede oop waarin die vrou sentraal staan. Watter aspekte en ervarings van vrouwees was vir julle die belangrikste gedurende die skryf van die teks?

KANYA: Ek dink meer as enige iets was dit belangrik om eerlik te wees en te besef dat daar dalk shared elemente aan vrouwees is, maar so ook baie uiteenlopende ervaringe. Ek dink dit was vir ons almal regtig belangrik om eerlik te wees oor studentwees, maar nog meer om eerlik te wees oor wat vrouwees binne universiteit is. Ons wou Afrikaanse vrouens skep wat die binary van “die virgin” en “die whore” uitdaag – vrouens wat vloek én die Bybel lees, wat vry is met hul seksualiteit en wat hul verhoudings baie ernstig opneem, vrouens wat periods het en soms te veel takeaways eet. Komplekse karakters wat in vandag bestaan, wat binne die globale gesprekke en kwessies hulself oriënteer. Die reeks speel aktief met die feit dat vrouwees geen reëls het nie. 

Ons wou Afrikaanse vrouens skep wat die binary van ‘die virgin’ en ‘die whore’ uitdaag – vrouens wat vloek én die Bybel lees, wat vry is met hul seksualiteit en wat hul verhoudings baie ernstig opneem, vrouens wat periods het en soms te veel takeaways eet.
— Kanya Viljoen

IGNA: Ek was in ’n heavy Angie oeh phase en het Wyfie as ’n titel-idee een oggend by die skryfkamer ge-float, en almal het my eers ’n bietjie met groot oë aangekyk, want dit is ’n woord wat ’n mens ’n bietjie skok. Obviously het die woord verskillende konnotasies in verskillende gemeenskappe. Binne die konteks van Pantera, is die “wyfies” die eerstejaars; dis ’n bietjie van ’n degrading term (ag shame, wyfie, ken jou plek). Maar dan, deur die oë van ons karakters, sien ons hoe hulle hierdie term absoluut reclaim en dit hulle eie maak. 

Ek is ’n ongelooflike groot Angie oeh fan. Ek het haar live gesien by Armchair in Observatory vir een van haar eerste (en laaste) live performances. Dit het ’n profound effek op my gehad, letterlik trane in my oë. Dit was só ’n crazy experience om ’n vrou te sien wat present soos sy haarself present het, wat in Afrikaans mumblecore rap. Ek was net soos “what the fuck”. We’ve come such a long way met hoe ’n generiese Afrikaanse vrou in die musiekbedryf lyk. Dit was ’n iconic cultural moment om Angie te witness op stage, hoe sy omgaan met haar stage presence en haar confidence en hoe sy haar sexuality ge-own het. Dis so ’n voorreg dat haar musiek en kreatiwiteit voortleef op Wyfie, want haar energie en nalatenskap is ’n massive inspirasie. In die show speel ons beslis met die idee van “women who knock on doors never made history”. Wyfie se hoofkarakters is definitief nie vrouens wat gaan sit en wag en soet aan ’n deur klop as hulle iets wil hê nie. Hulle gaan die deur oopruk en fokken fight.

Deel hierdie storie


Eerste en oudste Afrikaanse tydskrif, sedert 1896

Divers, progressief en vars. Waardeer jy ’n stem soos Klyntji s’n? Het jy van Wyfie lig die sluier oor wat in vrouekoshuise aangaan gehou? Dan ondersteun ons. Donasies van lesers word gebruik om ons bedieningkostes te betaal: jou bydrae hou Klyntji aanlyn. Vriende van Klyntji word op hierdie bladsy erken. Elke bietjie help.


 Eenmalig R
 Maandeliks R


Klyntji verklaar 'n klimaat en ekologiese noodtoestand