Afrikaans daar ver in die wêreld

Afrikaans daar ver in die wêreld

Moltreinkonsert, Buenos Aires / Foto’s: Adam Heyns

Adam Heyns oor sy ontmoetings in Patagonië

By die Agüera-subwaystasie klim ek af. Op straatvlak is dit lente in Buenos Aires, Argentinië. 

Ek het pas 90 dae in ’n daktent en 18,000 km op die pad in landelike Suid-Amerika deurgebring, waar ek saam met Johan Badenhorst aan die verfilming van die TV-reisprogram, Voetspore, gewerk het. Ek het besluit om aan te bly en my Spaans te verbeter by die Academia de Buenos Aires.

Recoleta is ’n fancy woonbuurt. ’n Mens kan verstaan waarom hulle Buenos Aires die “Parys van Suid-Amerika” noem. Reuse-boulevards, standbeelde, parke, kunsmuseums en fashionable mense. Ná al my ontberinge die afgelope paar maande, voel die gerief van die groot stad asof die lewe in easy mode is.

Twee ouens met edgy kapsels en AirPods draf verby. Vrouens met groot sonbrille en klein hondjies sit by coffee shops en swipe op hulle fone. Die sokkerwêreldbeker begin oor ’n week. Die ligblou en wit strepe van die Argentynse vlag wapper orals. Lionel Messi is op billboards en in winkelvensters. 

Ek kyk weer na my Instagram inbox. Carolina Nuñez. Ja, ek is waar ons afgespreek het. Carolina is ’n Argentyn, maar haar voorouers is Afrikaners. Afrikaanse mense. Vier generasies tevore, in die 1900’s, was haar familie deel van ’n groep Afrikaanssprekendes wat per skip in Argentinië aangekom het. Drie weke tevore en sowat 1500 km suid van waar ek nou op die sypaadjie staan en wag, het ek haar ouma in Patagonië ontmoet. 

Terwyl ek vir Carolina sit en wag, wonder ek of sy enige Afrikaans praat, dalk aangeleer by haar ouma en ander familielede wat die taal saamgebring het Suid-Amerika toe? Hoe lank kan ’n taal lewendig bly, so ver van die plek waar dit vandaan kom?

’n Toneel uit Patagonië

Een-twee-drie blok myself: Afrikaans in Patagonië

Hier’s die storie kortliks soos dit aan my vertel is deur die persone met wie ek in Patagonië gesels het: Ná die Anglo-Boereoorlog in 1902 was Suid-Afrika nie ’n lekker plek vir die Afrikaners nie. Die Britte het met hulle verskroeide aarde-beleid alles afgebrand. Argentinië het in daardie tyd ’n radikale immigrasie-beleid gevolg. Hulle was in ’n grensdispuut met Chile. In die noorde is die grens deur die Andes-bergreeks aangedui. In die suide was dit minder duidelik: Die landskap word platter. So, as Chile of Argentinë mense daar kon laat vestig, kan hulle die grond eis. Dit was ’n “een-twee-drie blok myself”-tipe situasie. So, hier was Argentinië se aanbod aan die wêreld: Ons sal vir julle burgerskap en grond gee om op te boer, kom net Argentinië toe. En onthou julle Bybels

Vir party van die Afrikaners het dit soos ’n great idee geklink. Baie was bloot desperaat. Miskien het party van hulle dit gesien as die volgende been van die Groot Trek? Elk geval, so het ’n klomp families op die boot geklim en oor die Atlantiese Oseaan geseil tot Comodoro Rivadavia in Patagonië. 

Dis hier waar ons – ek en die Voetspore-reisprogramspan – vir Karina Thomas ontmoet. Karina is ’n afstammeling van onder andere die Naudé’s en Pelsers. Sy bestuur ’n sokkerakademie in hierdie area. Karina is baie selfbewus oor haar gebrekkige Engels, maar sy is effektief. Sy plaas my in kontak met al die Afrikaner-afstammelinge wat sy kon opspoor. 

Karina Thomas

Ouma Catalina en haar familie

Ek en die Voetspore-span bevind ons by ’n ete omring deur Spaanssprekendes wat óf self Afrikaans praat óf wie se ouers en grootouers nog die taal van húlle voorouers se geboorteland praat. 

Regs van my aan die etenstafel sit Carolina se ouma, Catalina. Tannie Catalina is ’n tweede-generasie-Afrikaner in Argentinië. Haar ouma en oupa is in die 1800’s in Suid-Afrika gebore. Sy praat nog Afrikaans, maar sy was nog nooit in Suid-Afrika nie. Dis so ’n ou tipe Afrikaans… amper soos Nederlands. Afrikaans wat jy in die 1933-Bybel-vertaling sal vind.

“Ek is daar in die veld gebore,” sê sy terwyl sy die slaaibak vir my aangee. Tot en met ses jaar oud het kinders op die plaas gebly en die huishouding was volledig Afrikaans. Dis eers toe hulle skool toe gaan dat hulle Spaans begin praat het. “My ouma is in Afrika gebore,” sê die tannie. Ek let op sy sê “Afrika” en nie “Suid-Afrika” nie. Toe haar ouma en oupa op die skip geklim het, het die land Suid-Afrika nog nie eens bestaan nie. 

(In 1902 was daar die Boere-republieke: die Transvaal en Vrystaat, en die Britse kolonies aan die kus: die Kaap en Natal. Die “Unie van Suid-Afrika” het eers in 1910 tot stand gekom, onafhanklikheid van Brittanje is eers verkry in 1931 en full-on republiekswording het in 1961 plaasgevind.)

Tannie Catalina stel my aan haar dogter Lucia voor. Lucia is ’n biblioteekaresse en sy praat net Spaans. Toe sy hoor ek is op pad Buenos Aires toe, gee Lucia vir my haar dogter Carolina se Instagram details. 

Aangename kennis, my naam is Denis

Links van my aan tafel sit Denis Kruger. Ja, “Kruger”, soos in verlangs familie van Paul Kruger.

Denis lyk vir my volledig Argentyns, eerder as iemand met Suid-Afrikaanse herkoms. Hy swot regte en gaan amper graadvang. Hy gee net kort antwoorde op my vrae. Is hy skaam? Verveel ek hom? Dis maar net die taalgrens, sê ek vir myself. So ek gesels maar met tannie Catalina. 

Barrie Dickason, die gasheer van die ete, is ook ’n afstammeling van die Afrikaners. Hy woon in ’n netjiese suburban huisie. Ek kan agterkom dat hy met my wil gesels, maar die taal hou hom terug. So, hy dra wyn aan. Hy is trots op sy familie se geskiedenis. Hy gaan haal ’n boks vol ou foto’s en dokumente. Oorspronklike swart en wit prints van die eerste Afrikaner-setlaars in hierdie area. Op een van die foto’s sien ek ’n Swart bediende met ’n Wit kind op haar skoot. 

Ná ’n ruk maak Denis oop. Hy praat met my in Afrikaans, versigtig en met ’n Spaanse aksent. Dis bizar, maar dis verstaanbaar. 

Hy het onlangs besluit om Afrikaans te leer. Hy neem aanlyn klasse by ’n Afrikaanse juffrou van Pretoria. Hoekom, wil ek weet? Hy stel belang in sy erfenis, sê hy. “Dis die taal van my pa en my oupa. Dit het gevoel soos iets wat ek moet doen.” Hy sê hy sal baie graag eendag Suid-Afrika wil besoek. 

Wanneer hy Afrikaans praat, is daar elke nou en dan ’n direkte vertaling uit Spaans. Hy sê byvoorbeeld “Ek het 22 jaar” en nie “Ek is 22 jaar oud” nie. Partykeer vergeet hy van die dubbelnegatief. Maar tog is ek verbaas en beïndruk deur sy Afrikaans. Ek verstaan die uitdagings daarvan om ’n taal aan te leer. Ek is immers ’n Afrikaanssprekende wat besig is om Spaans aan te leer. 

Ek kry sy WhatsApp-nommer en stuur vir hom ’n link na ’n Francois van Coke music video, ‘Nie alleen nie’, wat so paar dae gelede vrygestel is. “Jy’s nie alleen nie / Weet dis moeilik om te glo / Weet dit voel nogal so / Dis lank en dis verniet / Somerreën en dronkverdriet / Daar’s baie mense hier / Jy’s nie alleen nie.”

O, bring my terug na die ou Transvaal

Ek, Karina en die Voetspore-span volg ’n grondpad na die binneland. Dis droog en plat. Hierdie deel van Patagonië herinner my dadelik aan die Karoo. Mens kan verstaan hoe die Afrika- en Suid-Amerika-kontinente eens op ’n tyd teen mekaar lepelgelê het. 

’n Bordjie teen ’n plaashek lees “Estancia Nicolas Venter”. Venter. Teen pale by die ingang is daar karkasse van uitgedroogte pumas vasgebind. Party van hulle koppe is afgekap. 

Die Venters boer hier. Chubut, Patagonië

Pumas, wees gewaarsku

Skaapplaas

Uiteindelik vind ons die plaas. Oom Jan Schlebush (of “Juan” soos hulle hom hier noem) is 80, maar hy ry nog perd. Ek herken hom van die dokumentêr Boere op aardsdrempel (2015). Hy het blou oë, reuse-, harde hande en ’n stoute glimlag. 

Oom Juan praat vlot Afrikaans, en amper onophoudelik. Dis asof al sy Afrikaanse woorde binne-in hom opgedam het en hy nou uiteindelik uiting kan gee daaraan aan mense wat dit kan verstaan.

Sy plaasopstal is eenvoudig. Terwyl hy praat, maak hy ’n vuurtjie teen ’n muur. Hy loop na ’n boom en haal ’n skaaprib van ’n tak af. Dis daar versteek sodat sy honde dit nie kan bykom nie. Hy neem iets wat lyk soos ’n swaard, en ryg dit deur die skaapribbes. Dan druk hy die swaard in die grond langs die vuur. Simplisties.

“Hoekom hang julle die dooie pumas so teen die plaashekke?” vra ek. 

“Die pumas is ’n pes vir ons skaap,” antwoord die oom. “En hulle eet nie die skaap nie. Byt net hulle nekke af. Sommer 20 op een slag.” Die karkasse is veronderstel om die ander pumas af te skrik. Of dit werk, weet ek nie. 

Oom Juan verwys gereeld na die “ou mense”: sy oupa en ouma wat hom Afrikaans geleer het. Soos hy gesels, neem hy sy knipmes en sny die ribbes een vir een af en stuur dit vir ons aan.

(Daar is ’n vreemde kontras in die aanspreekvorm “oom” – wat so maklik met die Afrikaanse taal en kultuur geassosieer word – wanneer dit dan deur ’n Spaanse naam gevolg word.)

Toe ons groet, begin sy oë waterig word. Ek probeer om sy hand te skud, maar dit verander in ’n awkward drukkie.

Oom Jan “Juan” Schlebusch

Skaapbraai / Asado de oveja

O moenie huil nie, o moenie treur nie

Ons ry verder om nog ’n Afrikaanssprekende boer in Chubut te ontmoet. Hier word Stefan van der Merwe as “Esteban” aangespreek. Hy lyk soos ’n oom wat jy in ’n kroeg in Kroonstad sal raakloop. Oom Esteban praat ook Afrikaans, maar hy gryp kort-kort na Spaans wanneer hy nie die Afrikaanse woord vinnig genoeg kan vind nie. Sy dogter Marina groet vriendelik en maak empanadas in die kombuis. Sy praat net Spaans.

Hy speel vir ons ‘Sarie Marais’ en ‘Bobbejaan klim die berg’ op sy trekklavier. Op die werf loop honde, skape en eende rond. Hy boer so half met iets van alles, lyk dit my. Op die tafel lê ’n kopbeen van ’n puma.

Oom Stefan “Esteban” van der Merwe

Van der Merwe-dogter en -pa

Ná die trekklavier-vertoning wys oom Esteban vir my sy VHS tapes: glitchy footage van boeresports, sakresies, jukskei en langarmsokkie. Die drie-kleur maak ook sy verskyning. Die Afrikaner-afstammelinge het tot en met die laat 80’s een keer per jaar bymekaar gekom by Sierra Chaira om hulle erfenis te vier. Hierdie kultuurbyeenkomste gebeur nie meer nie, sê oom Esteban.

Toe ons groet, verander daar ook iets in hom. Sy stem raak dunner en hy probeer om sy emosies met ’n glimlag weg te steek. Wat was dit wat oom Juan en oom Esteban so geroer het? Was dit die verbintenis met die sogenaamde “tuisland”, “vaderland”? Of miskien het ons gesprekke in Afrikaans – die klankbaan van hulle jeug – hulle melankolies laat voel. Afrikaans is immers die taal van hulle ma’s, pa’s, boeties, sussies, niggies, nefies en selfs speelmaats. Dalk het ons hulle net herinner aan almal wat nie meer by hulle is nie. 

Chubut, Argentinië

Span skaapskeerders vat ’n ruskans, Chubut

Die NG Kerk in Comodoro Rivadavia 

Ons stop by die (voormalige) NG Kerk in die middestad. Bo die kansel staan daar in die hout uitgekerf: “God alleen die Eer.” ’n Nuwer houtbordjie onderaan lees: “Solo a dios la Gloria.”

In een van die hoofstrate sien ons ’n gedenkmuur volledig met ’n ossewa en ’n kaart van Suid-Afrika. “1902–2002.” Dit is opgerig vir die eeufeesviering van die aankoms van die Afrikaners in Patagonië. Ek sien op Google Maps daar is ’n klein plekkie teen die kus genaamd “Puerto Visser”.

In die begraafplaas vind ek nog Afrikaanse vanne. Pedro Jose (Petrus Josef) Kruger, 1882–1989; Gerhardo (Gerhardus) van Heerden, 1889–1979; Johanna Meyer, 1905–1994. 

Karina neem ons na die Afrikaner-vereniging se klubhuis. Daar ontmoet ons ’n klomp tannies wat Afrikaans kan praat. Hulle bedien melktert en die weirdste koeksisters wat ek al ooit gesien het. Die koeksisters is baie lank, maer en is heeltemal te veel keer gevleg en gedraai. Die melktert smaak meer bekend. Daar is selfs ’n kamer met klomp Afrikaner-artefakte: ’n miniatuur-replika van ’n ossewa, modelle van skepe, gehekelde doilies met Afrikaanse gesegdes. 

Comodoro Rivadavia, Patagonië

Don’t cry for me Argentina

Terug in Buenos Aires, waar ek vir Carolina ontmoet. Ek en sy stap in die rigting van die Recoleta-begraafplaas. Carolina is ’n tweedejaar-mediese student aan UBA (Buenos Aires-Universiteit).

By die ingang van die begraafplaas moet ons toegang betaal. No cash. Please do not insist. :( lees ’n poster by die kassier.

Argentinië beleef tans hiperinflasie, sowat 100%. Daar’s ’n dual-currency-sisteem. Almal, veral toeriste, ruil kontant-Amerikaanse dollars vir Argentynse pesos op straat. So kry ’n mens die onoffisiële “blou dollar”-wisselkoers: sowat dubbel die offisiële koers. “You know why our economy is like that?” Sy vryf twee vingers teen mekaar. “Politicians, they steal the money.” 

Recoleta-begraafplaas, Buenos Aires

Recoleta-begraafplaas, Buenos Aires

Die begraafplaas is ’n doolhof. Die rykes en bekendes van Suid-Amerika word hier neergelê. Reuse-standbeelde van engele treur oor die grafte. Party van die tombes is groter as my woonstel in Palermo. Deur die vensters kan mens die doodskiste nog sien. Spiraaltrappe krul onder die grond in waar die res van die dooie familie lê. 

Carolina vertel hoe sy en haar niggie Suid-Afrika ’n paar jaar gelede besoek het. Hulle het via Facebook kontak gemaak met verlangse familie in Suid-Afrika. Hulle het by ’n konserwatiewe Afrikaanse huishouding in Kleinmond tuisgegaan. “I was 18 and it was kind of weird,” sê sy. Geen vloekwoorde, alkohol of kort rokkies is geduld nie. Saans was hulle vroeg in die bed. “It felt like I was in the years before Christ.”

Sy vertel daar was geen jong mense in Kleinmond met wie hulle kon uithang nie. “Too much old people.” Hulle het darem een naweek in Kaapstad deurgebring, maar hulle gasvrou het hulle weggehou van Stellenbosch en gewaarsku teen die morele verval van die jeug in dié universiteitsdorp. 

Dis moeilik om te sê hoeveel Afrikaanssprekende mense daar nog in Argentinië is. Maar dit is klaarblyklik meestal die ouer generasie wat die taal nog praat. Behalwe vir Denis. So, gaan Afrikaans in Patagonië uitsterf? Ek dink so, ja. Dit is ’n voorreg om die laaste flikkers daarvan te kon waarneem. Afrikaans in groot dele van Suid-Afrika is reeds so onwaarskynlik. Hierdie deel van die Afrikaner-storie is amper ongelooflik.

Ek dink aan my eie nefies en niggies in Brisbane en in California. Ná hoeveel generasies gaan hulle ook nie meer Afrikaans kan praat nie? 

Carolina lei my verder deur die begraafplaas. Ek neem ’n paar foto’s. Ons gesels oor hoe ek haar ouma ontmoet het. Sy verwys nog na haar ouma as “ouma” en nie as “abuela” nie. Sy weet hoe om te sê “baie dankie” en “goeiedag”. Maar dit is omtrent dit. Ek sê vir haar sy moet weer in Suid-Afrika kom kuier.

Ek neem nog ’n portret van haar. Sy’s ’n jong Afrikaner-afstammeling in Argentinië. En een dag gaan sy ’n dokter word. Ek sit die kamera neer en kyk weer na haar: Sy verteenwoordig ’n taal wat uitsterf, maar ook nuwe lewe. 

Carolina Nuñez


Adam Heyns is ’n videograaf en storieverteller gebaseer in Kaapstad.

Deel hierdie storie


Eerste en oudste Afrikaanse tydskrif, sedert 1896

Divers, progressief en vars. Waardeer jy ’n stem soos Klyntji s’n? Het jy van Afrikaans daar ver in die wêreld gehou? Dan ondersteun ons. Donasies van lesers word gebruik om ons bedieningkostes te betaal: jou bydrae hou Klyntji aanlyn. Vriende van Klyntji word op hierdie bladsy erken. Elke bietjie help.


 Eenmalig R
 Maandeliks R


Klyntji verklaar 'n klimaat en ekologiese noodtoestand