Randall van den Heever se alternatiewe Afrikaans

Randall van den Heever, datum onbekend. Foto via @SADTU National
Sean Jacobs skryf oor 'n ánder begrip van 'alternatiewe Afrikaans'
In die middel 1980’s het ’n groep Afrikaanse onderwysers en skrywers wat geput het uit die werk van historici en sosiolinguiste (insluitend sommige Wit geleerdes) die kreoolse oorsprong van Afrikaans op die voorgrond begin stel. In plaas daarvan om een uitdrukking van die taal te bevoorreg, dié van “standaard” of die Afrikaans wat deur Wit sprekers gepraat word, het hulle beklemtoon dat die meerderheid Afrikaanssprekendes nie Wit is nie en dat die taal self uit slawerny ontstaan het. Aan die leiding van hierdie beweging was Randall van den Heever, ’n onderwyser en skoolhoof op die Kaapse Vlakte.
Begin Desember verlede jaar is Van den Heever – ook ’n openbare intellektueel, vakbondleier, postapartheid-parlementslid en taalaktivis – oorlede. Hy was afgetree en het voor sy afsterwe op Beaufort-Wes gewoon.
Vir diegene wat nie vertroud is met sy merkwaardige lewe nie: Van den Heever (1950–2024) was ’n deurslaggewende politieke en kulturele figuur van die 1980’s tot die vroeë 2000’s, nie net in die Wes-Kaap nie, maar ook op nasionale vlak. Hy het begin om nasionale bekendheid te verwerf toe hy deel was van ’n afvaardiging van Wit en Swart (en Bruin) Afrikaanse intellektuele, insluitend wyle Jakes Gerwel en Breyten Breytenbach, wat in 1987 met die uitgeweke ANC in Dakar, Senegal vergader het. Van den Heever het in 1990 die eerste hoofsekretaris van die Suid-Afrikaanse Demokratiese Onderwysersunie (SADOU) geword. SADOU het progressiewe Swart (insluitend Bruin en Indiër) onderwysersvakbonde verenig en was vir ’n tyd Suid-Afrika se grootste vakbond in die openbare sektor. Dit is ook later geaffilieer met COSATU, die land se grootste vakbondfederasie, en het ’n deurslaggewende rol gespeel in die vorming van onderwysbeleid tydens die politieke oorgang. Ná Suid-Afrika se eerste demokratiese verkiesing het Van den Heever vir drie termyne as ANC-LP, as ’n agterbanker, tussen 1994 en 2009 gedien, en later as raadgewer van die minister van basiese onderwys, met ’n fokus op laer- en hoërskoolonderwys.
In die Kaap het Van den Heever aanvanklik bekend geword as die hoof van Spes Bona, ’n skool vir Bruin seuns in Athlone, een van die stad se eerste Bruin townships. Hy het ook ’n sleutelrol gespeel in die Bruin onderwysersvakbond, die KPO (Kaapse Professionele Onderwysunie), bekend vir sy geleidelike benadering tot onderwyshervorming en sy gematigde teenstand teen apartheid. Nieteenstaande, saam met Franklin Sonn was hy instrumenteel in die verskuiwing van die KPO na nasionale bevrydingspolitiek en die aanvaarding van die Vryheidsmanifes in die tagtigerjare. Uiteindelik het Van den Heever van KPO se lede oortuig om die KPO te verlaat en SADOU te help stig. (Diegene wat vertroud is met SADTU-politiek en -geskiedenis sal oplet dat Van den Heever se dood net maande ná die heengaan van SADTU se stigterspresident, Shepherd Mdladlana [1952–2024] kom.) Op ’n stadium het Van den Heever ook as die adjunk-ANC-provinsiale leier in die Wes-Kaap gedien.
Alhoewel die bogenoemde alles betekenisvol is, is wat ek veral wil uitlig, Van den Heever se betrokkenheid by die politiek rondom “Swart (of alternatiewe) Afrikaans”. Hierdie idee van “alternatief” het verskil van die Wit alt-musiekbeweging – veral bekend as Voëlvry – van die laat 1980’s. Hy het ’n kort boek hieroor geskryf, getiteld Tree na vryheid: ’n studie in alternatiewe Afrikaans.
Van den Heever en sy kollegas het klem gelê op die rykdom van Afrikaans soos gepraat deur Bruin mense uit die werkersklas – ’n Afrikaans wat nie in amptelike skoolkurrikulums of pedagogiek weerspieël word nie. Ek was destyds op hoërskool en sou later Afrikaans-Nederlands aan die Universiteit van Kaapstad studeer, waar ek van Van den Heever se navorsingsvrae en debatte dieper ondersoek het.
Van den Heever se standpunt was dat Bruin studente toegelaat moet word om Afrikaans te praat soos hulle dit by die huis praat, sonder om gepenaliseer te word – byvoorbeeld tydens mondelinge aanbiedings – omdat hulle nie die “standaard” (dit wil sê, Wit) weergawe van die taal gebruik nie. Van den Heever en sy kollegas het ook aangedring op hervormings in die uitgewersbedryf. Terwyl sommige Wit Afrikaanse uitgewers ’n paar Bruin Afrikaanse skrywers in hul bloemlesings ingesluit het – outeurs soos PJ Philander, SV Peterson en veral Adam Small – het ’n nuwe generasie Swart Afrikaanse skrywers gemarginaliseer gevoel.
“Van den Heever se standpunt was dat Bruin studente toegelaat moet word om Afrikaans te praat soos hulle dit by die huis praat, sonder om gepenaliseer te word – byvoorbeeld tydens mondelinge aanbiedings – omdat hulle nie die “standaard” (dit wil sê, Wit) weergawe van die taal gebruik nie. ”
Die gevolg was die stigting van ’n Swart (dit wil sê, alternatiewe) Afrikaanse literêre beweging in die laat 1980’s, met digters soos Patrick Peterson, André Boezak en Peter Snyders vooraan. Hulle het begin om mekaar se werk te publiseer en te bevorder, wat ’n duidelike literêre ruimte vir Swart Afrikaanse uitdrukking geskep het. Ongelukkig het hierdie beweging nie oorleef nie – ’n slagoffer van etniese politiek, veranderinge aan die mediabedryf en die boekbedryf as besigheid.
Nietemin, in baie opsigte glo ek dat hierdie beweging die grondslag gelê het vir die opkoms van ander kulturele uitdrukkings, soos Afrikaanse rap in die 1990’s en die eerste twee dekades van die 2000’s. Kunstenaars soos Prophets of Da City (POC), Brasse Vannie Kaap en Isaac Mutant het dieselfde Afrikaans bevorder, en in die proses het hulle die taal se kulturele resonansie verder buite die grense van Wit Afrikanernasionalisme versterk.
In hierdie huidige anti-intellektuele moment in die Suid-Afrikaanse politiek en kultuur is dit belangrik dat hierdie geskiedenis en die bydraes van mense soos Van den Heever nie vergeet word nie.
Sean Jacobs is ’n professor en direkteur van die nagraadse program in buitelandse sake by The New School in New York City. Hy is ook die stigter van die aanlyn joernaal Africa is a Country.
plus: oproep om bydraes vir die vyfde swart afrikaanse skrywersimposium
Die Departement Afrikaans en Nederlandistiek van die Universiteit van Wes-Kaapland bied vanjaar van 9 tot 11 Oktober die vyfde Swart Afrikaanse Skrywersimposium aan, 40 jaar ná die eerste. Sien die oproep om bydraes hier. Lees meer oor die oorsprong van dié byeenkoms hier.
Eerste en oudste Afrikaanse tydskrif, sedert 1896
Ons bou aan ’n moderne beeld van hoe Afrikaanswees lyk, lees en klink. Het jy van Randall van den Heever se alternatiewe Afrikaans gehou? Dan ondersteun ons. Vriende van Klyntji word op hierdie bladsy gelys.