Frieda van den Heever se werk is vir my heilsaam
As die lewe jou druk, dan druk jy terug met woorde en musiek, skryf Miché van Wyk
Toe kunstenaar Adele destyds aankondig dat sy op skei staan, het haar aanhangers gegrap oor hoe gevaarlik haar nuwe album sal wees. En moenie ’n fout maak nie, Adele het deliver. Vir my is die mooiste kuns dit wat rou en eerlik is. Persoonlike ervaringe van verlies en trauma wat woordeskat kry sonder om onnodig sentimenteel te wees.
In ’n onlangse artikel ondersoek Heilna du Plooy hoe poësie die vermoë het om trauma te help verwerk, nie net vir die digter nie, maar ook vir die leser. Sy skryf oor hoe poësie (maar ook ander vorme van kuns) as ’n uitlaatklep gebruik kan word:
Aanvanklik is daar vir enige skrywer (en ook vir mense in die algemeen) wat trauma ervaar het, verligting in die skryfhandeling self. Om die emosie uit te spreek, om dit op papier te kry, asof die papier die besonderhede en intensiteit van die ervaring moet dra sodat die persoon wat dit ervaar het, nie meer alles hoef te onthou of dit alleen hoef te dra nie, laat spanning onteenseglik afwentel.
Du Plooy wend haar onder andere na die gedigte van Joan Hambidge, TT Cloete en Sheila Cussons om te demonstreer hoe Afrikaanse digters met persoonlike en kollektiewe trauma omgaan in hulle poësie. Kuns bly tog ’n uiting van emosies en lewenservaring. Op so ’n manier bring dit heling vir die kunstenaar, maar dit is die emosie wat vasgevang word in die kunswerk wat ook die gehoor deel maak van die ervaring.
Een merkwaardige kunstenaar wat met groot deernis aan verlies en trauma uiting gee in haar kuns, is Frieda van den Heever.
Dié Namakwalander is ’n veelsydige digter, musikant en teatermaker. Sy is veral bekend vir haar musiek en woordkuns, en sit ook gereeld in die regisseurstoel – mees onlangs vir die saamgestelde shows van Adam Small en Antjie Krog se gedigte Die poet, wie’s hy? en Die oerkluts kwyt. Frieda is ook ’n stemkunstenaar en word gereeld in RSG se radiodramas gehoor. Ek het haar leer ken as my kabaretdosent by die Universiteit Stellenbosch se dramadepartement. As musikant tree sy op as Frieda Kruger – haar oorlede man se van.
Die afgelope paar jaar het Frieda se werk veral te make met verlange, verlies en hoe dit ons meer mens maak. As die lewe jou druk, dan druk jy terug met woorde. Haar produksie Skoonveld was in 2023 terug op die Toyota US Woordfees se musiekprogram nadat dit die vorige jaar ’n Woordtrofee gewen het vir beste kontemporêre musiekproduksie. Ek het dit in 2022 gesien en kon myself nie keer om dit verlede jaar wéér te gaan kyk nie. Ek is weer eens uit die veld geslaan deur hoe mooi menswees vasgevang kan word in woorde en musiek.
In hierdie produksie vermeng Frieda haar musiek met haar eie vertellings en gedigte, sowel as bestaande werke van digters soos Breyten Breytenbach en Lynthia Julius. Sy deel die verhoog met Schalk van der Merwe (baskitaar), Frank Freeman (elektriese en akoestiese kitaar), Annemie Nel (tromme en perkussie) en Marina Louw (altviool). Frieda open die show met haar song ‘Asem’. Dit is betekenisvol, want dit is tog waar alles begin. Hoe kom jy op vir asem as die lewe moeilik word? vra sy.
Die songs het my diep geraak en op ’n journey geneem van onthou wat in my eie lewe gebeur het. Frieda skep vanuit ’n persoonlike plek, en dít maak die produksie intiem en rou. Ek glo Skoonveld bring troos vir menigte.
Haar liefde en waardering vir Afrikaanse digkuns het vroeër verlede jaar op ’n ander manier vergestalt deur die bundel Die lewe is ’n asem lank (2023, NB uitgewers) wat sy saamgestel het.
“Ek het, nadat die ergste skok uit my lyf was ná my man se dood, my toevlug in literatuur probeer vind,” vertel Frieda aan Laetitia Pople (Netwerk24, 2023). “Die enigste ding wat ons weet van hierdie lewe is dat ons nie lewend hier gaan uitkom nie. As ’n mens daardie aardskuddende feit aanvaar en begin vier dat juis dit – ons verganklikheid – aan tyd sy waarde gee, kan die lewe gelééf word.”
Die bundel bevat 100 gedigte oor verlies en vertroosting en sluit vele bekende Afrikaanse digters se werk in, van ouer digters soos NP van Wyk Louw, Elisabeth Eybers en Ingrid Jonker tot nuwer stemme soos Pieter Odendaal, Ashwin Arendse en Jolyn Phillips.
“Dit was vir my belangrik om gedigte in te sluit van verskillende soorte verlies,” sê Frieda verder in bogenoemde onderhoud. “[Die bundel bevat] gedigte oor die saamleef met die dood van ouers, van kinders, van nabye vriende en ook lovers. Ek hoef nie alles te begryp om daardeur aangegryp te word nie en dis wat hierdie gedigte my kom leer het.”
Heilsaam is Frieda se werk. Mag dit nog vir lank vir baie soos ’n vertroostende drukkie voel.
Hierdie storie is moontlik gemaak deur die Art Stories Incubator-program van Breinstorm Brand Architects, in samewerking met Klyntji. Dit is befonds deur ’n PESP-3-toekenning wat ondersteun word deur BASA en die Departement van Sport, Kuns en Kultuur.
Dié storie is ingevolge ’n Creative Commons Attribution-NonCommercial-NoDerivatives-lisensie gepubliseer. Dit mag dus herpubliseer word onder die lisensievoorwaardes, solank ’n skakel na die oorspronklike Klyntji-storie ingesluit is, saam met die erkenning hierbo.