Kanya Viljoen in gesprek met Pieter Odendaal

Kanya Viljoen in gesprek met Pieter Odendaal

Jill Levenberg, Ben Albertyn en Tyrish Mili in Droomwerk / foto: Liese Kuhn

Oor water, identiteit, ancestry, taal en eko-spiritualiteit in Ontaard en Droomwerk

Pieter Odendaal se tweede bundel Ontaard (Tafelberg, 2023) het onlangs verskyn. Die tematiek van menigte van die gedigte in die bundel stem ooreen met die kwessies rondom identiteit en familiegeskiedenis wat die digter in Droomwerk ondersoek, die toneelstuk wat hy geskryf en vervaardig het en wat vanjaar vir die eerste keer op die planke gebring is. Die Droomwerk-teks word ook eersdaags deur Protea Boekhuis vrygestel. 

Kanya Viljoen, regisseur van Droomwerk, gesels met Pieter oor Ontaard en hierdie toneelstuk waarvoor hulle kragte saamgespan het. Hulle gesprek het via stemboodskappe plaasgevind en is deur Miché van Wyk getranskribeer.


KANYA: Met die lees van Ontaard het die beeld van water oor en oor bly opkom. Ek dink as die water mens eers beet het, bly dit jou by. Waar kom jou fiksasie op water vandaan?

PIETER: Van kleins af was ek nog altyd baie lief vir water gewees. Om in of naby die water te wees, kalmeer my. Op ’n sielkundige vlak het ek daardie verbintenis met water. Maar ek is ook gefassineer met hoe allesomvattend water is. Ek onthou op skool, in biologie, het ons geleer oor die verskillende rolle wat water in biologiese prosesse vervul, hoe dit die kern van lewe is. 

Toe ek my PhD gedoen het, het ek ’n projek saam met ander digters in Kaapstad aangepak oor ons verhoudings met water na aanleiding van die droogte en waterbeperkings van 2016–2018. Dit het my aan die dink gesit oor my eie verhouding met water. Water is ook ’n means of transport – my voorouers het via water hier in Suid-Afrika aangekom, so daar is daardie geskiedenis – en natuurlik ook die spirituele dimensies van water wat cleanse, wat gebruik word om oor te begin. Hier in Potch gaan ek dikwels na waterliggame – die Mooirivier is net hier oorkant die pad van waar ek bly. Ek gaan daarheen om te gaan bid, te gaan bad, met my voorouers te gesels. 

Hier in Potch gaan ek dikwels na waterliggame – die Mooirivier is net hier oorkant die pad van waar ek bly. Ek gaan daarheen om te gaan bid, te gaan bad, met my voorouers te gesels.
— Pieter Odendaal

Maar water kan ook gevaarlik wees. Dit is stormagtig. Dit lei tot vloede, dit kan verwoes. Ek dink die poem ‘Tsunami’ in Ontaard vang iets vas van daai krag wat water het. Dit kan mens ook onrustig stem. Hierdie verskillende dimensies van water verteenwoordig verskeie aspekte van wat dit is om te leef.

KANYA: In jou debuuttoneelstuk Droomwerk word water as ’n kernkonsep gebruik – nie net as voorwerp wat spreek tot ons slaaf- en koloniale ancestry nie, maar ook hierdie liggaam wat ’n wete dra van ’n worsteling, iets wreeds. Dit het my laat dink daaroor of water nie ’n ongelooflike simbool vir die Suid-Afrikaneridentiteit, die hedendaagse Afrikaneridentiteit is nie. Wat dink jy? 

PIETER: Ek is maar altyd skrikkerig om sweeping statements oor identiteit te maak, of om namens ’n groep mense te praat wat hulleself as Afrikaners identifiseer – dis ’n komplekse kwessie. Maar die wonderlike ding van water is dat dit malleable is, dit neem die vorm aan van die ruimte wat dit inhabit. 

Daar is baie wat ons by water kan leer in terme van identiteit: Being gentle as water, maar ook dat ’n mens versigtig moet wees vir water, nes jy versigtig moet wees vir identiteit en maklike antwoorde oor wie jy is. Dis vir my makliker om te sê wie en waar ek nóú is as om abstrakte idees aan myself te koppel, soos die idee van Afrikaneridentiteit. Die strik waarin baie van ons voorouers geval het, is om vas te klou aan die idee van ’n christelik-nasionale identiteit waarrondom alles gedraai het en die vrees dat dit deur sogenaamde external forces verdring sou word. Ek hou baie meer van die idee van ’n ewig-veranderende stroom waarin ons altyd onderweg is, om die vorm van die ruimte aan te neem wanneer en waar ek nóú is. Ek dink daar is ook iets te sê oor die deursigtigheid van water. Dis ’n beginsel wat ek probeer nastreef in hoe ek myself sien en hoe ek myself represent en interact met mense in ’n space – om transparent te wees en toe te laat dat mense ook mekaar deur my kan sien.

KANYA: In beide Ontaard en Droomwerk is daar ook hierdie gevoel dat jy jou familiegeskiedenis opskryf. Nie net as Pieter nie, nie net as Suid-Afrikaner nie, maar ook om jouself binne die Suid-Afrikaanse konteks te verstaan. Ek dink byvoorbeeld spesifiek aan die gedig ‘Die oorvol heuwels van Makhanda’ waar daar ’n kombinasie is van mite en geskiedenis – wat terselfdertyd joune is en ook nié joune is nie. Ek wonder wat veeltaligheid daarmee te doen het? Vind jy dat hoe meer tale jy praat en kan verstaan, hoe meer verstaan jy dat jou hele menswees ook saamgevleg word deur stories, deur kleiner geskiedenisse wat ook groot geskiedenisse is wat jou saamsnoer? 

PIETER: Wanneer daar met ons landsgeskiedenis omgegaan word, skemer daar dikwels ’n soort denial deur, wat jy dalk ook al gehoor het. Dit kom veral van jonger Wit mense af: “Apartheid het voor ons tyd gebeur, ons is daarna gebore en dit het nie regtig iets met ons te doen nie, so hoekom moet ons aanhou om daaroor te praat?”  Dit hou verband met die end of history-idee. Asof ons nie bepaal word deur dit wat ons voorafgaan nie, dat ons bloot die verlede kan ignoreer of onsself daarvan kan losmaak. Om te verstaan waar ons vandag is, hoekom ons is waar ons is en wie ons kan word, moet ons gaan kyk na die geskiedenis. Die geskiedenis is nie iets wat afgehandel is nie, dis nie liniêr nie. Dit gaan hier om ’n spirituele verstaan van ons voormense wat steeds om ons is en deur ons werk. Ons moet na hulle en hulle stories luister. 

My punt is: Ek voel geroep om aktief en eties verantwoordbaar met die geskiedenisse van mense in hierdie land om te gaan. Dit voel vir my na ’n gepaste reaksie op die legacy wat my voormense gelos het in hierdie land. In die gedig waarvan jy praat, byvoorbeeld, was dit vir my ’n manier om sin te maak van die onrustigheid van die landskap in en om Makhanda. Toe ek in 2021 daar gebly het, het ek meer gelees oor alles wat daar gebeur het. Dit het my ontstig en ek wou op ’n manier daarop reageer en dit omvorm.

Om jou vraag oor taal te beantwoord, die bietjie Xhosa wat ek kan praat, is te danke aan my vriende en die tyd wat ek in Makhanda spandeer het. Selfs met daardie beperkte toegang het dit iets vir my ontsluit. Iets so eenvoudig soos die feit dat ek ’n basiese gesprek met my bure in Makhanda kon hê.

Ek het Spaans geleer via my geliefde en my tyd in Peru. Dit het vir my ’n hele wêreld oopgemaak, want taal is nie net woorde nie, dit dra ’n hele kultuur, geskiedenis, ’n worldview. Ek het op hierdie manier baie geleer oor hoe mense in Peru die aarde vereer en hoe sentraal eko-spiritualiteit in die Andiese kultuur is, waar Pachamama ’n sentrale figuur is. Pachamama kan ook losweg vertaal word as “Moeder Aarde” en sy word gesien as ’n lewende entiteit met agentskap. Jy vra haar vir reën en ’n gesonde harvest. In Peru is daar ook ’n verering van berge: Hulle het persoonlikhede, stories en spesifieke genders. Mens praat ook met die berge as jy na hulle toe gaan en vra dat hulle jou help om bountiful harvests te hê. Dit het my anders laat dink oor die meer-as-menslike wêreld en hoe dit ook deurweek is met spiritualiteit. In die era van cultural appropriation dink ek is dit belangrik dat jy besluit hoe om met ander kulture en geskiedenisse om te gaan en of jy selfbewus genoeg kan bly van jou posisie in hierdie konteks. 

Johann Nel, Jill Levenberg, Ben Albertyn, Johann Vermaak en Tyrish Mili in Droomwerk / foto: Liese Kuhn

KANYA: In beide Droomwerk en Ontaard is die pa-figuur so sentraal. Ek wonder of jou pa beide die oorsprongpunt is vir wie jy is en vir wie jy nie is nie? Dis hoe dit voel in die skryfwerk; hy is alles wat jy is en hy is alles wat jy nié is nie. Hoekom dink jy is dit belangrik om deurlopend in gesprek met jou pa te bly – nie net joú pa nie, maar ook die pa-simbool – veral in ’n land soos Suid-Afrika waar pa-figure dikwels so afwesig of afsydig is?

PIETER: Ek dink as mens poësie skryf is dit dikwels nie ’n rasionele proses nie, ten minste nie in die begin nie. Jy word genoop om iets neer te sit en eers later maak jy sin daarvan. So hoewel dit nie ’n bewuste besluit is om oor my pa te skryf nie, kon ek van ’n jong ouderdom af agterkom dat ek en my pa oor baie goed verskil, veral oor politiek en vrae rondom identiteit. Dit is kompleks, veral omdat ek as queer identifiseer en ook van kleins af besef het daar is iets anders aan my as aan baie ander seuns. Ek dink dit gee my ’n ander perspektief op my ervaring van Afrikanermanlikheid as my pa. Die obsessie met die pa het sekerlik begin uit die soort stilte wat hy gehad het, spesifiek oor sy tyd in die weermag, op die grens, tydens apartheid. Aan die een kant is hy vir my ’n simbool van voorgangers, ’n skakel met daardie geskiedenis, hoewel daar terselfdertyd ’n groot stilte daaroor was. Ek dink tog dat my skryfwerk gesprekke tussen ons oopgemaak het. Ons het baie meer begin gesels oor sy ervaringe as ’n jong man en sy verhouding met sy pa wat in die senaat was en regtig ’n spokesperson vir apartheidsbeleide vir die Nasionale Party was. 

Mens wil anders leef as jou voorgangers. Dit is maar ’n moeilike ding, maar hy het my nog altyd ondersteun in hierdie exploration. Ek is altyd skrikkerig as ek vir hom iets voorlê waarin hy, of die pa-figuur, manifesteer, maar hy ondersteun my om verder te skryf. Miskien het ek dit vir hom ook moontlik gemaak om weer terug te gaan na goed wat hy lank vermy het. Ons dink nog steeds baie verskillend oor baie dinge in hierdie wêreld, maar ek weet ek het ook goed by hom geërf: sy liefde vir die natuur, in die grond werk, om dinge te laat groei. Om water, grond en lig bymekaar te bring – die alchemie van tuinwerk.

KANYA: Die ma of vroulike figuur voel alomteenwoordig in jou werk. Waar lê die vrou, die ma? Word sy in die landskap, binne die water en berge gevind? 

PIETER: Ja, ek dink die moeder is waar ons almal vandaan kom. Dis waar ons almal se stories begin het. Sy is ’n oorsprong waantoe ons ook uiteindelik almal terugkeer, terug na die berge, terug na die water. Ek dink in Ontaard engage ek ook met hierdie idee van moederlike oorsprong – waar kom ons vandaan, hoe keer ons terug soontoe, sal ons vrede vind om in die tussentyd te lewe en om daardie verwydering van die moeder te verwerk, of dit nou fisies of geestelik is? In Droomwerk sien mens dit ook in die oermoeder, Diana van Madagaskar. 

KANYA: Kan jy meer praat oor die titel? Waarom “ontaard”? Waarom daardie voorsetsel om te ont-, om te undo? 

PIETER: ’n Sentrale dryfveer in die skryf van die bundel was die vraag: Hoe reageer ons op en verwerk ons al die drastiese veranderinge in die natuurlike omgewing om ons danksy die klimaatskrisis? Waar lê die wolke van hierdie krisis? Waar kom dit vandaan? Wat is die skakels tussen koloniale uitbuiting en die voortgesette uitbuiting van die meer-as-menslike wêreld en hoe affekteer dit my? Die pandemie was ’n trigger om aan dit alles sáám te dink, omdat ons deur daardie krisis geleef het. Dis sekerlik ook die verwerking van ’n soort eko-angs, ’n term wat mense gebruik om na hierdie konstante bekommernis oor wat besig is om aan te gaan in die wêreld om ons, te verwys. Ek is geïnteresseerd in hoe ekologiese en sosiale en politieke krisisse eintlik nog altyd met mekaar verband gehou het. Die titel “Ontaard” probeer om daardie gevoel van destabilisation vas te vang, dat ons aarde besig is om te “ont-”, maar dit aktiveer ook natuurlik die betekenis wat “ontaard” in Afrikaans het – to degenerate. 

Sedert 2017 het ek vir sowat drie jaar dikwels tussen Australië, Suid-Afrika en Peru gereis. Toe die grense oral toemaak, het ek skielik stilgesit met ’n gevoel van ontheemding, van ontuis voel, en dit in my ouerhuis in Bloemfontein! ’n Planetêre bewussyn het gedurende daardie tyd by my posgevat, wat ook iets is wat ek met die titel probeer vasvang. As queer persoon ervaar ek ook ’n gevoel van ontuis wees – veral toe ek jonger was, maar vandag steeds. Tydens die pandemie het ek tyd gehad om terug te gaan na my jonger dae en hoe ek grootgeword het. Ek kon van daai herinneringe en ervaringe herbesoek en oorweeg hoe dit my uiteindelik gevorm het tot wie ek vandag is. 

Die titel het dus ook iets te doen met die othering wat queer mense ervaar en die soeke na ’n tuiste. Een moontlike antwoord wat die bundel bied, of wat ten minste in my lewe ’n antwoord was, is om ’n tuiste in ’n ander persoon te vind – in my man, al was hy vir ’n lang tyd aan die ander kant van die wêreld. “Ontaard” beskryf die disjunction wanneer jy voel dat jy op verskillende plekke op dieselfde tyd is.

Deel hierdie storie


Eerste en oudste Afrikaanse tydskrif, sedert 1896

Divers, progressief en vars. Waardeer jy ’n stem soos Klyntji s’n? Het jy van Kanya Viljoen in gesprek met Pieter Odendaal gehou? Dan ondersteun ons. Donasies van lesers word gebruik om ons bedieningkostes te betaal: jou bydrae hou Klyntji aanlyn. Vriende van Klyntji word op hierdie bladsy erken. Elke bietjie help.


 Eenmalig R
 Maandeliks R


Klyntji verklaar 'n klimaat en ekologiese noodtoestand