Vyf gedigte van Pieter Odendaal se debuutbundel
Asof geen berge ooit hier gewoon het nie
Asof geen berge ooit hier gewoon het nie (Tafelberg) is ’n opwindende en verweefde debuut uit ’n jong digter se pen. Met ’n eietydse en aktuele aanslag skryf Odendaal oor die politiek van verskil, ons ekologiese voetspoor, verganklikheid, menswees, die liefde, asook die onlangse studentepolitiek. Ten einde vra hy: Re mang? Wie is ons? En wie is hulle?
Pieter Odendaal is ’n digter, vertaler, en uitvoerende direkteur van InZync Poetry. Van sy gedigte is in die bundel Nuwe Stemme 5 opgeneem (2013). Odendaal is tans besig met sy PhD in podiumpoësie as bevorderaar van weerstandigheid in sosio-ekologiese stelsels aan die Queensland University of Technology in Brisbane.
Ons deel met vergunning van die uitgewer ’n enkele seleksie van die gedigte.
gebed
performance vir word en mic
dankie vir die vetgatkonings
wat dans op die mure van uitsluiting
terwyl hul werkers die bakens van besitlikheid
met steen en sweet verstewig
dankie vir styfgespande drade
wat flenterhande van uitvoerdruiwe weghou
en die grond wat ons steeds nie ken nie
die grond waar ons voorouers saam ontbind
dankie vir youtube-video's oor
polisiegeweld en baba-bangings
vir die shosholozas
die waka waka ey eyes
die de la rey de la reys
in die stadions van katarsis
waar ons juig oor mans
met breinskade en pt-broekies
wat mekaar opfok soos in die ou dae
dankie vir die verledes
wat ons soos bosbrande omsingel
die damme vol stofstorms
waarmee ons nie die vure kan blus nie
en die enkeles wat steeds die woud besit
vir ons kinders wat jonk soos die oggend
reeds hul koppe verloor
vir ons gryses wat droom
oor 'n tyd toe mense nog harte gehad het
en die styftrek van nekslagare soos toue
vir ons dooies wat snags
deur die strate van ons slaap toyi-toyi
dankie vir dit alles en u genade wyd
soos die afstand tussen spa en longdrop
seën almal wat steeds hul properse hande in onskuld was
en die boepe in beheer wat die berge afpen
en ons vetgevoerde drome op die pieke spitbraai
in die naam van ons vergeefse voorouers alleen
amen
Vreemdeling, laataand-gesprek, Corridor se stoep, Stellenbosch
[Lees hardop met Jon Hopkins se “Abandon window” in die agtergrond. Gee jouself oor aan die ruimte wat die song skep.]
Kayamandi lê voor ons:
die natblink ingewande van ’n bees.
Jy bly aan die ander kant
waar die baksteenhuise is,
verseker jou slepende tong my.
Jou hare is kort geskeer:
eers het jou ma gegaan, toe jou pa.
Gelukkig het hy genoeg
vir groente gelos, sê jy,
vir jou en jou boetie.
Jy is skaars sestien,
lieg vier jaar by.
Ek weet nie hoe om ’n pa te wees nie, sê ek.
Jou woorde val tussen tale rond
nes jou besope idees oor my bleek voorregte.
So ook my halfsinne wat hierdie sinkende
gesprek probeer anker:
“Nee, jy hoef nie Afrikaans . . .”
“Ja, ek is, maar . . .”
“Bloemfontein.”
Jou gesig lê tussen my en die shacks.
Jy korrel met jou mond,
ek weet ek moet,
maar ek koes nie.
Trou met my, sê jy.
Nog nooit was die sterre so yl
oor die lug gesaai soos vanaand nie.
Hong Kong Internasionaal
as die oggend stuifmeelgeel deur rookmis breek
en die son die water rorschach
nader ons lugbus die kunsmatige eiland in hong kong
onder ons die paradoks van olievlekke tussen windturbines
treilers skraap die laaste vis op
eilande bot nes gewasse
die skepe roer die stille oseaan –
'n koppie kankerkoffie vir die reuse-boeddha
wat ongesteurd vanaf lantau
die omdolwing van land en see bekyk
nes die sakeman
in sy kolletjie son tussen vlugte
wat 'n oomblik vries
as die hoendervleis op sy kopernek uitslaan
voor hy weer die oggendblad optel,
die voorspooksels afskud
en gister se aandeelpryse stip bestudeer
as ek jou verbeel
kom lê daar 'n versadiging in my krop –
'n hen wat haar eiers warm lê –
jy skrop nes in my bors
ek spandeer al die airtime in my kop
op jou binnebene
die moesie op jou regternippel
die sproetspatsels om jou nek
die openhartigheid van jou mond
moenie jouself so sorgeloos in my greep gooi nie
wil ek sê
ek vang nie altyd vallendes nie
wil ek sê
ek's meestal self aan die val
dieper die mynskag van my brein in
en tog: val asseblief voort
ek wil papierbootdrome in jou slapende ore fluister
in die kangogrotte van jou kop verdwaal
vergrotings van jou bergblouoë teen my plafon plak
om die kontoerlyne in jou irisse
nes 'n maniese geograaf te bestudeer
skielik spring ek 20 jaar terug
ma se vingers trippel om my gesig
loop om die huisie
oor die wang waar are rooipienk gloei
dan die voorkop (waar die erf eindig en grashare begin)
loop om die huisie
nog 'n wang en
op die ken!
klop aan die deur
haar kneukels tik my neus
(ek knyp my oë die gordyne is toe
hier's niemand tuis nie)
lóér by die venster lóér by die venster
eers die regter dan die linker
my pupille rek die wêreld keer terug
hulle ken nog nie geweld nie
haar gasvrye irisse nooi my in
sy sien tot daar waar ek eindig
by al my horisonne verby
maak oop die deur!
my mond skiet oop
(ek kou tandeloos aan haar naels groot soos mane)
leer van nabywees van mekaar sien
die plesier van aanraking
die ekstase van vlees
en hoe om iemand se lippe te lees