Ses gedigte van Kobus Kotze

Ses gedigte van Kobus Kotze
tumblr_inline_orwdkezsLk1tz8ud8_500.jpg

Potgietersrus, 1989

Johannesburg, 2012

Oegoe

Boeta

Afdophuismure

Rooiborsduif2

 

Potgietersrus, 1989

daai dag toe ou Eddie Barnard
almal op die skoolgrond
wou moer het sy trui
flenters in die wind gewaai
nadat hy sy tas in bobbie se
gesig gegooi het en oor
die draad gespring het
om te hardloop na sy
mechanic pa wat harder kon
bliksem as ou eddie self
vra maar vir eddie self.
ek onthou daai dag want
ma kon nie die vir my
buite in die bruin renault wag
en ek moes loop verby die huise
van al die mense in ons kerk
en ook die ooms wat by
NP-vergaderings met brandewyn was
en hulle vroue met krulhare
se rokke deurskynend as die son sak
moerse mooi
die dorpswembad was altyd daar
alleen en wit met mure
so hoog soos die hemel
om ons te herinner aan die gevaar
van groot en diep liggame water
ma wou nooit dat ek alleen daar gaan nie
daai dag het ek toe
van die pad afgedraai
net oorkant Vincent-hulle se jaart altyd
vol armymannetjies en sy ouer broer se
vuil tydskrifte onder die klippe was dit
so as ek sou verdrink sou hulle my stem
eerste hoor en ek sou wakker word
met water wat uit my mond spuit
soos een van die soldate in sending vietnam
toe hulle in die charlie se riviere vasgereen het
Oeg dit was mooi
die water was ysblou
en die gras groen en wyd en ver
en toe ek al my klere
in die seunsbadkamer gaan uitrek
was ou eddie daar met sy skooltas
en sy pa se rambo-mes tussen
sy papiervelhande en ons
het saam gehuil en toe gaan swem
en die water was skoon en koud
en wyd en vêr weg en wyd

 

Johannesburg, 2012

I

daai duif op my middelklaswoonstelstoep het finaal uitgekanker
die snawel halfpad met spier oopgeskeur in ’n finale swanesang
as ek haar met petrol behandel sal sy ’n fakkel van westerse vrede
wees en word
brandend met idees maar tog so moerse leeg
burning with desire shoulders high in the morning rain
trapped in time
ek sal wel iets met die ribbekas moet doen
waar dit lê hier op my leiklipstoep
hier in die suburbs wil almal sometimes
mos voel hulle laaste
fok jou
word gehoor 

II

jare se stilte kan die duiwels binne mens oopbreek
te veel gesels kan die engele wegjaag ook
hulle hou tog so van sag slaap en fluisterend kerm
en as ons die begrafnis van idees bywoon
sal die wurms binne jou volk se kop finaal
en spierwit verwelk soos daai duif hier
op my middelklaswoonstelstoep

 

Oegoe

oegoe, jou skooltas het vroegoggende flenterstrui in die somerwind  loop waai
jou arms was ’n deurskynende dirigent van die vierde element klouende vingers ’n bewys dat jou papiervelhande toe nooit vlerke had nie
jou hele ribbekas bewend van die ondeurdringbare wit lig binne jou
ag here, onthou jy ons oop someroggende met bloeiende karmosyn wat saam die tyd verdwyn?
jy het mos gesweer dat die klik-klak van vragtreine, wat soos jimi hendrix oor die wilde noordwes se vlaktes gesny het
met dieselfde ritme as die van jou hart beweeg het
dan het jy na die see en groot vikingbote verlang
snyende winteraande was jy op die weermaglughawe se landingstrook, saam die spoke van soldate het jy oor berge gevlieg
jy het ’n gideonbybel as rigtingwyser gebruik vir al die alleen ystersvoëls in die oop-oop lug
tussen oggendryp en dooie duiwe
jy het gesweer dat wolke in die pikswartnag meer as in die sonskyn van gedaante verander
drake, blaffende honde en grootoogvalke was alles padkaarte wat ons beduie waar die heelal en haar sterre uiteindelik, binne elkeen van onse siele gaan uitbrand
so het jy vertel
oegoe, jy het daai oggend belowe om nie die highway alleen te vat nie
weg van julle laventelvoortuin vol dooie miere met wit gif omgedop in die oprit en oor die glasbedekte buitemuur het jy verdwyn
ek sien jou duime dartel in die wind, jy is ’n tolbos my kind
ek hoor jy bly nou erens tussen jou eie Tokio en Berlyn daar waar verpleegters met veraf oë vir jou
medisyne bring

 

Boeta

I

met die asem van afvalsediment
skraap jou gletserlyf uit die teerpad op
jou rug eens krommend buig regop
en jy hou die skulplyf van ons eerste
bankrotskap op die plaas saggies vas
jy onthou saam my en sussie
van die rooi son op die koringhale
en hoe die doringbome in die wind kon buig
en as die swart vroue se stemme van vêr
oor die banale bosveld galm en swets.
ons vertel jou van die treinspoor net ’n
halwe liedjie op die walkman van ons huis weg
en die gemors en dooie diere daar wat ons moes
skoonmaak om in vrede op die lokomotief te wag 

II

hier waar ek nou woon is die enigste plek
waar ek my kan verbeel hoe jy in die winter
in en uit stadig sou asemhaal die kleiner spasies
wat tussen die geboue van ’n ander oorlog bestaan 

III

die oggend ek dink die grond was klam
met die belofte van ’n goue oes
het pappa self die graf ingeklim
en mamma eenkant gelaat om haar
jeug te onthou en vir altyd te wonder
hoe ons hier gaan oorleef
en met oom hendrie nou ook terug die aarde
van die bosveld in wonder ek hoe ek vir almal
wat die dag daar was, mamma, pappa, sussie
waarskynlik stefina, sixpence en ek gaan vertel
dat jy terug kom om weer onder ons te kom woon

 

Afdophuismure

hier sit ons
hier sit ons rondom die tafel
waar ons verkies om ons brood eerder die oseaan in te werp
as om ons liggame buite ons die niet in te dryf
soos meeste ander van die meer wit spesies se idees
hier sit ons rondom die tafel waar ek besuilt om
tussen jou smal muurpapiergange
na jou badkamer te verdwyn om die
porseleinagtigheid van jou wasbak
wat oggende glinster met die
son se gladde tekstuur
teen my vingers te voel
ek kan jou binnegoed en kaal hier ruik
oop soos bueganvillas in ’n middelklas-somer
as ek terugloop en die gang smaller voel trek
raak ek met my hande aan die muurpapier
sodat jou verbeelde reuk orals in die huis hang.
hier sit ons rondom die tafel weer
waar ons verkies om ons geheue van vêr te laat kom
om teen die mure wat ons binne mekaar bou
ander stories te vertel as die een
van hoe jou wasbak lyk en my hande binne jou
mond se klanke oopvou as jy van die vrystaat vertel
of soos dan net stil sit en deur my ribbes kyk

 

Rooiborsduif2

As ek so ’n duif na jou moet stuur sou haar bors dan ook rooi oor
Wellington brand?
Of sou ek ’n ander kleur wou kies?
Dit meer allerdaags wou hou, soos die gewone duifgrys van jou oë.
Soos al die ander duiwe se oë.
Dan kan ek tog haar lang verwagte koms wegsteek,
en sy sou dan een oggend doodgewoon en heel gemaklik daar by jou opdaag.
Jy sou egter weet dit is nie ’n gewone dag nie,
In die manier waarop die dier stil sal sit en vir jou sal kyk
Gewond
Sal jy weet dat jy al vir hoe lank op haar koms sit en wag?
wat dit ook is, jy sal onnatuurlik en met die belofte van
herontdekking uitloop in die wind, jou vel spierwit en hande
gloeiend, soos die oranje van die Bosveldson.
Jou siel soos Bart Nel binne jou,
jou veltronk steeds magneties teen jou ribbekas gebind.
Sou jy haar optel en hande na bo, soos in ’n Europese film, en
terugstuur na my?
Ek sal ook geen boodskap om haar nek bind nie,
daar sal geen teken dat die vlug suksesvol was aan haar gegee word nie.
Dae later sal sy dan weer hier by my kom stop,
weer kalm vir my tuiskoms wag, en dan vining vining
en voor ek aan haar kan haar raak, sal sy wegvlieg in die nou
deurdringbare grys grys lug.
Ek sal wonder of my duif dan ooit daar by jou was,
of ek haar dalk ook in ’n primêre kleur moes merk
vir jou om te verwag?
Ek sal weet, ek sal weet in die manier wat ons onverstaanbaar veilig voel,
in die natuurlikheid waarop jy oopmond soen,
en in die eenvoudigheid van hoe ons lywe inmekaar inskakel.
Ek sou weet dat die duif daar was.
Jy sal ook weet.  
Op jou eie manier en sonder my voorveronderstellings
met letters oor watter gevolg tot op jou lyf
en binnekant sal hê?

 
 

Kobus Kotze is ’n skrywer uit Johannesburg wat tans in Suid-Korea woon. Hy beskou homself wel meer as nomade as gebonde aan ’n spesifieke plek. Kobus werk tans aan sy eerste bundel en sy stuk, Splinterster, sal later die jaar by Aardklop te siene wees. Sy stories is soms waar en ander kere net die waarheid.

Deel hierdie storie


Eerste en oudste Afrikaanse tydskrif, sedert 1896

Ons bou aan ’n moderne beeld van hoe Afrikaanswees lyk, lees en klink. Het jy van Ses gedigte van Kobus Kotze gehou? Dan ondersteun ons. Vriende van Klyntji word op hierdie bladsy gelys.


 Eenmalig R
 Maandeliks R


Klyntji verklaar 'n klimaat en ekologiese noodtoestand