Gedigte oor slegte seks om afgesluk te word met 'n G&T
Illustrasie: Manuela Ladu

Illustrasie: Manuela Ladu

Daar is te min gedigte oor slegte seks in Afrikaans, en te veel oor die natuur, voëls, God en die liefde. Tydens Woordfees 2018 is plan gemaak om die kanon te... vergroot.


Bibi Slippers

WAT DE FOK DOEN DIE BURE

Laatmiddag op ’n Dinsdag
– nog lank voor die diepnag –
wil ek regmaak vir ’n middagdut, 
toe die bure besluit: Dit
is nou sulke tyd.

Hul sopperige simfonie sypel deur die muur
– toe nou net mooi so klankdig soos ryspapier –
Beethoven se 69ste, getiteld:
WAT DE FOK DOEN DIE BURE

Die bure bulk soos beseerde diere,
brandoffers in ’n geweldig obskure
ritueel, die buurvrou wen die lotery
die buurman kom ’n troetelkat
met ’n figuursaag by.
Die bure klits spaghetti met ’n rubberlepel,
die bure lui ’n vel-klok met ’n vleiserige klepel,
die bure was ’n venster met ’n taai ou lap,
die bure bak mosbeskuit dat die rou deeg klap.
Die bure raak doenig met ’n tenniswedstryd:
Sharapova en Nadal die spook dit uit.
Die bure verloor hulself in ’n DIY-projek,
die bure is gimnaste wat spiere uitstrek,
die bure gooi mayonnaise oor hul komkommerslaai,
die bure se hobbelperd maak ’n helse lawaai.
Die bure bench-press bo hul vuurmaakplek,
die bure klink waaragtig of hulle tou-trek!?
Die bure pomp ’n koekoepan,
die bure scrum vir die eerste span,
die bure doen loodgieterswerk,
die bure dryf demone uit - hul deeltjie vir die kerk. 

Teen donker is dit langsaan uiteindelik stil:
klaar gekerm, hees gegil.
Maar nes daai musikonte aan die slaap wil raak
daag jy by die huis op, en ons neem wraak.
Daai naaiers is in vir ’n paar luide ure –
ons eie vertolking van
WAT DE FOK DOEN DIE BURE.

 

Ryan Pedro

kaalgat in ’n klerekas geprop, wondering
if it’s all worth it – en dit vir dié kind
wat jou existence in public deny?
nou sit jy hier tussen items long forgotten met
die faraway klanke van groceries wat uitgepak word,

and all because you got cocky; blinded deur daai oh so pretty sight
van die opgefrommelde skoolrok en wit sokkies aan die voet
van daai pienk gordyn, dat jy dit eers nie gesien het nie –
die skoene wat so haastig op pad iewers heen lyk;
weg van die venster af wat die boerboel buite
op sy agterpote netjies raam, jou eerste warning sign,
but you took it as a challenge toe jy dit eventually notice,

en soos jou victory lap approach, tilt jou then biggest fan
sy kop so to the side, jy gryp ’n hand vol hol en sy die laken met ’n gil,
en jy scheme dat hy probably kan relate tot wat hy sien -
die bruin arms wat klou om die sagte middel,
die gepant in ’n agterkop vol hare,
maar dat sy reluctance om te blaf kom van sy confusion
oor die gesig, die lyf, wat hy net ken in ’n bloupak agter die kruiwa,
en nie sy kleinbaas nie.

gekom en collapsed, spectator silently intussen weg,

hoor jy net die voordeur wat oopswaai in die verte and now
It’s been 30 minutes hier in die kas, kaalgat,
mind by now op gemaak dat dit in fact nié worth it is nie –

hoe meisies soos wendy van die louwville, vredenburg
actually beautiful is, contrary to local belief;
hoe jy net hier moet uit, en verder survive tot december,
en hoe jy as jy daar is, for the love of god, nooit weer sal kla
oor die mense in die ghettos wat hulle honde
agter in die yard vas maak nie.

 

Andries Bezuidenhout

WAT ONS ANDERS AS WALVISSE MAAK – ’n GEDIG OOR SLEGTE SEKS EN GIN

“There is sex for self-improvement start to finish and there’s sex for killing time straight through; sex that is therapeutic at first only to end up as nothing-better- to-do, or vice versa. Our human sex life – how shall I put it? – differs fundamentally from the sex life of the whale. We are not whales – and this constitutes one great theme underscoring our sex lives.” - uit Murakami se A Wild Sheep Chase

Kan walvisse óók nie wag nie?
Seks op agtien, vaag en vinnig,
in cane, passion fruit en misverstand gemarineer,
doellose gedobber in hormoonmeniskus.
Wanneer hou dit op? Op sewentig, of tagtig,
met Listers, droë lope en verspeelde fantasie?

In die slegte seks begin was die woord.
Die passie só vol sy noem hom Tinktinkie,
of hy noem haar Bulletjie.
Kettingreaksie vanuit jagter-versamelaarsdrif
veroorsaak kriogeniese temperatuurdalings.
Tinktinkie verskrompel, Bulletjie mompel iets van stort.

Slegte seks en Afrikaans, onbehendigheid
van die taalpuris se lippe en tong:
Passieplooi, kieliekloof, verleivallei –
suiwer woorde vir cleavage
karteer die lyf as landskap van erosie en verval
of benoem sommer net die verkeerde kontoer.

Slegte seks, die intellektueel
en die estetika van twyfel.
Genoeg rooiwyn, tesis, anti-tesis, sintese
en uiteindelik kom als rusbanklangs tot ’n punt.
Hy wil weet of jy penetrasie as dominasie ervaar
en wat dink jy van Sartre en De Beauvoir?

Slegte seks en kollegas. Op kantoor ontmoet,
kafeteriatoonbank geskerts
en ná Kersfees-partyery gebeur wat gebeur.
Vanoggend, by jou plek, maal jy koffiepitte, wonder:
Dalk sien ons mekaar weer. Sy sê:
“You’re my first white fuck.”

Slegte seks en verveling. Ja, die monogame groef.
Buitelugpiekniek met kombers en opwinding.
Seesand rasper, muskiete stel net
in threesomes belang
en daai mier roep hulle nie om dowe neute
’n balbyter nie.

Slegte seks en besering. Hoe klink dit as die penis knak?
Meer snap as crackle of pop,
sê iemand met ondervinding
en identifiseer oor die vierde whisky ’n versekeringsmark –
moontlikheid van piepiefraktuur teen skade beveilig
deur in-and- outsurance.

Slegte seks en verbeelding. Jy konsentreer,
maar dit lol vrye assosiasie:
Het matrasveerspirale vir Donald Duck opgeroep?
Of Moby Dick. As doodskootharpoen, Jack-in- a-Box,
van goue stort nog druppend
verskyn Donald Trump.

Slegte seks en maniere. Die een wat nie uittrek nie,
maar nogtans wil kyk, die een wat neem
en nie wil gee nie, die aktrise of akteur:
hoe harder kreun hoe groter leuen.
Al die bogenoemde en dan nog
die skerp nael, die karbonkel, die ongeleë suidewind.

Slegte seks en gin. ’n Uitsondering vir jou,
het Joplin vir Cohen gesê,
ons is lelik, maar ons het die musiek.
Gin gee ons moed,
help ons later met vergeet
of die selektiewe onthou.

Dalk verwag walvisse net minder.
Soms verwyl jy tyd, soms verwyt jy ’n wyle,
maar dis soos pap-en- asem-skep,
soos hemde-en- bloese-aanpas.

Die énigste slegte seks, weet ek,
is die tipe wat ongenooid
nóg ’n lewe soos myne verwek.

 

Loftus Marais

Retro cruising

donkerte, ’n stad en steeg, en ook die man wat aankom,
hy’s aan die verkeerde kant van vyftig maar
gespierd en met ’n snor, nie ’n hipster-ene nie,
’n negentigsdiaken se moestas, daar’s senuwees en jagsheid
in sy skouers, ek dink dadelik: o ja gesant uit daardie plek
van blomkoolore, wydsbeensit om braaivleisvuur
en uitgewaste pt-broekies – ware, ruie pappa, lyk dit my –
ons vind ’n hoek, hy’s tjoepstil, voorvel styf,
’n sampioenerige dampigheid so uit sy onderbroek
en hy’t ’n hol so harig dat dit selfs die potloodtoets sou dop,
die ouer man, hy wat, verbeel ek my, so geleef het
destyds op die ritme van die toksgekletter
op die kleedkamer se vloer, hy roep sy vriende
“basjan” “boetman” “lappies” “maans” en “joachim”
oorryp name so oorerflik soos cholesterol – ek druk
my voorkop teen sy nek wat krom uit daai familiekaak,
sy kreun ’n uitgerekte huiwering, wat ek ook dadelik klasseer
as “calvinisties”, ek dink verder soos hy broekoptrek:
wat ’n vet geluk, ’n boere-tos hier vir die laaste Óóm
maar met die omdraai groet hy in sy doodnormale stem,
verwoestend sibilant: “sso needed that, yess, thankss”

Deel hierdie storie


Eerste en oudste Afrikaanse tydskrif, sedert 1896

Divers, progressief en vars. Waardeer jy ’n stem soos Klyntji s’n? Het jy van Gedigte oor slegte seks om afgesluk te word met 'n G&T gehou? Dan ondersteun ons. Donasies van lesers word gebruik om ons bedieningkostes te betaal: jou bydrae hou Klyntji aanlyn. Vriende van Klyntji word op hierdie bladsy erken. Elke bietjie help.


 Eenmalig R
 Maandeliks R


Klyntji verklaar 'n klimaat en ekologiese noodtoestand