Vurige queer poësie deur Kim Windvogel
Die vertaalde gedigte verskyn hier vir die eerste keer
a) skaamte
sy sluip my by die agterdeur in
en fluister saggies: “sy’s nog aan die slaap”
terwyl sy haar wysvinger teen haar volmond pluis
ons trap suutjies deur die donkerte
verby die kas waar sy gewoonlik haar identiteit wegsteek
en kom tot ’n stilstand in haar slaapkamer
ek soen haar saggies
tong-teen-tong
ons is op haar bed
klere word tussen gekreukelde lakens verlore
sy skei my bene met haar gespierde dy
en trek haar wysvinger oor my nat vagina
in die verte kan ons ’n toilet hoor spoel
die geluid laat ons aarsel
in die verte kan ons hoor hoe hande gewas word
steeds laat die geluid ons aarsel
stilte
ons lippe soek mekaar weer in die donkerte
maar ek weet ek kan dit nie meer doen nie
“wat’s fout?”, vra sy innig
“ek kan dit nie meer doen nie,” sê ek
“waarvan praat jy?” sy klink uitasem
“ek kan nie meer jou skelmpie wees nie,” sê ek
maar jy is my skelmpie,
sy sê nie hierdie woorde nie
maar haar glimlag sê dit namens haar
amper asof sy ’n grap van my gevoelens probeer maak
ek analiseer:
ek kan die seks hê waarna ek smag
óf ek kan met my integriteit haar huis verlaat
...
ek doen waarvoor ek gekom het
heg my tong aan haar heuning
dan kry ek ’n Uber
en verseker dat sy nie die geleentheid kry om my plesier te gee nie
simpel, ek het gedink dit laat my met die mag
maar daar word ek weer gelaat,
gestapel in die kas wat skaars gebruik word
in die kas met die deur wat nog hard kreun
daar word ek gelaat saam met haar ma se ou linne
gepak tussen die stofsuier wat nie werk nie
en die groot pak toiletpapier
b) innige onenigheid
ek sit my handsak op die tafel neer en gaan sit oorkant hom
“Jy lyk pragtig,” sê hy
en staan op om my te groet
ek haat dit wanneer mans my soos ’n trofee laat voel
maar wanneer hy dit doen krul my tone van plesier
“dankie,” sê ek sukkelend om my glimlag weg te steek
ek bestel ’n bottel water en hy kyk innig na my
ek het hierdie toppie gekies
want ek geniet dit wanneer hy my met sy oë ontkleed
maar, vanaand gaan ek nie na sy plek toe nie
ek beplan om terug huis toe te gaan
stoksielalleen
“dis nou al vyf jaar,” sê ek
my stem verbreek sy innige staar
“inderdaad,” sê hy
“die laaste keer toe ek kom kuier het het jy my ignoreer
“eintlik,” sê hy terwyl hy my nou in die gesig vaskyk
“het jy my vir ontbyt laat betaal en toe vir my vertel dat jy nou ’n meisie het”
“ek het ’n meisie,” sê ek
“dis ’n leuen,” sê hy
“okay okay
sy is nie my meisie nie”
hy glimlag en bestel ’n bottel pinotage
my gunsteling
“ek drink nie meer wyn nie,” sê ek
“my mense werk op die plase soos slawe sodat die ryk mense net nog ryker kan word” “dis niks nuut nie,” sê hy
en skink in elk geval vir my ’n glas
die pinotage gee ’n delikate geur af
ek wil hardkoppig wees en die slawe se meesterstuk aan hom teruggee
ek stoot die glas terug na sy kant van die tafel toe
“asseblief, net vir een aand,” smeek hy
en stoot die glas terug na my kant toe
en met net een gluur
bewe my binneste
ek word nat
gereed om hierdie speletjie te speel
die speletjie wat nooit tussen ons oud word nie
ek tel die glas op met my regterhand, leun vorentoe en begin drink
c) bloed
die bloed rol alweer by my binne-dy af
my maandstonde het besluit om haar rooikop uit te steek
my emosies het weer besluit om chaos te kweek
en ek word met hierdie druppels
wat binne my baar vibreer agtergelaat
soos ’n vulkaan wat geduldig wag om lawa
uit my vagina te laat stort
d) dinamiese mammie
my ma like haar
sy dink sy’s snaaks
ek dink net sy’s snaaks wanneer ek reeds ’n trek gehad het
my ma like haar
hulle praat maklik
deel van tyd-tot-tyd stories
soos ou vriende
my ma like haar
ek is in die kombuis
besig om ’n groenslaai aanmekaar te slaan
hulle sit buite en waak oor die roosterbrood op die braai
sy is besig om ’n storie te vertel
sy gebruik haar hande
my ma luister met erns
my ma het nog nooit so na my geluister nie, dink ek
hulle gooi hulle koppe agteroor en lag hardop
en ek wonder waaroor hulle so lekker saam sit en lag
ek sny die uie
ek fokken haat uie
sy vang my oog deur die venster en rek haar oë groot
ek weet sy like my ma ook
sy sit nou net aan
om seker te maak ek voel nie uitgesluit nie
ek glimlag terug
en sny die avokado
ek fokken love avokado
“hoe gaan dit hier binne?”, hoor ek haar stem soos sy deur die voordeur instap
“nie so lekker soos jou tyd daar buite nie,” terg ek
sy lag lekker
daai selfde lag wat sy vroeër vir my ma gegee het
“het jy hulp nodig?” vra sy
haar manier om die tema te verander
ek skep ’n bakkie roomys en gee dit vir haar aan
“ek soek ’n opstel van 600 woorde waarin jy my vertel wat romeriger is,
my vagina of hierdie roomys”
in die verte hoor ons my ma se stem wat haar roep
my ma roep haar naam met ’n gretigheid om te praat
wanneer sy my roep, is daar geen gretigheid in haar stem nie
bak in haar hand, draai sy op haar hakke
“ek moet buite sit en met jou ma gaan bond”
“nogal hartseer dat jy net jouself kan wees wanneer jy by my familie is, nè?”
sy draai terug en lyk seergemaak
“rerig? Wil jy nou hieroor praat?”
dan draai sy weer om en los my om alleen die rooi tamaties te sny
ek fokken haat tamaties
e) verwerping
ek wou haar soen
maar toe draai ek my kop
en lag liewer hardop
Oor die digter
Kim Windvogel is ’n digter en glo vas in geregtigheid. Sy werk vir FemmeProjects, ’n organisasie wat sy help stig het, en doen dikwels voorspraak oor reproduktiewe regte by die Verenigde Nasies. Kim is mal daaroor om oor seks en die lewe te skryf, en om alles wat ander mense as taboe beskou te bespreek.