Uittreksel: PP Fourie se 'n Hart is so groot soos 'n vuis
'Die Duiwel'
Ek glo lankal nie meer in die duiwel nie, maar ek het hom al gesien. Ek bedoel dit nie metafories nie. Dit is moontlik dat ek in daardie stadium ’n bietjie mal was.
Toe ons van Clarens af Bloemfontein toe trek, halfpad deur my eerste skooljaar in 1979, het my ouers die grootste deel van my ma se erfgeld van sewe jaar tevore gebruik om ’n nuwe motor en ’n groot huis in ’n spoggerige buurt te koop. My ma het, soos my pa, ’n bestuurspos gekry by die Streeksraad vir die Uitvoerende Kunste in die Oranje-Vrystaat.
Ons huis was op ’n hoekerf in ’n ou, gevestigde buurt, Morganstraat 13, en het hoë plafonne en lang, breë gange gehad. Daar was verskeie slaapkamers, elkeen met ’n en suite-aantrekkamer en -badkamer, en ’n enorme, versonke kombuis wat in die spens uitgeloop het, en dan na die motorhuise buite. Tussen die kombuis en die leefvertrek (hier was die plafon dubbelhoogte) was ’n eetarea en – heel pretensieus – ’n biblioteek en musiekkamer.
Die afwerkings was in skakerings van bruin en oranje, soos dit tipies in daardie era was, met ’n groot paneel van dik matglas tussen die leefvertrek en die res van die huis. Daar was baie trappe na verskillende vlakke, en ’n ingeboude verwarmer in die hoofbadkamer se dak. Die vloere was bedek met matte (die gange en party slaapkamers), bruin-en-blou leiklipteëls (die stoep, portaal, kombuis, badkamers en spens) of blokkieshout (die res).
Die erf was enorm, voor en agter, met groot ou bome en gevestigde groenigheid wat ons in wonderlike afsondering omvou het. Voorlangs het ’n gruispad met ’n swierige boog aan die een kant ingekom en aan die ander kant uitgegaan; voor dit was ’n reusagtige grasperk met terrasse wat afgeloop het tot by die bome en die grensmuur van gestapelde klip. Agter was daar verskeie buitegeboue.
Dit was ’n windmakerige koop, maar my pa het dinge gesê oor beleggings en herverkoopwaarde, en ons het ingetrek. Dit was omtrent ’n kilometer van my pa se ouers se huis af, teen die bult op in die oudste deel van die buurt. Noudat ek daaraan dink, lyk dit vanselfsprekend dat my ouma ’n hand in die uitkies en koop van die eiendom gehad het; sy het gefloreer op afloer en beheer, en ons nabyheid sou beteken sy kan ’n ogie hou.
Ons het presies drie jaar in daardie huis gebly, van Julie 1979 tot die einde van Junie 1982. Dit is eenduisend vyf-en-negentig dae, waartydens ek tussen amper sewe en amper tien jaar oud was. Dit was die jare van my en my ma se mees akute verskrikking. Teen die tyd dat ons in Bloemfontein aangekom het, was my ouers omtrent twee jaar al weer getroud. Voor dit het ek net onvolledige en emosioneel neutrale herinneringe aan my pa; hy was meestal afwesig. Die twee jaar wat hy saam met ons deurgebring het, nadat hy in Clarens by ons aangesluit het, was nie gewelddadig sover ek kan onthou nie; hy het meestal geslaap, waarskynlik gedrink, die amptelike storie was dat hy aan sy nuwe drama gewerk het. My ma was teen daardie tyd in onguns by haar suster en die uitgebreide familie, aangesien sy weer met dieselfde polities progressiewe man getrou het; haar eie ouers was reeds dood toe ek in 1972 gebore is.
Die ding is, as jy sewe jaar oud is en heeltemal geïsoleer is van jou familie, sonder enige vriende of kennisse, ’n enigste kind, dan het jy geen ander persoon of ander konteks waarteen jy kan bepaal wat normaal is nie. Eensaamheid en isolasie is nie bewuste gevoelens as daar geen alternatief daarvoor is nie. Daarom, wanneer alles om jou in hel verander, en dan hel bly, is daar geen manier om te weet dis abnormaal nie.
Nee, jy moet nooit aan die slaap wil raak nie, oor wat in die nag gaan gebeur wanneer jy wakker word van jou ma se gille; dis nie snaaks om ’n tremor te ontwikkel wat so erg is dat jy by die skool sukkel om te skryf nie; dit sal die norm raak om alle interaksie met die buitewêreld te vermy omdat niemand ooit sal kan verstaan wat binne-in die huis gebeur nie, en omdat hierdie “huisdinge” ook nie iets is waaroor daar ooit uitgepraat mag word nie. Jou ouers is mooi, talentvolle mense, hulle werk hard, daar is ’n verwagting dat veral hy sy sukses sal voortsit, nog ’n teks sal skryf wat soveel aftrek kry soos die een wat drie jaar tevore opgevoer is. Daar is tog seker niks ongewoons of ernstigs fout as mense wat jy van die televisie herken oor naweke in julle sitkamer kom kuier nie: die tannie van Wielie Walie en haar man, wat Knersus se stem is, en ook die bekende akteurs, die dramaturge, die politieke linkses.
Maar dan, ná ’n rukkie, begin die kuiers afneem. Daar is buite-egtelike verhoudings. En wanneer die affairs afloop, is daar nog meer alkohol en dwelms, nog meer geweld, en die name van geestesgesondheid- en verslawingsklinieke soos Denmar raak algemeen in grootmense se gesprekke.
Die geweld. Momentopnames, herinneringe uit hierdie tyd:
– My ma, dubbelgevou ná hy haar wind uitgeskop het, die monster wat lag.
– My ma, haar nek gesny met gebreekte glas, aan die serpe uitkies om die bewyse weg te steek.
– My ma, nek geswel nadat sy gewurg is, nadat sy haar lugpyp self in plek moes terugdruk, op die foon aan die fluister dat haar stem snaaks klink omdat sy laringitis het.
– My ma, bloed in die wit van haar oë.
– My ma, haar oog toegeswel.
– My ma, uitgeput van kaal op ’n tafel staan die hele nag lank, gedwing om alles af te sweer wat haar definieer.
– My ma, besig om my te vertel dat ons twee dalk pille moet drink sodat ons vir altyd kan slaap.
In daardie tyd sê ek een middag vir my ma dat ek ’n spookhand uit die klerekas sien kom het, reguit na my toe, en dat dit voel asof daar heeltyd iemand is wat my dophou. In die middae ná skool sit ek agter die gordyn in die sitkamer, ver genoeg van my pa se kamer dat hy nie wakker word nie (asseblief Liewe Jesus) en luister vervolgverhale op die radio met die luidspreker styf teen my oor gedruk.
In hierdie tyd neem my ma my saam na ’n byeenkoms van siekes, desperates en bedruktes. Ons sit in ’n gehoor en kyk hoe ’n geloofsgeneser ’n man se been laat aangroei en hoe hy uit die rolstoel opstaan.
Terwyl ons ná die tyd in die ry wag om die geneser persoonlik te sien, nader ’n baie maer vrou met lang grys hare my ma, haar oë wild, wys na haar en dan na my, en sis soos ’n slang: “Dis ’n demoon; dis ’n demoon.” Ons loop dadelik en my ma lag in die motor. My ma sê vir my dis nie die huis wat boos is nie, dis net ons.
My ma vat my na ’n sielkundige toe. Hy vra ek moet ’n prentjie van myself teken. Ek teken ’n seuntjie met lang, dun arms, met geen hande en mond nie, groot oë, in ’n hemp wat tot heel bo styf toegeknoop is met baie, baie knope wat baie naby aan mekaar sit. Ek verstaan iets van mal wees. Die sielkundige praat kort-kort met my ma, sê vir haar sy moet my vat en daar wegkom, so ver weg as wat sy kan.
Ek is so gedissosieerd dat ek sukkel om enige iets te voel, en eintlik net iets beleef wanneer hy haar slaan, en dan bring die pyn self verligting. Ek wil hê hy moet my seermaak, my slaan, my verkrag, maar hy doen dit nooit nie. Vir hom bestaan ek nie; al wanneer hy in my rigting mik, is as hy my intrek as rekwisiet – wanneer hy my ma moet beheer, haar gedagtes moet fokus. En dan reageer sy, onmiddellik, om hom weg te hou van my af. Maar ek wil hê hy moet my betrek. Ek is buite.
Ek wil voel, ek wil enige iets voel, ek wil ingesluit word. In plaas hiervan is ek magteloos, drywend iewers agter my oë. Ek is nie betrokkenheid werd nie, nie slae nie, nie aandag nie, nie verkragting nie.
Maar dit verander op Oujaarsaand 1981. Die gebeure van daardie aand is wat uiteindelik die einde van ons verskrikking kataliseer, ons bevryding, ons vlug na ’n dorp in die Klein-Karoo ses maande later.
En daarom is die gebeure van daardie aand die moeite werd.
Omtrent drie weke tevore het my pa teruggekeer van ’n maand – ’n wonderbaarlike maand – in ’n kliniek iewers in die noorde. Depressie en angs was die diagnose, middelmisbruik die simptoom, en toerekeningsvatbaarheid daarom onvanpas. Dit was immers siekte. Wanneer hierdie diagnose in ernstige grootmenstemme aan my oorgedra word deur my pa, vra ek hom of hy steeds hierdie siekte, en al die simptome, sal hê as hy op ’n eiland is waar hy nie drank of dwelms kan kry nie. Hy sê ja, maar ek verstaan nie.
Hy val onmiddellik terug in sy ou patroon. Hóé weet ek nie, maar hy kry alkohol en pille in die hande. Die dokters het dit voorspel, en daarom is hy aangemoedig om Antabuse te gebruik, ’n middel wat akute sensitiwiteit vir etanol tot gevolg het en ’n babelas-agtige gevoel veroorsaak direk nadat alkohol ingeneem word. Saam met alkohol kan dit onder andere lei tot vertigo, wasige sig en verwarring, selfs ’n hartaanval of die dood. My ma kyk elke oggend hoe hy dit afsluk.
Daardie Kersfees, ’n paar weke nadat hy van die kliniek teruggekeer het, is my pa klaarblyklik gesond genoeg om by ons aan te sluit vir ’n bisar formele Kersete by sy ouers, saam met my emosioneel brose tannie (ook depressie en angs, maar sonder die middelmisbruik) en haar gesin. Ons trek almal ons kisklere aan. Ek en my nefies kyk stip voor ons uit terwyl die grootmense ’n alkoholvrye ete eet en die uitstekende vordering bespreek wat my pa en sy suster maak. My ouma bestuur die onderwerp en die toon van die gesprek, terwyl my oupa weier om na sy kinders te kyk; wanneer hy na sy kleinkinders kyk, is dit met iets tussen walging en belangeloosheid.
My pa raak erger ná hierdie sosiale aktiwiteit, en in die week ná Kersfees onttrek hy hom in ’n spaarkamer en bly daar. Hy wil meestal niks eet nie, hy sluit die deur van binne af, en ons praat saggies sodat ons hom nie steur nie.
My ma het ’n groot werksding op Oujaarsaand. Haar baas is uitstedig en sy moet seker maak dat die Oujaarsaandkonsert in die nuut geboude provinsiale teater volgens plan verloop. Die konsert begin omstreeks tienuur en sal halfeen die oggend eindig nadat dit 1982 ingelei het. Evelina is vir die vakansie by haar eie familie in Botshabelo, buite Bloemfontein, en so gebeur dit dat ek vir die ongeveer vier uur wat my ma weg gaan wees, alleen by my pa moet bly. Dit op sigself is niks snaaks nie; ek het dit al tevore gedoen. Ek het onlangs nege geword, dus is ek ’n groot seun wat dit kan hanteer. En buitendien, my pa sal uitgeknikker wees deur die verdowingsmiddels wat hy elke aand ná aandete neem.
Maar dié aand drink hy nie die pille nie. Wat hy eerder doen is om ongesiens in sy kamer ’n halwe houer amfetamien met ’n halwe bottel vodka af te sluk. Teen die tyd dat die chemikalieë met die Antabuse begin reageer, is my ma nie meer by die huis nie.
My eerste gewaarwording dat iets fout is, is die geluid van iets wat neerstort, soos ’n houtkrat wat ’n betonblad tref, en iets soos ’n skreeugeluid uit die gang. Ek is in daardie stadium voor die televisie met die kat op my skoot, ’n halwe vlak ondertoe in die sitkamer aan die ander kant van die huis. Ek kyk ’n program oor die tweede hoogste berg in die wêreld, K2, en my eerste gevoel is irritasie omdat ek dit nou nie sal kan klaar kyk nie. Ek draai dit sagter en luister.
Die stank van my pa se kots tref my voor ek hom dubbelgevou in die deur sien. Die Antabuse werk om die alkohol uit my pa se lyf te kry. Hy hou aan braakgeluide maak, vir ewig, en eindelik is daar ’n groot plas braaksel op en om sy voete (hy het sokkies aan). My ou vriend – dissosiasie – omvou my en ek staan doodstil en kyk, heel onemosioneel, na myself wat na my pa staan en kyk. Wanneer hy uiteindelik na my kyk is sy oë bloedrooi, en wanneer hy my gesigsuitdrukking sien, begin lag hy snaaks, staccato, hoog en dun. Ek tree terug en stamp teen Bruni. Sy laat sak haar kop en beweeg tussen my en my pa in. Dis nou baie stil in die vertrek, met my pa ver weg aan die een kant, en ek aan die ander kant. Bruni begin grom, en ek besef later dat sy besig was om my te probeer beskerm.
Met sy maag nou sonder Antabuse en aandete, staan hy regop, dooie glimmende haai-oë (rooi, van gebarste aartjies) in plaas van sy eies, en spreek my op my ma se naam aan in ’n vreemde, growwe stem: “Maak dat jy nou dadelik in my kamer kom.”
Dis hoe hy my ma gewoonlik ontbied voor ’n harde aand, en nou weet ek, ek is in die moeilikheid: as my pa hallusineer van die dwelms, van sy verstand af, en hy dink ek is my ma, dan weet ek wat nou kom.
My pa lig ’n metaalpyp (’n handdoekreling) in die lug op, soos ’n spies, en dan draai hy dit in my rigting.
“As jy nie in my kamer is wanneer ek terug is nie, gaan jy spyt wees, teef.”
Hy laat sak die pyp en draai om, strompel kombuis toe. Ek hoor bottels wat breek en kaste wat oopgeruk word. Hy is besig om halwe bottels drank uit te haal waar hy hulle weggesteek het en te drink terwyl hy verder soek, saam met nog pille. (Dit bly vir my vreemd, vandag nog, hoe lewendig ek op daardie oomblik gevoel het. Dit was bekende musiek hierdie, en hoewel dit vreesaanjaend was, hierdie wete, was dit minstens iets wat ek kon voel. Ek het saggies gehuil, buite myself van vrees, in die hel, maar was ook kalm. Daardie gewaarwording van myself van buite bekyk, het gebly.)
Ek weet ek het nie baie tyd nie. My pa sal nog ’n paar minute lank sy versteekte voorraad naloop (hy is nou buite, agter, in die garage), en dan sal die uitwerking van die alkohol en dwelms op sy brein basies oombliklik wees. My pa word nie meer soos ’n normale mens dronk of hoog nie: alles is onmiddellik, spiergeheue en sinapse is geolie deur jare se oefening. Ek het tussen vier en sewe minute om reg te maak.
Heel eerste laat ek die hond uitgaan. As my pa voel sy is ’n bedreiging, sal hy haar doodmaak. Ek laat haar voor uitgaan, waar sy stil bly staan (aandagtig maar geluidloos, soos hierdie ras maak) en deur die skuifdeur kyk wat in die huis aangaan. Ek weet sy sal begin blaf die oomblik as geweld uitbreek, en ek hoop ek kan die buitehekke met die elektriese stelsel uit die ingangsportaal oopmaak, sodat mense buite kan besef iets is fout.
(Vandag besef ek dis seker snaaks dat my eerste refleks nie was om die huis te verlaat nie, en ek weet nie eintlik hoekom ek nie het nie. Maar rasionele denke was nie toe op die tafel nie. Rasionaliteit het tot een of ander fantasiewêreld buite my huis behoort, tot ’n wêreld so ver verwyderd dat die binnekant van die huis die beter alternatief was. Ja, dit was ’n verskrikking, maar dit was ’n verskrikking wat ek geken en verstaan het.)
Noudat Bruni buite is, het ek drie of dalk vier minute om ’n hele paar belangrike goed te doen. Ek sluit die skuifdeur oop waar die hond vir my staan en kyk, haar ore regop en haar oë gefokus. Dan hardloop ek teen die trappe op na die ingangsportaal, sluit die voordeur en veiligheidshek oop en steek die sleutels agter ’n potplant in die hoek weg; ek wil nie hê my pa moet ons binne kan toesluit nie.
Dan hardloop ek na my ouers se slaapkamer toe en vat die foon langs die bed. Ek sit die foon in ’n kussingsloop wat ek op die bed vat. My ouers se twee studeerkamers is naby hulle slaapkamer en daar is in elkeen van hulle ook ’n foon wat ek gaan haal en in die kussingsloop sit. Daar is nog een telefoonprop in die huis, in die kombuis, maar daar is nie ’n foon nie. Ek hoop om in die kombuis uit te kom en daar ’n foon in te prop en vir hulp te bel voor ek in die leë kombuiskas onder die wasbak wegkruip.
Maar nou is ek nog in die slaapkamervleuel van die huis vasgekeer, en in die verte hoor ek my pa deur die kombuis terugkom uit die motorhuis.
Hy maak die kaste oop, drink die kookwyn en (slim) eet iets om sy maag uit te voer. Hy maak reg vir ’n harde sessie met my ma, wat hy dink in die spaarkamer vir hom wag. Ek oorweeg my opsies en besluit om te hardloop vir hulle slaapkamer en onder die bed te gaan lê waar ek onsigbaar sal wees vir iemand wat vinnig van die deur af inkyk. Ek prop een van die fone in die prop naby die vloer in en bel hulle werk se algemene nommer (7-7-7-7-1), en die nagwag antwoord amper onmiddellik.
“PACOFS, SUKOVS, good evening, goeienaand,” sê ’n manstem. Ek probeer om my asemhaling onder bedwang te kry, en om sag te praat. Ek gee vir die man my naam en my ma se naam.
“My ma is in die teaterkompleks, sy is vloerbestuurder by die konsert. Sê asseblief vir haar ek het gebel en sy moet nou dadelik huis toe kom.”
Ek wag nie vir ’n antwoord nie. Ek pluk die koord by die prop uit en luister. Die ding wat my pa is, loop deur die huis en sit oral ligte aan. Hy vloek in die lug en vir alles. Ek hoor hom in die spaarkamer instap, af in die gang, en hy skreeu. Hy skreeu my ma se naam uit, “Waar de fok is jy, jy gaan fokken spyt wees, jy beter nou uitkom, jou fokken teef.”
My pa is by my in die kamer. Sy voete is reg voor my waar ek onder die bed lê en klou aan die kussingsloop met die fone. Ek hou my asem op. Hy draai om en loop uit, skreeuend. Ek hoor hom na die ander kant van die huis loop, hy deursoek dit van die verste punt af. Ek prop die foon weer in.
“PACOFS, SUKOVS, good evening, goeienaand.”
“Het jy vir haar die boodskap gegee?” sis ek, so sag as wat ek kan.
“Luister, daar is ’n konsert,” sê die man, en ek stel my voor hoe hy sy skouers ophaal.
“Dis ’n noodgeval. Sy is in die teaterkompleks, sy bestuur die konsert. My … Daar is iemand in die huis wat my wil seermaak.”
Ek gooi die foon neer en skakel my grootouers se nommer (3-1-3-0-0-5). Ná ’n ewigheid antwoord my ouma. Ek moes iets gesê het, want my ouma sê taamlik formeel: “Pieter-Paul, kalmeer, ek kan nie uitmaak wat jy sê nie.”
Ek asem in.
“Pappa is dronk. Hy dink ek is my ma. Hy wil my seermaak.”
Ek hou my asem op. Ek luister hoe my ouma asemhaal. Sy sug. En dan is daar ’n klikgeluid. Sy het die foon neergesit.
Ek ruk die koord uit die prop uit, stop die foon weer in die kussingsloop in en luister. Die goeie ding van ’n dronk mens is dat hy geraas maak; mens kan hoor waar hy is. Ek hol by die slaapkamer uit en in die gang af. Dank die Here vir die mat. Ek beweeg vinnig en doodstil. Maar by die versonke kombuis en leefvertrek onderaan die gang misgis ek my en vat die eerste twee trappies te vinnig. Ek gly op die gladde klipvloer. Ek laat val die kussingsloop en een foon tuimel uit, kletter op die vloer neer. Dis soos ’n donderslag. Die foon se bokant breek oop en vir ’n oomblik lê ek doodstil en verwonder my aan die fyn draadjies wat nou sigbaar is.
My pa se stem – hy gil my ma se naam uit soos ’n vloekwoord – bereik my. Hy kom in die gang af en ek rol om, af teen die trappe en tot op die kombuisvloer. Ek hou my laag, kruip na die spens se kant toe, my kop onsigbaar vir enige iemand wat inkom, versteek agter die tafelblad en werksoppervlak in die middel van die groot vertrek. Ek hoor my pa werskaf met die stukkende foon voor hy dit eenkant toe smyt. Hy gil. Hy storm reguit vorentoe, eetkamer toe, en ek beweeg vinnig spens se kant toe. Langs my is ’n telefoonprop.
Ek prop een van die twee oorblywende fone in. My pa is nou iewers voor in die huis, in die sit- of eetkamer. As hy daar klaar is, sal hy hiernatoe kom, of buitentoe gaan, of teruggaan na die slaapkamers toe. Die oomblik toe ek die foon inprop, lui dit.
My ma se stem is soos ’n skerp lem. “Paul? Wat is dit?” Ek kan hoor sy is hoogs gespanne maar heeltemal beheersd. Haar stem is snaarstyf, amper onbekend, en die oomblik toe ek skree: “Mamma, dis Pa,” hoor ek hoe sy die foon laat val en hardloop vir haar motor.
My pa het my gehoor skree in die kombuis. Ek is reeds dood, en ’n groter gevoel van selfs verdere verwydering kom oor my. Dis amper komies. Toe ek omdraai om teen my seker wete in te kyk of ’n ontsnappingsroete nie skielik wonderbaarlik verskyn het nie, sien ek die kragboks in die spens.
Die donker was vir my die toppunt van alles wat boos is. Maar skynbaar was ek banger vir my pa as vir die donker, want ek dink nie eens daaroor nie. Ek strek my hand uit en slaan al die knoppies af, insluitend die hoofskakelaar. Die huis is skielik swart. Buite hoor ek vir Bruni blaf. My pa hardloop in my rigting, kom in die kombuis in.
Ek klap die spensdeur toe en kry dit in die nagdonkerte reg om dit toe te sluit en in een beweging die sleutel uit te trek en in my sak te druk.
Ek maak reg om te hardloop, en terwyl ek dit doen, hoor ek hoe my pa op sy koue nat sokkies gly, verby my skaats op die gladde vloer, en die kas tref waarin ek gehoop het om weg te kruip.
Maar ek ken die huis beter as hy, en terwyl hy vloek en skreeu en probeer regop kom langs die wasbak, gedisoriënteerd in die donker, hardloop ek weg van hom af in die eetkamer in. Ek volg nie my instink om in die sitkamer in te hardloop nie, ek hardloop na die ander kant toe, gaan sit op die vloer en trek die gordyn wat teen die glasmuur tussen die twee vertrekke hang oor my. Ek sê vir myself ek moet so diep asemhaal as wat ek kan, om my asem terug te kry en om stil te raak voor my pa in die kombuis tot sy sinne kom. Teen hierdie tyd het hy agtergekom die spensdeur is gesluit en dat hy nie by die kragboks kan kom nie.
Dis pikswart waar ek agter die gordyn sit. Daar kom ’n dowwe blou skynsel deur die glas agter my, dit kom van die skuifdeur in die sitkamer.
Bruni is histeries buite. My pa skuifel in die eetkamer in, sê weer my ma se naam, klink doodmoeg. Hy draai in die ander rigting, in die sitkamer in. Ek beweeg nie en sien sy skaduwee reg langs my aan die ander kant van die glas terwyl hy die sitkamer deurkyk in die bietjie lig wat van buite af inkom. Bruni blaf nou so hard en aanhoudend dat ek vry kan asemhaal waar ek sit sonder die gevaar dat hy my kan hoor.
En dan is daar motorligte wat die sitkamer van buite af verlig. My ma ruk die glasskuifdeur oop en skree vir my pa: “Waar is my kind?”
Ek het daardie aand ’n demoon gesien, maar hier is sy nou, ’n engel met die lig agter haar, skitterend, en ek kan met my eie oë sien dat demone en engele in hulle ysingwekkende aard sibbe is.
Wanneer sy inasem om die vraag te herhaal, slaan my pa haar met die metaalpyp. Sy tref die halfoop glasdeur en sak op die vloer inmekaar net toe my pa die deur met die pyp raakslaan, presies waar haar kop nou net was, en die glas in stukke spat. Hy tel ’n stuk glas op en begin dit oor haar nek te trek, en sy stamp hom weg met haar arms en haar hande, en probeer haar bolyf onder die koffietafel inskuif.
Ek staan verstar in die deur met die motorligte wat van buite af in my oë skyn. Ek gil ’n gebed oor hulle uit, een wat ek al voorheen gebid het: “Liewe Jesus, maak hom dood! Asseblief, Liewe Jesus, maak hom dood!” en hierop begin die hond nader kom, hou op blaf en gryp hom aan die arm, en weier om te los.
Ek en my ma kyk verwonderd hoe my pa op sy knieë neersak, gefikseer op die hond wat aan sy een arm vasklem. Dit raak stil, en ons almal haal hortend asem, my ma hou haar nek vas, my pa staar na die hond, en Bruni grom diep, baie diep. Uiteindelik los sy hom en kom neem stelling in voor my en my ma (ek staan nou agter haar), en my pa skuifel by die vertrek uit terwyl hy sy arm vashou, beweeg stadig terug na die slaapkamers toe, soos olie wat agteruit loop. Ons hoor die sleutel in die slot, en die geluid van glas en bottels.
* * *
’n Paar uur later, die oggend nadat my pa probeer het om my ma se kop met ’n metaalpyp te verbrysel, en toe weer en weer en weer probeer het om haar keel af te sny met ’n stuk gebreekte glas, staan sy op die grasperk voor die huis met ’n beker warm tee.
Die lug was koud, baie skerp, en van my uitkykpunt op die stoep af kon ek sien hoe die warm tee en my ma se asem ’n sigbare wit wolk maak. Hoe ek dit onthou, is as ’n totaal statiese beeld, buiten die asem wat by haar mond uitkom en die wit stoom wat lui boontoe styg uit haar beker tee. Sy staan regop met haar een sy na my toe, en die oggendlig is pragtig. Die lig agter haar hare skitter beeldskoon en misterieus. Dis doodstil; ek onthou nie enige motors in die straat of enige beweging op die sypaadjie nie. Was dit nie vir die dik verband om haar nek nie, in plek gehou met klein metaalknippies, was die hele toneel dalk regtig ’n skildery, iets wat geskep is om skoonheid vas te vang, deur ’n hedendaagse Vermeer. In ander omstandighede kon dit ’n afbeelding gewees het van ’n jong vrou wat haar tuin en die aangroeiende oggendlig staan en geniet, alleen in die middel van ’n uitgestrekte grasperk, ’n figuur wat die kyker se oog onmiddellik trek.
Ek het my ma nie vir ’n oomblik uit die oog verloor nie, my pa het binne geslaap. Ons prioriteit die volgende dag was om so stil te bly as wat ons kan en hom so lank as moontlik te laat slaap.
Ons het nie enige van ons bure geken of met hulle kontak gehad nie (pragmatiese familieprotokolle het isolasie voorgeskryf), maar ons het geweet ons bure aan die een kant was ’n hooggeregshofregter en sy vrou, ’n laerskooljuffrou. Ek herinner my geen ander kinders buiten by die skool nie, maar dis seker moontlik dat hulle kinders kon gehad het wat ook daar gewoon het. Daardie oggend was my ma ingedagte, somber, terwyl sy probeer om nie eintlik haar kop of nek te beweeg nie, toe Mevrou Regter by die wilde, bosserige heining tussen ons erwe verskyn. Sy moes my ma van anderkant af gesien het, ten spyte van die oorvloed hoë bome wat die uitsig tussen die onderskeie huise afskerm. Dit is seker moontlik, as mens mooi daaroor dink, dat Mevrou Regter dalk staan en kyk het of sy my ma of enige beweging aan ons kant kan sien.
Die buurvrou was in haar japon (ligoranje) en drafskoene (komieklik), haar arms gevou, en sy het heeltyd saggies “hallo” gesê, aanhoudend, tot sy my ma se aandag getrek het. My ma het bly staan waar sy was, haar bolyf effens vooroor; sy kon nie praat nie. Die vrou het met haar arm beduie dat my ma moet nader kom. My ma het geloop tot waar sy Mevrou Regter kon hoor, en toe gestop.
“Is alles reg?” het die vrou gefluister.
My ma het niks gesê nie, net kalm na die vreemdeling gekyk. My ma se een oog was toegeswel, so sy het die ander een na die buurvrou gedraai. En so staan hulle toe, woordeloos, vir wat soos ’n baie lang ruk gevoel het. In die verte het ek die kat op my skoot in die ysige oggendson gestreel.
Toe sê die vrou vir my ma: “Ek sê gisteraand vir my Dirk, vanaand is die aand wat daai man sy vrou doodmaak.”
My ma het nie ’n woord gesê nie, stadig omgedraai en weggeloop om die lowerplante aan die ander kant van die grasperk te bekyk.
Op daardie oomblik het ek iets oor buitestanders begin verstaan.
Meneer en Mevrou Regter was medepligtig. Hulle was erger as die gewelddadige monster wat binne op die turkoois deken lê en slaap het: hulle het geweet, maar hulle het niks gedoen nie. ’n Monster sal doen wat monsters doen. My pa was maar net wie hy was; daar was geen pretensie nie, niks kunsmatigs aan die geweld en vernietiging of sy wesensaard nie. Maar hierdie mense het geweet, en hulle het niks gedoen nie. En dit was nie ’n eenmalige gebeurtenis nie.
Hulle medepligtigheid het oor drie jaar gestrek, die meer as eenduisend nagte, meer as eenhonderd-en-vyftig donker naweke, wat ons by Morganstraat 13 gewoon het in daardie lowerryke rykmansbuurt.
Die prins van die gereg en die bewaker van kinders het geweet en hulle het niks gedoen nie: weer en weer en weer.
Daar was ander ook wat medepligtig was: my ouers se kollegas, my pa se ouers, my onderwysers, die dominee – selfs Liewe Jesus. Ek het wraakfantasieë oor hulle almal gekoester. Later het ek geoefen om hulle met messe te steek, gemaak asof die tuingereedskap waarmee ek op die voorste gras gespeel het, dolke was waarmee ek hulle in hulle slaap deurboor. Ek het gedink hoe ek alles sal seermaak wat hierdie mense liefhet: hoe ek hulle troeteldiere of hulle kinders sal steel, of net sal laat verdwyn. Of hoe ek hulle huise sal afbrand, met hulle wat gillend binne vasgekeer is. Selfs toe het ek geweet wat hierdie fantasieë was, ek het die wonderbaarlike sielkundige nut daarvan herken, en ek het dit vir myself gehou. In alle eerlikheid haat ek al daardie mense vandag nog.
* * *
My grootouers se motor kom in die oprit opgery. Hulle klim uit en my ouma stap oor die grondpad in my ma se rigting en merk op dat die struike moet water kry. My ma kyk haar neutraal aan.
“Ai, jong,” sê my ouma.
My ouma het in die huis ingegaan, en van waar ek sit, kon ek ’n effense rumoer hoor. Sy het weer uitgekom en ontsteld gesê dat my pa se voorarm en hand so groot soos spanspekke is en dat hy inspuitings teen hondsdolheid en klem-in-die-kaak moet kry, maar dat die hond haar nie naby aan hom wou laat kom sodat sy die wond kan sien nie.
Toe my ma nie reageer nie, het my ouma vir haar gesis, met slangogies wat spring van my ma na my, waar ek passief in my stoel sit, en in ’n harde stem aangekondig dat die hond beter na haar seun kyk as sy eie vrou.
Ek en my ma het begin lag, wat my ouma kwaad gemaak het. Sy het goed gesê wat ek nie kon hoor nie. My ma het opgehou lag en in ’n rasperstem vir my ouma gesê dat die hond nie haar liewe seun oppas nie, maar by hom waghou sodat hy nie by ons kan kom nie. My ouma het haar mond oopgemaak om iets te sê, maar toe my ma haar verband afhaal en haar nek en kop na haar toe draai, en tot reg voor haar stap, ’n handbreedte ver, het sy haar mond weer toegemaak.
“Kyk wat het jou kind aan my gedoen,” het sy gesê.
Hierop het my grootouers na mekaar gekyk en teruggestap na hulle motor toe. My ouma het nie weer na my of my ma gekyk nie, maar toe ek van die stoep af vra waarheen hulle gaan, het my oupa omgedraai en na my gekyk. En vir die eerste keer in my lewe kon ek hom sien vir wat hy regtig is.
Reëlings is getref dat my pa teruggaan na die kliniek toe vir ’n meer intensiewe program. Hy sou vir twee maande weg wees. Teen die tyd dat hy terugkom, het my ma ’n vreemde gelatenheid oor haar gehad.
Sy het die huis in die mark gesit en teen ’n afslagprys verkoop sonder om vir my grootouers of my pa te sê. Sy het gereël dat ons tot die einde van Junie kon aanbly sodat sy ver, ver weg ’n werk kon kry. Teen daardie tyd het my pa oor naweke by sy minnares Vivienne gebly, so hy was nie daar toe die verhuisingsdiens die laaste Saterdag in Junie al ons goed kom inpak en oplaai nie. Toe hy weer by Morganstraat 13 aankom, was die huis leeg, en ons was weg.
* * *
Veertien jaar later, in Mei 1996, is my halfbroer Ben sewe jaar oud en sy ma woon ’n kongres oorsee by. Ek is nog by die universiteit en pas haar huis op. Sy en my pa is in daardie stadium aan die skei. Sy het ons ouma gevra om te kom huishou, terwyl ek vir Ben skool toe vat en weer terug huis toe neem.
Daar was nog steeds nie ’n noue band tussen my en my ouma nie. Nadat my ma my pa in die vroeë tagtigs verlaat het, het ons ’n beleefde afstand gehandhaaf en ons was formeel met mekaar.
Teen die einde van ons huis- en kinderoppassery sit ons drie – ek, my ouma, my boetie – een naweeksoggend aan die ontbyttafel. My ouma verbreek die ongeskrewe reël dat ons nooit oor my pa, met wie ek in elk geval toe al vir meer as twee jaar feitlik geen kontak gehad het nie, praat nie.
“As ons jou pa net kan help om die drankduiwel te los,” sê sy.
Ek bly stil. Ek smeer konfyt op ’n stuk roosterbrood vir Ben.
“Hy is nie alleen aanspreeklik vir sy lewe nie, hoor. As jou ma en Ben se ma beter na hom gekyk het in hulle huwelike, sou dit met hom ook beter gegaan het.”
Toe sy sien ek kyk na haar, maak sy haar rug styf. “Ja, hy kan vyftig persent van die blaam vir sy huwelike dra, maar niks meer nie.”
Ek staan stadig op en gaan haal die telefoon wat naby die ontbyttafel staan. Ek sit dit voor my ouma neer.
“En nou?” vra sy.
“Nou bel jy my ma en vra om verskoning vir die kak wat jy hier gepraat het.”
Sy gluur my aan. “Met wie dink jy praat jy?”
Ek tel die foon op en bel my ma se huisnommer op Oudtshoorn. Toe sy antwoord, dra ek rustig my ouma se opinie aan haar oor. My ma raak stil en sê sy sal hieroor dink, en later terugbel om met my ouma te praat.
Toe ek die foon neersit, begin my ouma praat.
“Jy kan maar kwaad wees, maar jy weet dis waar,” sê sy.
“Jy is ’n walglike verskrikking van ’n mens,” sê ek, en gaan sit op die sitkamervloer om saam met my boetie ’n Lego-karretjie te bou. My ouma is op die punt om nog iets te sê toe die foon lui. “Ek dink jy beter maar antwoord,” sê ek vir haar sonder om op te kyk.
Terwyl my ma met my ouma praat, sê die ou vrou niks nie. Sy sit doodstil en luister vir omtrent vyf minute na my ma.
Ná die oproep gaan sy na haar kamer toe. Ek bel my ma, wat heel kalm klink en vir my sê dat ek nooit weer met my ouma hoef te praat as ek klaar na die huis gekyk het nie. Dis verby. Die pofadder bly in die reën.
Toe Ben se ma by die huis kom, het ek haar alles vertel. Sy het my bedank dat ek na Ben gekyk het, en ek het my toksak gevat en agterdeur toe geloop, en uit na my motor toe. My ouma het my by die agterdeur ingewag. Toe sy oorleun om my te soengroet, het ek teruggetree en my hand gelig met die palm na haar toe, soos ’n verkeersman ’n aankomende motor sou stop.
My laaste woorde aan haar was die volgende:
“Ek kan my net voorstel hoe dit voel om jou eie stukkende kinders te sien en te weet dis jy wat hulle gebreek het. Ek wil jou nooit weer sien of met jou praat nie. Ek hoop jy het ’n lang lewe met baie jare sodat jy kan leef om te sien hoe die mense wat jy gemaak het, finaal inmekaarstort. En wanneer jy doodgaan, hoop ek jy is by jou volle bewussyn. En in pyn. En alleen.”
Ek wens ek kon sê ek voel sleg oor daardie woorde, maar wanneer ek wil sag raak, herinner ek my aan daardie afgemete geluid, daardie kort suggie gevolg deur die klik van die foon, toe sy my daardie aand op nege jaar oud aan die duiwel oorgegee het. En hoewel ek besef dit maak my ook ’n monster, dat dit my een van die demone maak wat sy grootgemaak het, is ek nie jammer daaroor nie.