Khoikhoi-leerboek: 'n gesprek saam met Toroga Denver Breda

Khoikhoi-leerboek: 'n gesprek saam met Toroga Denver Breda

Khoikhoi Useful Phrases & Words met kunswerke deur Dav Andrew

Lees op eie risiko, sê Mercy Kannemeyer 

Toroga Denver Breda, ’n skrywer en Khoi-aktivis van Kaapstad, is die samesteller van die leerboek, Khoikhoi Useful Phrases & Words (2021), wat alledaagse woorde en handelinge in Suid-Afrika se eerste taal bevat. Die kunstenaar Dav Andrew het die visuele aspekte van die leerboek behartig. Dav is, volgens Toroga, een van die min Khoi-kunstenaars wat Khoi-mense skets. Khoikhoi Useful Phrases & Words is ’n genotvolle gids wat my weer opgewonde oor taal gemaak het.

Om deesdae oor taal te praat, voel soos om in ’n ou landmyn te probeer piekniek hou. Een verkeerde tree (of woord) en jy ontplof. Ek wens ons kan ongemaklike gesprekke meer normaliseer. Ek probeer dit in dié onderhoud doen. Lees op eie risiko. 

MERCY: Waar het die idee vir jou Khoikhoi-reader ontstaan?

TOROGA: Die idee vir die reader het ontstaan toe ek realise daar is ’n gap in die mark. Ek wou iets skep — iets wat uniek is tot ons, iets wat create is deur ons, iets wat compile is deur iemand soos ek wat self oor die jare die journey begin het van Khoikhoi aanleer. Dit was moeilik, want ons het niks Khoikhoin, of elders, wat vir ons kan leer nie. Daar’s niks ruimtes nie, daar’s niks acknowledgement van die |AOǂNAGUB (bloed afvat/genocide) van ons tong nie. Daar is die normalisation van Afrikaans, dié Nederlandse kreool-dialek wat aanvaar word as ons eie moedertaal. Dit kan nooit wees nie. Afrikaans kan nooit ons Khoi-moedertaal wees nie. Ons sou dit nooit ’n moedertaal genoem het as dit nie afgeforseer was op ons tong nie. As daar nie geweld was wat dit op ons tonge geplaas het nie. Die idee was basies om die reader bymekaar te sit om iets te hê wat eie aan ons is. Iets wat kan uitgaan en mense bewus maak — kyk, ons taal is hier. Ons is hier. 

MERCY: Daar is heelwat mense wat nie met jou sal saamstem oor Afrikaans nie. Die current consciousness rondom Afrikaans handel oor die reclaiming van die taal as ’n inheemse taal wat teen Suid-Afrikaners gebruik is. Die taal word herverbeel tot ’n taal van bevryding; die stigma dat dit ’n onderdrukkerstaal is, word mee weggedoen. Stem jy nie saam met die current consciousness rondom Afrikaans nie? 

TOROGA: Die ding met Afrikaans is dat ons dit create het — dié taal waar ons Nederlands gevat het en dit met Khoikhoi gemeng het hier in Afrika. Dit is wat Afrikaans is – ’n Afrikase Nederlandse taal. Die feit dat 90% van Afrikaans Nederlands is, is vir my so ’n problematiese ding. Dit is nie onse Khoi-mense se taal nie. Dit is iets wat ons gebruik het om te trade. Ons was in ’n plek van power toe ons dit begin create het, maar soos ons land van ons geroof is, word dit toe ’n taal van disempowerment. Die creation van die taal is ons s’n, but as ’n mens praat van eienaarskap is ’n groot persentasie van Afrikaans steeds Nederlands. Wit Nederlandse en German-afstammelinge own Afrikaans. Hulle besit al die resources in Afrikaans. Wil ons baklei vir dit? Of wil ons baklei vir ons eie tale Khoikhoi en Nǀuu? Iets wat net so problematies is, is dat ons wil klou aan iets wat Wit is. Ons wil nie klou aan iets wat “Afrika” is nie. Die feit dat Afrikaans verstaan word in Europa, maak dit nie ’n Afrika-taal nie. G’n Afrika-taal word verstaan in Europa nie. As ek praat van my moeder; my moeder is ’n Khoi-vrou van Graaff-Reinet van die Inqua-Khoikhoi. Die Inqua was bekend as die kaise !khusib, of rykste Khoi-groep in Suider-Afrika. My moeder sou nie vir my hierdie taal (Afrikaans) aangeleer het as ons nie beroof is nie. Om Afrikaans my moedertaal te noem, is ’n insult. Dit sou nooit ons moedertaal gewees het as daar nie die sistematiese verarming en vernedering van ons tonge was nie. Dit is ’n klap in die gesig vir my voorouers. Dit is ook ’n klasse-issue. Die middelklas Bruin mens wil klou aan iets wat hulle remind van ’n Wit voorouer. Die geklou aan christianity, die geklou aan Coloured identity, die geklou aan Afrikaans, is eintlik ons need om te klou aan dit wat Wit is. Especially ons as Khoi-mense. Onthou ons is die most de-Africanised Afrika-mense. Ons sal eerder staan met Wit mense as wat ons staan met Afrika-mense. Ons is nog steeds so colonised. Historically is ons die eerste mense in Suider-Afrika wat ge-colonise is. 

MERCY: Sjoe. 

TOROGA: Ek love die intense question. Ek dink dis belangrik. Ek wens die gesprek kon plaasvind by die KKNK, die Woordfees, die Suidoosterfees. Ek wil hê jy moet in die article vra hoekom word die gesprekke nie gehou by die Afrikaanse kunstefeeste nie? Afrikaans het ’n restorative role in Khoikhoi. Historical violence het gekom deur Afrikaans. Vandag wil Afrikaans hulle hande afvee en maak asof alles hunky dory is. 

Uit: Khoikhoi Useful Phrases & Words

MERCY: Wat was van die uitdagings om hierdie reader bymekaar te sit? 

TOROGA: Marib, of geld, was ’n challenge. Gelukkig het ek geld gekry van die NAC (National Arts Council), sowel as by Cultural Survival, toe kon ek die reader compile. Geld is belangrik vir hierdie tipe werk. Dis die consciousness, but ook die geld. Die marib. 

MERCY: Vertel my meer oor die belangrikeid van die bemagtiging en beskerming van ons inheemse tale.

TOROGA: Ons genocide word nie erken nie. Taal is nie net die woorde nie. Taal is die stem van ons abugai – ons voorouers. Dit is ’n ǂaiho of herinnering dat ons hier is, van ons cultural taal-erfenis wat ons s’n is. ’n Khoi-mens wat Afrikaans hulle moedertaal noem, is vir my ’n challenge, en ons het daai challenge so ge-normalise. Dis verkeerd.

MERCY: Dink jy daar is ’n bereidwilligheid om inheemse tale aan te leer? Hoekom of hoekom nie?  

TOROGA: Ek dink daar is. Mense is bereid om hulle eie taal aan te leer. Ek dink ons Khoi-mense weet en kan voel dat wanneer jy ’n taal praat wat nie lyk soos jy of klink soos jy nie, is daar ’n gat daarin iewers. Sistemies is daar steeds die normalisation van Afrikaans as ons moedertaal en die twee gaan moet co-exist, want ons gaan nie Afrikaans net so los nie. Khoikhoi kan ’n baie meer dominante rol speel in ons Khoi-erfenis en in wie ons is. Daar is wel challenges — dis daai colonial mindset wat exist in onse Khoi-mense. 

MERCY: Jy is baie outspoken oor Khoensake. Hoekom?

TOROGA: Outspoken is so ’n intense woord. Ek dink ek is net baie intentional. Intentional oor die werk en wie ons is, want ons is belangrike mense en ek dink terwyl ons, ons taal en kultuur nie sien as belangrik nie, gaan ons nie vir onsself ag as belangrik nie. Dié werk is lasalasa (restoration) work. Miskien weet ons nie eers ons het die need vir lasalasa nie, maar dit is belangrik. 

MERCY: Wat wil jy sien gebeur rondom Khoikhoi?

TOROGA: Ek wil hê mense moet geld gee vir Khoikhoi-werk, resources available maak, en hierdie intensiewe gesprekke voer. Ek wil ook hê mense moet hulle instansies decolonise, en die anti-Khoi behaviour binne Afrikaans challenge. Baie van die Afrikaanse feeste en organisasies is nog deeply rooted in anti-Khoi behaviour. Hulle sê dit nie, maar hulle actions wys dit. Daar was ’n lightbulb moment binne Afrikaans waar daar gesê is: “Okay, kykie, doen gou julle Khoi-goed hier”. Ons was gou ’n fad, en toe is dit oor. Maar ons gaan nie verdwyn nie. Ek wil dedicated funding en dedicated programming vir Khoikhoi werk by Afrikaanse feeste sien. 

MERCY: Wat wil jy hê moet mense wegneem van jou Khoikhoi-leerboek?

TOROGA: Die Khoikhoi-reader is nie net vir ons Khoi-mense wat ons taal moet reclaim nie. Dit is ook vir die hele land. Jy kan nie praat van connecting met dié land as jy nie die eerste taal van die land ken of verstaan nie. Party mense is so verbaas as hulle woorde soos “Karoo”, “Leeu-Gamka”, “Gamtoosvallei”, “Tsitstikamma”, “naai”, “kak”, “dagga” hoor. Dis almal Khoi-woorde. Dis belangrik om hierdie tipe werk te support, want jy kan nie die eerste mense seermaak (soos wat die Khoi seergekry het) en dink die land gaan nie seer wees nie. As ek die reader moet beskryf... Dis such ’n revolution, oftewel ’n khaima! 

MERCY: Waar kan mense jou boek koop?

TOROGA: By my, AITSA Bookshop, Obz Books, The Book Lounge en Clarke’s Bookshop.


Kontak Toroga by breda2007@gmail.com om ’n Khoikhoi-leerboek teen R200 te koop.

Deel hierdie storie


Eerste en oudste Afrikaanse tydskrif, sedert 1896

Ons bou aan ’n moderne beeld van hoe Afrikaanswees lyk, lees en klink. Het jy van Khoikhoi-leerboek: 'n gesprek saam met Toroga Denver Breda gehou? Dan ondersteun ons. Vriende van Klyntji word op hierdie bladsy gelys.


 Eenmalig R
 Maandeliks R


Klyntji verklaar 'n klimaat en ekologiese noodtoestand