'n Gesprek met Ryan Pedro oor pienk ceramic-hondjies
Liewe leser, wees asseblief gewaarsku dat hierdie onderhoud krutaal bevat
In Ryan Pedro se debuutbundel pienk ceramic-hondjies (2020, Kwela) word coloured identity, verhoudings, familie, taal, ras en klas oopgeskryf. Ryan betree die bedryf met ’n bang en ek beskou myself #blessed en bevoorreg om hom te ken. Hy was nog altyd iemand na wie ek kon opkyk, want hy is slim, talentvol en eerlik, en sy toegewydheid aan die letterkunde is bewonderingswaardig. Ek het die voorreg gehad om ’n bietjie saam met Ryan oor sy bundel te gesels. Liewe leser, wees asseblief gewaarsku dat hierdie onderhoud krutaal en woorde soos “coloured” bevat, woorde wat debatte ontlok. Lees op eie risiko, veral ook as jou ore nie Mengels gewoond is nie.
Video’s deur Regardt Visser.
MERCY: As jy jou bundel met een woord moes beskryf, wat is daai een woord?
RYAN: Bold.
MERCY: Die openingsgedig – ‘portret van ’n coloured laitie as ’n mixtape’ – is een van die treffendste openingsgedigte wat ek al gelees het. It really sets the tone en het my lus gemaak om die bundel op een slag deur te lees. Waarom het jy die gedig eerste geplaas? Die lines: “daai paar seconds net voor / die beat drop / die bass alles in / sy poes in skop”, is hoe ek voel oor die res van die gedigte in die bundel. Ek weet nie hoe om dit te beskryf nie (ek sal nog mooi moet dink), maar ek voel met die eerste gedig dat jy vir die leser ’n paar sekondes gee om hulle gereed te maak vir wat kom, because you’re about to skop us all in the poes. As jy nie omgee nie, vertel asseblief van die journey met hierdie gedig?
RYAN: Dis supposed om te function soos die intro track van ’n rap album. ‘Ambitionz Az a Ridah’, ‘Tuscan Leather’ type vibes. Ek’t dit laaste geskryf, want ek wou eers seker wees van hoe die ander 98% van die boek gaan lyk. Daai’s hoekom al die major themes en motifs van die boek in daai poem visible is. En daai’s ook hoekom die energy en die delivery so calculated is. Dis ’n welcome aan die homies, orientation vir die allies, en vir dié wat dit as ’n warning gesien het… Sorry oor die poem op die next page.
MERCY: Ek is nie een vir temas in poets se werk uitsoek en dit dan daarvolgens label nie. Was dit Breyten wat by geleentheid gesê het die betekenis van die gedig is in die gedig? Ek praat onder korreksie (Breyten, as jy hierdie onderhoud lees, stuur vir my ’n e-pos of rooiborsduif, asseblief?), maar daar is iets omtrent betekenis soek wat aan die leser oorgelaat moet word. Wat ek raaklees in jou bundel is familie (veral die mans in die familie), verhoudings (met jou eie mense, met witmense), ’n ingesteldheid teenoor “die ander”, die “avonture” van in ’n coloured huis grootword… Wat sê jy? Wat is die temas? En moet mense temas probeer soek in alles? Is ’n poem net ’n poem? Tot watter mate wil jy hê mense moet hulle eie afleidings maak?
RYAN: Poetry-skryf is so ’n deliberate act. As ’n poem net ’n poem was, sou poetry collections net ’n klompie unorganized thoughts in ’n notebook gewees het. With that said, het ek seker gemaak ek skryf die poems op so ’n way dat die construction van meaning op different levels kan plaasvind. Die everyday reader gaan access hê tot die surface level, waar linear narratives, emotions en familiarity dominate. Die meer literary en academic motherfuckers gaan weer access kry tot die teoretiese, verstegniese en stilistiese raamwerke waarbinne said narratives embedded lê. En dan is daar ’n VIP section vir mense wat access het tot both daai planes. Themes soos identiteit, familie, taal, ras, klas, verbruikerskultuur (en die status wat daarmee gepaard gaan), kan therefore op verskillende levels en intensities experience word.
Ryan verdeel sy bundel in twee kante – Side A en Side B. In my jarelange vriendskap met hom het ek geleer dat hy oorspronklik van Kakamas af kom. Ons het mekaar op Stellenbosch in die departement Afrikaans en Nederlands ontmoet (shout out aan al die befokte dosente in hierdie departement! Julle het ’n vormende rol in my sowel as Ryan se lewe as skrywers en denkers gespeel). Terug op die punt wat ek wil maak — Side A en B speel op verskillende plekke af en as iemand wat in hulle kort lewe al baie rondgetrek het en hulleself uiteindelik in Stellenbosch bevind het, wou ek by Ryan weet wat die reis van Side A na B in sy bundel vir hom beteken.
RYAN: Side A is poems wat afspeel in Kakamas. Side B is poems wat afspeel in die Weskus (Vredenburg/Saldanha). Ek het my childhood deurgebring in albei hierdie spaces, maar nooit gevoel ek het roots in either one nie. En omdat ek altyd tussen die twee spaces moes beweeg, het ek nooit gevoel ek’t access tot die codes wat ek sou nodig kry om ’n coherent identity te construct nie. So dis wat die middle section van die boek so important maak – dié tussenin (amper liminale) ruimte waar die spreker die heeltyd sy identity try construct en negotiate via al die portraits wat hy van homself probeer skets.
MERCY: Luister jy musiek terwyl jy skryf? Wat is altyd op jou playlist? Wat sal ons NOOIT op jou playlist vind nie?
RYAN: Altyd. Ek’s meer van ’n album-mens, though. Ek try altyd ’n meer lyrically dense album luister voor ek begin skryf. Om my thoughts aan die gang te kry, my mood reg te kry. En terwyl ek skryf, luister ek meer vir ’n sonic experience. Altyd hip-hop. My playlists is reserved vir wanneer ek random shit doen. Soos die dishes. Of vee. En dan kan ek byna enigiets luister.
MERCY: Jy skryf wêrelde oop waaruit mense baie kan leer – rassisme in die coloured gemeenskap, rassisme teenoor coloured en swartmense in klein dorpies – wou jy hê die leser moes iets leer? Indien nie, sou jy sê die oopskryf van onbekendhede was vir jou somewhat cathartic? En hoe?
RYAN: In die process van die boek skryf, was ek natuurlik nie obvlivious vir die discourses wat dit sou spark nie. Dis, soos jy sê, unexplored terrain in die Afrikaanse literature. As dit lig werp op important issues in literary en social domains, en ’n catalyst kan wees vir transformative discussions, is dit dope. Maar dit was definitely nie my primary intention gewees nie. Die meeste van die poems is rooted in narratives en moments wat ek eerstehands experience het. Die mense wat ek oor skryf se baggage is daar om geransack te word vir mense wat panel discussions oor daai tipe shit wil hê. Ek’s maar net all too grateful om die stories uit my uit te kon kry op die most authentic en respectful way possible.
MERCY: Coloured identity is in die hedendaagse identiteitspolitiek ’n uiters omstrede kwessie. Daar is diegene wat voel dat die woord “coloured” ’n label is wat die apartheidregering aan bruinmense of Khoe-mense of mense met gemengde herkoms gegee het. Sommige aktiviste meen die woord dra ’n ewewigtigheid soos dié van die K-woord. En daar is dan ook dies wat meen dat die term ’n facelift moet kry. Sommige voel die jonger geslag moet die term herdefinieer. Alhoewel die jonger geslag nie die trauma van die woord beleef het nie, het die mense wat ons grootgemaak het, wel. Myns insiens lê daar daarom tog waarde in die jonger geslag se gebruik van die woord “coloured”, want ons gaze is beïnvloed deur die mense wat die apartheidregering eerstehands ervaar het. Dit som die omstredenheid oor die woord “coloured” in ’n kleine, kleine, kleine neutedop op. Ek verkies om die gesprek rondom die term voort te sit en om ook mense toe te laat om te selfidentifiseer.
Ek lees coloured anties en ma’s en oumas wat hard werk, in jou bundel raak – dit voel asof hierdie neiging al vir jare en jare aangaan. Wat is jou gevoel oor die rol wat die coloured vrou in society se oë speel? Society being waar jy vandaan kom, waar jy studeer het, waar jy tans woon… Ek dink byvoorbeeld aan daai studie wat by die Universiteit Stellenbosch gedoen is oor coloured vroue wat lae kognitiewe vermoë het.
Ek kan my oë nie verder terug in my kop in rol oor daai studie nie. En ja, okay, daar was ná die tyd ellelange verduidelikings oor hoe presies die navorsing gedoen is en wat die doel daarvan veronderstel was om te wees, maar dit is só uitputtend. Dis uitputtend, want ons mense is die onderwerp gemaak van iets waarby ons nie ’n sê gehad het nie, en ook by iets wat ons glad nie bevoordeel nie. Wat maak ons hiermee? Ek besef jy is ’n coloured man, maar ek weet (persoonlike bonus van jou ken) dat jy jou ma en susters as deel van jou onmiddellike familie het.
RYAN: Sy (die coloured vrou) word undermine, undervalue en underestimate. Wat vir my weird is, want van die sterkste mense wat ek ken, is coloured vrouens. Van die slimste mense wat ek ken, is coloured vrouens. Van die most creative mense wat ek ken, is coloured vrouens. ’n Klompie hustlers en bosses. En daai fuckin’ study wat jy van praat, is ’n sign dat die hegemony out of ideas run van hoe om so ’n fluid identity te contain in structures wat ál hoe meer obsolete raak met tyd. Hulle’s besig om te panic en dit wys.
MERCY: ‘ôs gan hystoe’ op bl. 45 het my diep getref. Dit was soos ’n stamp in die maag. Ek relate omdat ek sukkel met my idee van “huis”. Ek het, soos jy weet, baie rondgetrek as kind en toe in sewe jaar op drie verskillende plekke in Stellenbosch gewoon. Wat is huis vir jou? Hoe oud is jy in die gedig op bl. 45? Hoe het jou idee van huis ge-shift oor die jare (skip if it’s too personal or irrelevant).
RYAN: Partykeer nie ouer as 10 nie. Partykeer die age wat ek nou is. Dit wissel, maar die afwesigheid van ’n sense of permanence bly ’n constant. Klink morbid as fuck as ek dit nou so hardop moet sê, maar it is what it is. Ek’t nog altyd responsible gevoel vir die engineering van my eie realities, en daai include die concept van home. So for as long as ek dit kan volhou, is huis waar ek besluit dit is. Waar ek my musiek hard kan luister, my boeke oral in die huis kan laat lê, met my hond kan speel, saam met Suzanne shitty TV shows kan kyk.
MERCY: ‘by die barbershop 3’ – dankie. Ek het gehuil toe ek dit die eerste keer gelees het. Ek wil net vir jou dankie sê.
RYAN:
MERCY: Hoe voel jy daaroor dat jong bruin digters met mekaar vergelyk word? So amper asof almal ’n soortgelyke narratief moet volg, want “julle is mos coloured”.
RYAN: Ek kan net lag vir daai shit. Hulle hou daarvan om ons soos ’n gang te laat klink. Dis vir my fuckin’ hilarious actually. Dat daar in die kanon se collective mind ’n straathoek bestaan waar al die coloured poets congregate om poems oor violence, armoede en hulle hare te sit en skryf. As daai die case is, moet daar iewers seker ’n veranda ook wees waar al die wit poets onder die koeltebome bymekaarkom om sonnette en kwatryne te skryf oor God, die natuur en Marilyn Monroe. Jy weet? Régte kuns.
Ryan se antwoord op dié vraag het vir dae lank in my kop gedwaal. Ek het gestoei met die idee dat daar in die Afrikaanse letterkunde nog van wit digters en bruin digters en swart digters gepraat moet word. Is ons (lesers, aktiviste, social justice warriors!) die mense wat dit perpetuate deur liries te raak oor rasseverteenwoordiging? Verstaan my mooi. Rasseverteenwoordiging (of representation in Engels) is van kardinale belang, want mense wil en moet hulleself sien. Die punt wat ek probeer maak, is dat dit voel asof ons wat Afrikaans is, dikwels steeds onsself van mekaar weerhou. Of is die skeiding tussen die rasse nog so wyd dat ons verskille glad nie misgekyk kan word nie? Ek het nie ’n antwoord nie, maar wat ek weet is dat ons nog lank nie uitgepraat is oor Afrikaans en al haar fasette nie.
MERCY: Die geveg vir die behoud van Afrikaans by Stellenbosch… Hoe voel jy hieroor? As ons dink aan die tipe Afrikaans wat by Stellenbosch gebesig word en vir wie hulle cater (alhoewel dit selde hardop gesê word – we know), wat is jou gevoel? Daar is soveel verskuilde agendas binne die taalstryd en daarom voel ek dis deel van my aktivisme om vir die taal te veg soos ek die taal en alles daarby ken en verstaan. Wat dink jy?
RYAN: Sê daai shit hardop. Want daai’s die exact reason hoekom ek nie in my feels raak oor die hele besigheid nie. Wanneer jy tussen die lyne lees, begin klink Afrikaans vir my te veel soos identity, en dis beslis nie die identiteit van die coloured persoon nie.
MERCY: Wat is jou gevoel oor die sogenaamde liberals wat bruinmense wat Afrikaans praat, ophef? Mense wat jou byvoorbeeld “komplimenteer” met: “Jy praat so mooi Afrikaans”. Dit kom natuurlik nie net van die liberale kant af nie. Die verkramptes gebruik ons as politieke speelbal vir hulle eie agendas. Hierop kan ek nog langer uitbrei, maar het ons tyd? Dit mag dalk ’n minitesis op sy eie raak...
RYAN: Ek voel niks vir hulle nie. Elke keer as ek aan hulle dink, kry ek die gedagte van daai ryk bra in Titanic wat die lower class meisietjie opgetel het en gemaak het asof hy haar pa is sodat hy op die life boat kan kom: “I have a child! Please? She’s all I have in the world.” En dan lag ek my pap.
MERCY: Het jy ’n gunstelinggedig in die bundel?
RYAN: Almal is my favourite. Dis ’n mixtape, remember?
Ek wens ek kon nog langer met Ryan gesels. ’n Herlees van Ryan se bundel stel my gerus dat ons okay gaan wees. Ons die outsiders, ons wat nie op ons bekke geval het nie, ons wat grootgeraak het in chaos, ons wat toegelaat is om against all odds te droom en al die ander onse wat saambaklei. Gaan koop pienk ceramic-hondjies onmiddellik. Asseblief.