Beyers de Vos: 'Kuns is 'n etiese plig'

Foto: Joanne Olivier

Mercy Kannemeyer gesels met die skrywer oor sy nuwe toneelstuk, Die Suid-Afrikaners

MERCY: Wie is Beyers de Vos?

BEYERS: Hierdie vraag maak my net so bang soos om ’n Tinder bio te skryf. Wat kan ’n lys stokperdjies of prestasies of identiteitkategorieë nou eintlik onthul?

’n Ander manier om die vraag te antwoord is: as ek myself beter verstaan het, het ek sekerlik nie geskryf nie. En was ek nie in terapie nie.

MERCY: Vertel meer oor jou studies. Wanneer het jy besluit jy gaan skryf? 

BEYERS: Ek het ’n passie vir skryf op skool ontdek en seker toe besluit ek gaan skryf. Ek dink ek was nogal ernstig daaroor: ek is na die Universiteit van Pretoria toe omdat dit op daai stadium die enigste universiteit in die land met ’n voorgraadse kreatiewe skryfskool was. 

Ek is glad nie meer so ernstig nie, dankie tog.  

MERCY: Jou eerste boek Wrok het op die Sunday Times Barry Ronge Fiction Prize-langlys beland. Waaroor gaan Wrok

BEYERS: Ja, die Sunday Times Barry Ronge Fiction Prize-langlys. Is dit Zadie Smith wat gesê het elke skrywer se eerste roman gaan maar eintlik oor wraak? In my geval was dit nie net metafories nie. Wrok gaan oor ’n sussie wat haar broer se moordenaar stalk. Dis beide ’n legit speurverhaal en ’n bietjie van ’n fuck you to the crime novel. En ’n liefdesbrief aan Pretoria, van alle dinge. 

MERCY: Ah, Pretoria. Ek woon mos nou hier in die noorde van die land, en ek is absoluut gefassineer deur die hele Pretoria thing. Wat is dit?! Party mense LOVE Pretoria, en ander love to hate Pretoria. Maar wag, dis dalk ’n gesprek vir ’n ander dag en ’n paar bottels wyn. Hoe was dit om Wrok te skryf? Jy het dit self ook in Engels vertaal? 

BEYERS: Ek het die Engels geskryf en toe vra my uitgewers of ek dit sal vertaal. Tyd is vreemd: ek het nou die dag weer deur die boek geblaai en glad nie die verstand wat dit geskryf het, herken nie. Ek sou nie weer daai boek só kon skryf nie. Ek stel nie meer belang in die idees waarmee ek in die boek behep is nie. Maar my herinneringe van die skryfproses is vol vreugde, so dit was seker lekker. 

MERCY: RELATABLE CONTENT! Ek sukkel ook dikwels om met my ouer werk en idees te vereenselwig. Is ons nou daai stereotipiese millennials wat so vinnig oor iets raak en nie rerig longevity het nie? 

BEYERS: Seker, nè? Alhoewel… Jy bly nie dieselfde mens deur jou lewe nie. Jy groei en verander, en jou idees oor jouself en die wêreld ontwikkel. Ek hoop ek het slimmer geword, dat ek ’n beter denker en kunstenaar is. Ek sou teleurgesteld wees as ek vandag dieselfde “self” was as die een wat Wrok geskryf het. 

Dis natuurlik net so waarskynlik dat ek aan die einde van my lewe gaan besef dat alles wat ek geskryf het, eintlik oor presies dieselfde ding gegaan het. Fok. 

MERCY: Jy het ook vir Spoorloos geskryf. Was dit jou eerste gig ná jou boek? Hoe was dit?

BEYERS: Dit was my eerste TV-gig, ja. Dit was ’n baie goeie leerskool en ek is dankbaar aan almal wat daai geleentheid moontlik gemaak het. Terselfdertyd het ek gesukkel met hoe konserwatief die plaaslike televisiewêreld is. Ek bedoel nie die mense nie, maar die stories. Daar is ’n behoefte om ’n televisiegehoor gerus te stel, om hulle idees oor die wêreld te bevestig en te koester. Basically: “Moenie vir die tannies in die platteland lesbians wys nie.” Ek stel nie belang in dit nie. Ek skryf juis om mense se idees oor die wêreld uit te daag en te kompliseer. Daar is nie regtig plek vir daai uitgangspunt in die SA televisiewêreld nie. 

Moenie vir die tannies in die platteland lesbians wys nie.
— Beyers de Vos oor die Suid-Afrikaanse televisiewêreld

MERCY: So hoe verander ons dit? Dink jy die mense sal vir ons geld gee om ’n show oor plattelandse lesbians te maak? Iets soos The L Word, maar dit speel af op Malmesbury? Ohmyword ek wil so iets skryf! 

BEYERS: Jissie, dit klink befok! Soek Netflix nie ’n bietjie local content nie? I can already see the cold open: Close-up van ons hero se gesig. Sy huil. Dis haar geliefde hond se begrafnis en niemand het opgedaag nie… Behalwe haar eks. Awkward. Smash cut to ’n sex scene …

Om jou vraag te beantwoord, ons moet die mense se gewoontes en verwagtinge verander. Gehore het gewoond geraak aan een tipe storieformaat. Maar daar is baie ander maniere van storievertel as tussen advertensies in ’n 3-act structure binne 30 of 60 minute. Ons kort service providers wat nie ’n advertensie-gedrewe besigheidsmodel gebruik nie. Daai model bestaan om Omo en Toyotas en Cornflakes te verkoop, nie om kuns te maak nie. Ons kort HBO, baby! Suid-Afrika is nogal behind the times in dié opsig. Iemand moet net ’n kans vat op local audiences… 

MERCY: Ek stem saam. Wat my grensloos irriteer, is wanneer gehore onderskat word. Net omdat dinge vir jare op ’n sekere manier gedoen is, beteken dit mos nou nie dit móét dieselfde bly nie! Mense verander. Denke verander. Ons, skrywers en creatives, het ’n plig om ons gehore saam met ons op ons veranderingsjourneys (jis, ek haat myself dat ek van “journeys” praat. Voel só millennial) te vat. 

Die Suid-Afrikaners is jou tweede teks as ek dit nie mis het nie. Jy het Roosmaryn by Teksmark gehad. Waar kom dié storie vandaan? En waaroor gaan dit? 

BEYERS: Ag, ou Roosmaryn. Jy het dit so beautifully direct! 

Daai teks was ’n oefenlopie. Ek wou uitvind of my dialoog en skryfstyl op die verhoog sou slaag. Ek wou uitwerk of my verbeelding kon sin maak van die genre. Dié teks is nie klaar nie, want ek kan nie uitwerk hoe dit eindig nie, maar dit handel oor ’n vrou (Roosmaryn) wat aankom by ’n huis om iemand te vermoor vir redes wat nie heeltemal duidelik is nie. In plaas van die ouer man wat sy verwag, loop sy in op ’n jong gay couple. Sy moet dan besluit of sy kan bekostig om hulle lewendig te hou. Comedy and tragedy ensue. 

MERCY: Toe gebeur Die Suid-Afrikaners. Waaroor handel dié storie? 

BEYERS: Die apokalips. Suid-Afrika is in sy moer in. ​​Kasper en Karel is moeg vir lewe in die vlugtelingkamp, so wanneer hulle gerugte hoor dat daar skepe op die Kaapse kus is wat vlugtelinge red, val hulle in die pad. Maar daai selfde aand haak hulle vas by ’n ou plaashuis, waar twee sussies – Karina en Katryn – met tyd en woede boer terwyl die wêreld om hulle vergaan. 

Oor die koers van een aand bespiegel Karina, Karel, Kasper en Katryn oor die toekoms en baklei oor die verlede. Hulle wonder of hulle die laaste oorlewende Afrikaners is, en of dit saak maak. Wat bly oor van ons taal, ons kultuur, en ons identiteite as alles anders vernietig is? En wie se skuld is dit dat alles só uitmekaar geval het?

Dis ’n komedie. Belowe. 

MERCY: Hoekom het jy besluit om Die Suid-Afrikaners te skryf? 

BEYERS: Ek was besig om te dink oor nasionalisme, rassisme en Afrikaneridentiteit. Hoekom is so baie jong Wit Afrikaanssprekendes rassisties? Hoekom voel so baie van die gesprekke oor Afrikaans eksistensieel? Dit is vir my opvallend dat ’n nuwe Afrikanernasionalisme besig is om na vore te kom. Jonger konserwatiewe mense van my geslag of jonger wat nostalgies is oor Afrikaans en oor Afrikanerwees. Mense wat in die sogenoemde nuwe Suid-Afrika gebore is, maar nie aan die nuwe Suid-Afrika wil deelneem nie. Hulle wil Afrikaners wees, maar nie Suid-Afrikaners wees nie. Waarvan praat ons anyway as ons sê ons is “Afrikaners” – wat is dit, waar kom dit vandaan? Watter sisteme hou dit in plek? Hoe beperk dit ons? 

MERCY: En as jy jou eie vrae moet beantwoord, wat sal jy sê? 

BEYERS: Ek hou nie van antwoorde nie. Antwoorde veronderstel sekerheid. Die punt van fiksie is om jou onseker te maak. Chekhov het iets gesê soos: “Die doel van kuns is nie om vrae te beantwoord nie. In teendeel, dis om vrae op die regte manier te stel.” 

Anyway, ek het nie die antwoorde nie. Maar in die play formuleer ek hopelik die regte vrae op die regte manier. 

Die foto’s wat volg, van Die Suid-Afrikaners, is geneem deur Jeremeo le Cordeur

MERCY: So, wat beteken die play vir hedendaagse Suid-Afrika? 

BEYERS: Wel, die titel van die play is natuurlik ironies. Dit handel oor vier Wit Afrikaanssprekendes – op ’n metaforiese vlak die vier archetypes van die tradisionele “Afrikaner”-psige – wat juis nie aan hulself as Suid-Afrikaners dink nie. Die titel is tong-in-kies. Óf dit verwys na die skare wat off-stage is. Óf dit verwys na die ding wat die karaters moet word as hulle wil oorleef: hulle moet ’n vorige Afrikaneridentiteit afgooi en ’n nuwe Suid-Afrikaneridentiteit probeer skep. 

Ek hoop die play is kontemporêr in hoe ek temas soos queerness, wokeness, identiteit, liberalisme, godsdiens, climate change en so daarin benader. Maar ’n mens kan ook die play lees as ’n metafoor vir 1994: gaan jy in die toekoms intree saam met die res van ons of agterbly in ’n ou wêreld vol bose idees wat vernietig moet word. Dis sad dat ek 30 jaar later ’n play skryf wat vir ’n nuwe geslag van voor af dié vraag moet vra, maar hier is ons. 

Maar die hele wêreld voel ’n bietjie asof dit in die 80’s vassit, of hoe? Dis darem nie net ons nie. 

MERCY: My kennis van die 80’s is beperk. Maar ek wil vir jou vra, wat is dit met Suid-Afrikaners? Wat dink jy is van die issues wat Suid-Afrikaners nog in die gesig staar en hoe los ons (creatives) dit op? 

BEYERS: Weereens hierdie play gaan oor Wit Afrikaanssprekendes en al die gesprekke wat dié groepie vermy. Rassisme, witheid, die kerk, queerness, diversiteit, geregtigheid, grond, die toekoms van die taal, skuld en versoening, liberalisme en konserwatisme, en al die stelsels wat ons kultuur steeds definieer. Goed wat dié gemeenskap onder hulself moet uitsorteer as hulle werklik wil deel wees van die Suid-Afrikaanse samelewing. 

Kuns is nie politiek nie. Ek is nie sentimenteel oor die mag wat kuns het om verandering te bewerkstellig nie. Maar dis nie toevallig dat die twee karakters in die play wat op die ou einde wel met die toekoms kan vrede maak, albei kunstenaars is nie. Jy kort verbeelding, nuuskierigheid, en empatie om ’n etiese mens te wees. En goeie kuns is die ding wat jou verbeelding voed en verbreed, en jou blootstel aan nuwe mense, idees en perspektiewe. 

Ek dink wat ek sê is: kuns is ’n etiese plig. Lyk my ek is toe op die ou einde ’n bietjie sentimenteel, nè?

‘Die Suid-Afrikaners’ gaan oor Wit Afrikaanssprekendes en al die gesprekke wat dié groepie vermy. Rassisme, witheid, die kerk, queerness, diversiteit, geregtigheid, grond, die toekoms van die taal, skuld en versoening, liberalisme en konserwatisme, en al die stelsels wat ons kultuur steeds definieer.
— Beyers de Vos

MERCY: Ek hou daarvan… “[K]uns is ’n etiese plig”. Dis nogals profound. Ek deel vir seker jou sentimente rondom die verantwoordelikheid wat op kunstenaars se skouers rus. Ja, kuns is fun, maar ek dink ook dit kan fun wees om verantwoordelikheid vir kwessies groter as jouself te neem. Woorde soos “plig” voel soms so swaar, so weermagagtig. Op die einde van die dag is kunstenaars die mense wat ’n spieël na die samelewing moet ophou en sê: “Kyk, dis jy.” 

Wat is volgende vir jou, Beyers de Vos? 

BEYERS: Wanneer collaborate ons weer ’n bietjie, Mercy Kannemeyer?

MERCY: Bly ingeskakel. Plattelandse kweers deur Mercy en Beyers coming soon! 


  • Die Suid-Afrikaners was deel van die 2022 Woordfees-program.

Deel hierdie storie


Eerste en oudste Afrikaanse tydskrif, sedert 1896

Divers, progressief en vars. Waardeer jy ’n stem soos Klyntji s’n? Het jy van Beyers de Vos: 'Kuns is 'n etiese plig' gehou? Dan ondersteun ons. Donasies van lesers word gebruik om ons bedieningkostes te betaal: jou bydrae hou Klyntji aanlyn. Vriende van Klyntji word op hierdie bladsy erken. Elke bietjie help.


 Eenmalig R
 Maandeliks R


Klyntji verklaar 'n klimaat en ekologiese noodtoestand