Gedigte oor polisiegeweld deur Chanté April
'Al is dit met 'n knie op 'n swart man se nek / at least kom hulle'
Die tema van die gedigte in hierdie gedigtesiklus is die polisie en die geregtigheidstelsel in Suid-Afrika. In die gedigte fokus Chanté veral op die rol van outoriteitsfigure, sowel as die (gebrek aan) teenwoordigheid van polisiebeskerming in gemarginaliseerde gemeenskappe — en die negatiewe impak van hulle afwesigheid op die lewens van die inwoners van Suid-Afrika.
VSA Polisie
Al is dit met ’n knie op ’n swart man se nek
at least kom hulle
Al skiet hulle julle klongens oor ’n traffic fine vrek —
at least kóm hulle
al moet ’n rape victim prove, alles please explain
at least kom hulle
al is die aborsiewet strenger as gun-control of cocaine —
at least kóm hulle
En toe die skare soe oor George Floyd woedend loep en raas
sit ek hier in Manenberg, die crevices, verbaas
want al is julle boere met genocide bymekaa —
at least het hulle úitgekom, at least was hulle daa
stiptelik, gereed om die doodstraf uit te deel
terwyl 10111 nog ’n please-wait-deuntjie speel
Besoek aan die polisiestasie
toe os neighbours se turfwar handuit begin ruk
toe my broe my ma se trouring steel en gan verkoep vir tik
toe die jongens in die straat bet op pitbulls wat baklei
toe die 27’s skoollaaities as manskap begin kry
toe my broe in ’n koebers op die sypaadjie moes lê,
met ’n stiekwond in sy bors, vir my ma en jammersê
toe die sesse oor os hek spring, al os ruite uit ko slaan
en die Mdota wys: stiek yt vullis, is nog sonop jou frans;
Waar is julle elke keer as os 10111 try
Nou staan 10 van julle hier, gereed om my documents te certify
Die Justice System
Die justice system, vir ’n kind, begin by jou ma
As sy sien jy is stil lately moet sy vrae begin vra
En as jy een dag ingee, besluit om te vertel
die eerste ding wat sy moet doen is die polisie bel
En as die polisie ooit jou storie moes hoor
is iemand onmiddellik op die bad guy se spoor
jou naam word genoem in elke weekly staff meeting
daar’s interrogations, task teams, formele court seatings
en as dit als verby is, moet jy verbaas sit en dink:
joh, dat een kindjie se stem so deur álles kon weerklink
die justice system, vir ’n kind, begin by jou ma
maar as jou ma sê: moenie vi jou ougat hou nie
dan eindig dit ook daar
Uber Driver
Vir Abongile Mafalala, wie se moord deur julle gekeer kon, moes word
Op ’n oop veld op Walkerstraat
word ek vir die dood gelaat
Parkwood se mense stiek my aan die brand
ek bloei stadig uit in die sand
en hulle vat hul tyd met my
begin geleidelik met stry
dan mik iemand met ’n graaf
ek bly nie stil nie, hou my braaf
eers na ’n piksteel tien die kop
het die Hercules in my gestop
en soes die klippe tien my skaaf
begin die skrik in my te jaag
Daar is niks haas nie, niks te verloor
niks polisie op hulle spoor
as hulle so lank gevat’it met my
hoe kommit dat julle net ’n lyk kom kry
hie waar ek stof word, verander in as
hie waar ek die 70ste victim was
want weet, ek is wel onder húlle hande dood
maar dis julle mes hie in my rug: ek is júlle moord
Shooting Gallery
Hier waar jy, Cele, destyds die weermag
soes pitbulls in os strate laat ronddwaal
hul harte vol spyt, hul hande vol staal
gerig op die kill — een gang op ’n slag;
hier waar os toe minder gunshots verwag
het meer bullets ai’re beginne dwaal,
soes storms op os klongens neer kom daal
gerig op die kill — een kind op ’n slag;
dit wat nie dood maak nie maak os net seer
en dié wat seermaak sal os seermaak t’rug;
jý wat so bullets met bullets wil keer,
jy sal nog ’n ding of twee by os leer:
hie moer os kaalhand én os moer seer
so, sit daai AK47’s neer
Chanté woon in Stellenbosch en is tans ’n honneursstudent in Afrikaans en Nederlands. Sy skryf graag oor feministiese temas en onderwerpe wat voorheen benadeelde gemeenskappe raak.