Geagte Redakteur

'n Kortverhaal deur Louis Roux

Illustrasie deur Chanél van der Merwe

Illustrasie deur Chanél van der Merwe

Geagte Redakteur

Ek het die nuutste uitgawe van Huisgenoot vreeslik geniet! Dis maar eensaam hier in Coligny en die been pla gereeld – al gereelder. Ek gaan nie baie uit nie, met die ou been, en die Huisgenoot verskaf ure se weeklikse genot en genootskap. Vandaar die naam, neem ek aan!

Ek het veral gehou van die artikel oor die vrou wat haarself aan die brand gesteek het. Ek het al telkemale probeer verbeel hoe dit sou voel. Nie die vlamme nie, nie die kraak van jou vel of die reuk van spek nie, maar om sterk genoeg oor iets te voel of glo dat die enigste opsie 'n self-brandoffer is. Ek het nog nooit so sterk in iets geglo nie. Ek is bly vir die vrou dat sy dit kon ervaar en dat sy besig is om te herstel en aan te sterk. Toe ek lees dat sy hierdie dapper poging gemaak het as gevolg van 'n liefdesteleurstelling was my eerste gedagte dat daar sekerlik beter redes moet wees om jouself aan die brand te steek, maar hoe meer ek daaroor dink, hoe meer verstaan ek dit. Ek het vir jare gesukkel na my vrou my gelos het. Miskien as ek 'n twee-liter petrol gaan koop het, kon ek haar van my afbrand, en sou ek myself baie pyn gespaar het.

Ek moet bieg, die enigste kere wat ek uitgaan, is om die Huisgenoot te koop. Ander goed ook, natuurlik, kos en so aan, by die Checkers, maar dis die Huisgenoot wat my regtig opgewonde maak. Die dametjie by die sigaret-til waar ek my weeklikse carton kry noem my “oom”. Ek hou daarvan. Ek voel soos 'n oom.

Al steek ek net op Donderdae voet by die deur uit, sien ek gereeld iets interessant – nuus versprei vinnig in ons dorpie. Laat weet of ek iets vir julle kan skryf. Ek het baie stories. Ek kan selfs 'n weeklikse rubriek skryf. “Coligny Lewe” of “Coligny Kollig” of so iets.

Groete

“Oom” Manie Beukes

***

Geagte Redakteur

Verbeel my teleurstelling toe ek laas week terugkom van Checkers af en my splinternuwe Huisgenoot oopruk sonder om eers die kaas of die melk in die yskas te sit, sonder om eers 'n warmwatersakkie vir my been te maak, net om te sien dat my brief nie gepubliseer is nie.

Ek besef dadelik met skaamte hoekom nie. Nie genoeg detail nie! Vergewe my asseblief, Geagte Redakteur. Ek het so die lof van Coligny besing en selfs vir werk gevra, maar ek het nie 'n voorbeeld van my werk gegee nie. Ek het nie veel van 'n CV nie (sien asseblief aangeheg), maar ek kan seker ten minste 'n goeie storie stuur. 'n “Scoop” soos julle sou sê.

Die afgelope paar jaar, vandat my vrou weg is, probeer ek die inwoners van Bloekomlaan oortuig om 'n buurtwagprogram te begin. Ek wys vir hulle my verkyker en sê: “Kyk, ons kan dit doen.” Maar hulle sê altyd hulle is “ongemaklik” met die “inbreuk” op hulle “privaatheid,” so ek doen dit maar net self. Ek het vir jare vir staatsekuriteit gewerk, soos jy sal sien op my CV, so ek het die nodige ervaring. Ek het ook genoeg tyd. Ek sit die TV aan in die oggend en dan gaan sit ek by die venster. Ek bly op my pos tot diep in die nag, die TV heeltyd besig om gerusstellend te sus in die hoek. Ek het 'n notaboekie waarin ek almal se bewegings noteer vir ingeval die polisie ooit die inligting nodig het.

So twee weke gelede het die outjie van Seeff die “TE KOOP”-bordjie voor die ou Pretorius huis vervang met 'n “VERKOOP”-bordjie en homself 'n trotse klop op die rug gegee.

Die volgende dag arriveer die nuwe inwoners. Dis die meeste aktiwiteit wat Bloekomlaan in jare gesien het en ek het my hand omtrent in 'n kramp ingeskryf. 'n Groep kinders, seker so ses of sewe 12- tot 14-jariges dra heeldag meubels en bokse die huis in. Ek sien nie een keer die ouers nie. In my notaboekie staan daar op vier verskillende plekke “Waar is die ouers?”

Ek hou hulle met 'n valkoog dop oor die volgende paar dae. Ek breek net om badkamer toe te gaan en om my Huisgenoot en kruideniersware te gaan koop. Dit word duideliker en duideliker dat hierdie kinders nie ouertoesig het nie. Wie het vir hulle 'n huislening gegee? Of het hulle kontant gekoop? Waar sou hulle die geld kry? Ek begin uitkyk vir tekens van dwelmhandel of prostitusie. Ek dink aan daai kêrel in die Kaap wat sy ma en pa opgekap het en begin wonder of hierdie 'n familiemoord- situasie is. Ek gaan deur al my Huisgenote van die laaste jaar en lees al die artikels oor daai aaklige mannetjie en soek vir waarskuwingstekens. Ek lees ook sommer by voorbaat weer alles oor Oscar. Ek gaan slaap al hoe later en staan al hoe vroeër op. Ek bad minder gereeld en eet al my maaltye by die venster, my verkyker styf teen my oë gedruk.

Gister, op pad terug van Checkers af, het ek verby die ou Pretorius huis geloop. Die huis was stil, die vensters leë en donker oë. Ek kon my nuuskierigheid nie inhou nie. Ek kry 'n venster wat nie gesluit is nie en klim kop eerste in. Ek is halfpad deur die venster, besig om te probeer dink waar 'n groep tieners die lyke van hul ouers sou wegsteek, toe hulle skielik terugkom. Hulle sien my en ek voel skielik vreeslik selfbewus oor my maag en my plat boude en die ronde haarlose kol op my kop. Hulle begin skree en sleep my die huis in.

“Wie is jy?” gil een, sy stem besig om te kraak. Ek sê niks nie. 'n Groot deel van ons opleiding in staatsekuriteit was gefokus op die kuns van stilbly. Ek sit my hande oor my kop en krul my knieë op tot teen my bors – of sover as wat ek kan; ek sukkel so met die ou been. Hulle almal skree gelyk, en begin aan my skop. Hulle tekkies bons teen my rug en my arms, hulle voete klein genoeg om al die sensitiewe plekke te tref.

“F*kof Oupa!” skree die een en dit word 'n kreet. Die vloekwoorde maak seerder as die skoppe. Wie het hulle maniere geleer? Waar is die ouers? Hulle besef dat ek nie gaan roer nie en begin my deur die huis sleep. Een gryp my seer been en witwarm pyn brul deur my. Ek byt op my tong en proe die warm koper van bloed.

“Kom ons gooi hom uit.”

“Gryp sy arms.”

“J*rre die ou ballie weeg soos 'n ton.”

Hulle bondel my by die deur uit, hulle jong spiere besig om te bult van die moeite. Ek voel weer selfbewus – my spiere is pap en my hande knobbelrig. Ek wil vir hulle jammer sê dat ek so vet is. Die leier, of die een wat ek aanneem die leier is, spoeg in my gesig en sê:“Moenie weer verdwaal nie, Oupa.”

Ek horrel terug huis toe. Eers toe ek die TV aansit, besef ek dat ek my inkopies êrens tydens die drama verloor het. Die kinders het my nie net verneder nie, maar nou geniet hulle die Huisgenoot op my onkoste. So as julle iemand stuur om 'n onderhoud met my te voer, stuur asseblief dié week se uitgawe ook saam. Ek sal my ondersoek volhou tot ek van julle hoor. Ek weet julle het gereeld artikels oor jeugkwessies en probleme waarvoor ouers versigtig moet wees, so julle lesers sal belangstel. Ek het so 'n gevoel dat hierdie storie groot kan wees.

Groete

Manie Beukes

***

Geagte Redakteur

Hierdie week in die Coligny Kollig: Amor Vittone Aangerand deur Prebusent Boewe. Ek is seker dit het uiteindelik jou aandag gekry, Geagte Redakteur. Ek verstaan dat julle of julle teikenmark of julle adverteerders miskien nie sal belangstel in die gesanik van 'n ou man nie, maar ek is aangerand en daar is soveel vrae: Waar kom hulle vandaan? Hoeveel ander kinders leef so? Wat voer hulle in die mou? Is dit 'n anargistiese komplot? Waar is die ouers? Ek het darem dié keer publikasie van my brief verwag, al is dit net om bewustheid te skep.

Ek was so ontsteld na laas week dat ek besluit het om myself op te kikker. Julle het mos daai artikel geskryf oor hoe belangrik dit is om vir jouself te sorg, om elke nou en dan iets nice vir jouself te doen. Gelukkig sien ek toe in die gemeenskapskalender dat Amor (dié Amor) 'n liefdadigheids-motiveringsontbyt gaan hou by die kerksaal.

Dit behoort al klaar goed genoeg te wees vir insluiting, ten minste in die sterrekyk-afdeling van die tydskrif. Maar so waar as wragtig daag die Bloekomlaan Bende (soos ek hulle gedoop het) ook op. Dit blyk dat hulle 'n tafel gekoop het en hulle almal het pakke gedra wat te groot is. Dit ontlok natuurlik nog vrae: Hoekom? En: Hoe? Ek sidder om te dink waar hulle die geld gekry het vir die peperduur kaartjies.

Ek gaan daar stop. As jy die res van die storie wil hê, gaan jy daarvoor moet betaal, of ten minste daarvoor vra. Ek weet hoe graag julle oor Amor se doen en late rapporteer, so ek verwag nie 'n probleem nie. Ek het ook kiekies geneem wat ek gratis sal insluit. Hiermee die beskrywings van die fotos. Sien dit as 'n teken van my goedertrou:

Foto 1: Die gedekte tafels vir die ontbyt, alles spierwit behalwe die silwer tafelversierings. Hier kan jy die aura van veiligheid en gemak en goedhartigheid voel, al het ek die flits aan vergeet. Dit is voor ons geweet het van die indringers.

Foto 2: Van links na regs: Magdel Swart, Elaine Smit, Koekie Koekemoer, en Alizé Theron, die dames met wie ek die tafel gedeel het. In die agtergrond kan jy die Bende sien by hulle tafel. Een is besig om dringend te fluister in sy kameraad se oor – hier is die bewyse dat die aanval voorbedag was en nie 'n spontane woede-uitbarsting nie.

Foto 3: Amor, op die verhoog, besig om ons te verwelkom met 'n glas sjampanje en lemoensap (wat noem 'n mens dit nou weer?) Sy dra 'n wit rokkie bedek met klein blinkertjies. Sy lyk soos 'n engel. 'n Blonde engel. Sy... skyn. Veral omdat ek nog steeds die flits aangehad het. Is dit hierdie heiligheid wat die Bende wou afbreek? Wanneer laas het julle 'n artikel oor Satanisme onder die jeug geskryf?

Foto 4: Amor wys vir ons die dagboek wat sy geskryf het. Op elke bladsy is daar 'n ‘inspirasie-happie’ soos sy dit noem. Wat 'n skitterende idee; ek voel ook soms oorweldig deur die lewe en miskien is so 'n dagboek presies wat ek regtig nodig het. Agter haar is een van die kinders. Daar is strepies in sy wenkbroue geskeer, en bloeddorstigheid in sy oë.

Foto 12: Die slagveld. Na die Bende soos lafaards weggehol het en na Amor hospitaal toe is. Die stoel op die verhoog is omgekeer en Amor se dagboek-voorraad lê verstrooi. Jy kan dit nie sien nie, maar daar is 'n streep bloed agter die mikrofoonstaander.

Foto 13: 'n Nabyskoot van die bloed. Dit lyk nie rooi op die swart verhoog nie.

Nou toe. Ek neem aan ek sal van jou hoor. Ek heg, soos altyd, my adres en foonnommer aan. Ek hoop nie jy dink ek is desperaat nie, Geagte Redakteur. Ek wil maar net my deel doen. Kom my briewe ooit by julle uit? Ek check en double check elke keer die adres maar deesdae weet 'n mens nie meer van die posdiens nie.

Vriendelike groete

Manie Beukes

***

Geagte Redakteur

Ek moet myself beteuel om hierdie brief te skryf. Ek is nie iemand wat irrasioneel kwaad raak nie. Selfs in my tyd in die sekuriteitsdiens het ek nie sonder rede my humeur verloor nie – en my woede was altyd gemik op die gepaste party. Moet my asseblief nie verkeerd verstaan nie: ek is nie soveel kwaad as wat ek bitterlik teleurgesteld is nie.

Ek verwys natuurlik na die artikel op bl. 20-21 van die nuutste uitgawe. Dit is vreemd dat julle 'n hele artikel oor die Amor Aanval doen, maar nie een keer my naam gebruik nie. Julle het nie eers gevra vir die foto’s nie! Sekerlik het ek al bewys dat ek 'n betroubare bron is, en boonop 'n hardwerkende ondersoeker. As dit te doen het met julle begroting kan jy net vir my sê – ek is nie gepla oor geld nie.

Vir die laaste plus minus 24 jaar is dit asof ek stadigaan verdwyn. Ek het als wat ek kan wil hê – genoeg geld, my huis, elke week se Huisgenoot, maar tog is daar die gevoel van onsigbaarheid. Dit is seker waar dat ek min uitgaan om sosiaal te verkeer, as gevolg van die ou been, maar ek probeer – dink byvoorbeeld aan my gefaalde poging om 'n buurtwag te stig. Maar hulle almal het my geïgnoreer.

Toe ek jonk was, wou ek oud wees. Ek het 'n begeerte gehad vir die outomatiese respek wat gegee word aan mans van 'n sekere ouderdom. My pa het gereeld briewe en selfs rubrieke gepubliseer in Die Burger, meestal oor tegniese punte in die Teologie. Mense het sy outoriteit en kennis gerespekteer, en soms sou sy stukke 'n debat afskop wat vir weke heen en weer gaan in die brieweblad. Goed is nou anders. Maar sekerlik tel my stem nog steeds vir iets? Dalk nie soveel soos my pa se opstelle nie, maar darem iets. Ek soek net 'n smakie van publieke erkenning. Asseblief, Geagte Redakteur, oorweeg dit om Coligny Kollig te publiseer. Dit hoef nie eers 'n hele bladsy op te neem nie.

Hierdie week in die Coligny Kollig: VUUR! Ongeluk of moord? In die vroeë oggendure van Dinsdag is die Coligny brandweer uitgeroep na 'n brand in Bloekomlaan. 'n Huis het klaarblyklik laat Maandag- aand vlamgevat, en die brandweer was te laat om die struktuur te red. Groot opspraak is gewek toe die lyk van 'n tienerseun in die rommel gevind is. Die kind is nog nie geïdentifiseer nie. Die oorsaak van die brand is nog onduidelik. Die brandweer vermoed brandstigting, maar 'n buurman, en voorsitter van die Bloekomlaan Buurtwag, vermoed dat dit slegs 'n tragiese ongeluk was. “Tydens my laaste inspeksie van Bloekomlaan 25 het ek opgelet dat die inwoners nie 'n brandblusser gehad het nie, en dat hulle 30 tot 35 proppe in een kragpunt gehad het,” sê die buurtwag-buurman, wat verkies om anoniem te bly. Die Coligny owerhede vra die gemeenskap vir inligting oor die brand. Die Bloekomlaan Buurtwag vra ook vir enige inligting oor die ander inwoners van die huis, wat blykbaar uit die brand ontsnap het en nog nie teruggekeer het nie.

Sien, kort en kragtig. Ek hoop dat ons mekaar nou verstaan. Kontak my gerus met enige vrae of versoeke. Hierdie storie is nog lank nie verby nie. Ek sal my ondersoek volhou.

Hartlike groete

Manie

***

Geagte Redakteur

Jammer dat ek so lank terug geskryf het. Ek hoop nie jy het bekommerd geraak nie. Het jy toe my laaste brief gepubliseer? Ek het nie daai uitgawe gekoop nie, of enige een vir die laaste twee maande nie. Jy sien, ek werk aan 'n storie.

Glo my, Geagte Redakteur, so 'n storie het jy nog nie gelees nie. Dis groter as onse

Charlene en die Prins van Monaco, dis groter as Markus Jooste se onkonvensionele beleggingsbesluite, groter selfs as daai keer toe Amor vir Joost (Rus In Vrede) uit sy rolstoel gegooi het. Na die tragiese ongeluk by die ou Pretorius huis het ek geweet dat ek die kinders wat die vlamme genadiglik ontsnap het, moet opspoor. Ek het al my jare van ondervinding ingespan, en wat ek ontdek het sal jou skok: die Bloekomlaan Bende was nie 'n geïsoleerde geval nie – die ou Pretorius huis was net een node in 'n ondergrondse netwerk. Oral oor Suid-Afrika, in al die klein dorpies, word huise opgekoop deur en vir hierdie minderjarige misdadigers. Ek het die oorlewendes van die Bloekomlaanbrand in Sannieshof opgespoor – 'n ander groep toesiglose tieners het hulle ingeneem. Na 'n paar dae is hulle herontplooi en ek volg hulle na 'n nuwe huis in Delareyville waar hulle met 'n ander halwe groep saamsmelt.

Ek is op die oomblik in Upington, op die spoor van wie ek glo 'n belangrike speler in hierdie saak is – 'n sestien/sewentien-jarige met 'n blonde melkbaard wat 'n Nissan Micra ry al het hy definitief nie 'n lisensie nie. Hy het besoek afgelê by die huise in Vryburg, Kuruman en Olifantshoek. Ek het so 'n gevoel dat hy my gaan lei na die hart van hierdie organisasie. Wie weet hoe ver hierdie nog sal gaan? Tot in Bloemfontein? Ek weet nie. Maar ek sal aanhou volg, aanhou snuffel, aanhou uitpluis. Maar eers moet ek 'n warmwatersakkie vir die ou been maak. Hierdie gerondryery en die laat aande sit soos 'n bol vuur onder my kniekop. Ek is nie meer die jong, aantreklike staatsekuriteitsagent wat ek eenmaal was nie. Maar ek is besig om gewig te verloor, so dis iets om voor dankbaar te wees.

Ek weet jy glo my nie, Geagte Redakteur. Of, as jy my glo, gee jy nie om nie. Miskien is dit my skryfstyl. Ek voel asof ek jou sal kan oortuig, as ek net die regte woorde kan kry. Of as ek die volle omvang van kommunikasie kon gebruik – stemtoon, gesigsuitdrukkings, lyftaal. Dalk moet ons ontmoet. Net vir 'n uur of twee. Ek gaan jou nie vra vir 'n afspraak nie. Ek weet nie wanneer ek in Johannesburg gaan wees nie, en jy gaan in elk geval nooit terugskryf nie. Ons sal mekaar net een dag raakloop, en dan sal ek my waarde aan jou bewys.

Liefde

Manie


Louis Roux is veronderstel om 'n skrywer te wees, maar meeste van die tyd sit hy net en stres. Volg hom op Instagram.

Deel hierdie storie


Eerste en oudste Afrikaanse tydskrif, sedert 1896

Ons bou aan ’n moderne beeld van hoe Afrikaanswees lyk, lees en klink. Het jy van Geagte Redakteur gehou? Dan ondersteun ons. Vriende van Klyntji word op hierdie bladsy gelys.


 Eenmalig R
 Maandeliks R


Klyntji verklaar 'n klimaat en ekologiese noodtoestand