#malegaze
malegaze-ani.gif

'n Homoerotiese kortverhaal deur Jacques de Viljee


Hy was al redelik dronk toe hy by die Vallende Ster aangekom het –  net indien ek hierdie onder kruisverhoor beantwoord. Ek het hom natuurlik die oomblik toe hy instap herken; hy het na die kroeg se kant toe gekyk, ná ’n oomblik van dronk aarseling geglimlag en my ook genadiglik herken. Hy het by die kroeg kom sit, gevra hoe dit gaan (“Wat is dit? Meer as tien jaar?”) en ’n dubbel-Jameson met ys bestel. Ek het vir hom gesê dit gaan goed, vir hom geskink en gesê dis op die huis toe hy wil betaal. Hy het verras geglimlag en gesê maar dan betaal hy myne. Ek het vir ons twee Jägermeisters gegooi en ons het die kelkies - na ’n vlugtige oomblik van nostalgiese herontmoeting in mekaar se oë - saam afgesluk. 

Die Vallende Ster was leeg daardie aand; ek kon die hele aand by hom staan en luister. Hy het oor sy werk gepraat, by een van die groot prokureursfirmas in die stad. Hy het met daardie selfvertroue gepraat, daardie selfversekerdheid wat my destyds so aan sy lippe laat hang het, maar met ’n dronk gefokusdheid wat hy ná skool moes ontwikkel het. Hy het gekom van ’n werksfunksie, waar hy nie meer langer kon rondstaan om gesprekke oor hygromans en kamma-feminisme nie. “Ek het onder teen die brug ’n spliff gaan rook. Toe ek weer bo kom, het ons geskuif na emigrasie en biologiese rassisme; toe kom soek ek maar my heil hier.”  

Hy het gevra hoe lank ek al by Die Vallende Ster werk, waar ek bly en of ek nog vriende is met my skoolvriende. Hy het gesê hy is nog vriende met van die skoolouens, maar dat ander vir hom vreemdelinge geraak het. Hy het nostalgies voor hom gestaar en ’n sluk whiskey gevat. “Taal, nè,” het hy effe hard oor die kroeg gesê, “Alle menslike konflik spruit uit die onvermoë van taal om betekenis effektief oor te dra, uit kommunikasiegapings.” Hy het sake opgenoem wat op semantiese verskille alleen uiteindelik bepaal is, wat Noam Chomsky oor taal gesê het.  

“Ek weet. Oor taal,” het ek hom in die rede geval. Hy het verbaas na my gekyk, asof hy my vir die eerste keer raaksien, my selfbewus laat antwoord. “Ek is besig met my Meesters, in Engels.”

“O. Waaroor?” het hy gevra, sagter.

Ek het vir hom gesê.

“What constitutes pornography in a pornography-obsessed modern society?” het hy gemymer. “Sjoe, Vink. Ek sal dít wil lees.”

Ek het gesê hy kan dit by my plek kom lees as hy sou wou, ek moes net vinnig voorraadopname doen, en slinks laat val daar is lekker dagga by die huis. Hy het onseker geglimlag, na sy horlosie gekyk en knikkend ingestem. “Hoekom nie?”

Ek het hom verafgod, regdeur my Graad 8 jaar. Hy was ’n ligpunt in ’n skooljaar waarin ek min tot geen uiterlike genot uit enigiets verbonde aan daardie akademiese instelling kon put.

Op die eerste dag van doopweek het hy voor my kom staan, met sy hande op sy heupe na die kartonplakkaat om my nek gekyk. “Vink Minnaar,” het hy gemymer, in daardie fluweelstem waarin hy nou met gespanne kliënte en uitgeleefde regters praat, daardie stem wat my laat opkyk het in sy oë, al was ons aangesê om ons oë op die grond voor ons te hou. “Grizzly Bear, The Knife,” het hy my gunsteling liedjie hardop gelees. “Interessant. Luister jy baie musiek, Vink?” het hy gevra. Iets het in my bors gebeur, ek wou vir hom vertel van al die musiek wat ek oor daardie Desembervakansie ontdek het, al die CD’s wat ek vir my en my vriende gebrand het. Maar ek kon nie. My asem het te vinnig gekom, ek kon nie my gedagtes in woorde omskep nie. “Ja, Meneer,” is al wat ek kon uitkry. Hy het verder gestap, om nog fagotte se plakkate te lees, en my moed het tot in my nuwe skoolskoene gesak. 

Hy was die enigste prefek na wie ek geluister het, wanneer hulle Maandae-oggende die naweek se sportuitslae op die verhoog moes uitlees. Hy was die waterpolo- en swemkaptein, met die liggaam van ’n Griekse god. Ek het baie middae langs die buiteswembad gaan sit as hulle oefen, vir die afrigter gesê ek doen navorsing vir ’n skoolkoerantartikel. Ek het vir ure gekyk hoe hy sy spanmaats kommandeer, hulle moed inpraat. Op en af, op en af in die swembad het ek gekyk. 

Hy was ook in die Eerste Debatspan. Hy het altyd met soveel oortuiging geredeneer, nie die kaptein nie, maar die een wat aan die einde als bymekaarbring en dokunstrueer, en sy gevolgtrekking uitgelê het asof die vorige twintig minute ’n mors van tyd was. Ek het sy patroon probeer uitlê, dit in my eie debatte probeer toepas. Maar selfvertroue is die sleutel, as jou hoofdoel is om iemand anders se redenasie dood te praat, en dit het ek nog nooit gehad nie. 

Op hulle laaste dag as matrieks het hulle jaargroep ’n paar Graad 8’s tot op die matriekgronde laat kom. Hulle is forseer om met mekaar te stoei en een is met duct tape aan ’n boom vasgemaak. Ek het beangs en met my oë op die paadjie voor my by die matriekgronde verbygestap. “Vink!” het hy van onder die bome geroep. Ek het geys. Ek het na die groep seuns gekyk vanwaar sy stem gekom het, bang dat hulle in ’n groep na my toe sal aangestap kom. Maar hy het alleen na vore geloop, sy gesig stralend en rustig. “Hoe gaan dit?” het hy gevra en beduie ons moet sit op een van die bankies, in die skool se drie kleure geverf. “Goed dankie, Meneer,” het ek geantwoord. Hy het vir my gelag en gesê, “Julle sê mos al lankal nie meer Meneer nie.“

"Vir oulaas,” het ek hoopvol vir hom geglimlag; hy het my met ’n grynslag verlos. 

Hy het vir my gevra of ek al die nuwe Deerhunter album geluister het, gevra of ek al van shoegaze gehoor het. Ek kon eers nie glo wat ek hoor nie. Die klok het gelui soos ek begin antwoord het. Hy het opgestaan om na sy vriende toe terug te loop. “Ek hoop ons paaie kruis weer eendag, Vink,” het hy gesê, "en sterkte met die res van hoërskool. Moenie ophou musiek luister nie." 

Ek het gedweë vir hom geglimlag, gewaai nadat hy omgedraai het. Ek het vinnig met my tas in my hand Afrikaansklas toe gestap. 

Hy het hom verwonder aan die kuns teen my woonstel se mure en al die plante in die woonkamer. Ek het hom vanuit die deurkosyn bewonder. Hy is in my woonstel, het ek gestraal. Gustav Mijburg is in my woonstel. Toe sien hy my platespeler. Hy het so opgewonde soos ’n kind voor die masjien gaan staan, met soveel bewondering daaroor gestreel; toe my plate gesien en daardeur begin blaai, elke nou en dan verbaasde uitdrukkings gegee. “Wa-a-a-a-a-a-a-a-at? Halcyon Digest!” het hy eindelik uitgeroep en opgewonde na my gekyk. “Ek kan nie glo jy het hierdie nie! Kan ons asseblief daarna luister?”

“Natuurlik,” het ek trots-skaam gesê.

Hy het die masjien aangesit en die wit plaat uit sy omhulsel gehaal. Hy kan met plate werk, het ek verlig besef en effens ontspan.

“Kan ek vir ons ’n marijuanna-sigaret maak?” het ek gevra, na my teekissie gevoel.

“Sekerlik,” het hy oor sy skouer gesê. 

Ek het die kruie geknip soos die musiek begin speel het. Daardie stadige dooie ritme wat agter kitaarklanke tot iets soveel groter opbloei. Ek het bietjie tabak bygegooi en netjies probeer rol, maar ek was gespanne: hy was hier, by my, my gesig ’n warm blos. Ek kon voel hoe hy na my kyk. 

Hy het vir hom ’n glas water in die kombuis gaan volmaak en begin praat oor die marijuannabedryf, al die besigheidsidees waaraan hy en sy vriende werk, hoe ver hulle al in die proses gevorder het, hoe ver voor die mark hulle is. “Jy kort net kapitaal,” het hy, ek dink vir homself, gesê. “En die red tape … jy sal dit nie glo nie.” 

Ek het geknik en klaar gerol. Dit het nie te sleg uitgekom nie en ek het dit na hom toe aangegee om aan te steek. “Dankie, Vink,” het hy geglimlag en langs my kom sit. Hy het ’n paar trekke gevat en groot uitgeblaas, op die maat van die musiek beweeg. Hy het vir my aangegee. Ek het diep ingetrek en uitgeblaas, net soos “Desire Lines” begin speel het. “Ja,” het hy goedkeurend gemompel en sy kop op die ritme gedein, sy oë toegemaak. Sy profiel het volmaak geskyn, afgeëts teen die wit riffelmuur, onweerstaanbaar mooi. My hele liggaam het warm gegloei. Ek het weer ingetrek, opgestaan en saggies oor sy gesig uitgeblaas. Hy het aanhou beweeg, oë steeds sensueel toe. Ek kon myself nie keer nie. Ek het oorgebuk en my wang teen syne geskuur, my lippe oor syne gesit, hom begin soen. Sy stoppelbaard was heerlik stekelrig; ek kon die Jean Paul Gaultier reukwater in sy nek ruik ― maar dit was vir net ’n oomblik ― hy het geskrik toe ons velle ontmoet en het agteroor geruk. 

Dit was asof hy handomkeer in nugterheid wakkergeskrik het. Hy het opgespring, konfronterend na my gegluur, die sigaret nog steeds in my hand. “Fokkit, Vink!” het hy gespoeg. “Ek het gedink jy kan beter nuanses lees as dít. Ek’s nie … Daar’s ’n verskil tussen … Ag nee fokkit, man.” Hy het sy selfoon en sy beursie van die tafel af gegryp en deur die voorportaaltjie gestorm, die deur oopgeruk en toegeklap, sonder om terug te kyk. Ek het agterna gehaas, die deur oopgemaak en uitgekyk, maar hy was weg. My hoërskoolheld was weg, sy rug op my gekeer, iewers die donker nag in. 

“Jammer, Meneer,” is al wat ek by my mond kon uitkry, nou net krampende woorde. Ek het die voordeur toegemaak en teruggestap woonkamer toe, waar die hartseer lirieke van “Helicopter” my in ’n laken vol note moes toevou.

Jacques de Viljee is ’n skrywer van Kaapstad. Sy skryfwerk is al in New Contrast en op Klyntji.com, LitNet en BooksLive gepubliseer. Die lig skyn daar buite is sy debuutbundel en word onafhanklik gepubliseer.

Deel hierdie storie


Eerste en oudste Afrikaanse tydskrif, sedert 1896

Ons bou aan ’n moderne beeld van hoe Afrikaanswees lyk, lees en klink. Het jy van #malegaze gehou? Dan ondersteun ons. Vriende van Klyntji word op hierdie bladsy gelys.


 Eenmalig R
 Maandeliks R


Klyntji verklaar 'n klimaat en ekologiese noodtoestand