Dinsdagskool
075467551c103d4e99147848f984c208.jpg

Vir Hunter

Ek het pastorie toe gestap. Dit was so vier blokke van ons huis af, skuins oorkant die parkie waar ons vroeër altyd touchies en sokker gespeel het. Waar ons later op die swaaie gesit en rook het. Dit was warm; die son het in steke onder my oë gebrand. Ek het my verbleikte Slayer-hemp en my swart skate shoes gedra. Hulle het my voete laat sweet, maar ek het my swart skate shoes gelove. Ek het stadig gestap, daar was niks anders om die res van die dag te doen nie, behalwe om by Vink te gaan uithang, musiek te luister of skate video’s te kyk. Dalk rekenaar te speel. Ek het die vorige jaar ophou atletiek doen en rugby speel, so middae na skool was ʼn vervelige dagdroom. Ek het dit so verkies.

In die somer het die gras in die woonbuurt geel geraak, en dit het gelyk asof die huise ook ʼn gelerige skakering begin kry. Doellose plante staan tussen voordeure en opritte, die honde hou nooit op blaf as jy verbystap nie: op en af / op en af / blaf blaf blaf: makgemaakte dieretuin. Vuil, bleek mense het van binne hulle garages na jou gestaar, besig met hulle motorfietse. Afgekyk en aangegaan, die smaak van die rioolplaas buite die buurt altyd vars in die mond.

Helderzicht, soggens gehul in die vuil rook van die ou houtfabriek. Tyd word gemeet aan die huise. Die woonbuurte wat nie verander nie. Vink se woorde. Ons het deur die strate geskate, kerse op sypaadjies opgekrap. Ons het ramps gebou in die bos langs die parkie en video’s gemaak van Darius en Georgie wat BMX ry. Ons het dalk in die lelike woonbuurt van ʼn wit koninkryk gebly, maar oor skoolvakansies was dit die beste plek vir ons klein creative projects. Zines met foto’s wat Darius geneem het van ons wat in die natuurreservaat uithang. Rook uitblaas en bottels in die lug gooi, Anzelle wat vir Darius pose. Vink se gedigte, my pencil drawings, mix tapes van Ruann se recordings, afgesnyde punkliedjies en beat gedigte, radio silence en noise. As ons hoog was het ons verby Huis Horison gedrentel en by die vensters probeer inkyk. Darius het foto’s deur die tralies geneem. “Wie is vry en wie is gevange?” het ons van die straat af geskree en weggehardloop. Ons het al ons favourite lyrics teen die reservoir in die natuurreservaat gestensilspuit.

Dit was seker ʼn blessing in disguise dat Vink ook in Helderzicht gebly het. Ek sou probably mal gegaan het as ek heeldag alleen by die huis moes sit. Die kombuis het geruik soos katkos en daar was twee budgies en ʼn pappegaai wat onophoudelik in hulle hokke gerinkink en tjirp het. Dit het nooit opgehou nie, kloue wat teen die tralies weergalm. Die woonkamer het soos my pa se rookasem geruik. Alles in die huis het soos my pa se rookasem geruik. My ma was die hele dag by die huis besig met goed wat sy self uitgedink het, die tuimeldroeër en die radio was heeldag aan. Sy het saam met die stemme bly praat: volg die gesprek en vou klere op as daar musiek speel.

Ek het by die pastoriehek aangekom. Ek het die klokkie gelui. Daar was nie antwoord nie. Die huis was omring met ʼn siersteenmuur en maroen verf het van die hekkie afgedop. Die gordyne langs die voordeur was toe. Ek het weer gelui. ʼn Vrou se vingers en halwe gesig het tussen die gordyne verskyn en toe weer verdwyn. Die hekkie het oopgebuzz. Die deur het oopgegaan soos ek op die rooi baksteenpaadjie na die huis toe gestap het. Die dominee se vrou het gespanne vir my geglimlag. Sy ly aan depressie, het my ma die vorige aand aan tafel gesê. Glo bipolar of iets. My ma het altyd aan tafel geskinder. Oor elke fokken mens in die fokken woonbuurt en die dorp. My pa het oor televisiestelle gepraat. My pa het televisiestelle verkoop. Enigiets om nie in stilte te eet nie.

“Jy is Tomas?”

“Ek is.”

Hulle het ʼn groot hout voordeur gehad, met lang, geel riffelglasvensters aan die kante, blompotte langs die deur. Teen die muur in die voorportaal het ʼn geborduurde portret van Maria met baba Jesus in haar skoot gehang.

Die huis was donker. Al die gordyne was toegetrek. Net ʼn streep wit lig het geskyn teen die oorkantste muur. Dit het geruik soos roes en stowwerige kussings.

“Dominee Carel gaan nou by jou wees.” Pêrel halssnoer. Donkerblou rok. “Ek bak vandag brownies.”

Ek het op die rottangbank in die sitkamer gaan sit, die riempies het in my boude gesny.

“Kan ek solank vir jou iets bring om te drink?”

Ek het gedink aan hoe snaaks dit sou wees as ek ʼn bier saam met die dominee moes drink. “Net water asseblief, of sap.”

“Daar is Oros.”

“Oros is reg. Dankie.”

Sy het in die kombuis in verdwyn; ek het op my hande gesit, om my gekyk. Teen die muur langs die ligstreep het ʼn skildery van ʼn hartseerrige blommerangskikking in ʼn blou vase gehang. Voor my knieë op die koffietafel het ou magazines gelê: Finesse, Huisgenoot, Vrouekeur. Hulle het twee kinders gehad, suster en ouer broer, so vier en vyf jaar ouer as ek. Hulle het nog by die huis gebly, albei vir dominee geswot of sendingwerk gedoen, ek kon nie presies onthou nie. Hulle het obviously nie wyd gelees nie.

Ek kon hoor hoe die dominee in die gang af gestap kom, ek het opgestaan toe hy by die kamer inkom. Hy het geglimlag. Sy oë het na my kant toe gekyk. Dit het altyd gelyk asof die vel op sy gesig te styf gespan is. “Hallo, jong.” Hy het sy hand uitgesteek; sy hand was sag, los vel, soos my oupa se hande gevoel het.

“Hallo, Oom.” Ek het nooit geweet wat om te sê nie, maar “Hallo, Dominee” het te weird geklink. Hy het na my gekyk asof hy verwag ek gaan iets sê, half teleurgesteld na die kombuis se kant toe gekyk. “Dit is donker,” het hy in gedagte gesê. Ons het vir ʼn ruk lank so gestaan; ek het na hom gekyk, hy het aan iets in sy baadjiesak gevoel.

“Hierso, jou Oros,” het die vrou vir my van uit die kombuis in ʼn plastiekglas gebring.

“Dankie.” Ek het ʼn sluk gevat. Stroop. Soet. Suikerslym teen my verhemelte.

“Ons kan in my kantoor gaan sit, maatjie.”

Ons het deur die lang Afrikanergang afgeloop en ek het by die kamers ingekyk. Ek moes ʼn paar keer sluk. Teen die mure in die seun se kamer (die eerste kamer aan die regterkant) het SA Rugby Magazine en SA Sports Illustrated posters gehang. Daar het ʼn oop Bybel op sy lessenaar gelê.

In die middel van die gang het ʼn lang kleirooi mat gelê.

Die tweede kamer aan die regterkant het pienk gordyne en pienk beddegoed gehad; daar was foto’s van meisies teen die spieël opgeplak.

Die badkamer was ligte geel, met dieselfde riffelmatjies as in die badkamer in ons een toilet.

Die twee deure aan die einde van die gang was toe. Dominee Carel het die een oopgemaak en ons het by sy studeerkamer ingegaan.

Teen die muur agter sy lessenaar het ʼn groot skildery gehang, ʼn halfbles ou man met ʼn groot bril en ʼn toga en linte oor sy skouers. Ek het besluit om nie te vra nie; dominee Carel het moeg gelyk toe hy agter sy lessenaar gaan sit.

“Jy kan sit.” Ek het gaan sit, ʼn rooi leerstoel wat inplof as jy gaan sit.

Op die lessenaar was skoolfoto’s, van Annelie en Wouter, het ek hulle name ewe skielik onthou. Wit skoolkindglimlagte voor ʼn ligteblou skoolfoto-agtergrond. Prestige. En wat gelyk het soos ʼn swart-en-wit spanfoto, “Eendrag HK 1977”.

Dominee Carel het agteroorgesit en deur sy neus uitgeblaas. Sy kop het vooroorgebuig. “Nou ja, ek hoef seker nie vir jou te vra of jy glo nie, maatjie; jou ouers sit elke Sondagoggend op die galery en jou pa is al op die kerkraad vandat julle hierheen getrek het, wat is dit, sewe jaar gelede?”

“So iets, ja.”

“Nou maar goed, dis dan seker -”

“Wat glo?” Ek was confused. Ek het verwag om hierheen te kom om oor my geloof te praat.

Hy het verbaas gelyk. “Wel, natuurlik dat jy glo in die Woord van God, soos deur die Kerk verkondig, en dit as jou persoonlike geloofsoortuiging aanvaar. Dat jy Jesus Christus as jou Verlosser bely. Dies meer. Julle het mos die papiere gekry.”

“O, die Sondagskoolboek. Nee…”

“Jy is ʼn kind van Jesus, is jy nie?”

Ek kon voel hoe my hele gesig begin gloei, hoe my kop sukkel om woorde te vorm. Ek was nog altyd kak met konfrontasie, ek is nog steeds. “Het Oom geweet dat die grootste blasphemy wat bestaan in die Bybel geskryf is?”

Hy het gefrons, sy oë het op my gefokus. “Seun, ek ken die Bybel. Ja, ek sal toegee, die Ou Testament is deurspek met afgryslike dade: dierlik, banaal selfs. Maar godslastering, dit is seker ʼn bietjie vergesog, of hoe?” Halwe glimlag.

“In Genesis. Ek het nou-nou deur my Bybel geblaai, voor ek hiernatoe gekom het.” Ek het. “‘Van al die bome in die tuin mag jy eet soos jy wil, maar van die boom van alle kennis, daarvan mag jy nie eet nie.’ Wat ek wil weet is hoekom sal God kennis van ons weghou, van alle dinge? Wat anders is daar? Hoekom sal Hy vir ons ʼn skepping gee as Hy nie vir ons die kennis daarvan wil gee nie?” Dominee Carel het iets begin sê, stilgebly. “Ek weet nie, dit laat my net voel asof ons dan nie aan dieselfde kant is nie. So al wat ek kan dink is dit moes mense gewees het wat dit geskryf het, wat ander mense wou intimideer wat meer wou weet of iets. Mense wat namens God wou praat, you know?”

Dit was ʼn ruk lank stil, toe sê dominee Carel, “Ons aanbid ʼn misterieuse God, my seun. Ons verstaan nie altyd die wil en die weë van ons Here nie. Ons is mense, ons het beperkte begrip.”

“Exactly!” het ek onnodig hard gesê. “Oom deel ook net kennis. Soos almal anders. Oom is mos nie bo enigiemand anders nie. Maar Oom se woorde word as waarheid aanvaar. As God se woorde, you know. Is dit nie … half skeef nie?”

“Kyk, boetie,” hy het ongemaklik gelyk, “daar is diegene wat die duiwel se listige fluisterstem verkondig, wat die wêreld die verderf in wil lei. Daar is soveel sonde onder jongmense, weet jy. Seks, dwelms, drank. Losbandigheid, apatie teenoor die samelewing. Jongmense luister nie na die stem van God nie.”

“Maar hoe weet ek watter stem is God se stem?”

Sy oë het wyd oopgegaan, asof hy iets belangriks onthou het. “‘Die gebed van ʼn gelowige … het ʼn kragtige uitwerking.’

Jy raak stil. Jy bid. Jy luister.”

“So my gedagtes?”

“Jy moet pasop, boetie,” hy was nou geïrriteerd, “jy wat so van godslastering praat. Dit word nie in die Kerk geduld nie.”

“Ons is mos nie nou in die kerk nie.

 “Die kerk is orals. Jy weet dit tog, jy wat slim wil wees en vrae wil vra.”

Hy het my stilgemaak. Ek het weird gevoel. “Die Kerk. Dis iets anders. Ons het nou die dag in Geskiedenis oor die Truth and Reconciliation Commission geleer, Waarheid- en Versoeningskommissie, you know? En ek het gedink. Was daar nie enige dominees geprosecute nie? Soos die Nazi propaganda generals by die Nuremberg trials. Het julle nie basies apartheidpropaganda gepreek nie? Ek weet nie, ek was nie daar nie, ek was nog nie eers gebore nie. Dit voel net soos ʼn skewe scene, you know?”

“Dit is maklik om die Kerk en geskiedenis te bevraagteken, selfs te veroordeel. Maar weet jy, daar is steeds min instansies wat soveel doen en gee vir armoede soos die Kerk.”

Dominee Carel het moeg gelyk, maar ek kon nie ophou praat nie, ek het geweet ek is reg, ek was op ʼn roll. “Ou, arm mense. Ek verstaan dit. Julle help die mense wie volgens julle hulp nodig het. Julle glo in dieselfde god. Soos enige institution. I get that. En ek weet hoe min julle kry. En Oom, rêrig, daar is kinders in my klas wat na die happy-clappy-uitpass-kerke gaan waar hulle kaartmasjiene omstuur vir kollekte, waar mense geld betaal om supposedly God se kinders te wees, en ek weet ons het ʼn common enemy.”

“Ons veg saam, teen die bose stem van die wêreld.”

“Ja, so iets. Maar ek het ook al gedink.” Dit het gevoel asof iemand anders namens my praat. Ek kon excitement en woede en frustrasie voel, terwyl iemand anders se gedagtes uit my mond uit spoel. “Jesus, reg? Jesus het alles bevraagteken. Moet julle ons nie leer om soos Jesus te bevraagteken nie, eerder as om dieselfde lesse oor en oor te herhaal nie? Ek meen, niemand weet in elk geval enigiets nie.”

Nog steeds rustig, ʼn antwoord op alles. “Ons kan nie almal soos Jesus in die woestyn die duiwel se versoekings weerstaan nie. Jesus is ons enigste antwoord. Hy het alreeds vir ons almal gely. Ons hoef nie sy liefde meer verder te bevraagteken nie.”

“Maar hoekom … dit maak nie sin nie!” Ek kon nie. Ek kon nog nooit verstaan hoekom wat julle glo moet wees wat ek glo nie. “Ek weet nie wat dit met my te doen het nie.”

Hy het sy hande oormekaar gevou, vooroorgebuig en reguit na my gekyk, asof ons mekaar al ʼn leeftyd lank ken. “Waarom dink jy is diegene wat bevraagteken depressief, verslaaf en werkloos?”

Sy woorde het my geparalyse. Ek kon nie glo wat hy sê nie. Ek het hiernatoe gekom om te praat oor my geloof. Ek het my mond probeer oopmaak, probeer … woede wat teen mens se skedel druk.

“Dit is die duiwel wat die heidene regmaak vir die hel, my seun.”

Dit was die laaste. Ek was net befok. Vir wat hy sê, en hoe hy dit so rustig sê. “Wat weet … wat weet julle van …”

“Daar is nie plek in die hemel vir die heidene nie.”

“Wat weet … Hoe …” Ek het opgestaan; ek kon nie meer nie. Dominee Carel het net bly sit, na my toe opgekyk. My oë het gebrand en ek het gesukkel om asem te haal, ek het na die deur toe gesukkel. Ek het die deur oopgemaak en omgedraai: Wie’t gesê ons wil julle wees? en die deur hard toegeslaan. My kop het geklop en my oë het gewater soos ek in die gang afgestap het, ek het die hekkie oopgebuzz, oor die baksteenpaadjie geloop en op die geel gras by die hekkie gaan staan, probeer asemhaal. Dit was nog net so warm, my hemp was nat onder my arms en teen my rug. Ek kon myself ruik. Ek moes eers ʼn paar keer in- en uitasem voor ek aan iets kon dink. Daar was hierdie weird kriewelgevoel in my bors. Asof ek iets verkeerd gedoen het. Die gevoel kom spook nou nog by my, koue asem in my bors. Sondaeaande. Ek moet soms hierdie pille drink. Ek het nog een keer diep asemgehaal en na Vink se huis toe begin stap, met my hande in my sakke. Ek het ʼn klippie voor my in die pad geskop.

#

Dominee Carel se vrou het twee maande later probeer selfmoord pleeg. Sy het haarself met pille probeer verdrink. Hy het laat die aand by die huis gekom en sy was besig om in die bad te lê en ruk. Hy het haar uit die bad getrek en in die badkamer rondegegooi, teen die toilet, teen die muur, haar deur die gesig geklap tot daar rooi vingermerke oor haar gesig gebrand het. Hulle dogter het die ambulans gebel. Sy moes vir ʼn week in die hospitaal bly. Of net van die huis af wegbly.

Ek en my pa het vir hom by die huis gaan kuier, “besoek afgelê.” My pa het my forseer om saam te gaan. Omdat ek nie my geloofsbeleidenis afgelê het nie. Dominee Carel het pateties gelyk, ongeskeer en gekreukelde hemp, en soos brandewyn geruik. Hy het op die riempiesbank gesit, na die vloer gekyk en onsamehangend gemompel. Die dogter het vir ons tee gebring. Sy het my aan Anzelle laat dink, haar gesigsuitdrukking as sy frons of konsentreer.

“Tomas.” Hy het na my pa toe opgekyk. “Het sy ooit vir jou gesê wat haar kosbaarste besitting is, wat sy die naaste aan haar hart hou?” My pa het sy mond oopgemaak, ek kon sien onseker. Dominee Carel het namens hom geantwoord. “Dis haar skulpe, haar heilige skulpe, wat sy op die rand van die bad vir haarself uitstal. Haar … skeppingsverkondigers, noem sy hulle. Die onsterflike profete van die see. Sy koester haar skulpe soos … sy praat in haar slaap met haar skulpe … sy, sy bemin hulle, soos wat ek …” Sy oë was ongefokus, hy het voor hom uitgestaar.

“Carel, ons het almal …” het my pa probeer.

Hy het vorentoe geleun. Sy oë het groot gerek, soos ʼn mal mens sʼn. “Weet jy wat het sy die oggend vir my gesê, Tomas? Voor ek die dag weg is?”

“Carel, dis nie -”

“Sy het gesê … sy het gesê … ‘Ons oë is vervang met skerms. En ons siele met prentjies van die see.’”

Ek het hoendervleis gekry toe hy dit sê, en vir Vink ʼn SMS begin tik.

Jacques de Viljee is ’n skrywer van Kaapstad. Sy skryfwerk is al in New Contrast en op Klyntji.com, LitNet en BooksLive gepubliseer. Die lig skyn daar buite is sy debuutbundel en word onafhanklik gepubliseer.

Deel hierdie storie


Eerste en oudste Afrikaanse tydskrif, sedert 1896

Ons bou aan ’n moderne beeld van hoe Afrikaanswees lyk, lees en klink. Het jy van Dinsdagskool gehou? Dan ondersteun ons. Vriende van Klyntji word op hierdie bladsy gelys.


 Eenmalig R
 Maandeliks R


Klyntji verklaar 'n klimaat en ekologiese noodtoestand