Kreet
Deur Allen Ginsberg
Vir Carl Solomon
Soos vertaal deur Jacques de Viljee
I
Ek het gesien hoe die briljantste siele van my generasie deur waansin verwoes is, honger histeries naak,
hulself met sonopkoms deur die swart strate gesleep het op soek na ʼn honger vonk,
engelhoofdige hipsters brandend vir die tydlose hemelverbintenis met die sterredinamo in die masjinerie van die nag,
wat armoede en flenters en holoog en hoog wakkergesit het rokend in die bonatuurlike donkerte van kouewaterwoonstelle drywend oor stadstoppe bemoei met jazz,
wat hul breine ontbloot het vir die Hemel onder die El en Mohammedaanse engele sien steier het op woonsteldakke verhelder,
wat deur universiteite gekom het met stralende koel oë hallusinerend aan Arkansas en Blake-lig tragedie onder oorlogsgeleerdes,
wat uit die akademies geskors is vir gekheid & die publikasie van obsene odes oor die vensters van die skedel,
wat hurkend in ongeskeerde kamers in onderklere, hul geld in snippermandjies gebrand en na die Angs deur die muur geluister het,
wat gevang is in hul pubiese baarde op hul terugkeer deur Laredo met ʼn gordel marijuana vir New York,
wat vuur geëet het in nuutgeverfde hotelle of terpentyn gedrink het in Paradise Alley, dood, of hul bolywe nag in en nag uit gereinig het met drome, met dwelms, met wakker nagmerries, alkohol en piel en eindelose ballas,
weergalose blinde strate van sidderende wolk en weerlig in die brein wat na pole van Kanada en Paterson spring, en die hele roerlose wêreld van Tyd tussenin verlig,
Peyote-vastighede van voorkamers, agtertuin groen boom kerkhof dagbreke, wyndronkheid oor die dakke, winkelvenstervoorstede van daggakop plesierrit neon flikkerende verkeerslig, son- en maan- en boomvibrasies in die dreunende winterskemers van Brooklyn, asblik uitvarings en goedgesinde koningslig van gees,
wat hulself aan moltreine vasgeketting het vir die eindelose rit van Battery Park na heilige Bronx op bensedrien tot die lawaai van wiele en kinders hulle afgebring het sidderend mondgemartel en gehawend bleek van brein heel dreineer van glans in die somber lig van die Dieretuin,
wat heel nag gesink het in die duikbootlig van Bickford uitgedryf het en deur die suf bier middag in eensaam Fugazzi’s sit en luister het na die oordeelsdag op die waterstof-jukebox,
wat sewentig ure sonder ophou gepraat het van park na blyplek na kroeg na Bellevue na museum na die Brooklyn Brug,
ʼn verlore bataljon van platoniese geselsmakers wat afspring by die stoepe vanaf brandtrappe van vensterbanke van Empire State vanuit die maan,
babbelend skreeuend kotsend fluisterend feite en herinneringe en staaltjies en oogbalgrille en skokke van hospitale en tronke en oorloë,
heel intellekte uitgebraak in geheelherroeping vir sewe dae en sewe nagte met briljante oë, vleis vir die Sinagoge gestrooi op die sypaadjie,
wat in die niet verdwyn het Zen New Jersey en ʼn spoor gelos het van dubbelsinnige poskaarte van Atlantic City Stadsaal,
Oostelike koorsuitswetings en Tangierse beenmeule en migraines van Sjina tydens junk-onttrekking in Newark se skraal gemeubileerde kamer,
wat teen middernag om en om in die spoorwegwerf gedwaal het en gewonder het waarheen nou, en gegaan het, en geen gebroke harte agtergelaat het nie,
wat sigarette aangesteek het in kaswaens kaswaens kaswaens kletterend deur sneeu na eensame plase in grootvadernag,
wat Plotinus Poe Johannes van die Kruis telepatie en bop-kabbalah bestudeer het vanweë die kosmos se instinktiewe vibrasie onder hul voete in Kansas,
wat alleen deur die strate van Idaho geloop het op soek na indiese sienersengele wat indiese sienersengele was,
wat gedag het hulle is maar net mal toe Baltimore in bonatuurlike ekstase gegloei het,
wat in limousines gespring het saam met die Chinaman van Oklahoma op die impuls van winter-middernag-straatlig-kleindorpiereën,
wat honger en eensaam deur Houston geslenter het op soek na jazz of seks of sop, en die briljante Spanjaard gevolg het om te praat oor Amerika en Die Ewigheid, ʼn hopelose taak, en toe maar die skip Afrika toe gevat het,
wat tot binne die vulkane van Mexiko verdwyn het en niks anders agtergelaat het nie as die skaduwee van skouerbroeke en die lawa en as van poësie gestrooi in vuurherd Chicago,
wat herverskyn het op die Weskus in baarde en onderbroeke besig om die FBI te ondersoek en onverstaanbare pamflette uit te deel met groot pasifistiese oë sexy in hul donker velle,
wat sigaretgate in hul arms gebrand het uit protes teen die narkotiese tabakwaas van Kapitalisme,
wat Superkommunistiese pamflette uitgedeel het in Union Square wenend en ontkleënd terwyl die sirenes van Los Alamos op hulle neergeloei het, en af in Wall geloei het, en die Staten Eiland veerboot ook geloei het,
wat huilend inmekaargesak het in wit gimnasiums kaal en bewend voor die masjinerie van ander geraamtes,
wat speurders in die nek gebyt het en in vangwaens geskreeu het van plesier dat hulle geen misdaad gepleeg het nie as hul eie wilde kokende pederasme en bedwelming,
wat op hul knieë getjank het in die moltrein en genetalieë en manuskripte rondgewapper het terwyl hulle van die dak af gesleep is,
wat hulself in die hol laat naai het deur vroom motorfietsryers, en gegil het van genot,
wat gesuig het en laat afsuig is deur daardie menslike serafyne, die matrose, strelings van Atlantiese en Karibbiese liefde,
wat genaai het in die oggend in die aande in roostuine en die gras van openbare parke en begraafplase en hul saad vrylik gestrooi het vir wieookal kom wat wou,
wat eindeloos gehik het en probeer giggel het maar gesnak het agter ʼn afskorting in ʼn Turkse Bad toe die blond & naakte engel gekom het om hulle met ʼn swaard te deurpriem,
wat hul katelknape aan die drie ou wywe van die lot verloor het die eenoog wyf van die heteroseksuele dollar die eenoog wyf wat uit die baarmoeder oogknip en die eenoog wyf wat niks anders doen as op haar gat sit en die intellektuele goue lokke van die kundige vakman se weeftou afknip,
wat ekstaties en onversadigbaar gekopuleer het met ʼn bottel bier ʼn liefling ʼn pakkie sigarette ʼn kers en van die bed af geval het, en aangegaan het al langs die vloer en in die gang af en flou op die muur opgeëindig het met ʼn visioen van allerlaaste kont en kom wat die laaste jissem van bewussyn ontwyk,
wat die dosies versoet het van ʼn miljoen meisies sidderend in die sonsondergang, en teen sonopkoms met bloedbelope oë oorgehaal was om die doos van die dagbreek te versoet, boude onder skure ontbloot en kaal in die meer,
wat deur Colorado rondgehoer het in talloos gesteelde nag-motors, N.C., heimlike held van hierdie gedigte, voorvoël en Adonis van Denver - vreugdevolle nagedagtenis van sy ontelbaar stote van meisies in verlate parkeerterreine & padkafeeagterplase, lendelam agterrystoele van rolprentteaters, op bergpieke in grotte met maer kelnerinne in vertroude eensaam langs-die-pad onderrok opheffings & veral geheime motorhawe solipsismes van kleinhuisies, & tuisdorpstegies ook,
wat weggekwyn het in eindeloos ongure films, in drome verskuif is, wakkergeword het op meteens Manhattan, en hulself uit kelderkamers opgetel het dikkop van hartelose Tokay en gruwels van Third Avenue ysterdrome & na werkloosheidskantore gestrompel het,
wat heelnag geloop het met hul skoene vol bloed op die sneeubedekte skeepsdokke wagtend vir ʼn deur in die East River om oop te maak op ʼn kamer vol stoomhitte en opium,
wat groot selfmoorddramas geskep het op die woonstelafgronde van die Hudson onder die oorlogstydse blou soeklig van die maan & hul koppe sal met lourierblare gekroon word in die vergetelheid,
wat die lamsbredie van die verbeelding geëet het of die krap op die modderige bodems van die riviere van Bowery verteer het,
wat geween het oor die romantiek van die strate met hul stootkarre vol uie en slegte musiek,
wat in bokse sit en asemhaal het in die donkerte onder die brug, en opgestaan het om klavesimbelle in hul solders te bou,
wat gehoes het op die sesde vloer van Harlem gekroon met vlamme onder die teer hemellug omring deur oranje kratte teologie,
wat heelnag rukkend en rollend gekrabbel het oor verhewe inkantasies wat in die geel oggendlig strofes brabbeltaal was,
wat verrotte diere gekook het long hart voete stert borsjt & tortillas dromend van die suiwer vegetariese koninkryk,
wat hulle onder vleistrokke begewe het op soek na ʼn eier,
wat hul horlosies van die dak af gegooi het om hul stembrief te laat geld vir Ewigheid buite Tyd, & wekkers het vir die volgende dekade elke dag op hul koppe geval,
wat hul polse gesny het drie keer agtereenvolgens onsuksesvol, opgegee het en genoop is om antiekwinkels oop te maak waar hulle gedink het hulle word oud en daaroor gehuil het,
wat lewendig verbrand is in hul onskuldige flenniepakke op Madison Avenue tussen lugslae van loodverse & die opgetenkte gekletter van die ysterregimente van mode & napalmgille van die moffies van reklame & die mosterdgas van slinks intelligente redakteurs, of wat omgery is deur die besope huurmotors van Absolute Syn,
wat van Brooklynbrug afgespring het dit het regtig gebeur en weggeloop het onbekend en vergete in die spookagtige waas van Chinatown sopstegies en brandweertrokke, nie ʼn enkel gratis bier nie,
wat in wanhoop by hul vensters uit gesing het, uit die moltreinvenster geval het, in die vuil Passaic gespring het, negers bespring het, oral op straat gehuil het, gedans het op gebreekte wynglase kaalvoet vertrapte grammofoonplate van nostalgiese Europese 1930s Duitse jazz die whiskey klaargemaak het en kreunend gekots het in die bloederige toiletbak, gekerm in hul ore en die geskal van kolossale stoomtreine,
wat met die snelweë van die verlede voortgejaag het reisend na elkaar se hotrod-Golgota tronk-afsondering-wag of Birmingham jazz-beliggaming,
wat die land deurkruis het twee-en-sewentig ure om uit te vind of ek ʼn visioen gehad het of jy ʼn visioen gehad het of hy ʼn visioen gehad het om die Ewigheid uit te vind,
wat gereis het na Denver, wat gesterf het in Denver, wat teruggekeer het na Denver & tevergeefs gewag het, en oor Denver gewaak het & gepieker & alleengeloop het in Denver en eindelik weggegaan het om die Tyd uit te vind, & nou verlang Denver eensaam na haar helde,
wat op hul knieë geval het in wanhopige katedrale biddend vir mekaar se verlossing en lig en borste, tot die siel sy hare vir ʼn oomblik verlig het,
wat deur hul verstande gebreek het in die tronk wagtend op onmoontlike kriminele met goue koppe en die bekoring van realiteit in hul harte wat soet blues vir Alcatraz gesing het,
wat onttrek het na Mexiko om ʼn gewoonte te kweek, of Rocky Mount na teer Buddha of Tangiers vir seuns of Suider-Stille Oseaan na die swart lokomotief of Harvard na Narsissus na Woodlawn na die madeliefiestring of graf,
wat op geestesgeondheidsverhore aangedring het en die radio van hipnotisme aangekla het & gelos is met hul waansin & hul hande & ʼn onbesliste jurie,
wat aartappelslaai gegooi het na CCNY lektore van Dadaïsme en hulself vervolgens by die graniettrappe van die malhuis aangemeld het met kaalgeskeerde koppe en harlekyntaal van selfmoord, en aangedring het op oombliklike lobotomie,
en wat instede daarvan gevoer is met die beton leemte van insulien Metrazol elektrisiteit hidroterapie psigoterapie arbeidsterapie pingpong & amnesia,
wat in humorlose protes net een simboliese pingpongtafel omvergewerp het, vlugtig in katatonie gerus het,
jare later teruggekeer het werklik kaalkop behalwe vir ʼn pruik van bloed, en trane en vingers, vir die sigbare malmanverderf van die sale van die maldorpe van die Ooste,
bedompige gange van Pilgrim State van Rockland en van Greystone, twistend met die eggo’s van die siel, rukkend en rollend in die middernag afsonderingsbankie dolmenryke van liefde, droom van lewe ʼn nagmerrie, lywe wat verander word in klip so swaar soos die maan,
met moeder finaal *****, en die laaste fantastiese boek by die woonstelvenster uitgeslinger, en die laaste deur gesluit teen vieruur die oggend en die laaste telefoon in antwoord teen die muur gesmyt en die laaste gemeubileerde kamer leeggemaak tot die laaste stuk geestesmeublement, ʼn geel papierroos gedraai op ʼn draadhanger in die hangkas, en selfs dít denkbeeldig, niks meer as ʼn hoopvolle bietjie hallusinasie,
ai, Carl, terwyl jy nie veilig is nie is ek nie veilig nie, en nou’s jy rêrig in die totale dieresop van tyd –
en wat daarom deur die ysige strate gehardloop het behep met ʼn flikkersprong van die alchemie van die gebruik van die ellips die katalogus die metrum & die vibrerende vlak,
wat gedroom het en beliggaamde gapings gemaak het in Tyd & Ruimte deur beelde te jukstaponeer, en die aartsengel van die siel gevang het tussen 2 visuele beelde en die elementêre werkwoorde verbind het en die naamwoord en aandagstreep van bewussyn rangskik het springend met sensasie van Pater Omnipotens Aeterna Deus
om die sintaks en maat van swak menseprosa te herskep en sprakeloos en intelligent en bewend van skaamte voor julle te staan, verworpe en tog die siel uitbieg om te voldoen aan die ritme van gedagte in sy kaal en eindelose kop,
die malman boemelaar en engel geklop in Tyd, onbekend, tog hier neerskryf wat nog kan oorbly om gesê te word in tyd gekom ná dood,
en reïnkarneer gerys het in die spookagtige gewaad van jazz in die gouehoringskaduwee van die orkes en die lyding van Amerika se naakte verstand geblaas het tot in ʼn eli eli lamma lamma sabacthani saksofoonkreet wat die stede laat sidder het tot in die laaste radio
met die suiwer hart van die gedig van lewe uit hul eie liggame geslag reg om geëet te word vir ʼn duisend jaar.
II
Watter sfinkse van sement en aluminium het hul skedels oopgemoker en hul breins en verbeelding opgevreet?
Molog! Afsondering! Drek! Vieslik! Asblikke en onbekombare dollars! Kinders skreeuend onder die trappe! Snikkende seuns in weermagleërs! Ou mans wat in die parke ween!
Molog! Molog! Nagmerrie van Molog! Molog die liefdelose! Geesversteurde Molog! Molog die swaar oordelaar van die mens!
Molog die onbegryplike gevangenis! Molog die doodsbeendere sielloos tronkhuis en Kongres van smarte! Molog se geboue is oordeel! Molog die geweldige steen van oorlog! Molog die stomgeslane regerings!
Molog wie se gedagtes vlekkelose masjinerie is! Molog wie se bloed in geld vloei! Molog wie se vingers tien leërs is! Molog wie se bors ʼn mensvreterdinamo is! Molog wie se oor ʼn meulende graf is!
Molog wie se oë ʼn duisend blinde vensters is! Molog wie se wolkekrabbers in lang strate staan soos eindelose Jehovas! Molog wie se fabrieke droom en kreun in die mis! Molog wie se rooksuile en antennas die stede omring!
Molog wie se liefde eindelose olie en klip is! Molog wie se siel elektrisiteit en banke is! Molog wie se armoede die skim van vernuf is! Molog wie se lot ʼn wolk sekslose waterstof is! Molog wie se naam die Verstand is!
Molog in wie ek eensaam sit! Molog in wie ek Engele droom! Mal in Molog! Pielsuigeling in Molog! Liefdeloos en manloos in Molog!
Molog wat my siel vroeg binnegedring het! Molog in wie ek ʼn bewussyn sonder ʼn liggaam is! Molog wat my uit my natuurlike ekstase wakkergeskrik het! Molog wie ek verlaat! Word wakker in Molog! Lig stroom uit die hemel!
Molog! Molog! Robotwoonstelle! onsigbare woonbuurte! skeletskatkamers! blinde hoofstede! demoniese industrieë! skimmige nasies! onoorwinlike malhuise! granietpiele! monsteragtige bomme!
Hulle het hul rûe gebreek deur Molog na die Hemel te lig! Sypaadjies, bome, radio’s, tonne! lig die stad na die Hemel wat bestaan en oral om ons is!
Visioene! voorbodes! hallusinasies! wonderwerke! ekstases! dryf af in die Amerikaanse rivier!
Drome! verering! opluisterings! gelowe! die hele bootvol sensitiewe stront!
Deurbrake! oor die rivier! omkantelings en kruisigings! afgespoel in die vloed! Bedwelmings! Openbarings! Vertwyfelings! Tien jaar se dierekrete en selfmoorde! Gedagtenisse! Nuwe liefdes! Mal generasie! skipbreuk op die rotse van Tyd!
Heelheilig gelag in die rivier! Hulle het dit als gesien! die wilde oë! die heilige gille! Hulle het vaarwel geroep! Hulle het van die dak af gespring! na afsondering! waaiend! met blomme in hul hande! Af na die rivier! tot in die straat!
III
Carl Solomon! Ek’s by jou in Rockland
waar jy maller is as wat ek is
Ek’s by jou in Rockland
waar jy baie vreemd moet voel
Ek’s by jou in Rockland
waar jy die skadu van my moeder naboots
Ek’s by jou in Rockland
waar jy jou twaalf sekretaresses vermoor het
Ek’s by jou in Rockland
waar jy lag vir hierdie onsigbare humor
Ek’s by jou in Rockland
waar ons groot skrywers op dieselfde vrot tikmasjien is
Ek’s by jou in Rockland
waar jou toestand ernstig raak en op die radio berig word
Ek’s by jou in Rockland
waar die vermoëns van die skedel nie meer die wurms van die sintuie toelaat nie
Ek’s by jou in Rockland
waar jy die tee van die borste van die oujongnooie van Utica drink
Ek’s by jou in Rockland
waar jy woordspeel op die lywe van jou verpleegsters die hekse van die Bronx
Ek’s by jou in Rockland
waar jy in ʼn dwangbaadjie skree dat jy die stryd verloor van die waaragtige pingpong van die duisternis
Ek’s by jou in Rockland
waar jy hamer op die katatoniese klavier die siel is onskuldig en onsterflik dit behoort nooit goddeloos te sterf in ʼn gewapende malhuis nie
Ek’s by jou in Rockland
waar nog vyftig skokke jou siel nooit weer na sy liggaam sal terugstuur van sy bedevaart na ʼn kruis in die leemte nie
Ek’s by jou in Rockland
waar jy jou dokters van malheid aankla en die Hebreeus-sosialistiese revolusie teen die fassistiese nasionale Golgota beraam
Ek’s by jou in Rockland
waar jy die hemele bo Long Island sal oopklief en jou lewende menslike Jesus van die bomenslike graf sal opwek
Ek’s by jou in Rockland
waar daar vyfentwintigduisend mal kamerade almal saam sing aan die laaste strofes van die Internasionale
Ek’s by jou in Rockland
waar ons die Verenigde State onder ons lakens omhels en soen die Verenigde State wat heelnag hoes en ons nie laat slaap nie
Ek’s by jou in Rockland
waar ons geëlektrifiseerd wakkergeskrik word uit die koma deur ons eie siele se vliegtuie wat oor die dak brul hulle’t gekom om engelbomme te laat val die hospitaal verlig homself denkbeeldige mure stort ineen O uitgeteerde legioene hardloop na buite O sterskitter skok van genade die ewige oorlog is hier O oorwinning vergeet jou onderklere ons is vry
Ek’s by jou in Rockland
in my drome stap jy druipend van ʼn seereis op die snelweg dwarsoor Amerika in trane tot by die deur van my kothuis in die Westernag
San Francisco, 1955-56
Voetnota tot Kreet
Heilig! Heilig! Heilig! Heilig! Heilig! Heilig! Heilig! Heilig! Heilig! Heilig! Heilig! Heilig! Heilig! Heilig! Heilig!
Die wêreld is heilig! Die siel is heilig! Die vel is heilig! Die neus is heilig! Die tong en piel en hand en hol heilig!
Alles is heilig! Almal’s heilig! Oralom is heilig! Elke dag is in ewigheid! Alleman’s ʼn engel!
Die boemelaar is so heilig soos die serafyn! die kranksinnige is heilig soos jy my siel heilig is!
Die tikmasjien is heilig die gedig is heilig die stem is heilig die gehoor is heilig die ekstase is heilig!
Heilige Peter heilige Allen heilige Solomon heilige Lucien heilige Kerouac heilige Huncke heilige Burroughs heilige Cassady heilig die onbekende holgenaaide mank bedelaars heilig die afskuwelike menslike engele!
Heilig my moeder in die malhuis! Heilig die grootvaderpiele van Kansas!
Heilig die kreunende saksofoon! Heilig die bop wederkoms! Heilig die jazzorkeste marijuana hipsters vrede meskalpype & dromme!
Heilig die afsondering van wolkekrabbers en sypaadjies! Heilig die kafeterias gevul met die menigtes! Heilig die raaiselagtige riviere van trane onder die strate!
Heilig die eensame Jagganat! Heilig die tamaai lam van die middelklas! Heilig die mal herders van rebellie! Wat Los Angeles smaak en Los Angeles IS!
Heilig New York Heilig San Francisco Heilig Peoria & Seattle Heilig Parys Heilig Tangiers Heilig Moskou Heilig Istanboel!
Heilig tyd in ewigheid heilig ewigheid in tyd heilig die oorlosies in ruimte heilig die vierde dimensie heilig die vyfde Internasionale heilig die Engel in Molog!
Heilig die see heilig die woestyn heilig die treinspoor heilig die lokomotief heilig die visioene heilig die hallusinasies heilig die wonderwerke heilig die oogbal heilig die duisternis!
Heilig vergifnis! genade! liefdadigheid! geloof! Heilig! Ons sʼn! liggame! lyding! grootmoedigheid!
Heilig die bonatuurlike ekstrabriljantintelligente goedheid van die siel!
Berkley, 1955
Jacques de Viljee is ’n skrywer van Kaapstad. Sy skryfwerk is al in New Contrast en op Klyntji.com, LitNet en BooksLive gepubliseer. Die lig skyn daar buite is sy debuutbundel en word onafhanklik gepubliseer.